VSA verkiesings: Dis ’n referendum oor Trump

Amerika se president, Donald Trump, op Saterdag 29 September in Wes-Virginië. Foto: Withuis via Wikipedia.

Die Amerikaanse middeltermynverkiesings, wat op 6 November gaan plaasvind, is in ’n neutedop ’n referendum oor Donald Trump, die kontroversiële president van die VSA.

Ja, teoreties het die verkiesing niks te doen met die president nie. Dit gaan immers oor die verkiesing van (al) 435 parlementslede vir die kongres, en 35 (uit 100) verteenwoordigers vir die senaat (asook verskeie goewerneursposte).

Die aanloop tot hierdie verkiesing wys weer dat die VSA ’n erg verdeelde nasie is. Dit volg ná die verkiesing van Trump in 2016 wat hierdie verdeeldheid meer as ooit na vore gebring het.

Twee nasies

Daar is basies tans twee nasies in die VSA met totaal verskillende ideologieë. Vanweë individuele voorkeure en keuses kan jy sekerlik nie elke persoon in die een of die ander kamp plaas nie, maar dit is oor die algemeen waar dat daar tans twee Amerikas bestaan. Hoewel die een kamp sekerlik meer veelrassig is en die ander meer besigheidsbelange verteenwoordig, is die tweespalt oor sosiale- en rassegrense heen. Verkiesings in die VSA gaan eintlik maar dus om die steun te verkry van die middelgroep, wat buite die twee kampe staan, om hul te oortuig om die kampe se kandidate te ondersteun.

Aan die een kant is die algemeen konserwatiewes en behoudendes, wat deur die Republikeinse Party verteenwoordig word, en waarvan president Trump nou die versinnebeelding is. Hulle glo in die outydse waardes – gesin, vaderlandsliefde, Christelike karakter, arbeid adel, is gekant teen aborsie, verag die ander kamp se identiteitspolitiek en is teen die (deesdae se) herbeskouing van geslagte. Hulle is gekant teen ’n oop deur-beleid ten opsigte van die instroom van vreemdelinge na die VSA. Hulle is minder ingestel op globalisering en meer nasionalisties. Hierdie groep is ook gewoonlik gekant teen polities korrekte wêreldbeskouings, glo in die reg om vuurwapens te besit en dat vryhede soos vryheid van spraak nie deur selfsensuur aan bande gelê moet word nie. Hulle is gekant teen die uitbreiding van die staat se sosiale verpligtinge en beskou die vrye mark as die dryfveer van die ekonomie. Veiligheid is vir hulle belangrik, veral teen binnelandse bedreigings. Dié groep, of in elk geval dele van die groep, word as populisties, regs, verregs, fascisties, rassisties, ens. gebrandmerk.

Daarteenoor is die tweede groep, wat eintlik baie meer divers is as die eerste, se algemene verwysing progressief en liberaal. Hulle is eintlik glad nie meer klassieke liberale nie, maar neig meer na sosialisme en postmodernisme. Hulle ondersteun diversiteit, groter sosiale verantwoordelikheid deur die regering, gelykheid en opheffing. Hulle is pro-aborsie en die wettiging van “sagte” dwelms (dagga), terwyl identiteitspolitiek en polities-korrektheid ’n tipe godsdiens geword het. Hulle sien meestal hulself eerder as globale burgers wat die wêreld ʼn beter plek wil maak, grense moet dus vervaag en vreemdes moet ingeneem word om diversiteit te bevorder. Hulle verkies onbeperkte handel, is sterk voorstanders van vuurwapenbeheer en verkies dat vryheid van spraak met sekere voorwaardes geskied. Veiligheid word as minder ernstig ervaar (behalwe miskien die bedreiging van die mistieke Russiese gevaar). Die groep kan ook as links, verlinks en as sosiale geregtigheid-stryders gesien word.

Indien die verkiesing slegs, soos verkiesings maar gewoonlik doen, oor ekonomiese sake gegaan het, sou die Republikeine met Trump sekerlik maklik gewen het. Hoewel Trump se handelsoorlog met die Chinese kontroversieel is, bewys die sterk ekonomiese groei, lae werkloosheid en positiewe marksegment eintlik dat Trump se totale ommekeer van die globalisering van die VSA ekonomie die regte besluit was. In elk geval, op die kort termyn, moet die langtermyneffek daarvan nog geëvalueer word. Nieteenstaande is die verkiesing eerder oor Trump en sy konserwatiewe beleidsrigtings.

