Vuurwapenbeleid belangrik vir álmal

vuurwapen-rewolwer-koeels-wapen

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Deur Terence Corrigan

Konsepwetgewing sou selfverdediging as ’n beweegrede vir die besit van ’n vuurwapen verwyder.  Indien slegs die polisie en die leër die reg het om vuurwapens te besit, sou die samelewing nie veiliger nie, maar meer kwesbaar wees.

Met sy teenwoordigheid by die vernietiging van verskeie duisende vuurwapens het Bheki Cele, die minister van polisie, gesuggereer dat die land in die rigting van die uitskakeling van private vuurwapenbesit moet beweeg.

“Dit sou beter wees as ons eendag private burgers sonder enige vuurwapens kan hê.  Dit sal geen kleinigheid wees op die pad vorentoe nie, maar dit sal beter wees indien slegs die weermag, naamlik die polisie en soldate, eendag (toegang tot) vuurwapens het,” het hy gesê.

Hy het omstredenheid uitgelok – soos ’n stortvloed kritiek op sosiale media aangedui het.  Suid-Afrika se vuurwapenpolitiek gee nou aandag aan die dringende besorgdheid oor misdaad en persoonlike veiligheid.  Dit geld egter ook as ewe dringende maatstaf vir debatte oor burgerskap, vryheid, en die doelmatige rol en verantwoordelikheid van die staat.  Dit is ’n onderwerp wat baie driftige gevoelens gaande maak onder diegene wat daarby betrokke is.  Wat minder goed verstaan word, is dat dit alles uiters belangrik vir die land as ’n geheel is – en ook vir mense wat geen besondere belang by vuurwapens het nie.

In beginsel handel die hele wesenlike debat oor een oorkoepelende vraagstuk: Onder watter omstandighede behoort vuurwapenbesit toegelaat te word?  Konsepwetgewing wat verlede jaar opgeduik het en wat selfverdediging as ’n beweegrede vir die besit van ’n vuurwapen sou verwyder, was waarskynlik die duidelikste onlangse illustrasie hiervan.  Maar miskien is ’n ander smeulende kwessie selfs belangriker.

Die vraagstuk oor die status van lisensies wat verval het, is oppervlakkig beskou, hier ter sprake.  Ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) is lisensies vir bepaalde tydperke uitgereik en moes dit hernu word sodra dit verval het.  Terwyl die wet bekendgestel is, het ’n toenemende aantal vuurwapeneienaars nagelaat om lisensies te hernu, wat hulle aan die verkeerde kant van die wet geplaas het.

Vroeg in 2016 het die toenmalige polisiekommissaris Khomotso Phahlane ’n riglyn met die volgende verklaring uitgereik.

“In die geval waar ’n persoon om ’n lisensie wil aansoek doen of dit hernu, maar waar die geldigheid van die lisensie reeds verval het, moet die persoon ingelig word dat hy of sy nie langer in die wettige besit van die vuurwapen is nie en dat die vuurwapen by die naaste polisiestasie ingedien moet word.”

In wese het hierdie riglyn beteken dat enigeen wat versuim het om voor die verval van die vorige lisensie van ’n vuurwapen ’n aansoek om herlisensiëring daarvan in te dien, besit daarvan moes prysgee.  So ’n persoon was nou in die onwettige besit van wapens en ammunisie (’n ernstige oortreding op sigself, met die moontlikheid van ’n 15 jaar-vonnis), met geen ander uitweg as om dit aan die polisie te oorhandig nie.

Vreemd genoeg het hierdie riglyn egter nie voorsiening vir enige ander gedragswyse, geen appèl of laat aansoek gemaak nie.  Dit was ondanks die feit dat daar stellig in die Wet vir sodanige bepalings voorsorg getref is, en selfs op die voorgeskrewe aansoekvorms (SAPS 518a) voorsiening gemaak is.

Vuurwapeneienaarsgroepe het hulle aanvanklik onthou van ’n regstreekse uitdaging hiervan, in afwagting van duidelikheid van die howe oor die grondwetlikheid van die Vuurwapenwet se lisensiëringsprosedures, deur ’n protes wat deur die Suid-Afrikaanse Jagters- en wildbewaringsvereniging (SAJWV) aangedryf is.  Dit was uiteindelik onsuksesvol, deurdat die konstitusionele hof bepaal het dat die lisensiëringstelsel grondwetlik was.  Ewe belangrik – en in die gees van onderhandeling met ’n vriendskaplike oplossing – het hulle probeer om oor hierdie saak met die polisie te skakel.  Die moontlikheid van ’n amnestie, of om die geldigheid van bestaande lisensies uit te brei, is ondersoek.

Daar was geen reaksie nie, en toe die media kommentaar van die polisie gedra het dat nie ’n amnestie of verlenging van geldigheid in die vooruitsig was nie, het die drukgroep Vuurwapeneienaars Suid-Afrika (Gosa) hom na die hof gewend.

