Waak só teen SA se verlammende effek

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

My broer, Andries, en sy vrou, Debbie, was onlangs die slagoffers van ʼn gewapende roof nadat hulle van Mosambiek af teruggekeer het na Suid-Afrika. Die interessante kinkel in die kabel is dat hulle sendeling-evangeliste is wat die Woord in Mosambiek gaan verkondig het. Met hul terugkeer het hulle van ʼn shuttle gebruik gemaak en net anderkant 14de Straat is hulle voorgekeer en van alles beroof.

Deur die Here se genade het hulle met hul lewe daarvan afgekom.

Dié dinge bly ver totdat dit op hierdie wyse binne jou leefruimte sy opwagting maak. Dit gebeur met ánder mense totdat dit met mense naby aan jou of jouself gebeur. Vir ʼn oomblik is ʼn mens in al jou mooi praatjies, verwagtinge en hoop getroef. Vir ʼn wyle beleef ʼn mens destabilisasie en die gedagte dat dit alles verniet is, dat “Afrika” nie sal verander nie, dat óns mense slagoffers is en troosteloos in hierdie ontwrigte land geword het.

My vrou is ʼn onderwyseres aan ʼn plaaslike laerskool in Krugersdorp. Een van die twee swart kinders in haar klas vertel hartseer hoedat hulle van hul motor beroof is terwyl haar pa met ʼn wapen aangehou is.

Met verwysing na plaasboere wat wreedaardig mishandel en selfs vermoor word, is onlangs weer berig dat swart landbouers net soveel skade, verlies en ongemak beleef as “ons mense”.

Dit gaan nie oor rasgegronde vergrype en misdaad nie, maar oor ʼn algehele aanslag op die “vesel” van ons nasie.

Suid-Afrika roem daarin dat die meerderheid mense ʼn Christelike lewens-en-wêreldbeskouing het.

Iewers in die harte van die meeste mense hier is daar nog ʼn sensitiwiteit vir God, sy Woord en geregtigheid. Dis ons morele kompas, ondersteun en gerig deur ons fokus op God wat onder aanslag is.

Eksponente van die duisternis is onbeskaamd en strategies verenig, besig om hierdie land onder beleg te bring.

Die stryd is nie teen vlees en bloed nie, leer die Woord van die Here ons (Ef 6). Dis ʼn aanslag wat uit die duisternis van stapel gestuur word en verbete daarop gerig is om kinders van die Here se spoed en moed te breek.

Dit mag nie gebeur nie!

Ek lees weer die bekende teks in Jeremia 29:11 waar die Here sy volk verseker van sy goeie bedoelings vir en met hulle. Die teks op sy eie is gerusstellend en het een van die bekendste en gewildste tekste in die Bybel geword. Die konteks word egter nie genoegsaam verreken nie en dit is juis die konteks wat die teks soveel meer noemenswaardig maak.

Weliswaar vanweë hul eie volhardende besig wees met die sonde, afgodediens, gebrek aan barmhartigheid, bedenklike leierskap en trae geloofslewe en te midde van talle waarskuwings word die oordeel oor Israel voltrek.

Die ondenkbare gebeur en hulle word na Babel weggevoer. Sion word in die proses verwoes, onder meer ook die tempel. Die, vir hulle, onmoontlike gebeur, naamlik dat God tog (vir ʼn oomblik) sy gesig wegdraai van sy kinders en hulle wreed laat intimideer.

Maar God kan sy volk ten ene male nie prysgee nie (Hos 11:8) en Hy sien hulle verdwaasdheid raak waar hul musiekinstrumente aan bome opgehang is en geen loflied oor hul lippe kom nie (Ps 137:2).

Hoe kan die Here in die vreemde en te midde van vyandigheid en vreemdheid geloof en geprys word? Die lewe kom tot stilstand. Hulle weet nie herwaarts of derwaarts nie. Niks maak meer sin nie en ʼn gevoel van desperate alleenheid neem van hulle besit.

