Waar gaan dit eindig?

Bennie van Zyl. Foto: Reint Dykema

Die ANC het besluit en toe het die parlement besluit en daarna is die bynes omtrent oopgeruk soos die gesprekke by elke geleentheid oorheers is deur die proses wat aan die gang gesit is om te kyk of daar bates onteien gaan word sonder vergoeding.

Soveel mense en organisasies het iets te sê, dus soveel standpunte en sienings word na vore gebring.  Beredenerings van watter soort grond ter sprake gaan wees, word gevoer. Ander weer reken dat dit so ʼn belaglike voorstel is en negatief vir die toekoms van Suid-Afrika, dat dit nooit gedoen sal word nie. Die werklikheid is dat die ANC hulself in die drukgang geplaas het en vir hul eie geloofwaardigheid baie moeilik sal kan terugkibbel.

Daar is egter een groot probleem met die meeste van die beredenerings, naamlik dat daar reeds by die beginsel van privaat besitreg en die vrye mark verbybeweeg is en daaraan toegegee is in hierdie soort argumente. Die beginsel van privaat besitreg is geleidelik afgetakel deur velerlei sogenaamde transformasieprosesse, soos byvoorbeeld swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Kruipende onteiening is reeds besig om plaas te vind, en ons doen lustig mee. Tog, elke titelaktehouer het sy besitreg wettig gekry en hulle (of die bank) is in besit van ‘n titelakte wat die staat uitgereik het. Niemand het se grond is gesteel nie en is daar geen rede waarom enige persoon ‘n skuldgevoel moet hê nie.

Die TLU SA het reeds in 2005 konstruktiewe voorstelle aan die regering gemaak hoe daar wel in die normale verloop van die proses – sonder om enige bestaande boer in onsekerheid te dompel – wel by sy teikens uitgekom sou kon word om nuwe swart boere te vestig. Die suksesvolle vestiging is natuurlik onderworpe daaraan dat hulle die verantwoordelikheid om boer te wees, volledig sou aanvaar. Dit is voorgehou as ‘n ekonomies volhoubare proses en dit was dalk die rede vir die verwerping daarvan aangesien dit moontlik nie inpas by hul ideologie nie. Verskeie ander rolspelers het geleidelik ook voorstelle gemaak en dit is, net soos die TLU SA se voorstel, van die tafel gevee.  Dit bring mee dat daar ernstige vrae ontstaan oor die ANC se werklike agenda.

Dat Suid-Afrika ernstige probleme in die vorm van armoede en werkloosheid het en wat onder ‘n ANC-regering daagliks groter word, is ‘n feit.  Om dit op te los, is daar net een bewese metode wat die probleem op ʼn volhoubare manier kan verlig, en dit is dat die ekonomie moet groei.

By herhaling verduidelik die ekonome hoe die proses werk, naamlik om eerstens vertroue te hê in die geleenthede wat ontgin kan word vanuit ‘n goeie en stabiele beleidsomgewing, en tweedens om beleggings te maak waarna entrepreneurs die nodige doen om meganismes aan die gang te sit wat winsgewend, maar ook werkskeppend moet wees.  Dit is ‘n oorvereenvoudigde verduideliking, maar in die praktyk is dit presies hoe dit werk. Na my oordeel dink ek nie daar kan ‘n groter onsekerheid vir beleggers geskep word indien die regerende party besluit dat sy beleid voortaan sal bepaal dat bates van die burgers geneem kan word sonder om daarvoor te betaal nie.

ʼn Parlementêre proses is tans aan die gang om dit te ondersoek. Persone en instansies het geleentheid gehad om tot en met 15 Junie kommentare in te stuur – daar behoort eintlik miljoene besware ingedien gewees het.

Die vakuum wat geskep is deur die ANC en daarna die parlement se besluit, sal gevul word met denke wat reken dat rykdom bestaan en dat dit maar net gedeel moet word, indien rasionele en logiese standpunte nie die gesprek oorheers nie.