Trump se styl is aggressief, glad nie akkommoderend nie, onverskrokke, bombasties, en soms verdraai hy die feite en is selfs beledigend. As ons kyk hoe duisende mense na sy politieke toesprake stroom, kan ons aflei dat die ou Republikeinse Party vinnig oorgeneem word deur Trumpisme, ’n soort Trump-ideologie. Trump en sy ondersteuners is besig om ontslae te raak van die Republikeine wat altyd versigtig en akkommoderend was. Dit is hierdie Republikeine, wat deur die Bush-familie en hul tydgenote gelei is en almal altyd gelukkig wou hou, wat nie regtig prokonserwatiewe besluite wou neem nie. Trumpisme is besig om die party oor te neem en baie van die nuwe kandidate in die verkiesing steun Trump se beginsels – aksie teen onwettige immigrasie, ’n middelvinger vir globalisme en ’n boelietaktiek teenoor afvallige anti-Amerikaanse regimes soos Noord-Korea en Iran.

Wraak vir 2016

Vir die Demokrate is die verkiesing die geleentheid om reg te maak waar hulle gefaal het in 2016 en teen (hul siening) ’n demagoog soos Trump verloor het. Hulle verpes Trump en sy ondersteuners en alles waarvoor hulle staan. Die groot bondgenote van die Demokrate is die nuusmedia en Hollywood. Beide speel ’n oorheersende rol in die gemiddelde Amerikaner se daaglikse lewe. Die nuusmedia haat Trump en sy beleid. En leuens, halwe waarhede, skandale en moontlike skandale word oor en oor opgedis om die president en Trumpisme teen te staan. Die Hollywood akteurs – meestal ryk, bedorwe brokkies – gebruik die status wat akteurs in die VSA geniet om president Trump en sy idees te verguis. Hierdie groep is natuurlik heeltemal verwyder van die daaglikse ekonomiese en oorlewingstryd van die gewone Amerikaners, wat moet saamleef met globalisme en die instroom en kompetisie van onwettige en wettige Derde Wêreld-inkomelinge.

Ter versagting van die Demokrate en hul ondersteuners: Trump se bombastiese styl, somtyds onsinnige uitsprake, grootheidswaan en geraamtes in die kas oor affairs met (meestal ongure) vrouens in die verlede, verleen hom sekerlik tot kritiek en selfs bespotting. Nietemin is die aanslag van die media en vermaaklikheidsterre nie ewewigtig nie, maar eerder ’n eensydige stryd om van Trump ontslae te raak. Trump se ondersteuners beskou dit as ’n onnatuurlike en onbeheerste amperse gekheid waartoe teenstanders van Trump, veral in die media, oorgaan om hom daagliks te beswadder en te beledig. Geen wonder hy verwys na hierdie media as fopnuus nie.

Die waansin van hierdie stryd het die afgelope twee weke hom in die VSA afgespeel met die bewerings teen Trump se kandidaat vir die posisie van regter in die hooggeregshof, Brett Kavanaugh. Die links-regs kamp was weer eens totaal verdeel oor bewerings dat Kavanaugh, toe hy dekades gelede op universiteit was, ’n vrou seksueel aangerand het. Die uiteindelike stemming oor sy benoeming in die senaat, was amper presies ’n Republikein-Demokraat verdeling, wat net-net deur die Republikeine gewen is. Die absurdheid van die bewerings en die Demokrate se histeriese reaksie, het oënskynlik heelwat kiesers omgehaal om die Republikeinse kandidate te ondersteun.

Dis alles of niks

Die prys van die hierdie middeltermynverkiesings is geweldig hoog. Sou die Demokrate daarin slaag om in die huis van verteenwoordigers (kongres) of senaat of albei ’n meerderheid te kry (die Republikeine beheer tans beide), sal hulle letterlik alle aksies van Trump teenstaan. Trump sal natuurlik in só ’n geval sy bes doen om enige wetgewing of begroting van die Demokrate teen te staan en in die proses sal die staatsfunksies grootliks tot stilstand kom. Die grootste prys is uiteindelik om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas (in Engels: impeachment). Die Demokrate sal die res van Trump se termyn gebruik om van Trump as president ontslae te raak. Dis natuurlik nie so maklik om hom eenvoudig uit te stem nie. Daar is baie prosesse wat gevolg moet word, onder meer, ʼn tweede meerderheid in die senaat. Nietemin sal hulle alles gebruik om Trump lam te lê; al is die bewerings wollerig, om die minste te sê. Bewerings teen Trump sluit in die sogenaamde Russiese sameswering om Trump verkies te kry, geld wat namens Trump aan ’n pornoster betaal is om stil te bly oor hul vroeëre verhouding of selfs iets soos vroeëre belastingontwyking van Trump.

