Waar is SA se nuwe sakeondernemings?

prof-lj-grobler

Prof. LJ Grobler van die NWU. Foto: Verskaf.

Deur prof. LJ Grobler – navorsingsprofessor aan die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Ingenieurswese en direkteur van CFAM Technologies.

Die ontwikkeling van nuwe entrepreneurs en entrepreneursmaatskappye word as een van die sleutelaspekte beskou om nuwe lewe in die Suid-Afrikaanse ekonomie te blaas. Talle programme en inisiatiewe wat deur die regering en privaat instellings ontwikkel word, is daarop gemik. Studente en jongmense word aangemoedig om hul eie besighede te begin om entrepreneurs te word. Hierdie inisiatiewe word hoofsaaklik deur ontwikkelingsagentskappe en sakeskole aan universiteite en ander tersiêre onderwysinstellings aangedryf.

Ten spyte van hierdie inisiatiewe lyk dit nie asof ons die vereiste resultate kan bereik om nuwe entrepreneursbesighede te ontwikkel nie. Wat is die redes hiervoor? Daar word allerweë aanvaar dat navorsing die grondslag van innovasie en daaropvolgende kommersialisering uitmaak. In Suid-Afrika kan ons egter dikwels nie navorsing in kommersieel lewensvatbare entrepreneursbesighede verander nie.

In die VSA is dit algemeen om te hoor dat besighede in ’n garage begin is en daarna tot megabesighede ontwikkel het. In die meeste gevalle is navorsing en innovasie die resep vir sukses.  Hierdie maatskappye se volhoubare mededingingsvoordeel word dus omvat in nuwe tegnologie-gebaseerde produkte of dienste wat die status quo uitdaag en nuwe waardestrome of geleenthede verskaf. ’n Paar voorbeelde hiervan is Uber, Airbnb, Tesla en SpaceX. ’n Mens kan redeneer dat Tesla en SpaceX nie in ’n garage begin is nie. Die feit is, Elon Musk het sy eerste besighede, wat hy uiteindelik verkoop het om PayPal te word, in ’n garage begin. Hy het daarna dieselfde beginsels gebruik om Tesla en SpaceX te ontwikkel.

Wat doen SA verkeerd?

Wat doen ons in Suid-Afrika dan verkeerd? Soos die VSA, erken ons ook die belangrikheid van navorsing en innovasie.  Dit is geen geheim dat Suid-Afrika van die beste universiteite en navorsers ter wêreld het nie.

Die bevindings van ’n onlangse ontleding van Suid-Afrika se wetenskaplike prestasie toon dat die land sy navorsingspublikasiesyfers bykans verdubbel het vanaf 3 617 in 2000 tot 7 468 in 2010. Gedurende hierdie hele tydperk het Suid-Afrika ook sy internasionale publikasiegradering met twee posisies verbeter. Volgens ’n navorsingsartikel deur professor Anastassios Pouris in die South African Journal of Science is Suid-Afrika 33ste in die wêreld gegradeer.

Moet ons nie, in die lig van hierdie suksesse, ’n groter toename in ekonomiese groei beleef nie? Dit is duidelik dat dit moet gebeur, maar die probleem is dat ons dit nie ervaar nie.

Ek is van mening dat ons meer op die ontwikkeling van tegno-entrepreneurs as blote besigheidsentrepreneurs moet fokus. Tegno-entrepreneurs het die voordeel dat hulle ’n mededingende produk of diens verskaf wat vir mededingers ’n versperring skep. Dit is nie noodwendig die geval vir besigheidsentrepreneurs nie, tensy hulle ooreenkomste kan aangaan om toegang tot tegnologie te verkry.  Dit is iets wat jong besigheidsentrepreneurs sal sukkel om te kry.  Ongelukkig fokus die meeste van ons entrepreneursontwikkelingsinisiatiewe op die ontwikkeling van besigheidsentrepreneurs.