Jeremia die profeet kom met ʼn tydige woord. God sien sy kinders raak te midde van hul vertwyfeling. Hy is die God van ʼn nuwe begin. Hy laat sy kinders nie aan hulself oor nie.

Maar daar is ʼn tydsverloop wat móét verbygaan – 70 jaar is die tyd wat bepaal is vir hul vreemdelingskap. God sê dit nie op nie. Sy besluit word gehandhaaf, maar sy volk word opgeroep om moed te skep en die lewe in die vreemde in die oë te kyk.

Te midde van ʼn onvriendelike en vyandige omgewing word hulle opgeroep om hulself te beywer vir die belange van die stad. Hulle mag hulself nie in selfbejammering in ʼn ghettobestaan onttrek nie, hulle mag nie die mure hoër bou sodat niks en niemand naby aan hulle kan kom nie; hulle moet netwerke en vennootskappe sluit met die mense van Babel en op ʼn proaktiewe wyse begin om die wêreld rondom hulle ʼn beter plek te maak.

  • Dis tot hul eie voordeel.
  • Dit getuig van geloofsvertroue.
  • Dis die aangewese ding om te doen.
  • Dis lewe spreek en lewe kweek.
  • Dis vertroue in aksie gerugsteun deur ʼn energieke en gelowige gebedslewe.

Die 70 jaar sal verbygaan, maar vir nou is dit die aangewese ding om te doen.

Die betrokkenheid van Christene was nog nooit so noodsaaklik soos nou nie. Al beleef baie mense ʼn stuk vervreemding en gevoel van hopeloosheid moet ons meer as ooit skouer aan die wiel sit. Die stad se belange is ook ons belange.

  • Ons gaan dit egter nie op ons eie alleen regkry nie.
  • Geloof sal moet hande vat in Suid-Afrika.
  • Geloof sal konkreet gemaak moet word in strukture van hoop.
  • Geloof leef die verderf dood.
  • Dis nog steeds God se land hierdie.

Waldimar Pelser in Rapport (21 Mei 2017) onder die opskrif “Ons sal moet woeker voor ANC mag verloor” skryf: “Organiseer. Staan op. Voel trots op wat jy vir jou medemens doen. Maak aanspraak op jou regte en ook op die regte van ander wat jy sou hoop vir jóú in die bresse sal tree as die gort eendag goed gaar is. Praat uit.

Ondersteun enigiemand wat die wêreld om hulle ’n beter plek probeer maak. Dit sluit die kunste in. Koop ’n boek. Lees ’n koerant. Lig jouself in. Beveilig jouself. Reik uit, rig iets op. Lag vir dié wat jou wegwens. Daag jouself nietemin uit. Weeg perspektiewe op. Verdedig jou posisie, maar onthou daar is altyd iets om te leer, en dat nuwe moontlikhede selfs in die grootste krisis sigbaar word vir dié wat teen moedverloor kies en besluit om iets aan ons eie en mekaar se probleme te doen.”

Frans Cronje, scenariobeplanner, skets in sy boek “Tydreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030 twee scenario’s van hoe die samelewing daar kan uitsien (Rapport, 21 Mei 2017).

Die eerste is ontstellend negatief en hopeloos. Die tweede is die toekoms waarop almal gehoop het. Drie redes vir die positiewe en produktiewe wending word gegee. Die derde is die belangrikste volgens Cronjé: “Die aard van die samelewing het verander. Suid-Afrika is nie meer ’n land waarin mense vir die regering wag om vir hulle iets te doen nie. Dit is een waarin hulle dit vir hulself sal doen, en die regering is daar om die omstandighede te help skep waarin hulle dit kan doen.”

Die Woord sê: “… bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle weggevoer het, bid tot my vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange” (Jer 29:7).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

humor ·

Maroela baie dankie. Die bemoedigenste boodskap wat ek nog in hierdie huidige omstandighede gehoor het. Wat n boodskap om hierdie Maandag mee te begin en die toekoms te benader.