Vir die Republikeine en Trump is alles ook op die spel. Wen hulle beide die kongres en senaat, is Trump se posisie veilig. Trump behoort ook dan sy nasionalistiese agenda, sy stryd teen onwettige instroming en sy antiglobale agenda aansienlik te versnel, insluitend die bou van ʼn muur op die Meksikaanse grens.

Die Demokrate weet dat as hulle verloor, dit moeilik sal wees om Trump in die 2020 presidensiële verkiesing te verslaan. Dis natuurlik op die veronderstelling dat die ekonomiese groei en vooruitsigte aanhou positief lyk, soos tans. Hulle sal in elk geval hul eie kandidaat moet kry wat soos Trump, destyds, buite die politiek staan, en populistiese standpunte inneem om Trump te probeer troef.

Meningsopnames

Meningsopnames wys dat die Republikeine en Demokrate kop aan kop staan in vele kiesafdelings en state. Waar die Demokrate drie maande gelede in meningsopnames nog redelik sterk gestaan het, het die voorsprong in baie van die kiesafdelings dramaties verminder. Maar nou ja, meningspeilings is immers in die 2016-verkiesing as ontoereikend bewys. Dit sal nietemin nie verbaas as die Demokrate die kongres oorneem, en die Republikeine die senaat behou nie.

Die middeltermynverkiesing is ʼn belangrike aanduiding van Amerikaanse politiek in die volgende dekade. Wen die Demokrate, gaan die wetgewende gesag die res van Trump se termyn gebruik om hom te ondermyn en te ontslaan. Wen die Republikeine, gaan Trumpisme ʼn groot oorwinning behaal en gaan Trump se ommekeer van die VSA se politiek versnel.

Wat ook al die uitslag: die verdeling in die VSA tussen links en regs gaan toeneem soos nog nooit tevore nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

RG ·

Baie goeie artikel. In baie opsigte maar dieselfe kwessies waarmee ons worstel. “Hierdie groep is natuurlik heeltemal verwyder van die daaglikse ekonomiese en oorlewingstryd van die gewone Amerikaner…” Ook so in SA, die radikale linkse is ook ver verwyder van die daaglikse ekonomiese en oorlewingstryd van gewone wittes wat volgens hulle die massas armes moet dra.

VanAfrika ·

Demokrate klap hom van alle kante, maar nie een keer sal hulle noem dat hy n salarislose President is nie, die eenwat God terug gebring het na die Withuis toe, wat kersfees weer ingestel het, wat nie omgee om in die publiek te bid nie en te wys dat sy familie daardie voetspore volg. Ten spyte van alles wat hy sê en doen, is sy fokus om sy land en sy mense en doen hy wat belangrik is en traak hom glad nie aan sy tweegesig landgenote en die buite wêreld en hul gierigheid om te wil hê waarvoor die Amerikaners so hard aan gewerk het. Met Celeberity Apprentice, het almal gevra of hy gaan hardloop vir President en hy het altyd nee gesê, nou dat hy doen wat hulle gevra het is dit nie goed genoeg nie. Enne dis hoog tyd dat iemand die land regeer soos iemand met n hart en n verstand en nie soos n politikus wat lieg net om stemme te kry en daarna kom daar niks van hul beloftes. Trump doen wat hy sê al het hy geraamtes in sy kas (wie het nie?) al lieg hy en verdraai hy stories soos hulle hier sê, (wie het nie?), hoe sê hy altyd, “Its nothing personal, just business” hy is tot dusver die enigste President deur die hele wye wêreld en ten alle tye wat by sy woord hou by alles wat hy gesê het toe hy nog vir die Presidensie gehardloop het.

Rupert Ashford ·

Puik Puik artikel. As mens die berig se beskrywing van die twee kampe lees is dit ook nie moeilik om te besluit waar jy jouself graag wil bevind nie. Sterkte Donald Trump.

