VSA-politiek: Donald Trump gaan nêrens nie

President Donald Trump waai vir verslaggewers nadat hy met hulle gepraat het by die Wit Huis in Washington. (Foto: Manuel Balce Ceneta, AP)

Die Demokrate se pogings om van die Amerikaanse president, Donald Trump, ontslae te raak, het amper geen kans op sukses nie. Of Trump nou aan een of ander misdryf skuldig was of nie, is eintlik nie ter sake nie – die feit bly staan dat die Republikeine nie van Trump ontslae sal raak nie. Die eenvoudige rede hiervoor is dat Trump op tot soveel as 95% van die Republikeinse kiesers se steun kan reken – en sonder Trump sal daar geen Republikeinse opposisie teen ʼn aanslag van die linkses in die VSA wees nie.

Demokrate se aanslag teen Trump

Die Demokrate, wat die laerhuis (Huis van Verteenwoordigers) beheer, se saak om van Trump ontslae te raak, lyk maar bra flouerig. Dit gaan eerder oor Trump self as oor die oortreding en dis hoekom daar byna geen ondersteuning van die meer konserwatiewe dele van die Amerikaanse bevolking vir hul pogings is nie.

Die Demokrate het nou reeds deur ’n proses gegaan om in die laerhuis (waar die Demokrate ’n meerderheid het) getuienis van individue na aan Trump te verkry, om in komitees van die laerhuis te getuig om Trump moontlik in ’n staat van beskuldiging te plaas. Trump se beweerde sonde was om druk op die president van Oekraïne te plaas om Joe Biden, die Demokratiese presidentskandidaat vir 2020, se seun se oënskynlike korrupte sakeverhoudinge in die Oekraïne te ondersoek. Dié druk het, volgens die Demokrate, daarop neergekom dat Trump die Oekraïne afgepers het om Biden se seun te ondersoek, anders sou die VSA nie miljoene dollar se militêre hulp aan die Oekraïne oorhandig nie.

Volgens die Demokrate kom dit dus neer op afpersing om ’n opponent se kanse in die 2020- presidensiële verkiesing in die VSA te benadeel.

Die probleem met die hele politieke magspel in die VSA, is dat alles wat die Demokrate opdis teen Trump as persoon gerig is. Dit is dus moeilik om hul aksies nie in te beskou as politiekery om van Trump ontslae te raak nie, wat op sy beurt eintlik op ’n staatsgreep sal neerkom.

Hillary Clinton. Foto: (Jacob Hamilton/Ann Arbor News via AP)

Die Demokrate het, reeds voordat Trump amptelik as president beëdig is, begin om sy patriotisme verdag te maak en begin dreig om hom te verwyder. Trump sou kwansuis met Rusland saamgewerk het en op een of ander wyse die verkiesing voor hul kandidaat, Hillary Clinton, se neus weggeraap het. Daar is selfs ’n oud-FBI-hoof, Robert Mueller, aangestel om hierdie bewerings te ondersoek.

Vir langer as twee jaar het Mueller se ondersoek verloop en die oënskynlike eensydige nuuskanale van hoofstroommedia soos CNN, MSNBC en ABC, het amper daagliks berig hoe Trump oortree het en tot ’n val gaan kom. Uiteindelik was die hele ondersoek op hoorsê en bewerings gegrond en het Trump skotvry daarvan afgekom.

Trump is geen engeltjie nie. Hy is beslis onortodoks, onbeskof en tree in die proses soms onverskillig op oor baie aangeleenthede. Dit is dus nie onmoontlik om in te sien dat hy die Oekraïniese president op een of ander wyse gedreig het nie. Die probleem is dat dit ’n wollerige veld is en dat interpretasie aan sy woorde of dade gevoeg word. Waar nuuskanale wat openlik anti-Trump is, die getuienis voor die komitee van die laerhuis gebruik om hom summier as skuldig uit te wys, sien die pro-Trump nuuskanale, veral Fox News, hom weer as heeltemal onskuldig.

