VSA-besoek: May kwyt haar meesterlik van taak

Britain Politics

Theresa May. Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Die Britse premier, Theresa May, se pas afgelope besoek aan die VSA en pres. Donald Trump was ʼn triomf. Dit toon haar as ʼn staatsvrou en skaakspeler van betekenis want sy het – voorlopig altans – aansienlik meer uit die besoek gekry as wat sy onder normale omstandighede kon gehoop het.

May het naamlik ʼn swak hand briljant gespeel. Kom ons kyk eers na die kaarte in haar besit.

Om mee te begin het die Britse kiesers haar verlede jaar – weliswaar met ’n naelskraapse meerderheid, maar tog – opdrag gegee om die land uit die Europese Unie (EU) te lei. Ofskoon sy self téén Brexit geveg het, moes sy die opdrag uitvoer.

Net verlede week het ʼn akademiese studie van die Britse nasionale instituut vir ekonomiese en sosiale navorsing tot die gevolgtrekking gekom dat Brexit die handel met die EU met tot 30% sal laat daal. Selfs al sluit Brittanje nuwe vryhandelsverdrae met die EU, Amerika, China, Rusland, Kanada, Nieu-Seeland en Australië, sal die land op die duur steeds £197 miljard verloor.

ʼn Vryhandelsverdrag met die VSA sal die Britse internasionale handel met slegs 2% bevoordeel, volgens die outeur van die navorsing, dr. Monique Ebell.

Verlede jaar het die instituut vir fiskale studie bevind dat die Britse bruto nasionale produk met tot 4% kan daal.

ʼn Mens sal natuurlik nog moet sien of dié voorspellings bewaarheid word. Maar die berekenings is gedoen deur gerespekteerde ekonome en kan nie summier van die tafel gevee word nie.

May se hand was ook polities swak. Sy is vasgevang tussen twee teenoorgestelde kragte wat haar beweegruimte teenoor Trump taamlik beperk het. Aan die een kant het sy die VSA se rugdekking teenoor die EU nodig. Met Trump se hulp kan sy met haar swak hand teenoor die EU veel beter bluf.

Met Amerika agter ons het ons die EU nie so nodig nie, kan sy dan aan Brussel sê. Dit kan haar help in die langdurige taai onderhandelinge wat voorlê wanneer sy die EU in Maart formeel in kennis stel dat haar land die organisasie wil verlaat.

Vandaar dat May so haastig was – haar kritici meen onbehoorlik haastig – om Trump te gaan besoek. Sy wou die heel eerste buitelandse leier wees wat hom in die Oval Office in sy oë gaan kyk.

Die ander kant van die munt is dat sy terwille van die kiesers tuis nie té vriendelik teenoor Trump kan voorkom nie. Die Britte se geheue oor die wyse waarop premier Tony Blair Britse belange ondergeskik aan dié van Amerika gestel het – hy is verwyt dat hy pres. George W. Bush se “poedel” was – is nog vars.

Bowendien is die Britte se argwaan teenoor Trump baie groot. Kort ná die verkiesing in November verlede jaar het ’n peiling vir The Independent (Londen) gewys 66% van die Britte meen Trump se verkiesing maak van die wêreld ’n gevaarliker plek, en 53% verwag hy gaan ’n slegte president wees.

May was dus onder sterk politieke druk om enersyds vriende met Trump te maak, maar terselfdertyd nie toe te gee op sekere punte nie, soos vroueregte, marteling, vryhandel, Navo, ensovoorts.

Hoe nou gemaak? May het haar luidens berigte in besonderhede op die ontmoeting voorberei. Dit het sielkundige profiele van die Amerikaanse president ingesluit.

Presies wat in die profiele staan, is nie bekend nie. Heel waarskynlik bevat dit min of meer soortgelyke waarnemings as wat Tony Schwartz, spookskrywer van Trump se bekende boek, The Art of the Deal, oor die man vertel het.

Schwartz, wat maande lank in Trump se geselskap deurgebring het, het sy karakter verlede jaar in ʼn onderhoud met die tydskrif The New Yorker beskryf as “patologies impulsief en self-gesentreerd”. “Trump neem net twee standpunte in. Jy is óf ʼn lae sukkelaar (scummy loser), leuenaar, wat ook al, óf jy is fantasties (the greatest).”

Volgens Schwartz “is dit onmoontlik om hom langer as ’n paar minute gefokus te hou op enige onderwerp behalwe sy eie verheerliking, en selfs dan …”

Ander mense wat Trump goed ken wys daarop dat hy, tot sy eie frustrasie, nooit heeltemal as gelyke deur die Washingtonse en New Yorkse elite aanvaar is nie.

Teen dié agtergrond was May se optrede in Amerika absoluut meesterlik.

