Waar is ons plek en hoe kom ons daar?

Groot-Trek

Foto: Arnoldvosloo-tribute.com

Deur dr. Christo Pretorius

Eerskomende Vrydag vier die Afrikanergemeenskap wêreldwyd Geloftedag. Tradisioneel bied dit nie net ʼn terugkyk na die verlede nie, maar ook geleentheid om oor die toekoms te besin.

Uit die verlede klink die redes vir die Groot Trek: Konflik tussen minderheids- en meerderheidsgroepe. Die voortdurende onveiligheid van huis en haard. Strooptogte op plase, diefstal en moord, propagandaveldtogte uit liberale geledere wat van stapel gestuur is en die ontluikende gemeenskap sonder ophou in die aanklagtebank geplaas het. Dan was daar ook wanbestuur deur owerheidsliggame, die misbruik van gesagsposisies, die eensydige vertolking en toepassing van reg en geregtigheid en ʼn onsimpatieke oor.

Die uitnodiging tot gesprek, protesskrifte binne die toentertydse regsraamwerk en ooreenkomste tussen die onderskeie partye is geminag en dit lei tot die selfbeskikkingstrewe van ʼn jong volk.

Tans beleef Afrikaners soortgelyke omstandighede. Onveiligheid en onsekerheid is deel van Afrikaners se daaglikse bestaan.

Op 8 November 2016 berig Maroela Media “Aanvallers ‘vier fees’ voor hulle man doodslaan”.

Die tragiese en skokkende moord van Buks Oosthuizen langs die Vaalrivier gryp man, vrou en kind aan die hart. Afgesien van die grusaamheid van die moord, ontketen die argeloosheid van die misdadigers woede en weerstand.

Alet Rademeyer berig in Forumnuus van 9 November dat Tlou Molele se uitspraak, naamlik dat “wit mense net ʼn mutasie is” en verdryf moet word, net ʼn ligte berisping van die Menseregtekommissie tot gevolg gehad het.

Die trae reaksie van die ANC-owerheid en die flou veroordeling van rassistiese uitsprake deur Julius Malema, wat Afrikanermans hulle plek wil wys, bevestig die rasbevooroordeelde ingesteldheid teen Afrikaners.

Dit is ʼn ingesteldheid wat Afrikaans op universiteit en skole aftakel, wat die Grondwet selektief toepas en deur middel van ʼn rasgebaseerde ideologie Afrikaners ontneem van werk en van grond ontheem.

Van die huidige bestel en van opruiers kan Afrikaners niks verwag nie.

Afrikaners sal self doen, self die toekoms peil, die regte besluite neem en eie leefruimtes ontwikkel.

Dit sal leefruimtes wees waar veiligheid, orde en geregtigheid die grondslag is vir drome en ideale.

Die boustene hiervoor is burgerlike instellings, die ondersteuning van Afrikaanse skole en universiteite, lidmaatskap van kultuurinstansies, die bou aan ʼn kanton of twee en die vestiging van gemeenskapsrade en uiteindelik ʼn Afrikanergemeenskapsraad.

Die sement van die boustene is ʼn gesonde gesins- en familielewe en die eendragtige wil om as unieke gemeenskap bymekaar te staan. Dit sluit nie uit dat ʼn hand van vriendskap en samewerking na ander gemeenskappe gereik word nie.

Te midde van ʼn wêreldwye konserwatiewe swaai na regs, weg van globalisering en polities korrekte gedweep, bied die uitsprake van Julius Malema, Tlou Molele en die optrede van die ANC-owerheid opnuut aan Afrikaners die geleentheid om te vra: Waar is ons plek en hoe kom ons daar?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Niccy

Onverstaanbaar om so iets te moet lees. Hoe is dit moontlik dat die Afrikaner volk so uit alles uitgedruk kan word. Ek wonder wat sou my oupa Grootjie daarvan sê. ‘n Land waarvoor hul moes veg, sy vrou doodgemaak deur die engelse en hy gevange geneem was, ontsnap het, en net om terug te kom om van voor af sy afgebrande plaas deur die kakies weer op te bou! Dis om van te huil. Kan daar dan nie iemand opstaan en ons leier word nie? Ek weet ons moet op God vertrou maar ongelukkig moet die boere nasie se ogies… Lees meer »

JC

Baie, baie dankie Dr Pretorius!
U het my dag gemaak :-)

Ben Prinsloo

Dankie Dr. Pretorius. Dit was kort en kragtig. Witman dit het tyd geword om te besin en te mobiliseer ter wille van oorlewing. Ons word uitgemoor want ons het ons Volk, Skepper en Vaderland agterwee gelaat. Kom ons kyk weer na die woorde van ons Volkslied en begin daarna streef. Dit is nie verkeerd nie alhoewel die teendeel daagliks voor ons afgespeel word. Moet nie na hulle luister nie.

Harry

Volgens my is daar net een oplossing vir die Afrikaner volk en dit is dat ons as volk sal terug kom op ons knie in verootmoediging voor God Almagtig. Die gelofte wat afgele is deur ons voorvaders het ons verseker van n plek in hierdie land maar hoeveel van ons woon nog die gelofte feeste by. Onthou ons het n gelofte afgele. Verder het ons as volk die Sabbat ontheilig. Hoeveel van ons bring nog die Sabbat deur as n dag van God. Hoe kan ons van God verwag om ons te red uit die verknorsing waarin ons ons bevind… Lees meer »

zoom zoom

Ons moet almal namibia toe trek en van daai plek n juweel maak. Afrikaans is welkom in namibia en hulle geld is net so goed soos ons geld.