Jerry ·

Die komende verkiesing is voorwaar n referendum oor Trump. Hy het meer vyande as vriende in sy eie land en meer vriende as vyande in die buiteland. Die enigste konsep wat hy goed verstaan, is dat geld, mag is. Terwyl dit n fel stryd gaan wees tussen links en regs in Amerika, gaan die stryd in SA tussen die linkse slinkse ANC en regse kwaadbravade VF, Solidariteit/AfriForum al hoe feller raak. Daar is n uitstekende kans dat die regses in Amerika die meerderheid in die senaat sal behou met hulle getalle, terwyl in SA, die kans ongetwyfeld uitstekend is dat die linkses die stryd loshande gaan wen oor die regses wat n bietjie baie skaam is in getalle.

Francois Joubert ·

Die verskil is dat die VSA ‘n demokrasie is en SA ‘n kommunistiese diktatorskap.

Arak ·

Ek is van mening dat die rede hoekom die demokrate, die valse media en hollywood se stryd so verbete is, is omdat, sou die republikeine beide die senaat en die huis wen, gaan ‘n groot klomp van die “deap state” tronk toe. Dit kan dalk selfs vir Hillary, Bill en Barry insluit, en daarom moet hulle ten alle koste wen.

Therese van Schalkwyk ·

Baie dankie, Nico Stegmann, vir ‘n skitterende artikel en ook vir Maroela wat nié gesoek het vir die onvleiendste foto van Donald J. Trump wat hulle hul hande op kon lê nie.
Alles van die beste vir die Republikeine en hulle president! Mag gesonde verstand seëvier.
“A country without borders is not a country”.

Kom Ons Boks ·

Hierdie is ‘n stryd vir “America as founded”. Die nuwe Amerika soos gestel deur Demokrate/SJWs/Antifa/Hollywood/MSM/”fake Indians” etc. sal alle vorms van “white privilege” en “offensive history” wil uitwis – volgens hul die wortel van alle kwaad. Wit Westerse beskawing word ook deur dieselfde groepe verafsku en wil so spoedig moontlik wereld-burgers maak van Amerikaners. Durf om nie saam met hulle te stem nie en kyk wat gebeur met jou. Republikeine in teenstelling wil eenvoudig die VSA se soewereiniteit/burgers beskerm en dit wat van Amerika ‘n super-moondheid gemaak het – liefde vir land en vlag is enigste item/maatstaf op hul lys. President Trump is ‘n meester skaakspeler en is konstant besig om sy opponente se liberale waansin uit te wys – hy het die Republikeine geleer hoe om uiteindelik terug te veg en te wen (Belasting wetgewing & Judge Kavanaugh etc). Amerika is ook dan klaar besig om China ore aan te sit met tariewe as jy kyk na die huidige ekonomiese nommers van beide lande. Mag President Trump inderdaad sy land weer groot maak, en so hou! MAGA

Beulah ·

Puik artikel. Ons woon nou al 7 jaar hier. Absoluut raak gevat!

Jan ·

My ondersteuning le by Trump. Hy praat regguit Speel nie vd pawiljoen nie Amerika se ekonomie gaan op en werkloosheid daal. Meer as wat die kortupte ANC en luberaluste kan se. Go Trump

pro-Trump ·

My gebede gaan uit vir die Republiekeine en president Trump vir wie ek baie respek het! Mag God met julle wees!

Juan Olivier ·

Dis goed dat die regses uiteindelik iemand gekry het wat regtig vir republikeinse waardes opstaan. Die linkses is net kwaad omdat die regses nou bereid is om net so hard te baklei vir wat hulle sien is reg. Die regses was altyd te sag.

John ·

Natuurlik is die massa mense wat uit die suide opruk na die VSA se grense georganiseer om saam te val met die verkiesing om chaos te veroorsaak en die simpatie van uitlander-burgers vir die demokrate te wen. As Soros nie ‘n handjie daarin het nie, sal mens verbaas wees. Die demokrate wil die droom-hollywood-fliek lewend maak waar almal hand-aan-hand teen die einde staan… die wonderlike versoening waarvan ons hier daagliks hoor… so sweet, dis genoeg om ‘n galaanval van te kry wat smeek om ouma se lewensessens….

Stephanie Stegmann ·

Trots om hom my president te noem.
Woon al 14 jaar hier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.