Vuurwapenlisensies wat verval het: Qua Vadis?

vuurwapen-rewolwer-koeels-wapen

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Deur Marnus Kamfer

Iets knaag aan my, iets wat ek al lankal moes gedoen, maar nie tyd voor gehad nie. Ek kan om de dood ook nie onthou wat dit was nie, en gaan maak solank koffie wat ek op die rusbank gaan drink. Soos ek geleidelik ontspan, tref dit my: Ek moes maande gelede al my vuurwapenlisensie hernu het.

Ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens wat herroep is, was dit geensins ’n vereiste om ooit ’n bestaande en wettige vuurwapenlisensie te hernu nie.

Dinge sien egter heel anders daarna uit met die intrede van die nuwe Wet op die Beheer van Vuurwapens. Ingevolge laasgenoemde wet word die eienaar van ’n gelisensieerde vuurwapen verplig om sy lisensie van tyd tot tyd te hernu – ten minste 90 dae voordat sy lisensie verval.

Indien die aansoek om hernuwing ten minste 90 dae voor die tyd gedoen word, maar die lisensie verval intussen, is die ongelisensieerde vuurwapen steeds onder regmatige besit van die applikant, afhangend van die sukses van sy aansoek. Die teenoorgestelde is egter van toepassing indien die aansoek ingedien word ná die 90 dae-tydperk.

Daar blyk egter ’n silwer randjie om die donker wolk te wees in die vorm van hofbevele soos toegestaan deur regter Bill Prinsloo in 2009 en 2018.

In 2009 het die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJ) ’n dringende aansoek ingedien na aanleiding van die nuwe Vuurwapenwet se oorgangsbepalings. Dit het bepaal dat alle lisensies wat verkry is voor die inwerkingtreding van die nuwe wet, ná 5 jaar verval, en volgens die nuwe wet hernu moet word (gereken 5 jaar nadat die wet op 1 Julie 2004 van krag geword het).

Die aansoek is gebring net voor sodanige lisensies sou verval op grond daarvan dat die houers van die lisensies (wat verkry is ingevolge die herroepte wet) geweldig benadeel sal word indien die lisensies as verval beskou word. Dit sou beteken dat baie mense dan in onwettige besit van hul onderskeie vuurwapens sal wees.

Regter Prinsloo het in die SAJ se guns beslis, en ’n bevel uitgereik wat bepaal dat die lisensies, uitgereik volgens die herroepte wapenwet, geag word om geldig te wees afhangend van die bring van ’n hofaansoek waar die grondwetlikheid van die oorgangsbepalings aangeval word.

Die bevel, gemagtig soos hierbo, is nog van krag, aangesien die aansoek wat die grondwetlikheid van die oorgangsbepalings bevestig, al dan nie, nog nie voor die hof gebring is nie, en die gemelde bevel dus aanhou geld tot en met laasgenoemde plaasvind en uitspraak verkry is.

Hierdie bevel en aansoek moet nie verwar word met die aansoek en uitspraak van die Grondwethof soos gelewer op 7 Junie 2018, wat te doen gehad het met die uitsluitsel of die verval en hernuwing van die bepalings van die nuwe wapenwet en of dit grondwetlik is of nie. Die 2009-bevel handel spesifiek met die grondwetlikheid van die oorgangsbepalings tussen die nuwe en die ou wet.

Die eienaars van vuurwapens wat uitgereik is ingevolge die nuwe wet, is egter nie so gelukkig nie. Indien die lisensie verval het, en aansoek om hernuwing is nie gebring ten minste 90 dae voor sodanige vervaldatum nie, blyk die eienaar van die vuurwapen in onregmatige besit van die gemelde vuurwapen te wees.

Hierdie besef het tot grootskaalse paniek gelei wat aangevuur is deur verskeie direktiewe uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat bepaal het dat vuurwapeneienaars wat hulself in dié posisie bevind, hul vuurwapens by die SAPD moet inhandig om vernietig te word.

Die gevaar het dan ook bestaan dat ’n persoon wat op hierdie wyse ’n vuurwapen inhandig, daar en dan in hegtenis geneem kan word, aangesien sodanige persoon in daardie stadium in besit is van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

Regter Prinsloo het egter weer die sowat 450 000 vuurwapeneienaars tegemoetgekom, en nog ’n tussentydse bevel uitgereik na aanleiding van ’n aansoek gebring deur Gun Owners South-Africa. Dit het behels dat die polisie nie persone in dié situasie mag dwing om hul vuurwapens in te handig by die SAPD om vernietig te word nie, en ook nie enigsins vuurwapens mag ontvang vir dié doeleindes nie, hangende die bring van ’n aansoek om uitklaring te kry oor hoe daar te werk gegaan moet word, en/of ’n moontlike amnestieperiode.

Die beoogde amnestieperiode kan, onder meer, behels dat die polisie die vuurwapens in veilige bewaring hou terwyl die eienaars ’n aansoek bring om hul lisensies te hernu, waarna die polisie die vuurwapens weer aan die eienaars sal teruggee.

Hierdie situasie skep, myns insiens, die perfekte geleentheid vir vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, om so spoedig moontlik aansoek om hernuwing van hul vuurwapenlisensies te doen, en om in die vervolg betyds vir hul lisensiehernuwing aansoek te doen.

  • Marnus Kamfer is die nuwe regs- en risikobestuur van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Dus……ek gaan handig byvoorbeeld ‘n R80 000,00 Blaser R8 met teleskoop en sak in by my naaste SAPD tak vir “veilige bewaring”. Ek kry ‘n skriftelike bewys dat MY eiendom, waarvoor ek hard gewerk en betaal het, nou in die SAPD se besit is. Ek hernu my lisensie, en gaan terug SAPD toe om MY EIENDOM te gaan haal……….en hulle kan nie vir my sê waar dit is nie. Wat dan?

