VSA: Obama en ander futlose aksies teen Donald Trump

Barack-Obama

Pres. Barack Obama (Amptelike Withuis-foto deur Pete Souza)

Net toe ons dink almal aanvaar nou dat Donald Trump wel as Amerikaanse president ingesweer gaan word, word ons die laaste paar weke gebombardeer deur die uitgaande president, Barack Obama, en sy skoothondjies se sinnelose aksies om gevegslyne teen Trump op te stel. Dit het egter nie net daar opgehou nie. Die binnekring van Amerikaanse politici is besig om Trump te probeer sink nog voordat hy president geword het.

Obama se vloermoer

In die laaste paar weke het Obama met groot fanfare ’n verdagte CIA-verslag aanvaar wat uitwys dat Rusland deur die gebruik van kuberkrakers ingemeng het in die Amerikaanse presidentsverkiesing. Wat presies die kuberkrakers gedoen het en hoe dit die verkiesingsuitslag beïnvloed het, is egter duister.

Daarna het hy die Russe “gestraf” vir hul inmenging deur 35 Russiese diplomate van spioenasie te beskuldig en uit die land te skop. Dan het hy ook sy laaste weke as president gebruik om 3 500 Amerikaanse troepe met 87 tenks, 18 howitzer-kanonne en ander grofgeskut skielik na Pole, Estland en Bulgarye te stuur in ’n magsvertoon teen “Russiese aggressie”.

Obama word gesteun deur die direkteur van nasionale intelligensie, James Clapper, en twee senior Republikeinse senatore, John McCain en Lindsay Graham. Hulle steun bewerings dat Rusland op groot skaal ingemeng het in die Amerikaanse verkiesing om Trump verkies te kry. In die proses het die grootste mediahuise oudergewoonte Obama se aantygings as korrek aanvaar en grootskaalse anti-Russiese en anti-Trump veldtogte geloods. Of eerder propaganda versprei.

Sien, daar is weinig indien enige bewyse vir Russiese kuberkrakers se betrokkenheid in die VSA se verkiesing. Dit is redelik duidelik dat na strooihalms gegryp word om enersyds Trump in ’n slegte posisie te plaas, of andersyds konflik met die Russe te bevorder. In elk geval is die Obama-administrasie reeds maande en selfs jare besig om die Russiese president, Wladimir Poetin, onder verdenking te plaas en die openbare mening en politici te beïnvloed dat Poetin besig is met ’n ekspansionistiese buitelandse beleid om ’n oorlog teen die Weste te begin.

Daar is wyd in die media en deur meningsvormers bespiegel dat indien Hillary Clinton die president sou word, die natuurlike gevolg ’n oorlog teen Rusland sou insluit. Toe word die partytjie bederf deur die verkiesing van Trump, wat in Poetin ’n bondgenoot sien om groter probleme soos die krisisse in die Midde-Ooste te probeer oplos en die groei van Moslem-ekstremisme teen te staan.

Dit was egter nie die einde van Obama se pogings om Trump se buitelandse beleid te probeer beïnvloed of minstens erg te versteur nie. Obama het ook die Israeli’s die harnas ingejaag deur nie die VSA se gebruiklike veto te gebruik om Israel te steun in ’n VN-resolusie oor Joodse nedersettings in die Palestynse Wesbank nie. Vir die eerste keer tot dusver het die VSA buite stemming gebly en die bou van Israelse nedersettings is as ʼn oortreding van internasionale reg deur die VN-veiligheidsraad beskou.

Verder het die Obama-administrasie alles in sy vermoë gedoen om die Siriese rebelle, wat eintlik maar onbeheerbare milisiegroepe was en meestal uit die Moslem-ekstremiste bestaan het (waarteen die VSA eintlik in ’n staat van oorlog is), te steun en die regeringstroepe van Bashar Al-Assad uit die stad Aleppo in Sirië probeer hou.

