VSA verbod op hidrobreking luide waarskuwing vir SA, ander lande

Deur Jonathan Deal en Lambert de Klerk

Argieffoto van ‘n betoging teen hidrobreking. Foto: Werner Beukes/SAPA

AfriForum en die Treasure Karoo Action Group werk al baie jare lank saam om hidrobreking in Suid-Afrika te voorkom. As Suid-Afrika se watertekorte en wydverspreide droogtes in ag geneem word, is hidrobreking besonder kommerwekkend. In sekere dele van die VSA is hidrobreking verbode, en hierdie twee organisasies moedig die regering aan om hidrobreking ook in Suid-Afrika te verbied.

Langer as ’n dekade nadat gewone mense wat langs hidrobreking in die VSA woon, alarm gemaak het oor lewensbedreigende gesondheidsrisiko’s en wydverspreide besoedeling deur hierdie toksiese bedryf, het die Delaware River Basin Commission (DRBC) op 25 Februarie 2021 eenparig besluit om hidrobreking in die Delaware-rivierkom te verbied. Die gebied strek oor die vier deelstate Pennsilvanië, Delaware, New Jersey en New York-staat. New York-staat het voorts ook hidrobreking orals binne sy grense verbied. Die DRBC is ’n regeringsagentskap in die VSA wat in 1961 ingestel is deur ’n interstaatlike verdrag wat deur president John F. Kennedy op die wetboek geplaas is.

Hierdie jongste terugslag vir hidrobreking (skaliegasontginning) volg ná verskeie moratoriums en ‘n verbod teen hierdie mynproses in die vier deelstate oor die afgelope dekade.

Hidrobreking is die proses om fossielbrandstowwe, soos olie en gas, te ontgin deur ’n mengsel van water, sout en toksiese chemikalieë in die aarde in te spuit. Dit is ’n gevaarlike aktiwiteit – sommige van die chemikalieë wat gebruik word, is toksiese besoedelstowwe wat gekoppel word aan kanker, genetiese mutasies en ander nadelige gevolge vir menslike gesondheid, en daar is bewys dat die chemikalieë ’n verwoestende uitwerking op akwatiese lewe en ekosisteme het. Volgens die fossielbrandstofbedryf kan een liter koolwaterstof 1 miljoen liter water besoedel. As die Delaware-rivierkom vir hidrobreking aangewend sou word, sal nagenoeg 45 000 mense binne ongeveer 2 km van die hidrobrekingaktiwiteite woon, met groot risiko van genoemde gesondheidsbedreigings.

Belangrike besluit in die Afrika-konteks

Hierdie wetgewende besluit is geweldig belangrik in die Afrika-konteks. Die verbod beskerm meer as 45 000 mense wat naby werklike of beplande hidrobrekingbedrywighede woon, en dit het ’n einde gemaak aan aktiwiteit in een van die rykste skaliegasgebiede ter wêreld. Laastens, leiers en wetgewers het openbare gesondheid, vars water en skoon lug bo winste uit fossielbrandstowwe gestel.

Die Delaware-rivierkom het ’n oorvloed water vanuit groot rivierstelsels wat deur goeie reën (in Pennsilvanië gemiddeld nagenoeg 1 600 mm per jaar) en smeltende sneeu gevoed word. Suid-Afrika, Namibië en Botswana kry baie van hul water vir landbou en huishoudelike gebruik uit ondergrondse akwifere – dieselfde akwifere wat deur hidrobreking bedreig word. Die wegdoen van toksiese neweprodukte van die hidrobrekingsproses is ’n ontsaglike uitdaging – selfs die VSA weet nie hoe om van miljoene liter toksiese slik en water ontslae te raak nie. Afrika het nóg die moniteer- en toepassingshulpbronne nóg die kundigheid om dit te bestuur.

Doeltreffende moniteer- en toepassingsagentskap en -regime

Die VSA het ’n goed toegeruste en volledig opgeleide omgewingsmoniteervermoë. In Afrika is dit vir mynmaatskappye oor die algemeen moontlik om die omgewing te besoedel en te vernietig sonder om daarvoor aanspreeklik gehou te word voordat dit te laat is, indien ooit. Nigerië is ’n goeie voorbeeld van wat die fossielbrandstofbedryf aan die omgewing kan doen.