Stephen ·

Dis daar waar jy die eerste fout maak… Jy handig nooit n wapen by SAPS in nie… Dit sal dadelik vir ballistiese gestuur word waar dit vir maande kan lê en of verlore raak… Handig eerder by n vuurwapen in vir bewaring…

Elize C ·

Indien jy die ou “groen-kaart” lisensie het, en nooit aansoek gedoen het vir die nuwe “wit” lisensie nie, is jou ou “groen-kaart” lisensie steeds 100% geldig. Die ou “groen” lisensie sou egter verval het sodra jy die nuwe “wit” lisensie gekry het. Moet onder geen omstandighede jou vuurwapen/s by ‘n polisiestasie gaan ingee nie, volgens nuwe bepalings mag hulle dit nie inneem vir die uitsluitlike doel omrede jou “wit” lisensie verval het nie, en sou jy dit wel wou doen om welke rede ookal, moet hulle jou ‘n dokument laat onderteken waar jy bevestig dat jy die wapen uit jou eie vrywillig inhandig. Gaan besoek GOSA se webtuiste, jy sal al die inligting aangaande enige vraag wat jy mag hê rakende jou wapen/lisensies, daar kry.

Tgj ·

Die groen lisensie bly ALTYD geldig. Al het jy ook wit lisensie.

Henry ·

Tgj
Is jy seker dat my groen lisensie tsv die wit ene, steeds geldig is? Indien dit korrek is, sal al my kommer verdwyn.
Ek het onlangs gehoor dat die geldigheid van die groene verval, indien mens na ’94 ook die wit lisensie uit geneem het.

Paul ·

Di groen lisensie bly geldig ongeag die bestaan van ‘n wit lisensie wat uitgeryk is onder die nuwe wetgewing.

Die groen lisensies SOU weggeval het, maar die 2009 uitspraak het die proses stopgesit.

Self die SAPD stem nou hieroor met ons saam.

Veritas ·

Soos ek verstaan het die geldigheid van die groen lisensie verval sodra die wapeneienaar aansoek gedoen het vir die nuwe wit kaartlisensie en dit goedgekeur en uitgereik is. Maak maar liewer seker by die offisier wat met vuurwapenlisensies werk by jou naaste polisiestasie. D.w.s indien sodanige beampte op hoogte is van verwikkelinge.

Henry ·

Dankie Paul en Veritas.
Ek’s maar aan die sku kant wanneer die plaaslike beamptes genader moet word. Sal langs ander weë probeer om agterrie klap vannie skoot te kom.

GP ·

Sluit aan by GOSA se facebook groep en word ook ‘n lid van hulle. Hierdie mense doen werklik baie vir mense met die probleem.

Saamprater ·

Nou ja toe. Daar het jou dit. Jy wag vir die amnestie, en gaan soos n skapie en handing jou vuurwapen in terwyl jy wag vir goedkeuring.
Nou wat as hulle jou aansoek afkeur na 2- jaar se geduldigge gewag? Dan rig jy appel aan en dit vat ook 2-3 jaar voor hulle jou appel afkeur! Wat dan? Nog n wettige ontwapening. Nie weer nie.
Die regering en SAPS het bitter min gedoen om te verseker mens kan hul vertrou

Tom Smith ·

Ek moet sê mense; as ek na die kommentaar hierbo kyk net s ek nou meer deur mekaar as vorrheen. Julle weerspreek mekaar so dat ek nou gladnie weet watter kant toe. Die vraag is: is jou groen lisensie wettig of jy nou ‘n wit een het of nie? Indien die antwoord “ja”; moet ek dan enige iets verder doen if is dit nie nodig nie.

Henry ·

Tom, dit is presies wat ek ook van die begin af wou weet.
Is die groen lisensie steeds wettig, al sou mens ook ‘n wit lisensie hê.

Gysbert Stander ·

Mense mense mense.
Ai tog.
Jy maak NOOIT staat op inligting wat jy op sosiale media bekom nie.
Ongeag of dit oor vuurwapens, jou motor se enjin of wat ookal gaan nie.
Sluit by GOSA, SAGA of SAJWV aan en kry die regte inligting by hulle.
Laat ek dit net weer sê. Jy vra NOOIT raad op sosiale media nie.

Evert ·

Manne, handig julle julle voertuie in as die Lisensies verval het? NOOIT.

Brett ·

Amper dompel Regter Froneman die land in ‘n yslike sekuriteits-krisis.

Brett ·

Stel julle voor: Polisie stasies soos Kraaifontein/Bellville met gange wat vol vuurwapens le?

Cherokee ·

Die probleem met forums soos hierdie is kommentators wat voorgee dat hulle die antwoorde op die vrae in pag het en wanneer ander wat erken dat hulle nie seker is nie, eersgenoemdes teëpraat, word daar nie teruggekeer om hulself te verdedig nie. So, dit is steeds ‘n raai raai riepa.

Ek weet nie eens wat ek aangevang het met my groen lisensies nie want ek het dit vervang met nuwes. Indien groen ‘n werklike faktor sou wees, behoort dit geen probleem te wees om te bewys wanneer my lisensies oorspronklik uitgereik is nie.

Iemand stel voor vra die vuurwapen-offisier met die hoop dat hy weet, maar die probleem is dat hulle nie weet nie en dit nie erken nie maar ‘n eie mening opdis as werklike feite.

Marnus Kamfer se artikel het egter vele dinge duidelik gemaak waaronder die belangrike verskil tussen die 2009 en 2018 uitsprake. Dankie daarvoor Marnus.

Joe Hall ·

Ja en uiteindelik is jou kommentaar netso niksseggend as die pogings waarna jy verwys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.