Dit is duidelik dat die ANC nie in staat was om hul beloftes gestand te doen nie, en nou na uiterstes beweeg om hulself te red. Die versetaksies wat daagliks plaasvind, gepaardgaande met uitermatige geweld, is stawend dat die ANC nie die inwoners enigsins tevrede stel nie. Die sogenaamde grondhonger word voorop gestel as ‘n rede hoekom grond nou oorgedra moet word.

Dit is egter ironies dat nagenoeg 93% van die eisers eerder die geld verkies het in plaas van die grond.  Waar is die grondhonger dan waarvan gepraat word? Van dié wat wel die grond geneem het volgens die regering se eie erkenning, het 90% van die plase onproduktief geword.

Mense soek ‘n toekoms en omstandighede waarin ‘n menswaardige bestaan gevoer kan word. Die kundige entrepreneurs is dié wat uitstyg en meer rykdom vergader. Deur die bestaande ekonomiese prosesse – wat juis verseker dat daar voldoende voedsel beskikbaar is – nou nek om te draai, is uiters kortsigtig.

In ‘n vryemarkomgewing is dit regverdig dat elkeen met gelyke geleenthede moet kan wegspring.  Die indruk word egter deur die ANC geskep dat almal eerder gelyk by die wenpaal moet aankom.

Opleiding en onderrig is van kritiese belang en dit is slegs die ANC wat aanspreeklik gehou kan word vir die laaste aantal jare se gehalte van onderrig. Hulle is in beheer en bepaal die prosesse en indien ‘n student wat nou die skool verlaat, nie toegerus is vir wat daarna wag nie, is dit óf die student se eie keuse om nie ‘n toekoms te wil skep nie óf die gehalte van onderwys wat die ANC daargestel het, wat nie voldoen aan die eise van die tyd nie. Dit is dalk tyd dat die ware skuldiges geblameer word.

Wanneer die politiek en die ekonomie in konflik kom, sal die ekonomiese beginsels op die ou end die laaste woord wees. Die politiek veroorsaak dat die prys soms te hoog word soos wat daar in baie Afrika-lande gesien kan word. Die politici moet begin werk aan ’n formule oor hoe leef mense van ‘n ideologie en van ‘n klein stukkie grond alleen. Die logiese is om ‘n beleidsrigting te toets aan ekonomiese volhoubaarheid en seker te maak dat dit suksesvol sal wees.

Terwyl die ANC tans poog om hulself te red, is dit dalk tyd dat die res van ons op só wyse betrokke sal raak, dat ons Suid-Afrika kan red. Die prys van die ANC het dalk reeds onbetaalbaar duur geword.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Absuluut NEE ·

Ons moet nie n tree terugstaan vir kommunisme nie, dit het nerens gewerk nie, en so ook nie spesifiek vir grondgryp nie, kyk maar na zim, en erger dinge gaan hier gebeur. Dit sal die vinnigste manier wees om afrika se mees geindustraliseerde land met die grootsta antal sosiale toelaagverkrygers in ‘n japtrap in n vlugtelingkamp te verander, waar almal vlugtelinge gaan word, alle ras en inkomstegroepe. Ons kan dit nie toelaat nie.

John ·

… ‘n krisis dreig en dis ‘n feit soos ‘n ou maer koei op ‘n lappie grond met ‘n gehawende huisie en ‘n ou landerye met hier en daar ‘n vergete mieliepit wat die elemente troseer… Elke Afrokaan glo nou sy/haar plaas le iewers in SA en wag om opgeeis te word. Dit is CR, steeds die vise-prez cum ANC/Zuma se verkiesingsfoefie vir 2019. Hierdie slogan het reeds te groot geword vir die land en CR probeer nou aflopies vind in die buiteland wat winste en uitkomste sal lewer… gebou op die Mandela-mites en legendes. Soos ons weet hou vloede en opstande nie van opdraendes loop nie…

