VSA: ‘Black Lives Matter’ en die kulturele rewolusie

(Argieffoto: Li Gang, Xinhua)

Die kulturele rewolusie in China (1966-1976) was ’n tydperk wat aan kranksinnig gegrens het. Dit was die kommunistiese leier Mao Zedong se poging om sy opponente in die Chinese Kommunistiese Party se mag te breek ná vele mislukte kommunistiese projekte. Mao het die jeug gemobiliseer om die kulturele rewolusie te lei. Kinders, soms nog op laerskool, het deel gevorm van die Rooi Wagte (Red Guards) en het as skoktroepe gedien om die “ou” bekende Chinese staat af te breek. “Ou” idees, kultuur, gewoontes en gebruike moes eenvoudig vernietig word.

Die rewolusie wat die ou orde moet vernietig

Alle herinneringe aan ou imperiale China moes vernietig word. Gevolglik is strate en dorpe se name verander, kulturele plekke en godsdienstige instellings vernietig en opgeleide kundiges (soos onderwysers en dosente) uit die samelewing verwyder, aangesien dit die “ou” China verteenwoordig het. Skole en universiteite is vir jare gesluit en derduisende intellektuele is in die openbaar verneder en moes om verskoning vra. Die meeste is skuldig bevind aan absurdhede en in die openbaar tereggestel.

Die gevolge was skrikwekkend. Meer as 2 miljoen mense is gedood en die malligheid het eers ten einde gekom ná die dood van Mao in 1976. Hierná het China onder Deng Xiaoping ’n nuwe rigting ingeslaan deur die kommunistiese politieke gesag te behou, maar kapitalisme te omarm, wat die uiters suksesvolle China van vandag gebou het.

Twee konserwatiewe meningsvormers, Tucker Carlson (in die VSA) en Douglas Murray (in Brittanje), beskryf die kranksinnighede wat sedert 25 Mei volg op die dood van ’n swart man George Floyd, deur ’n (wit) polisieman; wat tans in die naam van “Black Lives Matter (BLM)” plaasvind, as ’n kulturele rewolusie.

Clemson-quarterback Trevor Lawrence tydens ‘n Black Lives Matter-betoging in Clemson, Suid-Carolina in die VSA (13 Junie 2020) (Foto: AP Photo/John Bazemore)

Wit rassisme is die slagspreuk

Floyd se skielike heldeverering volg ná sy dood in die stad Minneapolis waar die polisieman hom met ’n wurggreep teen sy nek vasgedruk het nadat Floyd hom verset het teen inhegtenisname. Toevallig was die polisieman wit, wat daarna sou lei tot antirassisme betogings, onder meer skokkende tonele in baie Amerikaanse stede van plundering, die afbrand van geboue en vernietiging van infrastruktuur. Selfs die Amerikaanse president, Donald Trump, is in ’n stadium in die Withuis beleër. Trump het later die weermag ingestuur om in sommige stede verdere skade en plundering te verhoed.

Desnieteenstaande duur die protes en plundering voort. Groepe soos BLM en Antifa (’n ultralinkse beweging wat hulself as antifasciste beskryf) gebruik, ironies genoeg, reeds fascistiese metodes van geweld en intimidasie om (wit) Amerikaners kollektief te verwyt as rassiste, hul skuldgevoel oor slawerny en segregasie uit te buit en beskuldig hulle selfs dat hulle die land “gesteel” het van die Amerikaanse inboorlinge (Indiane). Wit mense moet ook skuldig voel oor hul “institusionele rassisme” teen swart Amerikaners, wit bevoorregting en ’n rits ander aanklagte.

In die proses word monumente ook beskadig of gevandaliseer en standbeelde van wit Amerikaners, wat met rassisme of slawehandel geassosieer kan word, word beskadig, verniel of omgestoot.

Soos tydens die kulturele rewolusie in China, word verwag dat alle wit Amerikaners hul skuld moet bely. Vele wit Amerikaners het dan ook entoesiasties meegedoen deur te kniel voor plunderaars en betogers van die BLM/Antifa. Dit sluit in die leierskap van die linkse Demokratiese Party, burgemeesters van groot stede, polisie- en selfs weermaglede. Een polisiehoof het sommer voor die protesteerders op sy maag gaan lê om sy algehele onderdanigheid te betoon. Straatname is verander en daar word aangedring dat selfs name van militêre basisse verander moet word.

