VSA en Noord-Korea praat dalk verby mekaar oor kernwapens

Pres. Donald Trump van die VSA saam met die Kim Jong-oen, die Noord-Koreaanse leier, tydens die geskiedkundige beraad tussen dié twee leiers op die Sentosa-eiland in Singapoer in 2018. Foto: Kevin Lim/The Straits Times via AP.

Kim Jong-oen, Noord-Korea se leier, was met die skrywe hiervan nog op ’n sestien uur lange treinreis deur China op pad na Viëtnam, waar hy Woensdag en Donderdag in Hanoi met president Donald Trump van Amerika samesprekings gaan voer oor ’n kernwapenvrye Koreaanse skiereiland. Dit is ’n tweede stel onderhandelings ná die twee verlede jaar in Singapoer ontmoet het.

Trump het eintlik al ’n kernvryeverdrag in die openbare oog geproklameer, al wat nog kortkom, is die feite. Dat hy dit egter wil doen, is gewis, al is dit net om president Barack Obama te troef met sy eie Nobel-vredesprys.

Om die Noord-Koreaanse tameletjie behoorlik te verstaan, is dit nodig om ’n bietjie in die geskiedenis terug te gaan. Ná die Tweede Wêreldoorlog het genl. Douglas MacArthur, Amerikaanse bevelvoerder van die Amerikaanse magte in die gebied, die bevel gekry om die twee Koreas te verenig. Amerika was in die Suide baas, maar in die Noorde die Chinese van Mao Zedong. MacArthur het in die Koreaanse oorlog aanvanklik daarin geslaag om die Noord-Koreaanse en Chinese magte tot bo teen die Koreaanse grens met China terug te dryf. Mao het egter letterlik miljoene Chinese in die stryd gewerp en sy eie seun het ook daar gesneuwel.

Suid-Afrika sal ook die oorlog in die vroeë 1950’s onthou as een waar die lugmag se tweede eskader, oftewel die Cheetahs, aan die kant van die Amerikaners geveg het. Suid-Korea is tot op hede so dankbaar hiervoor, dat Suid-Afrikaners nie visums nodig het om dié land te besoek nie.

Nietemin, later kon nie een van die twee groepe die oorhand kry nie. Hulle het mekaar tot ’n skietstilstand geveg waarna ’n spergebied die skiereiland in feitlik die middel verdeel het. Amerika het nooit die skietstilstand onderteken nie, hoewel hy dit min of meer eerbiedig het.

Daar is geen twyfel dat Suid- en Noord-Korea alles sal wil gee sodat die twee dele weer herenig kan word nie. Aan beide kante van die spergebied is daar familielede wat mekaar laas in die veertigerjare van die vorige eeu gesien het. Die probleem is en was dat Amerika en Suid-Korea nie kans gesien het vir die kommunistiese beleid van die Noorde nie.

Intussen het Noord-Korea sy eie kernbomme ontwikkel om, soos Suid-Afrika jare gelede, as afskrikmiddel vir sy vyande te dien. Hy was en is ook steeds besig om interkontinentale missiele te ontwikkel wat kernplofkoppe tot op Amerikaanse grondgebied kan dra.

Trump, op sy eiesoortige manier, het egter ’n kans gesien om naam te maak. Vrede in die gebied sal sekerlik tot sy statuur as staatsman bydra. Hy was egter nie die eerste nie, en vele pogings in die verlede het skipbreuk gely. Dit het hom egter nie verhinder om, nadat hy met Kim Jong-oen in Singapoer vergader het, te verklaar dat hy suksesvol was nie.

Die probleem is egter dat Trump en Noord-Korea oor twee verskillende dinge praat. Trump wil hê Noord-Korea moet sy kernwapens laat vaar, en laasgenoemde wil die hele gebied sonder kernwapens hê. Dit beteken Amerika moet sy bote en duikbote wat kernwapens dra, uit die gebied verwyder en sy missielbasisse op Suid-Koreaanse gebied aftakel.

Trump sit egter met teenstand uit eie geledere: die Pentagon. Amerika het doodeenvoudig vyande nodig om sy reuse-wapennywerheid aan die gang te hou. Die Pentagon sal ook nie graag sy magte uit Korea (sowat 23 000) onttrek nie omdat China die eintlike vyand is.