Gosa het daarin geslaag om tussentydse verligting te verkry, met voorsittende regter Bill Prinsloo wat die implementering van die riglyn verbied het.

Om te verstaan waarom dit verder as mense met vervalle lisensies en diegene wat betrokke is by beleidsdebatte oor vuurwapenbesit sou weerklank vind, sal dit insiggewend wees om te kyk na ’n deel van wat regter Prinsloo in Julie 2018 in sy uitspraak gesê het.

In breë trekke het hy bevind dat daar skynbaar geen rede was waarom laat aansoeke nie oorweeg kon word nie, aangesien selfs die polisie dokumentasie aanvaar het dat dit ’n geldige deel van die lisensiëringstelsel was. Daar is ook gelet op die “vlaag van aktiwiteit” wat voorgekom het ná die uitspraak in die saak wat deur SAJWV gebring is. Dit het, volgens regter Prinsloo, meegebring dat “verskeie polisie-amptenare in verskeie hoedanighede en van verskeie range druk begin uitoefen het op vuurwapeneienaars wie se lisensies volgens die bepalings en die Wet verval het… om onmiddellik hul wapens vir vernietiging te oorhandig, by gebrek waaraan hulle vervolg, gearresteer en met hulle afgereken sal word”.

Regter Prinsloo het ook verwys na die beperkings op wat die polisie realisties kon regkry.  Met ’n geraamde 450 000 lisensies wat ter sprake was, sowel as tot 60 miljoen ladings ammunisie, sou ’n poging tot afdwinging van die riglyn die polisie se logistiese vermoë tot breekpunt strek.  Daar was niks wat daarop gedui het dat hulle die taak van ontvangs, katalogisering, toetsing, berging, vervoer en vernietiging van wapens van so ’n omvang sou kon hanteer nie.

Soos Gosa in sy geskrifte aangedui het, was die gebrek aan kapasiteit van so ’n aard dat dit nie ongewoon was nie dat vuurwapenlisensie-aansoekers maande of selfs jare lank moes wag voordat hul lisensies bereg kon word.  Die bestuur van vuurwapenherwinning op massaskaal sou dus ’n heelwat meer veeleisende onderneming wees.

Daarbenewens is hele elemente wesenlik tot die werking van die Vuurwapenwet afwesig of wanfunksioneel.  Vernaamlik die elektroniese stelsel om tussen handelaars en die Sentrale Vuurwapenregistrasie-eenheid te kommunikeer, en om die lisensiëringstelsel te bestuur, is nog nie aanlyn beskikbaar nie.

Dit word vererger deur eenvoudige, omkoopbare korrupsie, die manipulasie van die stelsel en die deurgee van vuurwapens aan misdadigers.  Regter Prinsloo het in sy uitspraak hieroor uitgewei met die opmerking, “Ek is tevrede dat dit op grond van die getuienis duidelik is dat oneerlike en onbetaamlike gedrag in sekere range van die polisie op sekere plekke wanneer die bewaking en hantering van vuurwapens ter sprake is, aan die orde van die dag en algemene kennis is.”

Dit is inderdaad so.  In 2014 het ’n geheime wapenvoorraad wat in Norwood, Johannesburg, gevind is baie wapens bevat wat by die polisie ingegee is en behoorlik afgeteken is vir vernietiging.  In 2016 is kol. Chris Prinsloo skuldig bevind daaraan dat hy vuurwapens wat vir vernietiging bestem was, aan rampokkers gegee het.  Duisende van hulle. (En dit is, terloops, ’n ernstige teregwysing teen die gedragswyse waarna minister Cele verwys het.)

Gun Free South Africa het dit, miskien met ’n mate van ironie, die beste opgesom – en ook ’n slag die sentimente van vuurwapeneienaars raakgevat.  Met verwysing na die Norwood-geval het ’n woordvoerder vir die organisasie die volgende kommentaar gelewer: “Toe vuurwapeneienaars tydens die 2009- nasionale vuurwapenamnestie hul vuurwapens aan die polisie oorhandig het, het hulle vertrou dat die polisie hierdie vuurwapens sou vernietig. Die publiek het hulle deel gedoen.  Hulle het hul vuurwapens vir vernietiging by die polisie ingegee. Dat ’n deel van hierdie vuurwapens in ’n onwettige versteekte vuurwapenvoorraad gevind is, maak ’n bespotting van Suid-Afrika se openbare verbintenis tot veiligheid en sekuriteit deur voorraadstapels van wapens te vernietig.”

Dit verskoon nie vuurwapeneienaars van hul plig om aan die Wet te voldoen nie – maar om te weier om aan diegene wat geldige redes vir nienakoming het die speling wat die wet toelaat, te gee, kan nie as enigiets anders as beledigend en onregmatig beskou word nie.

In Desember verlede jaar het die hof ’n appèl deur die polisie teen regter Prinsloo se bevel aangehoor. Die hof het in werklikheid die vorige uitspraak gehandhaaf. Diegene met wapens waarvan die lisensies verval het kon nie gepenaliseer word nie, en vuurwapens kon nie gekonfiskeer word nie. Teen die gegewe agtergrond is dit positief.