‘n Gewonde betoger word deur beamptes begelei by Trafalgarplein in Londen (13 Junie 2020) (Foto: AP Photo/Alberto Pezzali)

’n Wêreldwye rewolusie

Die protesaksie het ook oorgespoel na ander lande waar mense in hul duisendtalle antirassisme-veldtogte ondersteun. In Brittanje, wat terloops weens die Covid-19-pandemie nie toelaat dat meer as 10 mense ’n begrafnis mag bywoon nie, het tienduisende mense betoog, waar selfs die standbeeld van die Britse ikoniese leier, Winston Churchill, moes deurloop weens sy oënskynlike rassisme. ’n Standbeeld van Edward Colston, wat blykbaar aan slawehandel gekoppel word, is afgebreek en in die Teemsrivier gegooi.

In Seattle in die VSA het linkses selfs die middestad afgesper en ’n onafhanklike “antikapitalistiese” republiek, Capitol Hill Autonomous Zone (CHAZ), in die middel van Seattle uitgeroep. CHAZ duld geen polisie in hul “staat” nie en die linkse burgemeester het die polisiekantore in die middestad laat ontruim. Gewapende anargiste beheer nou die middestad in Seattle soos wafferse Somaliese krygshere.

Niemand word in hierdie kulturele rewolusie ontsien nie en gevolglik is die enigste manier vir wit Amerikaners om die aanslag af te weer, om hul “sondes” te bely deur op een knie te gaan sit in onderdanigheid aan die anargiste.  Die onderdanigheid toon kenmerke van ’n godsdienskultus. Soos gewoonlik is Hollywood-sterre voor in die koor en die massamedia versprei die nuwe mantra van gedwonge belydenis en wit rassisme. Hoewel sport nog nie hervat is weens die koronavirus nie, het sportspanne reeds aangekondig dat hulle truie met antirassisme-slagspreuke gaan dra sodra sport weer aan die gang kom.

Groot maatskappye het ook nie op hulle laat wag nie. Byna sonder uitsondering het hulle op hul webwerwe of kettingwinkels hulself met BLM vereenselwig. Dié wat nie vinnig genoeg gereageer het nie, word as ketters beskou en dié wat die BLM veroordeel, word geteiken deur die media wat histeries aan Amerikaners verduidelik presies hoe rassisties hulle is.

Betogers het verlede week Christopher Columbus se standbeeld in St. Paul laat val. (Foto: Evan Frost/Minnesota Public Radio via AP)

Die doelwitte is vaag

Wat presies die einddoel van die BLM-beweging is, wie se skoktroepe terloops amper uit ’n meerderheid wit middelklas-protesgangers bestaan, is onduidelik. Oproepe dat die polisie moet ontbind of nie meer befonds moet word nie, word entoesiasties ondersteun. Sommige groot stede se Demokratiese Party-burgemeesters het reeds aangekondig dat die polisie se befondsing verminder gaan word, of dat die polisie selfs ontbind gaan word. Ander beloof hervormings en heropleiding van die polisie. Watter verdere maatreëls getref gaan word om die “strukturele rassisme” die hoof te bied, sal nog gesien moet word. Ons kan sekerlik aanneem dat derms uitgeryg gaan word, straatname verander gaan word en standbeelde verwyder gaan word. BLM dring ook aan op kompensasie aan swart mense oor die “onregte van die verlede”.

Die moderne kulturele rewolusie in die Weste is uiteraard nie ’n nuwe verskynsel nie. Sedert die skeidingswette in die suide van Amerika deur die burgerregtebeweging in die 1960’s opgehef is, poog die VSA om deur regstellende aksie swart ongelykheid op te hef. Desnieteenstaande is baie swart Amerikaners steeds uitgelewer aan armoede, dwelmmisbruik en geweld, weliswaar meestal weens hul eie swak keuses. Ook Europa is die kulturele rewolusie nie gespaar nie. Europeërs moet steeds hul kollektiewe skuld oor kolonialisme bely deur ekonomiese vlugtelinge uit die Derde Wêreld burgerskap te gee, terwyl Europese state miljarde euros jaarliks in voormalige koloniale lande uitdeel.

President Donald Trump loop na die St. John’s Episcopal-kerk naby die Withuis. (Foto: AP Photo/Patrick Semansky)

Donald Trump in die spervuur

Te midde van die nuwe kulturele rewolusie word Donald Trump vir alles blameer. Trump het die protesoptogte en plundery veroordeel, tot groot ontsteltenis van die linkses. Nietemin was hy huiwerig om te veel in te meng en het ná interne druk net hier en daar die weermag ingestuur om wet en orde te handhaaf. Sy huiwerige optrede, ook tydens die koronavirus-uitbreking, is teleurstellend, hoewel sy volgelinge hom steeds ophemel. Trump het die verpersoonliking van die verdeelde samelewing in die VSA geword en dit is moeilik om te sien dat enige samehorigheid ooit weer daar bereik gaan word. Dit het sekerlik ook sy kanse op herverkiesing benadeel, hoewel Trump hoop dat kiesers hom gaan steun juis omdat die plundering en anargie veral plaasvind in stede wat deur Demokrate beheer word.