Gasnetwerk reg oor die VSA

Die meeste Amerikaanse gemeenskappe is toegerus om gas vir nywerheidstoepassings, verwarming en kosmaak te gebruik. Suid-Afrika het geen gaspypleidinginfrastruktuur nie, en ’n pypleiding, met groot en duur kompressorstasies, sal teen enorme koste gebou moet word vir ’n onsekere toekomstige lewensduur. Eskom sukkel om selfs normale daaglikse bedrywighede te bestuur, laat staan nog om ’n toevoernetwerk vir vlugtige gas oor duisende kilometer te ontwikkel, te bedryf en te bestuur.

Afrika se komplekse geologie

Die geologie van Afrika suid van die Sahara verskil baie van dié van die VSA en word gekompliseer deur die feit dat die ondergrondse water dikwels in ’n stelsel van vulkaniese dolerietplate en -gange voorkom. Dit verhoog die koste van boorwerk en bring mee dat die kanse van besoedeling van ondergrondse akwifere en rivierstelsels eksponensieel toeneem.

Ekonomie

Die verhoogde koste van boorwerk en ontginning met die gebruik van buitelandse kenners, toerusting en personeel maak die prys van die gas nog hoër as dit vergelyk word met die beskikbaarheid van aardgas wat aan hawens in Namibië en Suid-Afrika gelewer word vanuit Angola, Tanzanië, Mosambiek en selfs die ooskus van die VSA.

Inagneming van die beginsel van omgewingsekonomie (met ander woorde, die koste van permanente skade aan ’n omgewing wat aktiwiteite soos landbou, bestaansboerdery en grootskaalse toerisme onderhou) bring ’n ander perspektief vir die sogenaamde ekonomiese opbloei van skaliegas. Eenvoudig gestel, dit sal, op die ou einde, tot ’n netto verlies lei.

Die Caveat

Aan die leiers van Suid-Afrika, Namibië en Botswana is die voorstel soos volg: Kom uit jul kantore en reis na die VSA. Moenie ’n minister stuur nie. Reis self as die leier van jou regering. Besoek gemeenskappe wat met die gevolge van hidrobreking saamleef en gesels met hulle – hulle is regte mense met regte stories, nie uitvoerende beamptes van oliemaatskappye wat vir jou sê wat jy wil hoor sodat hulle met hidrobreking kan begin nie.

Kyk na die verskille tussen Amerika en Afrika soos hierbo uiteengesit, en dink aan die werklike gevolge as hidrobreking in jul lande toegelaat sou word. Jul mense kan sonder gas lewe – hulle kan nie sonder water lewe nie. Neem nou die ongewilde besluit. Sê vir die geldtellers en gelduitleners “nee”. Laat ’n nalatenskap na vir die jong mense en toekomstige leiers van jou land – nie ’n verwoeste ekosisteem met siek mense nie.

  • Jonathan Deal is die stigter en uitvoerende hoof van die Treasure Karoo Action Group en Lambert de Klerk is die bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Baardman

AfriForum en Solidariteit sal dit kan keer. Moet tog net nie staatmaak op die DA nie. Hulle sal wag tot dit gebeur, en dan sal hulle wil hof toe.

JohanR

Ek kan al ‘n vroue ANC minister se dink sien…..hauw this will be big money for me, fa

Anton

Baie lande kry groot voordeel uit “fracking”. Ek was self oorsee nou daar by betrokke. Die probleem in SA is dat niks verantwoordelik, met die nodige kundigheid of sonder korrupsie kan gebeur nie.

Maalstroom

Die TKAG en Afriforum verdien ons volle ondersteuning om hierdie uiters gevaarlike proses van hidrobreking beide binnelands en onder die see te verbied.

HF, opgelos in water, vorm hidrofluoorsuur. Dit word gebruik in die proses om die ondergrondse rots verder af te breek om meer gas vry te stel. HF is een van die dodelikste sure denkbaar.

HF besoedel die ondergrondse waterbronne en die see tot onbruikbaar gevaarlike vlakke. Dit moet ten all koste verbied word.

HF word by Pelindaba vervaardig vir o.a. die skoonmaak van vleklose staalplate by Middelburg.

Dirk Mostert

Die skrywers steek hulle neuse in geologie, waarvoor hulle geen opleiding het nie. Die VSA onder Trump het onafhanklik geraak van Arabiese olie en gas danksy skaliebreking. Suid-Afrika kan ook. Dieselfde formasies kom hier voor. Ek verneem graag hoeveel donasies Deal se groep ontvang van “groen” kragopwekkers. Ons het so pas in Texas gesien hoe wind- en sonkrag gefaal het tydens erge wintertoestande, met talle sterftes en algemene ontwrigting. Die aardverwarming/klimaatsverandering-propaganda is onwetenskaplike bedrog.