Alles pure verniet want die Siriese troepe het met die hulp van Russiese bomwerpers die rebelle in Desember uit die stad verdryf. Daarna het die Russe met die hulp van Turkye vir die eerste keer ’n skietstilstand in die Siriese burgeroorlog afgedwing wat nou al ’n paar weke hou. Dit is gedoen sonder dat die Obama-administrasie enigsins betrek is. Uiteraard was dit ’n erge vernedering vir die Obama-administrasie.

Vir die rekord: Trump is gekant teen grootskaalse Amerikaanse militêre teenwoordigheid in Sirië en glo die Moslems is die vyand. Verder is hy ook onbeskaamd pro-Israel.

Trump stel Amerika eerste

So wat is hier besig om te gebeur? Dit wil voorkom of Obama en bondgenote in die Amerikaanse politieke stelsel ’n konfrontasie met Rusland aanmoedig en terselfdertyd Trump se buitelandse agenda probeer bepaal.

Trump het met sy aanstelling van ’n klomp knap voormalige sakelui as sekretarisse (oftewel ministers in die Amerikaanse stelsel) gewys dat hy van plan is om vinnig op te tree om werk te skep deur binnelandse sowel as buitelandse beleid radikaal te verander. Of die sakelui in staat gaan wees om politieke veranderinge te weeg te bring sal die tyd ons leer.

Hierdie veranderinge wat Trump in die vooruitsig stel is reeds om sy verkiesingsmantra van “Amerika eerste” te bevorder. Dit wil hy doen deur vinnig geld in die Amerikaanse ekonomie beskikbaar te stel wat onteenseglik vinnige groei sal meebring. Sy buitelandse beleid is oënskynlik om so min moontlik konfrontasie te veroorsaak wat die ekonomie met duur, ongewilde oorloë kan kniehalter.

Of Poetin hierdie sitasie gaan uitbuit om Rusland se grondgebied te vergroot of invloed uit te brei, sal ons nog moet sien. Heelwat meningsvormers glo Poetin het ambisies om die Oekraïne en Baltiese state (Estland, Letland en Litaue) in te neem en dus soos ’n Adolf Hitler van ouds op te tree. Dit is op hierdie veronderstelling dat die Amerikaanse aggressie teen Rusland geskoei is.

Hoe dit ook al sy, dit is in die Amerikaanse stelsel ongekend dat ’n uittredende president soveel ondeurdagte aksies loods in sy laaste maand of twee aan bewind. Gewoonlik probeer hulle so min moontlik doen om nie die nuwe president te ondergrawe nie. Die teenoorgestelde gebeur egter hier.

Obama se aksies behoort nie veel impak te hê nie. Poetin doen niks om die Amerikaanse uittarting teen te gaan nie en Israel kan nie wag dat Trump aan bewind kom om twee state se natuurlike bondgenootskap te hervat nie.

Wat wel duidelik is, is dat Trump hare op sy tande moet hê om enige veranderinge deur te voer. Die CIA het byna reeds oorlog verklaar teen Trump, terwyl die Republikeins-gesinde senaat en huis van verteenwoordigers (wat Trump eintlik moet ondersteun synde van dieselfde party) reeds hul mes vir hom in het.

Enigiemand wat Amerikaanse politiek volg kan maar hul sitplekgordels vasmaak: Soos met die verkiesing is dit weer Trump teen die media, teen die Demokrate en les bes, teen die Republikeine.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Tatta ·

Obama se tyd is verby, dit is tyd dat hy afklim. Hy het sy beurt gehad en niks om te se oor Trump nie. Hy wat tot nou toe geen uitsprake teen Moslem en ISIS aanvalle wou waag nie, is die laaste skoon papiertjie in die boek. Alles lyk so mooi van buite tot jy sien wat in die binnekringe aangegaan het onder OBAMA se ruling.

Kobus Hattingh ·

Baie goeie artikel dankie. Stem saam met alles daarin.

Denise ·

Obama het sy kans gehad en dit klink nie of hy so wonderlik was nie als nou net suur druiwe als so waar in die artikel!!!! Poetin vir president!!!!

Leendert ·

Van wat ek in die oorsee se pers lees, beskuldig Obama die Russe daarvan dat hulle disinformasie betreffende Hillary aan die Demokrate se e-pos adresse gestuur het, om haar te diskrediteer.