Sy het begin met ʼn toespraak in Philadelphia, waarin sy die VSA uitvoerig vir sy ideaal van vryheid en gelykheid, en vir sy leierskap van die wêreld geprys het. Toe het sy die Republikeinse Party geloof vir dieselfde beginsels waarin haar eie Konserwatiewe Party glo – die waarde van vryheid, die waardigheid van werk, die beginsels van nasieskap, familie, ekonomiese versigtigheid, patriotisme, en om die mag in die hande van die mense te plaas.

Maar sy het, op ’n mooi manier, die Withuis ook aangespreek oor sy louheid teenoor multilaterale samewerking, Navo, die gevaar wat van Rusland uitgaan (“die onwettige anneksasie van die Krim”), morele waardes, die gematigde deel van Islam, die kernwapenooreenkoms met Iran, klimaatsverandering, ensovoorts. Daardeur het sy haar gehoor tuis gewys sy is nie Trump se poedel nie.

Toe kom die ontmoeting met Trump self, en weer was May – met haar swak hand en al – uitstekend. Sy het afgeskop met ’n uitnodiging aan die president namens koningin Elizabeth om Brittanje as die vorstin se gas te besoek. Sy drang om as gelyke aanvaar te word, is hiermee bevredig. Hy was glo baie beïndruk.

Luidens berigte in die Britse media het Trump hierna by wyse van spreke uit May se hand geëet. Op die perskonferensie ná die ontmoeting het hy van oor tot oor geglimlag, en heelparty kommentators het opgemerk dat hy byna vir die eerste keer regtig presidensieel voorgekom het.

May se finale skoot was toe sy voor die media na hom draai en sê: “Meneer die president, ek meen jy het bevestig dat jy 100% agter Navo staan”. Dit nadat Trump Navo nog twee weke gelede in onderhoude “verouderd” genoem het.

Trump se enigste reaksie was om die woord “true” met sy mond te vorm. Daarmee het May hom baie fyntjies in die openbaar aan Navo gebind. (Ofskoon’n mens nog maar moet sien hoe lank hy by dié standpunt bly.)

Ná haar vertrek het May ook Trump se verbod op die binnekoms van Moslems uit sewe Midde-Oosterse lande veroordeel.

May se besoek sal vorentoe in die akademiese opleiding van diplomate en politieke wetenskaplikes gebruik kan word as ʼn handboekvoorbeeld van hoe ʼn leier die maksimum voordeel met ’n swak hand kan behaal. Dit was meesterlik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gemsbok ·

Dankie tog Roelf Meyer het nie nodig gehad om met Theresa May te onderhandel nie.

Henry ·

Indien Ramaphosa wie nie eers amper in die klas van May is nie, sonder moeite vir beide Meyer en Wessels ore aangesit het, kan “ons” twee onderhandelaars kwalik in dieselfde asem as Theresa May genoem word.

John ·

Oorweeg die outeur dalk net Britse-burgerskap veral noudat die EU se ‘back-yard’ bedreig word en die VSA skynbaar so ‘n gevaarlike egois as president het, en nogal wettig aangestel ook? Hou moed die pienk straat-anties, die magtige CNN en die alwyse BBC (mbv die immer hoogs intelligente Britse 007-leierskorps) sal met sy gal werk totdat ‘super’-Hillary en haar haar beminde eggenoot met hul hemelhoe integriteit en reeds bewese wereldleierseienskappe, koning kraai en die Krim en Jerusalem teruggee word aan die Ukraine (spel Navo) en die sg Palestyne (met hul moskee presies op die plek waar die Jode se tempels altoos gestaan het… maar dis net so terloops en totaal onbelangrik…). Vrede op aarde sal dan op ons toesak en manna (‘Made in China’) op ons dorre wereld reen… heerlike stortvloede… Soos in 1984 sal die vloekwoordeTrump, rassisme, radikalisme en oorlog vir goed uit alle geskrifte verwyder word?

Santie ·

Dié outeur woon in Nederland en is klaarblyklik doodbang hy word dalk as ‘n bewonderaar van Geert Wilders aangesien as hy vir Trump enigsins ondersteun.

JC ·

Leopold, jy is heel gevat met die vroutjie, man! Sy het jou heel betower.
Miskien moet jy oorweeg om haar adviseur op internasionale betrekkinge te word, en haar te adviseur hoe om President Donald Trump en die VSA (jou venyn teenoor die President kan kwalik meer benadruk word) te hanteer ;-) Sal jy nie tog saamstem die wereld met al sy probleme het lankal ‘n “direkte” leier soos President Trump nodig nie?
PRESIDENT TRUMP= MERKWAARDIGE LEIER; WAT DIE STATUS QUO OMDRAAI EN DIE SIEK WERELD GAAN VERANDER.