Maar waarom in Viëtnam vergader? Amerika wil glo aan Kim wys hoe ’n kommunistiese land soos Viëtnam ekonomies kan vooruit gaan indien hy sonder kernwapens kan klaarkom en ’n Westerse geldinspuiting kan kry. Die gevaar bestaan egter dat Trump onverrigtersake sal moet terugkeer huis toe.

En waarom ry Kim Jong-oen met ’n gepantserde trein en vlieg hy nie bloot soos ander leiers nie? Die vraag is egter wie saam met hom op die reis van sestien uur ry. Is dit Chinese raadgewers? Kim was al een keer ná Singapoer in Beijing om te gaan kers opsteek. Dis in China se belang dat die hele Koreaanse skiereiland kernvry moet wees.

China het ook sy eie probleem met Amerika. Die twee lande onderhandel om ʼn handelsoorlog wat deur laasgenoemde begin is, te skik. Wat sal die onleesbare Oosterlinge dalk beplan?

Kry Trump dit reg om sy doelwit te behaal – dat Noord-Korea sy kern- en missielvermoëns aftakel – sal hy sekerlik ’n Nobelprys verdien. Ek twyfel egter of hy dit gaan regkry.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

Veels geluk nog ‘n navolger van die Demokrate en Soros! Max begin binnekort weer sy ou koerantjie in die buitekamer druk. Hy kam doen met negatiewe nuus.

Joe Hall ·

Twyfel of Max en sy pelle enige belangstelling in manteldraers sal toon.

Gert ·

Volgens meeste kommentators, as Trump iets goeds probeer doen, soos hier met die Noord-Korea onderhandelings, kan dit glad nie ‘n geval wees van dat hy sy werk goed probeer doen of in belang van sy land optree nie, nee dit moet wees omdat hy vir Obama wil ‘n punt wys, of omdat hy graag ‘n Nobelprys wil kry.
Hartseer.

Annie Webb ·

Dankie vir die geskiedenis, maar die negatiewe trant oor pres. Trump irriteer. Hy is die eerste VSA-president in iets soos 70 jaar wat dit hoegenaamd kon regkry om eens met Kim te práát. Die skrywer se huidige “inligting” kom só duidelik uit die linkse media dat ‘n mens lag kry. Wat pres. Trump ook al in Hanoi regkry, is steeds 100% meer as enige van sy voorgangers. En Obama hetdie Nobelprys gekry sonder dat hy enigiets gedoen het om dit te verdien, dus beskou pres. Trump en sy ondersteuners dit beswaarlik as belangrik.

Chris ·

Feitelike joernalistiek of net weer ‘n anti-Trump poging?Trump op sy eiesoortige manier,Hy wil naam maak.Dit het hom nie verhinder om te verklaar dat hy suksesvol was nie ens.Die anti-Trump sentiment loop soos ‘n goue draad deur die berig.

Therese van Schalkwyk ·

Die twee reël ontmoetings, skud hand en praat ten minste met mekaar.
Terwyl hulle mekaar leer ken (uitoorlê), voor die hele wêreld se vyandige joernaliste en televisiekameras, sal nie een van die twee sommer ‘n kernoorlog wil begin nie.
Selfs nie hul snedigste kritici behoort dáármee ‘n probleem te hê nie.
Maar dan, tartende twiets, terwyl een vinger bo ‘Die Knoppie’ huiwer, sou beslis beter opskrifte gemaak het.

Die sg. “handelsoorlog waarmee Trump begin het”, is m.i. bloot skikkingsonderhandelings om die vervaardigingsoorlog wat China jare gelede begin én eintlik reeds gewen het, te probeer beredder. “Made in China” klink so bekend.
Klaarblyklik verkies Westerse regerings en die mediakorps die status quo:
oneweredige invoertariewe, vervaardigingsbedrywe wat tot stilstand knars en grootskaalse werkloosheid.
President Trump kan eendag sê hy het ten minste probéér.