Wat ek egter nie kan verstaan nie, is dat die Engelse geheimediens het destyds gedink dit is ISIS wat disinformasie betreffende ‘n sekere Franse TV stasie, in 2014 die wêreld ingestuur het, toe kom hulle agter dat die e-posse kom van Rusland af.

Verdermeer beweer die Engelse geheimediens hulle het al in 2015 opgetel dat Rusland disinformasie betreffende Hillary Clinton aan die Demokrate stuur en hulle het toe die Akerikaanse geheimediens daarvan in kennis gestel.

Nou wil ek weet, wat het die Amerikaanse geheimediens al die tyd, van 2015 af, met daardie inligting gemaak, dat Obama dit eers November verlede jaar bekend gemaak het? Het hulle dit nie maar stil gehou omdat hulle ook nie vir Hillary as president wou sien nie? Obama moet eerder sy eie geheimediens laat ondersoek.

Spioen ·

Dagse Leendert,

Ek mag dalk verkeerd wees. Maar my opinie is, is dat obummer het gedink killary sal in elkgeval die stemme wen en volgende president van Amerika word. Trump sou nooit ‘n kans gestaan het nie, maar ek is van die idee dat maak nie saak hoeveel e-posse gestuur was deur “Rusland” het die mense gestem. Ek dink ook daar is baie demokrate wat geswaai het Republikeine toe.

Leendert ·

Spioen, veral wat mens weet het die Amerikaanse geheimediens die konkoksie uitgedink. Wat ek sê is waarom kap Obama na Trump? Waarom laat hy nie eerder sy eie slap geheimediens ondersoek nie, hulle het dan die kamma inligting al vir ‘n jaar gehad?

miv ·

Ai, dat die man nou so baie probleme wil veroorsaak voor hy uittree. Hy behoort gewillig oor te gee, nie oorlog te probeer veroorsaak nie! Hoeveel mense se respek vir hom gaan nou verlore. Hy is nou besig om sy gesin skade aan te doen. wanneer hy as ‘n gewone burger terug in die samelewing is, gaan mense hulle verstoot.

Ada ·

Laat hy en sy skelm maatjies- veral Hillary- so gou as moontlik die plek ontruim. Nie een het rugraat gehad om al die terroriste aanvalle te stop nie . Hulle het ook te veel oorloe veroorsaak. Net skade berokken. Geen Christenskap betoon nie. Nee wat waai asb sou as as moontlik!!!

Lizbe ·

Al gehoor van ‘cut your nose to spite your face’ – dis Obama en om nie eens te praat van al die skade wat sy ‘Obamacare’ aangerig het nie. Nee wat dis ‘n geval van ‘good riddance’. Dis net jammer dat die nuwe President nou met al die gebakte pere sit.

Anoniem ·

Obama se voorouers is afkomstig vanuit Afrika en net soos in SA se geval kan sommige Afrika bewoners (en nou blyk dit afstammelinge ook) mos nie insien en aanvaar dat hulle tyd verby is nie. Foeitog wat het hy in elke geval vir die VSA beteken? Wys net weereens die totale gebrek aan leierskap wêreldwyd.

gatiep ·

Baie goeie berig. Iemand wat nie bang is om waarheid te praat sonder n agenda.
Nog net n paar dae oor vir Trump om in te kom. Ek hoop en bid dat daar nie iets verkeerd loop voor oorgawe nie. Iets se vir my dat die maanne wat nou in beheer is baie moeilik die leisels sal afgee.

gatiep ·

Jammer oor spel voute sal vir my skerper vingers moet kry.