Rynhardt ·

Bennie van Zyl en TLU SA, julle leef in ontkenning oor alles wat aangaan!Kom ek spel dit uit:Die Anc wil alle plase he(al het hy reeds 4ooo in sy besit).Anc beplan om ook eiendom in stedelike gebiede te vat.Blankes mag geen bestaansreg he nie, volgens Anc se Freedom Charter!Dit beteken net hul mag vryheid he!! Maak dit sin??? TLU SA, as julle nie in opstand kom nie,gaan julle alles verloor!!TLU SA, julle sal nie glo wat ek se nie,want die waarheid is te erg in n polities korrekte SA wat omarm word!!??????

Johan ·

Ek stem saam ANC wil alles hê.

Ek verskil dat TLU SA dit nie insien. Inteendeel hulle is die enigste organisasie wat dit insien!

Hoekom sê jy “julle” moet in opstand kom, anders gaan “julle” alles verloor?
Moet jy nie liewer sê “ons” nie? Met “ons” verwys ek na elke Suid-Afrikaner wat enige vorm van privaat eiendom besit.

As jy nog nie kommentaar ingedien het oor die ondersoek om Artikel 25 te wysig nie, doen dit ASB nou!

Die tyd vir “julle” is verby, want net “ons” sal die ANC oorleef.

Johan ·

AgriSA sal verskil, maar dit is nooit moeilik vir die ANC om hulle ‘n rat voor die oog te draai nie. Hulle val hopeloos te maklik vir die ANC se mooi stories.

Rynhardt ·

Johan,ek verskil met jou.Landbou en talle organisasies glo in onderhandel en kyk waar het dit Afrikaners gebring!Afrikaners leer nie en leef in ontkenning.Cyril Ramaphosa het dit op rekord reeds bevestig aan n IFP lid:”Ons vat stukkie vir stukkie van hulle(verwysend na jul Afrikaners).Die Freedom Charter moet in voltooing gebring word.Johan,ek daag jou uit om my verkeerd te bewys!!Afrikaners gaan alles verloor!Jy moet n slag leer om tussen die lyne te lees.Ek verstaan kommunisme en die SA politiek beter as jy!

Boerseun ·

As lid van TLU kan ek jou waarborg jy is verkeerd. Gaan woon bietjie n vergadering in jou area by, dit is presies wat die ouens se.

Johan ·

Weereens n puik stuk uit Bennie se pen!

Die insig en ontledings wat Bennie en die TLU SA in die ANC en hul beleide het verstom my keer op keer.

Vir die mense wat altyd die TLU SA as n spul negatiewe regses afmaak, gaan kyk na hul stellings en waarskuwings oor die ANC se beleide en wetgewings sedert vroeg 2000. Hulle was in die kol!

Die ANC se vaagheid oor watter grond ter sprake is as hul teiken is vir onteiening, is spesifiek ontwerp om verwarrend te wees en vals gerusstelling by die publiek te skep dat daar van “plaasgrond” gepraat word.
Daar word egter nie na “grond” verwys nie, maar na “eiendom”!

Wat is eiendom?

Eiendom is jou:
Huis in Waterkloof
Aftree annuiteit
Strandhuis in Hermanus
Kind se spaargeld vir universiteit
Bitcoin
JSE aandele portefeulje
My ou plasie in Mpumalanga
Die klere in jou hangkas

Onthou dat Afrika kultuur nie mag prysgee nie. Talle Afrika lande het al ten gronde gegaan en burgers is uitgemoor wanneer die Elite wat aan bewind is, se kanse om hul mag te verloor tot besluite en wette gelei het om hulle daar te jou, ten koste van hul ekonomie, voedsel sekerheid, en landsburgers se veiligheid.

Elke persoon wat die ANC vertrou en stilbly, help om ons land af te breek.
Gee een snytjie van die koek nou prys en hulle sal aanhou terugkom totdat die hele koek weg is.

Waarheen dan?

