Vyf dinge wat u oor die ANC se pensioenwegraping moet weet

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Deur Marius Roodt

Met die voortdurend stygende waarde daarvan, is dit geen wonder dat die ANC Suid-Afrika se meer as 5 000 aktiewe pensioenfondse in die oog het nie.

Voorgeskrewe bates is nie ’n nuwe idee nie – die Nasionalistiese regering het dit ook gebruik, om fondse na ekonomiese sektore van hul keuse te kanaliseer – maar dit is stewig terug op die agenda met die insluiting daarvan in die ANC se verkiesingsmanifes wat onlangs bekendgemaak is.

Die regerende party sê dat hy die gebruik van voorgeskrewe bates sal oorweeg om “fondse te mobiliseer binne ’n regulatoriese raamwerk vir maatskaplik produktiewe beleggings (waaronder behuising, infrastruktuur vir maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling en township- en dorpsekonomie) en werkskepping terwyl die risikoprofiele van die geraakte entiteite oorweeg word”. Dit beteken basies dat die ANC-regering daaraan dink om pensioenfondsbestuurders te dwing om in staatsmandaatsektore of -maatskappye te belê. Dit kan, byvoorbeeld, Eskom beteken.

Hier is vyf dinge wat u oor pensioene en aftreefondse in Suid-Afrika moet weet en waarom die regering moontlik op u s’n ingestel mag wees.

  1. Die aftreefondsbedryf in Suid-Afrika is groot.

Omtrent 16 miljoen Suid-Afrikaners is lede van die land se meer as 5 000 aktiewe pensioenfondse. Ongeveer tien miljoen van hulle dra nog tot hul pensioene by, terwyl die oorblywende deel afgetree het en op die fonds staatmaak vir inkomste. Die totale gesamentlike bedrag van hierdie spaargeld is baie groot – meer as R4 triljoen. Dit is byna gelyk aan Suid-Afrika se totale BBP; dus is dit ’n aansienlike spaarvarkie.

  1. Suid-Afrika se aftreefondse is – anders as die ekonomie – besig om te groei.

Terwyl Suid-Afrika se ekonomie in ’n bedenklike toestand bly, is die waarde van die land se aftreefondse (ten opsigte van bydraes sowel as totale bates) besig om te styg. Hou in gedagte dat die ekonomie tussen 2014 en 2016 met 1,5% gegroei het (dit is die totale ekonomiese groei tussen dié twee jare, nie ’n gemiddeld nie). In teenstelling hiermee het aftreefondsbydraes met byna 13% gestyg, en bates met 16%, terwyl die totale lidmaatskap van fondse met net minder as vyf present gestyg het. Suid-Afrikaners word dikwels beskuldig dat hulle nie genoeg spaar nie (wat waar is), maar diegene wat wel spaar, is toegewyd om ’n neseier vir aftrede op te bou.

  1. Die idee van voorgeskrewe bates is nie nuut nie.

Dit is nie ’n nuwe voorstel wat die ANC in sy manifes maak nie. Dit is ook op twee partykonferensies wat in 2017 gehou is, geopper, en is nou weer eens op die agenda. Voorgeskrewe bates is nie ’n nuwe konsep in Suid-Afrika nie. Die apartheid-regering het ook voorgeskrewe bates gebruik om sekere sektore en maatskappye te help befonds. Toe fondse in die laat 1970’s op ’n hoogtepunt was, moes hulle meer as ’n driekwart van hul bates in ’n kombinasie van maatskappye in staatsbesit en staatseffekte belê. Teen die 1990’s is voorgeskrewe bates bevries, maar dit lyk asof die ANC baie gretig is om die beleid te laat herleef.

  1. Voorgeskrewe bates sal u armer maak.

Dit is onwaarskynlik dat bates soos ondernemings in staatsbesit u dieselfde opbrengs sal gee as ’n maatskappy wat aan die voorskrifte van die vrye mark onderworpe is. En u sal nie die keuse hê om u geld van ’n swak presterende staatsmaatskappy te verskuif na een wat u ’n beter opbrengs sal bied nie. Soos Albert Botha van Ashburton Investments aandui, sal voorgeskrewe bates waarskynlik ’n laer opbrengs op u aftreebelegging beteken. Indien u ’n opbrengs van 3%, eerder as 4%, bo inflasie kry weens die laer opbrengs wat u waarskynlik van voorgeskrewe bates kan verwag, sal u minder geld hê wanneer u besluit om af te tree, of u sal langer moet werk. Oor dertig jaar sal hierdie laer opbrengs beteken dat u pensioen op ouderdom 65 met 16% kleiner sal wees as wat dit normaalweg sou wees, of u sal byna drie jaar langer moet werk om die tekort goed te maak.

