VSA: Nou éérs ’n stryd tussen linkse globalisme en Trumpisme

Die Amerikaanse presidentsverkiesing is nog nie verby nie. Pres. Donald Trump het juis weer Maandag in ’n twiet aangedui dat hy die verkiesing gewen het. Terselfdertyd het sy opponent, Joe Biden, reeds twee weke gelede homself as die wenner gekroon. Wel, eintlik het die groot nuusmedia Biden as die wenner aangewys en Biden het heel gemaklik daarby ingeval om as verkose president bekend te staan.

Trump se opdraande stryd

Pres. Donald Trump. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Daar is natuurlik nog geen amptelike wenner aangewys nie en Trump het ook nie aangedui dat hy Biden se aanspraak aanvaar nie. Trump se kamp is besig met verskeie hofgedinge om derduisende stembriewe ongeldig te probeer verklaar in ’n paar state waar die stemming so naby was dat enige kandidaat kon wen.

Trump het waarskynlik te min skietgoed om te bewys dat hy gewen het, maar Biden en die groot nuusmedia se vanselfsprekende aanspraak op Biden se oorwinning is uiters arrogant. Ons sal maar nog moet kyk wat se drama, indien enige, die hofuitslae nog gaan oplewer.

Trump se kanse om weer herkies te word, hang aan ’n baie dun draadjie. Tans is Biden die voorloper in ses state – Georgia, Wisconsin, Michigan, Pennsilvanië, Nevada en Arizona – wat deur Trump betwis word. Tensy iets dramaties gebeur, soos dat die howe in minstens drie state ’n klomp stemme ongeldig verklaar, is Biden op pad Withuis toe.

Trump se aanspraak op verkiesingsbedrog is nie ongegrond nie. Daar is reeds aanduidings dat heelwat “dooies” gestem het en dat posstemme (sommige is te laat ontvang en steeds getel) wonderbaarlik in sekere gevalle teen ’n koers van 6:1 in Biden se guns was. Moet vir geen oomblik glo dat die Demokrate, wat vir vier jaar probeer het om van Trump ontslae te raak, nie in staat is om verkiesingsbedrog te pleeg nie, al is die VSA die bakermat van Westerse demokrasie. Verskeie pogings, wat amper as “staatsgrepe” geklassifiseer kan word, is oor vier jaar geloods om van Trump ontslae te raak.

Trump verras weer

(Foto: Mark Humphrey/AP)

Die verrassing van die verkiesing was dat Trump soveel steun verkry het nadat daar voorspel is dat hy vrek ver gaan verloor. In een van die verkiesings met die hoogste stempersentasie in amper honderd jaar en tydens ’n pandemie, het Trump so goed gedoen dat hy sy stemme vermeerder het met 10 miljoen, van 63 miljoen in 2016 na 73 miljoen in 2020. Dit het die linkse massamedia se demonisering van Trump laat misluk. Hy was die versinnebeelding vir konserwatiewe Amerikaners wat keelvol is vir die linkse agendas wat hulle en hul waardes verafsku. Maar later meer daaroor.

Natuurlik het Biden alle vorige rekords gebreek deurdat amper 79 miljoen mense vir hom gestem het en dus verdien hy seker om te wen, ten spyte daarvan dat sy kiesers eerder teen Trump gestem het as vir Biden. Biden het amper geen veldtog gevoer nie en die media het eenvoudig sy werk namens hom gedoen deur anti-Trump-propaganda vir vier jaar oor en oor uit te spoeg.

Dit sou nogal interessant gewees het as Trump meer ewewigtig deur die media hanteer is. Hy sou sekerlik dan baie maklik die verkiesing gewen het, selfs ten spyte van die honderd duisende wat in die VSA weens koronavirus dood is en wat Trump ten laste gelê word.

VSA se pad na linkse globalisme

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

As ons vir ’n oomblik aanvaar dat Biden wel die verkiesing toegeken gaan word (aangesien daar nog geen aanduidings is dat Trump gaan slaag in sy hofaansoeke nie), is daar ’n paar belangrike gevolgtrekkings wat gemaak moet word oor die toekoms van die VSA.

’n Biden-sege gaan beslis ’n vinnige linkse verskuiwing van die VSA veroorsaak. Die Demokrate het vroeër Pandora se boks oopgemaak en hul linkse stormtroepe losgelaat wat in die naam van anti-fascisme en anti-rassisme juis fascisties en rassisties optree. Black Lives Matter (BLM)- en Antifa-plunderaars en opstokers gaan vir geen oomblik tevrede wees dat daar nog soveel konserwatiewe mense in die VSA rondloop nie.