Trump is die anti-held

Dit bring ons by die openlike stryd tussen die linkses en die konserwatiewes in die VSA. Die linkse Demokrate en hul ondersteuners haat Trump met ʼn spreekwoordelike passie. Hy is die versinnebeelding van die “regses” – hy is gekant teen die instroom van Derdewêreld-vlugtelinge oor die Amerikaanse grens, teen Moslem-vlugtelinge wat van konflikgebiede soos Sirië na die VSA wil vlug en hy verwerp die geweldige aanslag van die media wat klimaatsverandering aan mensgemaakte koolstofdioksied koppel. Hulle haat ook sommer net sy kras persona, neerhalendheid en oënskynlike grootheidswaan. Sulke Amerikaners is diep in die verleentheid dat hulle landgenote vir Trump as president verkies het.

Pres. Donald Trump (Foto: Evan Vucci, AP)

Aan die kant van die konserwatiewes, meestal Republikeine, is Trump amper ’n tipe “anti-held”. Hulle kyk verby sy vele persoonlikheidsgebreke en sien iemand wat ouwêreldse patriotisme ten toon stel. Daardie tipe patriotisme wat die VSA die Koue Oorlog laat wen en die sterkste politieke, ekonomiese en militêre wêreldmoondheid gemaak het. Trump is onbeskaamd pro-VSA en probeer sy bes om globalisme om te keer sodat die Amerikaanse middelklas weer hulle werk kan terugkry wat oor dekades oorsee verlore gegaan het. Hy het verder hope sukses om ekonomiese groei deur patriotiese vryemark-inisiatiewe aan te moedig.

Trump is ʼn moeilike kalant wat namens die konserwatiewes die nuwe wêreldorde uitdaag, beskouings ondersteun dat aardverwarming ʼn klug is – om ’n ryk kliek verder te verryk, nie Amerikaanse soldate wil stuur om ondeurdagte oorloë in die Midde-Ooste en elders te voer nie en, les bes, die insypel van onwettige Derdewêreld-immigrante, wat die outydse VSA se lewenswyse bedreig, teenstaan.

Miskien is Trump se grootste attraksie vir sy ondersteuners, dat hy nie ʼn konvensionele politikus is nie. In baie dele van die wêreld, soos tans in Frankryk, Argentinië en natuurlik Suid-Afrika (om ’n paar te noem), het liberaal-sosialistiese demokrasie gelei tot die daarstel van linksgesinde, globalistiese regerings wat misluk het om hul bevolkings se verarming teen te werk. Beroepspolitici is meer geïnteresseerd in hul beursies of volgende eersteklasvlug as om bekommerd te wees oor die toekoms van hul middelklas en arm kiesers, wat ’n daaglikse stryd het om te oorleef.

Trump se “drain the swamp” (ʼn verwysing na die korrupte politici van beide die Demokrate en Republikeine in Washington) het dalk meer gedoen as enigiets anders om hom verkies te kry in 2016. Baie ondersteuners sien hom, ten spyte van karaktergebreke, amper as ʼn tipe “messias”. Trump is die laaste hoop om hul land te red van die Demokrate wat Amerika binne nog ’n geslag of twee in ’n Derdewêreldland gaan omskep.

Die Amerikaners is so diep verdeel oor hoe hulle die toekoms sien, dat die twee groepe, in ʼn ander tydvak, sekerlik al lankal in ’n langdurige gewapende burgeroorlog betrokke sou raak. Eintlik is daar reeds ʼn burgeroorlog aan die gang, maar dit word gevoer op nuuskanale, in die sosiale media en in state, stede en dorpe se konserwatiewe of linkse beheer oor verskeie verdelende aspekte in die samelewing.

Demokrate hoop op ’n Nixon-oomblik

So wat word dus nou van die Demokrate se pogings om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas en basies uit die Withuis te skop?

