Ons wêreldkampioene is op pad terug na ʼn land wat in euforie is oor hul oorwinning. Suid-Afrika is oor alle grense heen trots op ons Bokke en vier ons saam hul oorwinning van in die voorstede tot in die townships.
Dit is heerlik om hierdie oorwinning saam te vier in ʼn land waar ons so verdeel en platgeslaan is oor die afgelope jare. Hulle is ons helde en het die hele wêreld gewys dat ons steeds ʼn krag is om mee rekening te hou.
Man, maar dit is vrek lekker om te wen en so sê almal van ons!
Dit was ook heel gepas dat daar vanuit die euforie ʼn hunkering is na ʼn nuwe-nuwe Suid-Afrika. Van pres. Cyril Ramaphosa reg deur die politieke landskap, die wêreld van nuus met ʼn verskeidenheid van stemme tot in die sitkamers en om die braaivleisvure word die hunkering na ʼn beter Suid-Afrika bepleit. Daar word gesê dat die Springbokke se oorwinning as bewys en aansporing moet dien om Suid-Afrika te verenig en suksesvol vorentoe te neem.
In die kleine is die Springbokke uit die aard van die saak vir ons ʼn bewys dat ons die uitdagings in die land kán oorkom en ʼn seëvierende land kan word die toekoms in. Die probleem is net dat ons die gevaar loop dat die euforie van die oorwinning ons so vinnig bring by gevolgtrekkings wat in wese ʼn kortsluiting is en sal lei tot ʼn latere groot ontnugtering wanneer ons weer met die werklikhede van elke dag konfronteer word.
Die stemme wat uitroep ons kán, ons moet verenig en saamstaan sodat Suid-Afrika as land soos die Springbokke kan seëvier, is goed en reg, maar as ons dít wil bereik, moet ons bereid wees om die volle pad wat die Springbokke gestap het, ook te loop.
Die Springbokke was so onlangs soos twee jaar gelede sewende op die wêreldranglys en voor ʼn keuse gestel. Hulle kon net sowel middelmatig gebly het en maar net met ’n mog-het-treffe-houding af en toe ʼn wedstryd gewen het. Dit is egter nie wat die Springbokke gekies het nie.
As ʼn land, is dit belangrik om te besef dat ons nie is by die seëvierende punt van die Springbokke nie, maar op die oomblik eerder by ʼn keerpunt staan. As land is ons posisie in die wêreld, volgens die meeste aanwysers, selfs nog meer benard as ʼn sewende posisie in wêreldrugby. Ons baklei op baie plekke om nie die slegste in die wêreld te wees nie.
Die vraag is wie van ons is bereid om in die spieël te kyk te erken waar ons is en ʼn verbintenis aan te gaan om die harde werk en ure in te sit om Suid-Afrika ’n beter plek te maak?
As die Springbokke nie daardie verbintenis tot die harde werk vir ʼn beter toekoms gemaak het nie, sou hulle nie nou nommer een en kampioene gewees het nie. As ons dan ʼn land wil wees wat wen en iets permanent wil maak van dit wat die Springbokke ons gewys het ons kan doen, is dit belangrik om by hul ingesteldheid en harde werk te gaan soek na wat van hulle ʼn wêreldkampioen gemaak het.
Gedurende die vieringe het ’n paar goed my opgeval, dinge wat ooglopend uitstaan van die span en ek dink belangrike leerpunte vir ons inhou. Ek volstaan maar by vyf, maar uit die aard van die saak behoort daar meer te wees.
Eerlikheid
Dit het baie helder vorendag gekom dat die spelers vir afrigter Rassie Erasmus die wêreld se respek het as gevolg van sy eerlikheid. Eerlikheid en integriteit is die fondasie van vertroue en om by ʼn plan uit te kom waar almal by die leier inkoop en dit vertrou is die fondasie van eerlikheid noodsaaklik. As daar na Rassie se eerlikheid geluister word tydens die ontvangs van sy toekenning as afrigter van die jaar en ook deurlopend in die onderhoude wat met hom gevoer is, kan mens jou net indink hoe eerlik hy was agter toe deure. Daar was nie tyd vir doekies omdraai oor die kritieke aspekte wat deurslag tot die oorwinning bewerk het nie.
Dit is tyd dat ons eerlik met onsself raak – politieke leiers moet eerlik wees en ophou om deurlopend stories vertel wat die kiesers wil hoor. Tot die dag wat ons leiers nie eerlik met hulself en die publiek is nie, kan ons vergeet om ʼn land te bou waar daar vertroue is in mekaar, ons leiers en planne vir die land.
Erkenning vir diversiteit
Kaptein Siya Kolisi het verskeie kere, maar ook in ʼn onderhoud net ná die finaal gesê dat die span ʼn diverse span van verskillende tale en rasse is, maar dat hulle as ʼn span verenig het agter ʼn gemeenskaplike doelwit en dit is om die beker te wen en hoop te bring aan Suid-Afrika.
In Suid-Afrika fokus ons alewig om die diversiteit tot eenheid deur sosiaal-maatskaplike ingenieurswese op te kook. Miskien is dit tyd om soos die Springbokke eerder die diversiteit te erken en omhels en in ons veelheid te verenig agter ʼn gedeelde plan.