Jerry ·

Die skrywer se voorstelle kan deel wees van die oplossing. Die wyse om betrokke te raak om SA te red is egter presies waar die probleem tans le. Sekere Afrikaner organisasies se wyse is om in ontkenning te bly staan van die onreg van apartheid en sodoende inisiatiewe te ondermyn wat dit ten doel het om die onreg, reg te stel, wat opsigself lei tot verdere onsekerheid, agteruitgang en konflik. Die wyse vir Afrikanerorganisasies om betrokke te raak om SA te red is eerstens om hulself te rehabiliteer mbt die onreg van apartheid en tweedens om CR se hand van vriendskap te vat en hom te help en hom te wys hoe opheffingsinisiatiewe met staatshulp alle SA menselewens positief kan rig. Die punt is om eerstens n Suid Afrikaner te wees en dan n Afrikaner of Afrikaan en om n houding en ingesteldheid te kweek wat ten goede sal bydra tot die opheffing van alle Suid Afrikaners. Die punt is, red CR en die ANC gematigdes en jy red Suid Afrika. Vergeet die verlede, los die vooroordele, bou n toekoms, bou n nasie en stop die anargiste en misdaad! Ons weet hulle kan dit nie doen nie, so kom ons wys hulle en help hulle om te kan doen wat gedoen moet word om SA vir almal te red. Raak ontslae van die bagasie van die verlede en word n nuwe Afrikaner wat diep spore trap waarop Afrikaner nageslagte en alle Suid Afrikaners trots kan wees.

Priscilla van Schoor ·

As mense hulle beginsels en oortuigings baseer op die onfeilbare Woord van God kan hulle nie verkeerd gaan nie. Dit is wat baie duidelik uit Mnr Bennie van Zyl se hele lewe skyn. Hy plaas God en Sy Woord altyd eerste in alles wat hy doen. Dankie Mnr van Zyl dat u nie bang is om standpunt in te neem en die waarheid na vore te bring nie. Ek en my man, Jannie, dra u op in ons gebede en vra vir wysheid en krag in hierdie moeilike taak wat u aanpak.

dr Sakkie van der Merwe ·

Dankie Bennie vir TLUSA se standpunt teenoor die ANC/SAKP. Diegene wat nog dink dat CR die antwoord is vir die afrikaner leef in ontkennig. Kyk bloot na sy “geselsie” met die Afrikanerbond. Julle, dit is nou die blankes, moet regmaak, julle moet help met jul kennis, julle en nogmaals julle. Nerens sal hy se dat plaasmoorde aangespreek sal word nie. Hy praat met ‘n gesplete tong. Vra vir Piet Retief wat was sy ondervinding met onderhandelings.

Casper Labuschagne ·

Duidelik het Cyril voor die Afrikanerbond gestaan en die gasvlam net warmer en warmer gedraai met die woorde van sy toespraak. En toe hy die laaste woord gespreek het, het hy breed geglimlag want die water borrel al soos dit kook tussen die paddas en steeds sit hulle en luister na hom sonder om uit te spring. Sy taak is amper voltooi, hierdie paddas gaan lekker gaar word sonder om ooit uit te spring.

Gerhard ·

Ongelukkig het die meeste Afrikaners, boere en sakemense die bus gemis met geleenthede om iets aan die onvermydelike vooruitsig te doen. Nou is dit betaal tyd.

Koos ·

Mense, hoor wat Priscilla van Schoor hierbo sê – neem dit eerstens ten harte en dan die volgende:
Maak ‘n punt daarvan om seker te maak jy verstaan die positiewe aspekte (te midde van al die negatiewe politieke omstandighede) wat al die nuwe en ouer instansies soos TLUSA, AfriSake, AfriForum, Solidariteit, ens. huidig voorhou.
Talle jong mense is daarin as leiers betrokke en die organisasies is nêrens bevooroordeeld of uitsluitend van enige groepe mense in hierdie land van ons nie.