In ’n groot mate kan die uitbreek van die histerie oor die dood van Floyd júís toegeskryf word aan die Amerikaanse presidentsverkiesing wat in November moet plaasvind. Trump moet klaarblyklik ten alle koste gekeer word om weer president word. Sy presidentskap is reeds ’n teken dat die kulturele rewolusie nog nie afgehandel is nie en is lynreg teen die nuwe orde.

Trump se gewildheid het gevolglik tot ’n laagtepunt van 39% gedaal en min kenners verwag tans dat Trump die verkiesing kan wen. Ten spyte hiervan het Trump steeds ’n goeie kans, aangesien sy opponent, Joe Biden, verward en onsamehangend voorkom. Biden ly minstens aan ernstige vergeetagtigheid en gaan moeilik teen Trump meeding.

Suid-Afrika is nie gespaar van die nuwe kulturele rewolusie nie. Ten spyte van die oordrag van mag aan ’n (swart) meerderheidsregering in die 1990’s, is Suid-Afrika se wit mense steeds die teiken van die ANC-regime en meelopers soos die EFF. Ook hier word sogenaamde wit rassisme, wit bevoordeling en selfs wit mense se sukses in die ekonomie tot vervelens toe veroordeel. Naamsveranderinge en die afbreek van kulturele bakens, soos standbeelde, vind plaas onder voorwendsel van dekolonialisme en antirassisme.

Grootskaalse geweld en plundery duur in Minneapolis in die VSA voort na die dood van George Floyd, ‘n swart man wat in polisieaanhouding dood is. (Foto: Julio Cortez/AP)

Die massahisterie is ironies

Polisiebeamptes wêreldwyd is soms skuldig aan oordadige aggressiewe teenreaksie teen misdadigers, juis aangesien hul lewens in baie gevalle bedreig word. In die VSA word wetsgehoorsaamheid streng afgedwing, maar daar is weinig aanduiding dat polisiegeweld in die VSA gemik is op swart mense. Daar is ook min sin daarin om wat in die verlede gebeur het (slawerny, ensovoorts) elke keer te laat herleef en ’n hele bevolking in die beskuldigingsbank te plaas daaroor.

Sulke argumente val egter op dowe ore, aangesien dit in die belang is van linkse politici, die linkse massamedia en ander belanghebbendes, soos groot maatskappye en prominente individue wat hou van deugpronk (virtue signaling) en wat om een of ander rede skuldig voel oor hul sukses om die kulturele rewolusie te laat slaag.

Linkse ideologieë het die mantra van perswese, universiteite en die vermaakbeweging se massahisterie geword en is aan die voorpunt van die linkse kulturele rewolusie.

Die ironie is dat antirassisme die grootste vorm van rassisme (teen wit mense) geword het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Stefan ·

Vernietig, brand, plunder, watter oplossing is dit?
Dit wakker rassehaat steeds meer aan.

Piet parys ·

Dit kom net daarop neer dat sommige mense die wereld die swart mense sien as die verdruktes maar wat gaan aan in lande waar hulle in beheer is hulle vernietig almal wat nie met hulle saamstem nie en is dan die mees korrupte regerings in die wereld . Die hele afrika is swart en watter een is suksesvol sonder om die land aan china uit te verkoop . Die swart mense sal altyd rassisme voorgooi on misdadigers te beskerm . Kyk na die ANC regering en se hoeveel van die korruptes is al gevonnis . ! Niemand nie !

J ·

#Black-on-Black-lives-matter?
Marikana, Esidemeni, Andries Tatane, en 17000 ander moorde per JAAR!

Ma’s, pa’s, hoofmanne en konings het hul familie en onderdane as slawe VERKOOP aan Arabiere slawe handelaars.
#Black-on-Black-lives-matter?

Pieter ·

Moord en dood is nooit nuus nie, tensy daar verskillende rasse betrokke is. Dan het almal, en veral die politici, vreeslik baie te sê. Dit gaan alles oor politieke wins en nooit oor die dooies of hul familie nie.

Neels ·

Doen jouself n guns en gaan lees “The Bell Curve” op Google. Die antwoord en redes word daar gegee.

Karlahari ·

Hoekom het ons nie op Maroela Media gelees van die wrede aanval op Eduard Neumeister in Natal nie?
In stukke gekap voor sy vriendin?
Ook niks op News24 nie.
Ps: Hy was wit…….

Magda ·

ALL LIVES MATTER (NO MATTER YOUR SKIN COLOR) RACISM IS JUST AN EXCUSE TO STEAL AND BURN EVERYTHING DOWN.

Mallie ·

Dit is nie net Black lives that matter nie, alle lewe matter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.