Hulle sal voortgaan om deur geweld en intimidasie hierdie mense te probeer forseer om aan die nuwe linkse gesag onderdanig te wees. Daarmee saam kan ons ’n ongekende sielkundige oorlogvoering in die VSA-media teen konserwatiewes verwag.

Die ‘nuwe’ Amerika

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die Demokrate se planne is kortweg meer sosialisme en globalisme: meer mense wat afhanklik gaan word van staatstoelae, ’n groter aandrang op “gelykheid” – wat niks anders as meer diskriminasie teen wit mense is nie, ’n toestroming van onwettige immigrante, Amerika se hertoetrede tot globalistiese instellings en, les bes, dalk iewers weer ’n oorlog om die militêre industrie se aandrang op konflik te stil. Iewers gaan (meestal) onskuldige mense in Sirië, Iran, Noord-Korea of waar ook al se lewens in gedrang kom deur meer oneindige oorloë teen ou en nuwe vyande.

Voeg daarby meer staatsbeheer oor mense se doen en late (wat tans deur Covid-19-inperkings deur politici uitgebuit word), die verwerping van die VSA se geskiedenis, ’n psigose dat wit Amerikaners vir altyd moet boete doen aan swart Amerikaners – en voeg sommer ook daarby die hedendaagse debat of daar iets soos geslag bestaan – en jy het ’n resep vir Amerika se vinnige agteruitgang.

Die spoed van die demokrate se versugting na die “nuwe Amerika” gaan afhang van Biden se teenkanting (moenie te veel verwag nie) en of die Republikeine daarin gaan slaag om die senaat te beheer. Die Republikeine het wel met hierdie verkiesing reeds 50 van die 100 verteenwoordigers daar gewen met twee setels wat deur herverkiesing in Januarie bepaal word. Die Demokrate het weer beheer oor die huis van verteenwoordigers behou, met ’n verkleinde meerderheid van (tans) 219 teenoor 203 (218 verteenwoordigers beheer die huis, maar daar is nog ’n dosyn of wat setels wat uitsluitsel moet kry oor die wenner).

Maak soos die ANC

Foto:. (AP Photo/Brynn Anderson)

Die Demokrate sal ook wil verseker dat hulle nooit weer ’n presidensiële verkiesing teen die Republikeine verloor nie. Dit behoort redelik maklik te wees deurdat miljoene immigrante van Derde Wêreldlande toegelaat gaan word om die VSA binne te kom en beplan word om miljoene onwettige immigrante VSA-burgerskap te gee. Dit is oorbekend dat sulke arm immigrante meestal die Demokrate steun oor hul beloftes van sosiale toelae. Die Demokrate gaan dus, soos die ANC in Suid-Afrika, seker maak dat basiese toelae en behoewendheid aan die staat, hulle die een verkiesing ná die ander sal laat wen.

Terselfdertyd gaan die VSA, wat reeds ernstige probleme ondervind met armoede, dwelmverslawing, hoë mediese kostes en werkloosheid ná die pandemie, verder agteruitgaan. Die verval is reeds duidelik, meestal in stede wat deur Demokrate beheer word en verval in misdaad- en dwelmhole. Dit sluit in bekende stede soos Pittsburgh, Cleveland, Detroit en St. Louis. Groot wêreldstede soos New York en San Francisco gaan ook vinnig agteruit en derduisende middelklas mense verlaat reeds hierdie stede.

Die agteruitgang gaan die meeste Demokrate egter nie te veel skeel nie, want die objek is ’n nuwe sosiale orde deur politieke mag. Daarmee saam kan ons ook die snelle toename van korrupsie en betogings en geweld verwag. Die BLM en Antifa se geweld word reeds deur die Demokrate en die media gewettig en dien terselfdertyd as afskrikmiddel teen teenstand van konserwatiewe Amerikaners.

Trumpisme beheer nou Republikeine

Pres. Donald Trump. Foto: (Doug Mills/The New York Times via AP, Pool)

Wat die Republikeine betref, het Trump ’n totale ommeswaai bewerkstellig. Waar die Republikeine se presidentskandidate sedert die 1990’s maar eerder gematigde weergawes van die Demokrate was en gedurig na links beweeg het, het die VSA nou vir die eerste keer in jare ’n sterk konserwatiewe beweging – naamlik Trumpisme.

Trumpisme is ’n alliansie tussen blouboordjiewerkers en die Amerikaanse middelklas en ’n totale wegbeweeg van die “ou” Republikeine wat basies die superrykes en die hoër middelklas verteenwoordig het.