John ·

Lees die Engelse vanne en nou is dit glo ook ‘n Engelse informant wat sou gese het die Russe wou Hillary sink (miskien eerder andersom). Wie was eintlik die wereld se grootste gebiedsbesetter, Brittanje. Engelse in die VSA wil hierdie mode voortsit en weer ‘n wereldmag vestig onder die dekmantel van die bewaarder van geregtigheid (eintlik gierigheid). Die spreekwoord se mos, as jy self agter die deur staan… Waarom hulle dink dat as die Arabiere die Midde-Ooste tot in Yemen oorvat die Engelse, soos Lawrence van ouds, die Arabiere/Moslems/IS sal kan tem/manipuleer tot onderdanigheid en dat laasgenoemde sal aanhou om ruim wapentuig van die Weste aan te koop, maar dit tog nooit teen hulle sal wil inspan nie. Obama gaan nou eers sy ware kleure wys ook tov van Israel. Sy tweede naam is ‘n aanduiding?

jean ·

Suur druiwe vir die uiters swak president wat hy blykkbaar was………….

Ivor ·

Trump is deur God aangestel. Op 20 Januarie 2017 sal Trump 70 jaar, 7 maande en 7 Dae oud wees. Trump will en sal die Amerikaanse ambasade na God se ewige Stad Jerusalem toe skuif. Die Palestiene het nie bestaan voor die 2de wêreld oorlog nie. PLO. Terroriste. Al Trump se kinders is getroud met joode of gaan met joode uit. Trump stel baie joode aan in sy besighede aan. Maranata! Jesus kom! Israel en Jerusalem is God van Abraham, Isak en Jakob se eiendom. Dit behoort nie aan die halfbroer Ismael nie. Dit behoort aan die Joode, die stam van Juda. Die leeuw! Dis eind Tyd! God gaan oorlog teen die antichriste verklaar.

Gerhard ·

Ivor,dankie vir jou skrywe,baie goed.Ek wil n vraag vra,die gedeelte waar Abraham vir Hagar en sy kind moes laat gaan,hoe dink jy het hy gevoel om sy kind Ismael te sien gaan en ek lees dat die Here vir Hagar gese het dat Ismael n groot volk sal word,ek lees ook dat Isak en Ismael het Abraham begrawe en ek dink dat Ismael tog kontak met sy pa gehad het.Ek vra net die vraag om meer hiervan te leer.Dit roer my as ek die verhaal lees en ek probeer om elkeen van hulle se gevoelens te verstaan toe dit gebeur het.Groete

Therese van Schalkwyk ·

Puik en uiters nodige uiteensetting deur Nico Stegmann van die ongekende teenkanting wat ‘n nuwe President in die gesig staar. Iets wat jy nie sommer in enige ander koerant sal raaklees nie.

Obama se optrede laat ‘n mens amper sprakeloos, want dis net mooi die teenoorgestelde van wat hy beloof het met die twee here se eerste ontmoeting kort na die verkiesing! Donald Trump gaan hare op sy tande nodig hê.

jcwf ·

Trump is Amerika se Zuma. Hy wil net die VS gebruik om homself ryker te maak.
En jy sê niks daaroor nie, Nico? Hoekom? Net omrede Obama swart is?

chrisp ·

HE HE HE.
Ai tog die nou is Nico ook ‘n rassis net soos almal in die wereld. Jou beskuldiging het geen waarde meer nie.

Jerry Cloete ·

Snert, pure snert opgedis deur die skrywer. Dis baie duidelik dat hy hom verheug in die wete dat ‘n nie- wit Obama vervang word deur ‘n konserwatiewe wit president. Ek ag nog steeds Rusland as die grootste moeilikheidsmaker , naas China, soos wysgemaak deur die regerings in die vorige bedeling. Putin is en bly ‘n gevaar vir vrede op die planeet.

gatiep ·

Aai toggie Jerry vertel tog hoekom die US n swart presedent moet he. Ek verstaan nie daai gedeelte nie en jy moet maar lekker baklei met Rusland ek het nie lus om vir mense kwaad te wees wat my niks aangedoen het nie.

Piet Snot ·

Jerry, wat het ras met die hele petalje te doen?
Moenie rasbehep wees nie – ons het genoeg daarvan.

Astra ·

Is nuuskommentaar op ‘n platform soos die nie veronderstel om objektief te wees nie? Die artikel kon netsowel deur Trump self geskryf gewees het.

Landi Slatter ·

Dagsê Astra

Dankie vir jou terugvoer. Hierdie is ‘n meningstuk en ook onder ‘debat’ en dan ‘meningsvormers’ gepubliseer. Ons noem ook onderaan dié stuk dat “hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie”. Ek hoop dit klaar die verwarring op!