Wat dit alles aandui, is kolossale oorreaksie. Dit is die arbitrêre uitbreiding van staatsmag, en beleidsbepaling deur geheime handelswyse. Dit verruim, sonder wetlike regverdiging, die grense van wat bestaande wetgewing toelaat, toevertrou aan ’n stelsel waarvan die kapasiteit en integriteit om dit te dra, twyfelagtig is, om die minste te sê.

Dit gaan oor die gehalte van die verhouding wat Suid-Afrika se mense met hul staat geniet, en of dit ’n verhouding is wat uit vryheid of dwang spruit. Wat ’n mens se standpunt oor vuurwapeneienaarskap ook al mag wees, behoort die wyse waarop die staatsowerhede die saak in die verlede benader het, ’n rede tot kommer te wees vir almal wat burgerlike vryheid en regverdige administrasie van waarde ag.

  • Terence Corrigan is ’n projekbestuurder van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV). Besoek die IRV se webwerf vir meer inligting oor die instituut se projekte en hoe om dit te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Attie. ·

Hou jul vuurwapens mense. Die regering maak dit so moeilik moontlik om jou lsensie te hernu. Soos ek verstaan sal ons volgende liensie nie ‘n vervaldatum hê nie. Indien jy net eenmaal jou wapen benodig en jyt dit nie meer nie dan sal jy eers besef wat dit werd was.

Droë Perske ·

Die artikel is in een opsig nie heeltemal reg nie: Daar is nie in Desember verlede jaar ‘n appèl teen regter Prinsloo se bevel aangehoor nie. Regter Prinsloo het wel in Desember verlede jaar die polisie se aansoek om verlof tot appèl na die Hoogste Hof van Appèl aangehoor en dit toegestaan.
Hierdie appèl is steeds hangende. Die staatsprokureur het intussen die bal laat val, en die hangende appèl het “voorlopig” verval. Dit kan slegs herstel word indien die HHA kondonasie verleen. Die staatsprokureur het reeds ‘n kondonasie aansoek afgelewer, en dit is ook steeds hangende. Intussen gaan die proses voort, en die interdik bly geldig.

Droë Perske ·

Ekskuus, ek het vergeet om by te voeg: Verder is dit ‘n skitterende artikel. Welgedaan!

Johan ·

Reël 1 van kommunistiese oorheersing:
Ontwapen die burgers van die land.
Hoekom?
Want ‘n gewapende burgery is in staat daartoe om hulself te verweer teen geweldadige onderdrukking deur die staat. Enige staatsbestel wat moontlike burgerlike verset in die toekoms wil verhoed, om welke rede ookal, moet juis met agterdog bejeën word.
Daar is genoeg voorbeelde vanuit Afrika en die voormalige Oos Blok lande die afgelope 5 dekades om weer te bestudeer.
Ontwapen, vervolg, verdruk, onderdruk, heers as diktatoriale despoot lewenslank….

Hendrik ·

Dis baie duidelik dat die polisie deur hulle swak administrasie van die wet mense wil ontmoedig om lisensies vir hulle wapens te kry. Dit maak dit net soveel makliker om daardie wapens af te neem, sou ‘n algemene verbod op privaateienaarskap van vuurwapens ingestel word. Verder kom jy in groot moeilikheid indien jy jouself met ‘n ongelisensiëerde vuurwapen verdedig of met een gevang word.

Netso ·

Die vuurwapen eienaars wat steeds die beste af is, is die wat nog met die ou groen lisensie sit. Gogga het vir net baba bang gemaak. Ek is jammer maar ek sal nie kan slaap in SA sonder my vuurwapen nie en glo ñ Vuurwapen in jou hand is steeds beter opsie as om met die Polisie op die foon te wees. “As jy ooit gelukkig genoeg is dat hulle na 18h00 optel”

Stephan de S ·

Dankie vir hd feitelike artikel. Ek het die kennis nodig.

Haan ·

Van my talle lisensie aansoeke is almal goedgekeur. Die mees onlangse een n maand terug. n Vriend het vandag gehoor drie van sy lisensie aansoeke is goedgekeur. Kry bevoegdheid sertifikaat en lisensies terwyl julle nog kan! Gewere en die verantwoordelike gebruik daarvan is en sal altyd n kern deel van Afrikaner kultuur wees.

Piet ·

Die dag wat ek my nie mag verdedig nie , sal my laaste dag in afrika wees ,

Christa ·

Hkom sukkel mt ten duurste gewere en ammunisie gn koop en nog sukkel om lisensies te kry… gn koop vi julle voorraad by Blades en triggers. Ons is almal geregtig daarop om onsself te verdedig aangesien hrdi regering niks vi ons volk omgee ni. Hul wil dt juis so he om ons sonder wapens te kry om uitgemoor te wrd sonder selfverdediging. Word wakker volk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.