  1. Waarom het die ANC u pensioen in die oog?

Die ANC kyk na nuwe maniere om ondernemings in staatsbesit te befonds omdat die regering se geld opraak. Hy gaan voort om geld in verliesmakende maatskappye, soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), in te stoot, met min wilskrag om te herstel wat verkeerd is.

Hierbenewens is die regering se lonerekening baie groot en neem dit steeds toe. Die regering bestee steeds meer as wat hy uit inkomste ontvang – die nasionale begroting het vir meer as ’n dekade geen surplus getoon nie en die regering toon nog altyd baie groot tekorte. Regeringskuld as ’n proporsie van BBP is byna 60%, die hoogste wat dit nog ooit in demokratiese Suid-Afrika was… En daar word geraam dat die regering in 2018/19 omtrent R587 miljard nodig sal hê om sy werknemers te betaal – werkers wat gereeld verhogings van bó inflasie ontvang, wat hoër is as wat diegene in die privaat sektor verdien.

Die regering is vinnig besig om die fiskale pad byster te raak – dus moet die feit dat hy hom nou tot die bates van private burgers wend om homself te befonds, niemand te verbaas nie.

  • Marius Roodt is hoof van veldtogte by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ’n liberale dinktenk wat ekonomiese en politieke vryheid bevorder. Vind meer oor die IRV werksaamhede deur hier te klik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

… nou weet ons waar CR al die geldjies gaan haal vir al sy visioene wat hy bo teen die dak van die parlement optower as hy sy oè so oopslaan… en daar sit Trevor… nee nie Manuel nie… CR onderskat die ANC-kiersers se liefde vir die party. Al rede waarom hul so stem is vir die ‘spoils’ en as dit na uitlanders se lekkerlewe en infrastruktuur gaan, en opraak, brand die pap en onse oompie en sy clan sal na Dubai moet waai… Guppie is daar dalk nog ‘n liegtuigie op Waterkloof oor… net een enjin? … Dis okei… Lees meer »

Jerry

Die gemelkery van die teenrevolusioneres deur die ANC staat vir die revolusioneres (our people) word so versnel deur verandering dat dit nou net n kwessie van tyd is voordat die koei net doodeenvoudig gaan omval . Dit het te laat geraak in die dag om die ANC te stop wie onverstoord en vinnig besig is om die doodsklok vir SA te lui. Minderheidsgroepe kan nou maar terugkeer huistoe en vrede gaan maak met hulself omrede die klok wat almal hoor lui is nie vir pouse nie, dit is die klok wat aandui dat daar nie meer tyd oor is in… Lees meer »

Afrikaner

Hierdie moet teen die agtergrond van die ANC se geskiedenis, hoe hulle die land tot op hede wanbestuur het, gesien word, tot op die randjie van ashoopstatus, staatskaping het ook die spaarvarkie help leeg tap. Van dorstigheid reik die tentakels oral uit na waar geld te bespeur is. Daaruit kan mens sien hoe hulle die entiteite soos bv Eskom en die SAL in die grond in bestuur het. Veral ook hul sosialistiese ideologie het ‘n uiters negatiewe effek en die enorme geldlus na net nog meer, geen wonder hulle teiken nou pensioenfondse nie, die vermoë wat hulle het om geld… Lees meer »

JohanL

Marius, ek neem kennis van veral punt 5. En as mens kyk na die dinge wat nou uitkom in die Zondo kommissie, dan is enige iets sekerlik moontlik.

My teenvraag is: “Sal die (ANC) lede “toelaat” dat fondse (pensioen) gebruik word vir iets wat eintlik sy eie toekoms en welvaart na aftrede sal raak?” Dit is amper soos om jou eie spaarrekening te plunder. Miskien geld my argument net vir mense wat helder dink oor die aangeleentheid en nie vir mense wat net wil plunder waar hulle kan nie?

Charles

Die aangewese weg die Howe om die ANC te stop, of is hulle ook gekaap? JA HULLE IS!

SA= sinkende skip