VSA: Trump misluk met nuwe aanloop tot reisverbod vir risikolande

Donald Trump

President Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Een van Donald Trump se eerste mikpunte as nuwe president was ʼn reisverbod op burgers van sewe hoërisikolande om die VSA te betree. Die uitvoerende bevel is egter deur die howe verwerp en as diskriminerend bestempel. Dit het ook mense gekeer wat in daardie stadium met wettige visums in die VSA aangekom het of reeds daar was. Omdat al sewe lande (Iran, Irak, Libië, Soedan, Somalië, Sirië en Jemen) veral deur Moslems bevolk word, is dit as diskriminasie teen Moslems gekritiseer.

ʼn Gewysigde uitvoerende bevel is onlangs uitgevaardig. Een van die wysigings is dat een land, Irak, vrygestel is. Irak is nie self ’n ondersteuner van terreur nie (soos Iran en Soedan) en ook nie ʼn staat wat heeltemal in chaos gedompel is nie (soos Jemen, Somalië, Libië en Sirië). Boonop het Irak sy prosesse om reisigers behoorlik te ondersoek opgeskerp en is die risiko laag dat terroriste deur die net in Irak glip. Die uitvoerende bevel was ook nie, soos die vorige een, onmiddellik van krag nie, maar eers vanaf 16 Maart, en plaas ook geen onbeperkte verbod op vlugtelinge nie, maar slegs vir 120 dae. Vir die ander mense geld ʼn beperking van 90 dae, om genoegsaam tyd te hê om alle risiko’s te ondersoek.

Die ou uitvoerende bevel het ook onderskeid getref tussen Moslem- en Christenvlugtelinge. Dit maak sin om aan Christene voorkeur te gee, want hulle is die minderheid wat die swaarste kry in alle betrokke lande, en was nog nooit ʼn bedreiging vir veiligheid in die VSA nie. Dit sou egter neerkom op diskriminasie op grond van godsdiens en dit word deur die VSA se grondwet verbied.

Pres. Trump se teenstanders het kort ná die bekendmaking van die nuwe uitvoerende bevel geskarrel om dit gekeer te kry voor dit van krag word. Die staat Hawaii het die howe om ʼn dringende interdik gevra en enkele ure voor die beoogde inwerkingstelling het ʼn Hawaise regter, Derrick Watson, ʼn interdik daarop geplaas.

Die teenstanders van pres. Trump beweer dat die nuwe bevel nie wesenlik anders is as die ou een nie en nog deurentyd teen Moslems diskrimineer. Daar is ook geen bewyse dat burgers van die betrokke lande opvallend baie by terreuraanvalle betrokke was en dat dit ʼn saak van dringendheid is nie. Die verbod sou ook die toegang van toeriste en studente beperk. Die regter het al die argumente aangevoer en ook pres. Trump se eie uitsprake teen Moslem-immigrante teen hom gebruik om te bewys dat die verbod op reisigers en vlugtelinge uit die betrokke lande nie soseer oor veiligheid gaan nie, as oor die feit dat dit Moslems is.

Dit is wel so dat die ses lande almal Moslemlande is, maar in die eerste plek is hulle (oftewel die meerderheid van hulle) mislukte state sonder ʼn behoorlike regering met beheer oor die hele land, en groot dele wat onder beheer van Islamitiese terreurgroepe is. Reis is ook nie ʼn reg nie, maar ʼn voorreg en dit is ook nie die geval dat die betrokke lande groot handelsvennote van die VSA is nie, of wesenlike getalle toeriste stuur nie.

Pres. Trump het woedend gereageer en dit as aktivistiese en buitensporige optrede van die regter beskryf. Sedert sy bewindsaanvaarding word pres. Trump en sy politieke besluite uit sekere oorde met hand en tand beveg, en dit wil voorkom asof dit minder oor die kwessies as oor die persoon gaan. Sy voorganger Barack Obama het reeds begin met beperkinge op reisigers uit die betrokke lande deur strenger keuring en niemand het daarmee ʼn probleem gehad nie. Pres. Trump het aangekondig dat hy die saak tot die hoogste hof sal voer om die bevel in werking te stel.

Nou sal die howe die wetlikheid al dan nie van die uitvoerende bevel moet ondersoek, maar vir eers is dit van die baan. Die eerste ontwerp is veral deur pres. Trump se binnekring saamgestel en het talle regtelik bedenklike bepalings bevat, terwyl die tweede een heelwat insette van regsgeleerdes gehad het en ʼn beter kans staan om die toets van die howe te deurstaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Wanneer mense hul persoonlike weersin in Donald Trump belangriker ag as die veiligheidsituasie in die VSA, kan meer soortgelyke aanvalle as dié in London verwag word.

Ronnie ·

Miskien is dit wat moet gebeur om VSA burgers tot hulle sinne te bring

Janie Monsieur ·

Dagsê Paul,

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die fout, ons het nog ‘n ‘i’ bygevoeg. Dankie dat jy ons daarop gewys het! Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.