Trumpisme het die verbeelding van die middel- en laer klasse aangegryp en Trump het, ten spyte van die ongekende propaganda teen hom (asook sy eie tekortkominge), die versinnebeelding van die weerstand teen globalisme se stryd teen volkswaardes en die gesin geword. Dit bied ook hoop vir miljoene blouboordjiewerkers en klein besighede om te oorleef teen die globaliste. Trump is beslis die gewildste figuur tans in die VSA. (Ja, Biden het dalk meer stemme gekry, maar dis eerder weens anti-Trumpisme en beslis nie oor Biden se charisma nie).

Trumpisme se gewildheid het sy teenstanders weer onverhoeds gevang. Die verkiesing het egter bewys dat die VSA presies in twee geskeur is en dat albei strome totaal verskillende visies verteenwoordig. ’n Mens kan beswaarlik sien hoe die Demokrate die Trumpiste gaan oortuig om hul visie te aanvaar.

Trump 2024?

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Evan Vucci)

Een manier is moontlik om Trump te probeer vernietig. Trumpisme is nie noodwendig gesetel in een persoon nie, maar as hulle Trump kan verwyder, kan dit die beweging ’n reuseknou gee. Ons kan dus hernude aksies teen Trump en sy familie verwag. Hy word reeds beskuldig van korrupsie (dit blyk tans sonder enige gronde te wees) en die Demokrate sal alles probeer om Trump selfs in die tronk te stop. Vele hofgedinge sal noodwendig volg. Die linkses is beslis nie klaar met Trump nie; hulle weet hy hou die grootste bedreiging vir hul gesag in.

As Trump wel die 2020-verkiesing verloor, is daar ’n redelike kans dat hy in 2024 weer sal staan as presidentskandidaat. Hy is tans die Republikeine se enigste kans om werkers, die middelklas en selfs minderhede se steun suksesvol te wen. Trump kan ook deur sy familie Trumpisme laat voortleef. Sy twee seuns, Don jr. en Eric, se koppe staan politiek toe en sy dogter Ivanka is ook gewild.

Dit sal ook nie verbaas as Trump ’n mediahuis begin nie. So ’n kanaal sal Trumpisme bevorder en die massamedia die stryd aansê. Tans het Trump byna net sy Twitter-rekening en ’n paar mediapersoonlikhede op Fox News wat hom en Trumpisme goedgesind is.

Wat ook al gebeur met die uitslag van die verkiesing, dis nie verby voordat ’n amptelike stemming in die huis van verteenwoordigers plaasvind hier in die tweede week van Desember nie. Tot dan gaan Trump alles in die stryd gooi om ’n haas uit die hoed te pluk, al lyk sy kanse skraal.

Hoe dit ook al sy, al wat in die pad staan van die VSA se snelle beweging na linkse globalisme en sosialisme, is Trumpisme. Die veldslag is dalk (amper) verlore, maar die stryd is nog lank nie verby nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Anna-marie ·

Hou advokaat SYDNEY POWELL DOP. Sy is besig met….”Release the Kraken”

annie ·

As Biden dink sy pad is met rose uit antie Trump se tuin besaai dan wag ‘n paar verrassings vir die oompie. Obama is reeds meer keer op die kassie as hy en sy antie meer keer as prof dr Biden. Dit sal weer Obama-Biden wees. Dalk word ‘n flat vir twee oumense by die Withuis ingerig. Die vraag is net wie gaan waar woon. En dan kom die Harrisse ook nog by om die koffie sterker aan te maak…

Therese ·

Puik waarnemings, Nico Stegmann!
Die Demokrate en die hoofstroommedia se algehele onwilligheid om énige soeklig op die stemprosesse te laat val, is die mees verstommende aspek in hierdie hele ‘sorry saga’.
Voor die voet ontkennings wek agterdog en laat ‘n wrang smaak, veral met die lees van senator Ted Cruz en Jack Dorsey, die CEO van Twitter, se gesprek in die Senaat, waarin Cruz o.a. melding maak van ‘n Texas-vrou wat 134 aanklagte van stembedrog teen haar het!
Wat ‘n klugspul. Veral wanneer die ‘foutjies’ altyd die een span bevoordeel.

Anoniem ·

Trump het nog nie sy “oorgee” toespraak gelewer nie, want hy weet sekerlik hoe die land se konstitusie werk. Die stryd is nog lank nie verby nie.