Carine ·

Jannie, baie dankie vir ‘n opbouende boodskap! Ek glo saam met jou dat ons net die beste van die toekoms kan verwag, want dis wat die Here vir ons beplan het.

A ·

Ek gesels nou die ander dag met iemand wat sê dat die Afrikaners inherent kwaad is. Kwaad is vir die omstandighede waarin hulle verkeer. Sonder dat hulle besef hoe kwaad hulle werklik is, kom dit op allerhande maniere uit. Soos bv. in die verkeer, in ‘n lang tou by die bank, wanneer jou munipale rekening belaglik hoog is. Daar is nie meer respek en vrede nie. Almal is wantrouig en het geen genade vir hulle medemens nie. Ons het ‘n langpad voor ons, ons Afrikaners, want ons sal eers van al die kwaad in ons binneste ontslae om raak voordat ons weer kan vra vir wonderwerke. En ja, ek het ‘n baie harde stryd met myself. Ek probeer regtig om nie meer so kwaad te wees nie, maar dit is uiters moeilik.

Reinhardt ·

Stem saam, maar hoe raak ek ontslae van die kwaad as ek daagliks lees van nog ‘n instansie wat Afrikaans afskaf, nog ‘n plaasmoord, nog ‘n Afrikaner wat emmigreer, nog iemand wat hul kinders Engels grootmaak… hoe?

Petrus ·

Kyk, opbouende artikels is sekerlik baie welkom, maar as daar een ding is waarvoor ek nou verby keelvol is, is dit die snert dat plaasmoorde voortdurend afgemaak word as doodgewone misdaad.

“…is onlangs weer berig dat swart landbouers net soveel skade, verlies en ongemak beleef as ‘ons mense’.”

Hoeveel keer het ons al gelees dat swart landbouers doodgemartel word op hulle plase sonder dat enige iets gesteel word? Enige mens met verstand kon teen hierdie tyd al uitgewerk het dat die wrede plaasmoorde op wit boere nie net gewone misdaad is nie. Alle Suid-Afrikaners loop deur onder misdaad, maar die wreedheid wat met moorde op wit boere gepaard gaan is beslis nie net gewone misdaad nie.

Dit steek my ook dwars in die krop dat “ons mense” met aanhalingstekens geskryf word –
want dit is mos nie polities korrek dat Afrikaners toegelaat word om van ander Afrikaners as ons mense te praat nie.

Dit is natuurlik waar dat Afrikaners nie uitsigloos en sinies moet word nie, maar wanneer daar rede is om kwaad te voel help dit nie om jou kop in die sand te druk nie en die harde realiteit te ontken nie. Nee, dit is juis die tyd wat daar met dapperheid, ywer en geloof gestry moet word.

Hendrik ·

Ds Jannie so mond verdien jam.Ek het al die jare probeer om ñ brugbouer te Daar is baie,baie goeie swartmense en ook slegtes, en net soveel goeie witmense en ook net so veel slegtes.Kom ons bou saam met die Here se hulp..

TTh ·

…” hulle te beywer vir die belange van die stad ” …. die ou bybelvertaling en die King James praat van die ‘vrede van die stad’ – Jer 29:7. Dit verskil drasties van wat jy se. Ek stem glad nie saam met jou nie. Ons ondergang is ons aksie teen misdaad, korrupsie, geweld ens en om te waak teen SA se verlammende effek. Ons moet aksie neem teen misdadigers, korrupte mense, geweldenaars en waak teen misleidende kerkleiers en vals kerk doktrines en skelm volksleiers. Ons moet ons eie volksgenote kan bystaan en vermaan ten einde terug te keer na die oorspronklike Blye Boodskap van die Bybel binne die konteks van God se gebooie en dit is liefde vir die broederskap en liefde vir God – sien 1 Kor 13.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.