Annie Webb ·

In die kol, Therese van Schalkwyk. Absolute skande dat ons Suid-Afrikaners die ware feite moet gaan sóék. Ons media herhaal vir ons die linkse VSA-media se MENINGS, nie NUUS nie, nugter weet hoekom. Ons stem nie in die VSA nie, g’n rede om ons links te indoktrineer nie.

marco polo ·

Trump het reggekry wat n paar jaar gelede nog ondenkbaar was – om Noord Korea om n onderhandelingstafel te kry.
Wat die rede vir Kim se treinreis is, is redelik maklik verduidelikbaar. Kim het nie meer n vliegtuig waarmee hy kan reis nie en met die vorige onderhandelings in Singapoer moes hy n Air China vliegtuig gebruik, wat n verleentheid was; natuurlik n vreeslike ding vir n Oosterling. Ek dink hy wil probeer wys of voorgee dat hy nie so afhanklik van China is soos ons almal weet nie.

Ronnie ·

Min mense besef klaarblyklik dat Poetin wêreld oorheersing nastreef. Die uitslag van die Brexit stem was direk die gevolg van klandestiene beïnvloeding van Russiese kuberkrakers. Die EU is ’n mag om mee rekening te hou en is ekonomies baie voordelig vir sy lede. Dit is na aan waansinnig vir Brittanje om weg te breek.
Anders as Obama is Trump ten gunste van Brexit want dit is wat Poetin wil hê. Met Amerika in ‘n warboel en ‘n verswakte Europa danksy Brexit kom hy al nader aan sy ideaal vir wêreld oorheersing. “Putin’s Russia is clearly the biggest and most dangerous threat facing the world today”. So sê Garry Kasparov, voormalige wêreld skaak kampioen in sy boek, “Winter is Coming”.
Die Russiese Minister van Buitelandse Sake het verlede Maandag tekenne gegee dat die VSA hulle genader het vir advies ivm Noord Korea se kernwapens. Advies van ‘n moondheid wat FBI, CIA ens beskou as aardsvyand van die VSA? Maar nou ja, ons weet reeds Trump glo nie sy eie intelligensiedienste nie, hy glo net wat Poetin sê. Heel “toevallig” is Sergey Lavrov ook in Hanoi. Tyd sal leer wat dit beteken.
In my opinie is Trump geen staatsman nie en nog minder ‘n goeie sakeman. Hy begin met ‘n hardekwas houding onderhandel maar gee uiteindelik bes. Na elke nederlaag verklaar hy oorwinning. So het hy bv na elke hofsaak wat hy verloor het opgetree.
Watookal tydens die beraad gebeur, wees verseker, in sy eie opinie gaan Trump die oorwinnaar wees.

Therese van Schalkwyk ·

Ronnie
Enigeen wat onder die indruk was dat Trump bloot in sy voorgangers se voorspelbare spore sou volg, het uit die staanspoor nie mooi opgelet nie. Dit verklaar dan die ontnugtering, weersin en onophoudelike teistering van die man.
Die FBI en CIA boesem deesdae bitter min vertroue óf respek in; kan Trump dus nie kwalik neem as hy hulle ignoreer nie. Selfs “Russiese kuberkrakers” dans kringe om hulle, volgens sommiges!
Tienie Fourie noem dat die Pentagon nie juis vrede nastreef nie, terwyl die president die jarelange, tradisionele vyandigheid tussen lande wil probeer beëindig. Waarom op aarde dit vir Jan Publiek ‘n probleem is, is ‘n raaisel?

Terloops, ek glo nogal nie die Britte, wat uit hul plattelandse dorpies, werke en skole verdring word deur goedkoop Oos-Europese arbeiders, sal saamstem dat dit “waansinnig” is om te Brexit nie. Die welgestelde, bevoorregte Londonse “elite”,ja.

Jerry ·

Die anti Trump sentiment wat Tienie oor “Trump and Kim must fall off the China wall”! skryf, blyk erg ontstellend te wees vir sommige van ons meer sensitiewe en konserwatiewe mede kommentators. Dit maak egter geensins sin dat Tienie vir Trump moet ophemel wanneer Tienie voor sy heilige siel weet, dat Trump dit sommer self sal doen. Trump is jou wrintiewaar die spreekwoordelike “Jakkals prys sy eie stert” tipe besigheidskalant! Dit is vir my regtig verbasend dat Trump na al sy skandes nog enigsins aanhangers het wat bereid is om vir hom op te staan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.