Frans C ·

‘n Volledige ontleding van die deelnemende state se bydraes tot die Europese Unie het in die Telegraph van 14 November 2014 verskyn. Volgens die berig was die ‘Uk’ se bydrae net meer as “17 bn Euros’ waarvan sy ‘6.3 bn Euros’ in skenkings terug ontvang het.

Die grootste verloorder was Duitsland wie se bydrae ’29.bn Euros’ was waarvoor sy net meer as (13bn euros’ terug ontvang het.

Van die ander meer sukkelende state soos Griekeland en Portugal ontvang baie meer in skenkings terug as wat hul bydra.Dit is dus te verstane dat in die lande wat meer bydra as
wat hul ontvang daar mettertyd ‘n renons in die bevolking sal ontstaan want dit is so goed
dat jy altyd arm familielede moet onderhou,terwyl jy self sukkel om kop bo water te hou.

Santie ·

Dit is presies wat Trump gesê het. Amerika gaan nie meer ander lande ryk maak of ander lande se grense beskerm nie.

Therese van Schalkwyk ·

Theresa May is werklik indrukwekkend van dag een in die amp. ‘n Mens wonder nou amper hoe David Cameron bo haar verkies is destyds, en hoe anders die aanloop tot die Brexit-sage nie dalk sou afspeel onder haar leiding nie.

Vele sugte van verligting het sekerlik opgegaan toe die Trump/May-ontmoeting so vlot verloop, en diegene wat gehoop het op ‘n fiasko kyk lelik op hul neuse.

Volgens vroeë aanduidings kan Angela Merkel van Duitsland gerus ‘n paar lesse by haar Britse eweknie leer …

Pietman ·

‘n Artikel oor May…. maar let mooi op, ‘n paar steke teen Brexit en Trump is ingekry. Leopoldt, ekonome kan glad nie vooruitskattings maak nie , almal weet dit, veral ekonome self. Oor die peilings……wel wie kan dit nog vertrou? Tot dusver het die Britse and Amerikaanse aandelemarkte geblom onder Brexit en Trump. Die britse ekonomie het ook beter vertoon as wat verwag is. Kom ons gee Trump en Brexit ‘n reverdige kans.

Pietman ·

onder “Brexit” verwysende na die besluit om te brexit. die gevolge sal eers oor 6 jaar gesien kan word omdat die proses self ten minste twee jaar sal neem.

Santie ·

Kan nou nie eintlik uit die artikel agterkom presies wát May vermag het nie. Trump het baie duidelik gesê hy stel nie belang in die Europese Unie nie maar wel in een-tot-een-ooreenkomste. Nigel Farage was al verskeie kere in die VSA en daar is tog duidelik ruimte vir ooreenkomste tussen Brexit-Brittanje en die VSA. Wie het dus ‘n “fiasko” verwag en hoekom?

Santie ·

Nouja toe. Wat ‘n mens nie alles kan doen met innuendo en ‘n paar selektiewe aanhalings van dese en gene wat ongelukkig nie by was tydens die gesprekke tussen May en Trump nie! Intussen sê Trump se naaste ondersteuners hy het in een week meer vermag as die meeste van sy voorgangers in twee termyne. Net ‘n herinnering aan die joernaliste en politici wat so graag praat van Trump se grootpratery: Ek het my lewe lank vir ‘n groot versekeringsmaatskappy gewerk en die uiters suksesvolle verkoopsmanne en spanleiers praat áltyd so. Dit is nie grootpraat nie, dit is 24/7 motivering van hulself en hul span. As jy ‘n produk verkoop wat mense nie vanself nodig het nie, kos dit 24/7 motivering. Sulke mense het motiveringspraatjies op band in hulle motor, nie musiek nie. Los vir Trump, baie mense glo hy weet wat hy doen. En hy is bekend daarvoor dat hy raad vra as hy self nie weet nie – by diegene wat hy na deeglike oorweging besluit het die beste weet in ‘n sekere geval.

Henry ·

Nou ja toe.
Duidelik dat jy ‘n veel beter bydrae in die versekeringsbedryf, wat jou kennisveld bl;yk te wees, kan lewer. Gewone siele word laaankal nie meer beindruk deur woesgemotiveerde polissmouse wat waardelose polisse en begrafnisboekies aan goedgelowige mense van veertig jaar en meer gelede verkwansel het nie.

Intussen kyk ons vanaf ‘n veilige afstand of Trump dalk dieselfde trieks uithaal as die piete wat voor 1994 die meerderheid van ons oortuig het dat perde kuttels toe allie tyd vye is.

‘Once bitten twice shy’ soos die Souties dit stel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.