Hulle gaan in Desember probeer om Trump self te laat getuig voor die laerhuis en gaan dan heel moontlik stem dat hy “impeach” moet word. Alles dui daarop dat Trump dit sal verwelkom, want dan sal Demokrate soos Biden onder eed moet getuig van hul doen en late in die Oekraïne. Daarna moet die hoër huis (Senaat) besluit of hy skuldig is of nie. As hy skuldig bevind word, moet Trump bedank as president. Aangesien die Senaat ʼn klein Republikeinse meerderheid het en die Senaat ’n tweederdemeerderheid nodig het om die president af te dank, is die kanse hiervoor amper nul.

Dit plaas die Demokrate se besluit om van Trump ontslae te probeer raak in die kollig. As hul kanse nul is, hoekom daarmee voortgaan? Die Demokrate verduidelik gou dat dit oor die integriteit van die amp van die president gaan, dat ʼn president nie met sulke beweerde afpersing kan wegkom nie. Hulle hoop egter eerder dat die proses Trump gaan seermaak en soos die destydse Watergate-skandaal (wat gelei het tot president Nixon se bedanking in 1974) publieke momentum gaan opbou teen Trump.

Michael Bloomberg. Foto: (AP Photo/Bill Tiernan)

Wat egter duidelik is, is dat ten spyte van hul pogings die afgelope drie jaar om Trump te diskrediteer, die Demokrate geen hond haaraf kan maak om die pro-Trump-ondersteuners te ontnugter nie. Dit is kommerwekkend vir die Demokrate, aangesien al hulle presidensiële kandidate maar erg oninspirerend is. Nie een lyk regtig of hy vir Trump kan uitdaag nie, selfs nie eers hul nuutste hoop, die miljardêr Michael Bloomberg nie. Natuurlik gaan dit uiteindelik oor wie die middelgrond-kiesers kan oortuig om hulle te ondersteun, aangesien daar reeds ’n sterk pro- en anti-Trump-groepering bestaan.

Biden, tans die Demokrate se hoofkandidaat, was sy lewe lank ’n politikus en soos hy en sy seun se besigheidsbelange in Oekraïne en blykbaar ook China aandui, is daar erge sprake van die onbehoorlike gebruik van sy invloed (as voormalige visepresident onder Barack Obama) om gunste te verkry, wat op korrupsie neerkom.

Die Demokrate het hulself polities heeltemal in ’n hoek gedryf, aangesien hulle in die afgelope drie jaar, as gevolg van hul afsku teenoor Trump, telkens beleidstandpunte inneem wat lynreg met sy standpunte bots, bv. ’n onsinnigheid soos die basiese oopstelling van landsgrense vir ekonomiese vlugtelinge. Dit lyk nie tans of hulle Trump kan ore aansit in die 2020-verkiesing nie. Die hele aksie teen Trump lyk dus na politiekery om Trump uit te skakel as kandidaat vir die 2020-verkiesing.

Die staat van beskuldiging teen Trump is dood gebore en gaan Trump dalk eerder versterk as sy vertrek uit die Withuis veroorsaak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Feite ·

Die staat van beskuldiging mag doodgebore wees net agv die republikeine se ruggraatloosheid om op te staan teen n outokraat. Die ondersoeke gaan egter voort en bewyse teen trump vir verskeie oortredings stroom in. Een of ander tyd sal die republikeine teen hom draai, veral wanneer hulle namens trump in die tronk begin beland en dit is die rigting wat die demokrate gaan inslaan. Vervolg almal rondom trump totdat sy kaartehuis inmekaar tuimel en verdwyn!

Judge Dredd ·

…..beter kans dat Biden se seuntjie in die tronk gaan beland….

Akademi Buktu ·

Onder die Amerikaanse liberaliste (ongeloofwaardige bynaam “Demokrate”) se invloed het die VSA deur sy Hollywoods en dies meer die voorste uitvoerders van morele gemors na die res van die wêreld geword.