David ·

Hy sal nooit “Concedes” nie, want dit beteken hy gee “vrywillig” in. Wat nooit sal gebeur nie. Indien die howe nie die probleem kan oplos nie, sal die saak eindig by die Huis van Verteenwoordig wat sal moet besluit wie wen, en die Repubilkeine beheer die huis. Soos ek verstaan. Maw Trump sal NOOIT concedes nie

Anna-marie ·

Vanoggend 00:05 op OAN News: Joe Biden as “Criminal suspect ” in Ukraine geregistreer. Dit gaan oor die afpersing van die Ukraiense regering deur Joe Biden om vervolgings generaal van Ukraine: Victor Shokin af te betaal. Shokin het kriminele klagtes in Ukraine teen Hunter Biden gelê. Hunter Biden op Burisma oil se direksie. Joe Biden het aan die Ukraiense Regering 1 Biljoen doller in waarborge beloof. Shokin is afbetaal……..Video waar Joe Biden spog oor sy kordaatstuk op Youtube te sien.

Anna-marie ·

Nou op rumle onder Chutzpah : Ukrainse regering nou besig om al die bedrog van Joe Biden in Ukraine aan die lig te bring. Die Demokrate het hulle probeer keer….

Anna-marie ·

Rumble is ‘n kanaal soos Youtube maar word NIE DEUR DIE BIG TECH MAATSKAPPYE GESENSOR NIE

Yolandie ·

Enige iemand wat Donald Trump onderskat maak ‘n fout. Hy het nog tot 14 Desember om die resultate te betwis. Ons sal sien hoe sake uitspeel. Een ding is verseker, daar is een GROOT korrupte nes. En die Demokrate weet as Trump vir nog 4 jaar herverkies word is hulle doppies geklink. Koppe gaan rol. Ek kry solank die popcorn sodat ek al die aksie vd kantlyn kan dop hou.

Kallie ·

“gebalanseerd en betrounaar” is ‘n grap! Hierdie berig is so ongebalanseerd, dit is ‘n klug.

“Biden en die groot nuusmedia se vanselfsprekende aanspraak op Biden se oorwinning is uiters arrogant” Dit is hoe dit ELKE verkiesing gedoen word! En die projeksies word gedoen gebasseer op eenvoudige WISKUNDE.

Ek het soveel meer verwag van die publikasie as wat in die berig geplaas word. Dit is uiters swak. Die getal onsin uitsprake in die berig is oorverdowend. Die hele Maroela Media is nou net nog ‘n verrregse flenter publikasie op die internet.

Waar gaan ‘n Afrikaanse mens REGTE gebalanseerde berigte kry? Is dié wat al ons Afrikaners is? Ek hoop regtig nie so nie.

Baie teleurstellend.

Anna-marie ·

Ek stem 100% saam met jou Kallie. Die berig vroeër deur Jaco Kleinhans is net so arrogant en oningelig. Die mense kyk en luister na die HOOFSTROOMMEDIA en dink dan dat hulle weet wat aangaan.

Therese ·

Stom van verbasing dat Kallie (hierbo) Maroela as ‘n “verregse flenter publikasie” ervaar.
“Kru, kras ” en beledigend?
Gelukkig is daar ander Afrikaanse publikasies beskikbaar waar die meer gewilde hoofstroommenings klakkeloos herhaal/vertaal word.
In die manipulerende wêreldmark van menings, word onafhanklike opinies op Maroela hoog op prys gestel.
Doen so voort!

Anna-marie ·

Therese,
Ek het vir Kallie geantwoord. Ek moet nou erken dat ek Kallie se kommentaar te vinnig gelees het en te gou daarop gereageer het. Ek vra ook omverskoning as ek Nico en Jaco te na gekom het. My siening is om die waarheid te sê net die teenoorgestelde van Kallie.
Al wat ek ten slotte kan sê is dat daar GROOT STEM BEDROG nou in Amerika ondersoek word. Daar is op servers in Frankfort in Duitsland wat stem inligting bevar, beslag gelê. Ek dink die pes konverensie in die Ukraine gaan die appelkar omgooi.

Anna-marie ·

Theresa, ek moet erken ek het Kallie se kommentaar te vinnig gelees. My siening is net mooi die teenoorgestelde van Kallie. Ek vra ook vir Kallie en Jaco omverskoning. Ek beveel aan dat julle die volgende nuuswerwe volg: OAN News, Next News Network, Dr Steve Turley, op Fox NET die volgende Tucker Carlson, Hannity, Lou Dobbs, Maria (weet nie haar van nie) Miskien Ingrahm. Die res is FAKE NEWS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.