Vrywillige ruilhandel en beskerming van private eiendom

Deur Temba A. Nolutshungu

Foto ter illustrasie: Pixabay

Dit is binne die regering se mag om in die grendeltyd en in dié tyd, ná die begrotingsrede, aan elke inwoner van Suid-Afrika ’n kosbare geskenk te gee. Dié fantastiese geskenk sal wees om elke enkele beleid te identifiseer wat die beginsel van vrywillige ruilhandel en persoonlike keuse negeer, en dié wat nie die lakmoestoets van die uitdaging van ekonomiese groei slaag nie, summier te skrap.

As die regering dan die beginsel van die beskerming van private eiendom versterk deur weg te doen met die dreigende gevaar vir private besit wat die beoogde wysiging van die Grondwet inhou en waarvolgens die staat regtens gemagtig sal wees om grond te onteien sonder vergoeding, en as die regering hierdie proses dan op elke sfeer van openbare beleid toepas, sal die land goed op pad wees om in ’n hoëgroei-ekonomie te ontluik. As die regering dit doen, kan die land teen hierdie tyd aanstaande jaar Nuwejaarsvieringe agter die rug hê waarin gejubel is oor Suid-Afrika se groeikoers wat nie alleen een van die hoogstes in Afrika is nie, maar in die hele wêreld.

Aan die begin van ’n jaar is handelaars onder normale omstandighede gewoonlik druk besig met verleidelike verkoopsaanbiedings om verbruikers aan te spoor om hul sakeondernemings te ondersteun. Vanjaar is die situasie baie anders. Die grendeltyd het omstandighede in die land ingrypend verander en die Covid-19-bedreiging het die toestand van die sukkelende ekonomie vererger.

Dié tyd van die jaar, ná die koorsagtige inkopies van Kerstyd, maak handelaars gewoonlik op Paastyd staat om hul verkoopsyfers ’n hupstoot te gee deur aan verbruikers goeie gehalte teen lae pryse, groot pryskortings, twee produkte vir die prys van een, en so meer, te bied. Is dié soort “weldadigheid” van handelaars aan Paashaas-altruïsme toe te skryf? Hoegenaamd nie! Dit is als te danke aan die strawwe mededinging wat ’n markgebaseerde ekonomie teweegbring.

En hier is hoe dit gebeur…

Handelaars genereer hul inkomste uitsluitlik deur hul ware aan verbruikers te verkoop. Om hul inkomste te handhaaf of te verhoog, moet hulle die verbruikersvraag na hul produkte voorsien, daarop reageer of dit stimuleer.

Elke handelaar wil hê verbruikers moet sy winkel – en sy winkel alleen – ondersteun, tot verlies van alle ander mededingers. In die afwesigheid van ’n vrye mark sou dié wens waar kon word as die handelaar die goedkeuring of ingryping van regeringsamptenare sou hê. Met hul goedgesindheid sou so ’n handelaar op die regering kon staatmaak om beleide uit te vaardig wat hom voortrek, tot nadeel van sy mededingers, hetsy plaaslik of in die buiteland. Maar wie behalwe die handelaar sou uit dié scenario voordeel trek? Slegs die betrokke regeringsamptenare. Die oorgrote meerderheid van die bevolking, die verbruikers, ek en jy, sou niks daarby baat nie. Ons sou ontneem wees van die voordeel om keuses te hê en die geleentheid om goeie waarde vir geld te kry.

Dié scenario wat sekere handelaars begunstig as hulle daarin slaag om politieke ingryping tot hul voordeel te bewerkstellig, is in ’n vrye mark totaal onmoontlik. ’n Handelaar in ’n oop ekonomie verbeter sy inkomste deur alleenlik mee te ding op grond van hoe hy die verbruikers tevrede stel deur aan hulle die produkte te verkoop wat hulle wil hê teen ’n prys wat hulle bereid is om te betaal. Verbruikers kyk goed rond om produkte en pryse te vergelyk, want hulle wil waarde vir hul geld kry. As dit kom by die verdien van jou daaglikse brood of om jou geld vir jou te laat werk, is daar vir altruïsme of patriotiese oorwegings geen plek nie.

Handelaars wat die reëls van hierdie spel ken en aanvaar, sal sukses behaal en hul mededingers uitstof. Om goeie waarde vir geld te bied en mededingende pryse vir sy produkte te vra, moet ’n handelaar sy benodigdhede en arbeid só bekom dat dit laer insetkoste uit goedkoper markte verseker, soms uit plaaslike markte en soms buitelandse markte.

Sowel die handelaar as die verbruiker tree in eiebelang op. Albei moet die beste uit ’n transaksie haal.

Die ding van hierdie simbiotiese verhouding tussen handelaar en verbruiker is dat hoe vryer die ekonomiese omgewing, hoe groter die aantal mededingende handelaars en hoe beter die waarde wat die verbruiker uit ’n transaksie kry. Hierdie vrywillige ruilhandel maak almal beter daaraan toe. Om die ekonomie vry te maak, is aantoonbaar en vanselfsprekend die regte ding om te doen, soos duidelik uit hierdie scenario van ’n vrye mark blyk.

Niks is meer gewoon nie, die wêreld het onherroeplik verander sedert dié tyd laasjaar. Nog nooit tevore was die behoefte só dringend dat die staat sy tentakels uit die ekonomie moes onttrek nie. Die voorstanders van staatsinmenging se wetgewende en regulatoriese ingrypingsmaatreëls, wat die natuurlike en spontane orde van vrye markte negeer en die besit van private eiendom beperk, moet gestaak word en met onmiddellike effek omgekeer word. ’n Beleidsrigting wat bedoel is om dit vir die regering moontlik te maak om eiendom na willekeur af te vat, is ’n pad na algehele ekonomiese verwoesting.

  • Temba A Nolutshungu is ’n direkteur van die Vryemarkstigting.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.