Spikkels ·

Stem heelhartig saam met die skrywer. Trump is daar om te bly.

André-Chris ·

Die Demokrate is nou ‘n voorbeeld van doen, in so ‘n situasie, wat mens verseker nie navolg nie. Laat die wêreld kennis neem.

André-Chris ·

Hul lelike kant het nou na vore gekom, miskien was dit altyd daar. Hierdie is die stoffasie wat as voorbeeld in boeke opgeneem moet word dat studente op universiteit kan leer hoe politiek nie bedryf word nie.

Human ·

Ekskuus, die FBI kon geen bewyse of inligting kry, dat Biden en sy seun betrokke was by korrupsie in die Oekraïne. Kan enige normaal denkende mens verkwalik word as hulle die Don sien vir wat hy is en dan nie bereid is om hulle gewete te verkrag, deur hulle steun aan hom te gee.

Andre ·

Ek stem saam met die skrywer dat die demokrate Trump se kanse op n groter oorwinning in 2020 aanhelp. Ondersteuners van ons regering sal Trump altyd kritiseer ondanks wat hy vir die werkende Amerikaner doen.

Piet left the Building ·

Ek het vir Trump gestem in die vorige verkiesing. Ek sal nie weer vir hom stem nie. Hy is ‘n swak Republikein, ‘n party waarin ek glo. Gaan verby Trump.

Human ·

Die Republikeine het Obama so gehaat dat hulle alle nugtere denke oorboord gegooi het en geval het vir die Don en Fox news se propoganda en daardeur veroorsaak het dat die Conman aanbewind kom. Die Don voel vere vir die VSA en sy mense en sy groot pratery is oe verblindery en dis net sodat hy homself kan verryk. Hy is al die pad net eie ek.

TrompieVSA ·

Nou watter kandidaat stel jy voor moet ons stem? Piet left the building!

Lc ·

PIET ? Try stem vir Mickey Mouse broeder, Jy se nie van van waar jy af kom nie. Ek vat n raai. 1miljoen ligjare van hier, planeet #/$:+(!/$+??????++

Demokrasie? ·

Gaan lees gerus Gregan se nuutste artikel op die Pra ag blad. Hy definiëer die terme sosiaal en demokrasie mooi.

Feite ·

Of trump gaan bly of gly, die feite is dat hy n fopkuif het en dat hy die meester van fopnuus is. Trump lieg meer as 22 keer in een toespraak op n slag en dit se alles van trump die mens, maar natuurlik se dit ook baie van trump se ondersteuners!

Human ·

Dis reg die spreekwoorde lui, “aan jou vriende sal jy geken word en meng jou met die semels en die varke(Don) eet jou”.

Judge Dredd ·

So liegbek Trump skep werk vir sy eie mense en heilige Demokrate gee Amerikaners se werk aan onwettige immigrante en Chinese.

4 More years – Make America Great!

Callie ·

Ek neem aan dat al julle anti-Trumpers eerder daardie oorlogsugtige korrupte Clinton in die Withuis wou sien? Trump is die beste ding wat met die wereld kon gebeur! Trump 20/20

Ronnie ·

Vir almal behalwe Trump aanhangers, is dit duidelik dat hy ‘n deurtrapte skelm is. Die skrywer is baie seker van sy saak maar ek dink kanse is baie goed dat die damwal enige tyd gaan breek en Trump hardloop weg.
Ek haal Barry Levinson aan want ek kan dit nie beter stel nie: “If this hearing
was a fictional piece of material, it would be presented in a totally
different manner. One of the Democratic players would ask this question.
How is it possible that President Trump was looking into corruption in
Ukraine? Suddenly he is a crime-fighter. Has the President ever tried to
end corruption anywhere at any time in his life over the years he`s been
found guilty of stealing from his own charity? Also, the President has been
found guilty of running a fake university and stealing money from people
who believed in him. The President has paid off women because of his sexual
aggressive behavior. Now, out of the blue, he wants to clean up corruption
in Ukraine, not Russia where Putin has killed off opposition players,
poisoning them in far off countries. President Trump has no real problem
with the Saudi Prince MbS having his butchers chop up a “Washington Post”
reporter. Not a real problem. Or Turkey`s aggression against Kurds, not a
big problem. But the Ukraine is corrupt, that needs to change? Are we
supposed to believe this? Donald Trump wants to clean up corruption,
starting with Biden`s son in Ukraine?”