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Astra ·

Dankie Landi. Ek vra omverskoning. Is nuut op die platform en het later self besef die artikel was nie bedoel om ‘n objektiewe nuusberig te wees nie. Ek moes gedink het voor ek my mond uitgespoel het….

John ·

?.. Hoeveel atoombomme het Rusland al gegooi? En watter land beskou homself as die oppergesag in die wereld? Wie jok: die sjokolade-fabrikaat in die Oekraine of Putin? Aan wie het die Krim-skiereiland eintlik behoort? Al van die ou Russiese Volga-lied gehoor? Waar is die Volga-rivier en in watter taal is die woord, Volga? Hoe het Russiese prinse bykans ‘n duisend jaar gelede in Kiev beland en is nou nie meer daar nie, maar kwasi-Pole/-Nazi’s? Waar elders in die wereld het Rusland gebiede geannekseer? Hoekom bestuur Joe Biden se seun sedert die Maidan-plein-opstand ‘n olieraffinardery in die Oekraine en hang Navo nou daar rond? Wie wil graag die president van Rusland word? Leidraad: Hy (‘mister pretty face’) was in Rusland in die tronk weens misdadige bedrywighede en soek nou Westerse ondersteuning… en sy ogies blink vir nog… Hoekom nou soveel ‘fake news’ en baie glo dit? Antwoord: Omdat 007 altyd teen Rusland geveg het as die vyand a la 1984. Breinspoeling werk vir sommige mense veral saam met ‘n pakkie sout-springmielies… selfs vir ou ooms met lang wit baarde…

Henry ·

Wat ‘n lekker weerligafleier is al die temerasies oor Trump, anti(e)Trump of proTrump toe nie? Solank daar tog net ‘n ou ietsie is waaroor ge-kekkel kan word, om die aandag van ons eie groterwordende probleme te verskuif.

Dat Trump vir die voorsienbare toekoms die kitaar in die VSA slaan, sal minder as geen invloed hê op dit wat in hierdie droewe land besig is om te gebeur nie. Of Putin sy grootste pel mag wees, of dat hy die Meksikane met ‘n nuwe muur uit die VSA gaan hou, of die maan van kaas gemaak is – makiesakie.

Hierdie nuwe bedelaarstaat aan die suidpunt van Afrika is sover die internasionale politiek betref, van nul en gener waarde vir Trump, die Republikeine, die Demokrate of wie ookal wat op die internasionale terrein enige invloed kan uitoefen, op dit wat hier mag plaasvind.

Wat van meer en groter belang vir ons is, is wie en hoe die dirigent(e) die orkeslede van die huidige regime lei en vorentoe gaan lei. Daar kan weinig twyfel bestaan dat die wêreld vir wittes en in besonder vir ons Afrikaners, veel moeiliker gaan word as wat tot dusver ervaar is.

Maar…Viva Trump en die presidentsverkiesing! Viva Brexit! Viva Putin en die temery oor sy Afrikaanssprekende tweeling boetie Poetin! Viva Frexit!

Viva allie weerligafleiers!!!

Scientia Munit ·

Lank laas sulke eensydige beriggewing gelees! Kan net twee lesers dit raaksien ? En dan spring die volk op hul nekke. Ai. Ons val selfs meer as ander vir propaganda – of is dit n geval van dat ons niks goeds in Obama wil sien nie?

Therese van Schalkwyk ·

Gun ons asseblief die voorreg om dinge uit ‘n effe ander perspektief as die hoofstroommedia te lees en te hoor. Daar word elders in oormaat gesorg vir die meerderheid wat geen mening anders as hul eie duld nie.

Dit sou interessant wees om te lees hoe en waar jy dink Nico Stegmann nie by die korrekte feite gehou het nie?

Henry ·

Scientia Munit
Was daar dan iets goeds in Obama?
Dit wil tog voorkom asof ‘scientia’ en veral ‘sapientia’ in baie beskeie hoeveelhede by die ou aanwesig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.