Harde werk
Hierdie span het hulle verbind tot die harde werk wat dit verg om wêreldkampioene te word. Oorwinning word nie net behaal deur ʼn besluit nie, dit word bereik deur ongelooflike voorafgaande harde werk en die ure van pyn en sweet, toegewyd deur te maak. Daar is geskryf oor hoe die afrigtingspan onder leiding van Erasmus die lede van die span geneem het op ʼn weg waar hulle tot ʼn besef gekom het dat harde werk eerste kom vir ʼn Springbok en die roem en eer daarop volg.
Is ons as leiers en burgers van die land verbind tot die harde werk wat dit gaan verg om dit ʼn beter plek en wenland te maak? Is ons bereid om die pyne te vat vir wat gedoen moet word om regtig kompeterend te wees? Dit gaan meer verg as afkondigings, uitsprake en pleidooie, dit gaan vra dat ons die ongewilde besluite neem en deurvoer rondom wat gedoen moet word om onderwys te laat werk, Eskom reg te ruk en ʼn veilige land te wees. Dit gaan ure en ure, dae, maande en jare van harde werk neem om ons uit hierdie netelige posisie te kry.
Meriete gedrewe
Meriete en om kompeterend te wees, is pasmaats – sonder meriete is daar nie ʼn vermoë om te kompeteer nie. Erasmus het nie weggedeins van transformasie nie, maar hy het geweier om dit te doen ter wille van verteenwoordigendheid alleen. Elke speler was op grond van meriete daar en elkeen het in eie reg presteer. Dit het ook almal agter die Springbokke verenig en die spandinamika kon gesond funksioneer, want geen spanmaat hoef harder te gewerk het omdat iemand anders nie op meriete daar was nie.
As ons van Suid-Afrika ʼn sukses wil maak, sal ons moet wegdoen met woorde soos verteenwoordigendheid en gelykheid en vervang met woorde soos meriete en kompetisie. Verteenwoordigendheid kan altyd ʼn strewe wees wat ons kan verwesenlik, maar alleen nadat daar seker gemaak is van die meriete en die vermoë om te kompeteer.
ʼn Plan
Die Springbokke word geloof vir hul plan. Gedurende die toernooi was daar geweldig baie kritiek oor die plan, maar noudat alles uitgewerk het, word daar erkenning gegee vir die plan. Die feite is dat hulle ʼn plan vir die toernooi gehad het wat gebou was rondom die span se sterkpunte. Dit het alles saamgekom en uitgewerk gedurende die eindstryd, maar is voorafgegaan deur ure se nougesette uitwerk en inoefen van die plan. Daar was gehou by die plan en dit is gedissiplineerd uitgevoer.
As Suid-Afrika sal ons onsself moet verbind tot ʼn plan wat gebou is rondom ons sterkpunte en ons leiers sal onverskrokke moet hou daarby terwyl ons, ons kompeterendheid as ʼn nasie deur harde werk uitbou. Ons moet hou by beginsels wat werk en nie by teorieë wat op papier mooi lyk, maar nog nooit suksesvol uitgevoer is nie.
Dit is ons almal se voorreg om te deel in die euforie van die oorwinning van die Springbokke. Ons is hulle ewig dankbaar vir die dosis goedvoelhormone wat hulle ons toegedien het. Dit was en is baie-baie lekker.
Dit is egter ons verantwoordelikheid om nie net warmlug-uitsprake te maak terwyl ons nou so goed voel nie, maar dit is ons plig om selfondersoek in te stel en te kyk – soos wat die Springbokke twee jaar gelede gedoen het – wat dit is wat ons moet doen om ʼn wenland te word.
Dit gaan, om die minste te sê, van ons vra om eerlik te wees, ons diversiteit te erken en te vier, die harde werk in te sit en gefokus te wees op meriete en kompetisie terwyl ons gedissiplineerd ʼn volhoubare plan uitvoer.
Eerlikheid? – is die ANC/Ramaphosa politici eerlik met ons/internasionale gemeenskap wat hulle beplan?
Diversiteit? – my kultuur, taal en ras word geminag, doodgemaak en geen erkenning word gegee.
Harde werk? – daar is bouers en daar is afbrekers, die minderheid bouers kan nie bly
sorg vir die meerderheid afbrekers.
Meriete gedrewe – hahahahahaa! – almal weet alreeds die antwoord.
‘n Plan – nee, maar daar is baie pratery, beloftes, vergaderings, indabas, kommisies, ondersoeke en indien wel op ‘n plan besluit word dan word die slegste moontlike een gekies en uitgevoer.
Slaan die spyker op die kop. Dehel met die bokke, nou staan almal saam, tot jou volgende werks aansoek! Dan is jy te wit vir die pos?? Maar n volk is verenig..??
Dankie vir n POSSITIWE SIEL! Ons waardeer en geniet die Bokke se oorwinning, maar ons wus, dinge gaan nie sommer verander nie! Maar om nou NET negatief, afbrekend te wees en swartgallig gaan OOK nou nie help of iets verbeter nie! Ek het egter baie prozac, vir die, wat dit benodig…