Con Dumpi ·

Sodra mens besef dat ons in die eindtye leef, begin dinge meer sin maak. Sit Israel terug in die Bybel en lees wat God sê in Joël 3. Jesus self voorspel die eindtyd in Matt 24. Matt 25 sê hoe die dwases Jesus se wederkoms gaan mis en verder hoe die bokke (links) en die skape (regs) van mekaar geskei gaan word. Doen ook navorsing oor die Temple Institute in Israel. Sodra die Midde-Ooste vredesooreenkoms gesluit word, gaan die derde tempel in Jerusalem herbou word. Die begin van die laaste 7 jaar. Lees endtime.com/armageddon.

Lees die volgende artikel op Charismanews.com.
“Does Donald Trump Align With the Biblical Sign of 7?
7:00AM EDT 10/8/2019
Andy Rogers

Donald Trump (Reuters)
Donald Trump was 70 years, 7 months and 7 days old the day he became president of the United States in 2017 & Jewish year 5777. With the biblical significance of the numbers 7, 17, 70 and 777, many believers found this curiosity at least vaguely prophetic. And with his recognition of Jerusalem as Israel’s capital, Trump has certainly played a role in the unfolding prophetic restoration of Israel ….”

johan ·

ek lees so nou en dan rhoda khadalia se berigte uit amerika en haar waarnemings stem ooreen met nico s’n. of die demokrate nou daarvan hou of nie, die amerikaanse ekonomie is baie sterk. ons eie president kan ‘n blaadjie uit sy boek neem betreffende die onwettige immigrante wat ons land so oorstroom en ons ekonomie en mediese fasiliteite uitbuit. die beeld wat ons van trump het wotd meestal deur die linkse media in amerika aan ons opgedis. trump is voorwaar bombasties en oordonderend maar, lyk dit vir my, meerendeels goed vir amerika.

JV ·

Kyk, ek is nou glad nie ‘n Trump ondersteuner nie, ek hou niks van die man nie. Maar een ding sal ek erken…hy is baie goed vir Amerika. Ekonomie is op rekord hoogtes, en werkloosheid op rekord laagtes.

Stephan de S ·

Dit klink na n billike uiteensetting vd gebeure in die VSA. tsv die paar bitter-einders se opinies.

Flip ·

Nico Stegmann maak ‘n paar stellings wat nie met die amptelike Amerikaanse syfers klop nie.
Byvoorbeeld: “Trump is die laaste hoop om hul land te red van die Demokrate wat Amerika binne nog ’n geslag of twee in ’n Derdewêreldland gaan omskep.”
Die Federale Reserwebank se statistiek wys dat die Amerikaanse ekonomie en indiensneming vandag maar net ‘n streng voortsetting is van wat Obama na die 2008 resessie vermag het – ‘n resessie wat die republikeinse presidentstermyn be-eindig het. Daar is eintlik ‘n sterk patroon oor die afgelope drie dekades dat die republikeinse presidente die ekonomie verswak het, waarna die demokratiese presidente dit weer ophef.
Kyk gerus na die FRED se statistiek, byvoorbeeld:
https://fred.stlouisfed.org/series/GDP

Merkur ·

Die Federale Reserwebank: 23 Desember 1913, die dag toe Amerika sy onafhanklikheid verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.