Dít is die pad wat ons almal saam moet loop om te verseker ons bly behoue.

Koos ·

Lees almal weer wat Priscilla van Schoor hierbo skryf, neem dit eerstens ter harte en dan:

Maak seker almal verstaan wat die mense van TLU SA, AfriSake, AfriForum en Solidariteit sê en veral DOEN, sonder om bevooroordeeld te wees teenoor enige groep mense in ons land, maar met eerlike en opregte bedoelings optree, om alles wat goed is vir almal tot stand te bring in ons mooi land.
Hierdie organisasies word beman en gelei deur talle jong mense asook ouer, nugter denkende mense met almal een doel – vooruitgang vir ALMAL.

Dít is waaraan ons almal moét aandag gee en saam werk om vrede en vooruitgang in Suid Afrika te bekom.

Casper Labuschagne ·

Waar gaan dit eindig? Wel, inderdaad – kom ek stel dit so: Die komende onteiening sonder vergoeding is ‘n wettige manier sodat die meerderheid hulself oombliklik kan verryk ten koste van ‘n minderheid. Al wat nodig is, is die sweempie van historiese ongeregtigheid, maar dit is nie werklik ‘n vereiste nie. Hierdie is Afrika, so eers word die eiendom van enkele wittes onteien. Dan word die populistiese geraas groter en toenemend bly nog en nog wittes in die slag. En wanneer daar nie meer wittes is nie, hoekom nie die Indiërs nie, en wat van die bruinmense. En dan die Shangaan bevolking in Mpumalanga. En daarna die Pondos in suid Natal. En die Suid-Sothos in die Vrystaat want hulle hoort in hul eie land wat Lesotho genoem word.

Dis Afrika, enigeen wat ‘n wet wil toelaat waar die meerderheid ‘n minderheid kan onteien ter wille van selfverryking is stapelgek, wie kan ooit dink dat dit nie sal eindig soos ek dit hierbo beskryf nie.

Liberaal ·

Liberaliste gee nie om nie, vlug net na n ander (Westerse) land as moeilikheid kom.

Dis so ·

Koos. Àg alles klink so edel en rein. Ons het nie die gelofte wat ons voorouers met God gesluit het onderhou nie. Nou is ons slaaf ons baas soos die bybel se. Ek weet beslis God sal ons nie los nie maar dan moet ons almal en ek bedoel almal terug draai na God toe en omvergifnis pleit. Dit is party keer moeilik om agter te kom hoe eerlik van hierdie organisasies se bedoelings is en of dit ook maar net op n groter ledetal met groter inkomste gemik is. Sterkte aan al die boere en asb ouens bly op julle knie voor God en veilig wees.

Jerry ·

Jy is reg oor waar dit alles gaan eindig Casper. Dit is die onvermydelike, daaroor stem ek en ek glo meeste mense saam. Waaroor ons egter verskil is hoe ons wat daaromtrent moet doen om dit minder pynlik te maak vir ons nageslagte in SA. My opinie is dat die nugter denkende ouergarde van die Afrikanerorganisasies onmiddellik moet stop om die jeug op te saal met die bagasie van die verlede. Indien die nugter denkende ouergarde die onreg van apartheid veroordeel en toesien dat die jeug sonder die bagasie nuut word in geloof, hoop, liefde, verdraagsaamheid, denke en gedrag, sal die onvermydelike minder pynvol wees. Indien die jeug nie bevry word van die bagasie van die verlede is hulle soos jy tereg bedoel vir geslagte gedoem hier in ons pragtige land Suid Afrika! Niemand van ons is stapelgek om n wet toe te laat wat ons gaan onteien nie, ons besef egter dat dit onvermydellik is, al doen die forum ookal wat en hoe meer die forum onversoenend optree hoe erger gaan die aanslag teen die Afrikaner en die jeug raak. Maak dus vas julle gordels, waterskeidingsgebeure le om die draai omrede die forum ore het, maar nie kan hoor nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.