VSA kan net verder verloor in Afghanistan

soldaat-in-afganistan

Foto: Pixabay.com

Meer as 15 jaar nadat die VSA op 7 Oktober 2001 besluit het om Afganistan binne te val en die Taliban, wat op daardie stadium dié land met ’n ystervuis beheer het, te onttroon, lyk die kanse op stabiliteit en vrede in dié land des te meer onwaarskynlik.

Die amptelike oorlog het reeds in 2014 tot ’n einde gekom met meer as 100 000 mense, insluitende soldate van meer as tien lande, sowel as ’n groot aantal burgerlikes wat hul lewens in die konflik verloor het. Tot op hede is byna 2 300 Amerikaanse soldate dood en meer as 20 000 beseer in die langste oorlog waarby die VSA nog betrokke was. Die oorlog in Afganistan kos reeds honderde miljarde dollar.

Ná aanvanklike suksesse met die onttroning van die Taliban het die stryd om die vestiging van ’n stabiele regering in Afganistan meer teëspoed as voorspoed beleef. Toe pres. Barack Obama in 2008 die leisels by pres. George W Bush oorgeneem het, was dit gou duidelik dat die VSA nie sommer net uit Afganistan kon onttrek nie. Teen 2011 het Obama die teenwoordigheid van Amerikaanse soldate in Afganistan tot 100 000 verhoog met die hoop dat die Taliban sodoende finaal uitgewis kon word. Vandag is daar 8 500 Amerikaanse soldate in Afganistan en oorweeg pres. Donald Trump om dié getal met tussen 3 000 en 5 000 te verhoog.

Die vraag is egter: Wat sal dit alles help? Moraal in die Afgaanse weermag is besonder swak, terwyl burgerlikes min vertroue in die land se regering het. Mense leef in erge armoede en terreurgroepe se boodskap spreek gereeld tot veral jong mans wat geen hoop vir die toekoms het nie.

Sowat 40% van Afganistan se grondgebied word weer deur die Taliban beheer en gewelddadige aanvalle, meestal bloedige selfmoordbomontploffings, vind byna daagliks in die hoofstad, Kaboel, en ander stede plaas.

Die Taliban is lankal nie meer die enigste probleemgroep in Afganistan nie. Die Islamitiese Staat het die afgelope tyd sy teenwoordigheid in Afganistan wesenlik uitgebrei, terwyl nog ’n terroristegroep, die Haqqani-netwerk, vir sommige van die bloedigste aanvalle in Kaboel verantwoordelik was.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat Rusland en Iran samesprekings met die Taliban voer. Die verwagting onder meer en meer politici in die Midde-Ooste is dat die Taliban ’n realistiese kans staan om weer beheer in Afganistan oor te neem. Nie 3 000 of selfs 5 000 addisionele Amerikaanse soldate sal nie só ’n oorname stuit nie. In 2011 kon nie eers 100 000 soldate die Taliban se opmars stuit nie.

Die realiteit is dat Afgaanse terreurgroepe en hul leiers reeds lank deur individue en groepe in Pakistan ondersteun word. Sonder die uitwissing van Moslem-ekstremiste in Pakistan sal terreur in Afganistan nie gestuit kan word nie. Terwyl die VSA sy hande vol het in Afganistan, Irak, Sirië en selfs Libië, weet niemand regtig hoe die Pakistan-uitdaging hanteer kan word nie.

Die Amerikaners hou egter nie daarvan om ’n oorlog te verloor nie en sal sekerlik voortstoom in Afganistan met meer soldate en nog miljarde dollar se uitgawes. Intussen raak dit moeiliker en moeiliker om Amerikaanse militêre betrokkenheid in Afganistan te verdedig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nico K ·

Dit is waar dat die VSA op die lang duur nie teen die Taliban kan wen nie. Die Taliban is fanaties en gee nie om hoeveel van sy mense sterf in die stryd nie of hoeveel dit die land kos nie. Net soos die meeste radikale Moslemgroepe. Maar dit bly tragies. Ek het gelees hoe wonderlike land was Afganistan voor die Taliban. Vrede, vryheid en geen minder voorspoed as enige ander midde-oosterse land nie. En na die Taliban oorgeneem het, het dit verander in ‘n diktatuur met geen vryheid en mense wat in tronke verdwyn. Ja die VSA kan onttrek, maar dit gaan die nie radikale Moslem groepe laat ophou met terreur nie. Hulle gaan net aanhou en dit voorspel niks goed vir die hele wêreld nie. Vir ons ook nie.

Gideon ·

Die doel is dalk nie noodwendig om te wen nie. Onthou Napoleon se siening – sonder oorlog het jy nie goeie soldate nie en in oorlog word nuwe wapens getoets en ontwikkel. Die situasie skep ook intelligensie geleenthede. Nuwe koalisies ens. Afghanistan is nie van strategiese belang nie, die koste vir die VSA is eintlik maar laag

Ashlee ·

Amerika het nooit daar “verloor” nie. Die Taliban het soos wilde honde gehardloop, en kruip tans weg in grotte. Waarom stuur Amerika meer troepe in? Om Isis uit te hou!!

donker duiwel ·

Die Taliban kruip nie in grotte weg nie. Hulle is normale burgerlikes in die dag en as die son sak gaan haal hulle die AK uit sy wegsteekplek .

johny_walker ·

Mense moet ophou dink amerika begin oorloe om te wen , hulle begin oorloe vir tientalle ander redes , wen is nooit regtig hulle mikpunt nie

jaco ·

ons belastinggeld betaal vir Nkandla, die Guptas, reusagtige salarisse vir politici en staatsamptenare wat niks doen nie. Amerikaners se belastinggeld betaal vir hierdie duur oorlog van “miljarde dollars” in Afghanistan. Uiteindelik het elke land maar net n ander stel probleme wat nooit opgelos word nie.

Knikkebollen ·

Om Afganistan te verstaan, moet mens ophou om kortsigtig te wees- die Taliban is die moderne vergestalting van al die groepe Afgaans wat oor eeue heen enige inval weerstaan het- van Alexander die Grote tot die Magtige Britse Ryk en die Sowjet Unie, het hulle moses teegekom in daardie pleK- Afganistan.

JohanS ·

Om ‘ n leeu bloots te ry is fantasties lekker, – die probleem is net hoe om af te klim. Die VSA en die res van die Weste het ‘n wesenlike probleem in die sin dat die Islamitiese geloof in wese onverdraagsaam is en die Weste as die vergestalting van satan sien. Dit sal geen verskil maak as Amerika more uit al die genoemde lande onttrek nie. Die bomaanvalle in Europese lande sal net voortduur en die bedreiging vir die VSA net groter word. Die vraag is hoe die Weste en die VSA die probleem die hoof gaan bied want afklim gaan maak dat hulle seerkry…

jurie blanche ·

wat is die oplossing? te ontrek endat taliban oorneem jul liberale joernaliste vergeet dat 9/11 aanvalle in Amerika plaas gevind het ń ruk voor inval voor irak en Afghanistan. Die arabiese lente wat beskou was as demokratiesering van muslim state maar net die begin was van isis, isis bestaan nie isis is iran die kamstige aanval in iran deur isis kan jy ook maar met n knippie sout vat, Ja in tunisie het die straat smous homself aan die brand gesteek maar later is die opstand gekaap deur iran. Hou die oorlog in Afghanistan en stimileer wapen bedryf en as die Amerika geld kos kos dit ook iran geld en jy kan sien hoe geld versprei word. President Trump sal VSA intelligensie opknap nadat hy van gemors ontslae is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.