Persoon op straat trek min voordeel

Groot openbare of privaat ondernemings word dikwels deur universiteite genader om navorsingsprojekte te befonds. Die regering stel ook navorsingsbefondsing beskikbaar om in hierdie verband te help. As die navorser die son, die maan en die sterre kan belowe, word befondsing gewoonlik toegestaan en die navorser kan dit vir tegnologienavorsing en ‑ontwikkeling aanwend. In talle gevalle het die sakewêreld en staatsdepartemente oop beursies hiervoor, hoofsaaklik omdat hulle besef hoe belangrik dit is en navorsing as deel van hul maatskaplike verpligtinge beskou. Wanneer die navorsing voltooi is, word die eindproduk egter in talle gevalle ongelukkig beskou as ’n artikel in ’n akademiese vaktydskrif, sonder dat die persoon op straat op ’n kommersiële vlak enige voordeel uit hierdie navorsing trek.

Besigheidseienaars en navorsers is dikwels geneig om twee verskillende doelwitte te hê.  Die besigheidseienaar wil sy besigheid laat groei en ontwikkel, terwyl die navorser meer daarin belangstel om befondsing vir sy spesifieke navorsingsprojek te kry. Baie min – indien enige – klem word gewoonlik op innovasie en kommersialisering geplaas.

Na my mening kan gefokusde navorsing met kommersialisering as die einddoel slegs slaag indien dit van die begin af een van die strategiese doelwitte is. CFAM Technologies, ’n multimiljoenrand-organisasie wat in Potchefstroom gebaseer is, het die sukses van so ’n benadering gedemonstreer.  Wat in 1998 as ’n navorsingsprojek deur ’n meestersgraadstudent begin is, het in ’n florerende organisasie ontwikkel wat tans die enigste vervaardiger van dubbelskroef- voedselekstraheerders in Afrika is. Hierdie onderneming is in 2007 op grond van die Noordwes-Universiteit se strewe na navorsing en innovasie as ’n newemaatskappy gestig. Ons sou nie die geweldige suksesse van vandag in CFAM gesien het as dit nie was vir die stewige fondament van navorsing en innovasie, tesame met behoorlike entrepreneursbesigheidsbegrip nie.

Die maatskappy ontwerp en verskaf nou pasklaar voedselvoerverwerkingsaanlegte in Suider-Afrika, en het selfs ’n aanleg in Ierland geïnstalleer. Meer as 70% van alle kitsmieliepapprodukte in Suider-Afrika word met behulp van CFAM se ekstraheerders geproduseer. Die CFAM-ekstraheerders en ‑aanlegte het gesamentlik ’n impak van meer as R1 miljard op Suid-Afrika se jaarlikse BBP. As ons die verband tussen navorsings- en entrepreneursvaardighede meer dikwels kon raaksien, sou Suid-Afrika baie meer nuutgeskepte werksgeleenthede gehad het, wat tot die verligting van armoede en volhoubare ekonomiese groei sou lei.

Dit is nou die tyd vir navorsers en besighede om van die begin van ’n navorsingsprojek aan kommersialisering te dink – nie eers aan die einde of, nog erger, nooit nie.

’n Kultuur en ingesteldheid van kommersialisering kan dalk net die oplossing wees wat Suid-Afrika nodig het om sy navorsings- en innovasietalent te laat vrugte afwerp.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

marco polo ·

Ek het al deur die jare opgemerk dat mense wat aan universiteite verbonde is en ander wil leer oor wat in die wereld aangaan, self min ondervinding het van die wereld. Die antwoord vir die vraag is maklik. Kyk net na BEE en ander arbeidswetgewing, asook na ons onopgevoede, lui bevolking wat graag breek en brand as hulle nie hul sin kry nie. Watter entrepreneur of belegger wil nog besigheid doen on so n omgewing?

CarenC ·

@marco polo – as oud student en werknemer van Prof LJ kan ek vir jou met sekerheid sê dat hy ook ‘n gerespekteerde besigheidsman met baie “wêreldse” kennis en ondervinding is. Jy sal verstom staan as jy sy CV sou deurgaan – “I dare you” ;-).
Groete

marco polo ·

Dankie Caren, ek is bly as prof LJ ook praktiese kennis het, dit maak altyd n akademikus meer relevant. Ek het eintlik verwys na sy opmerkings oor navorsers, wat soms nie die kloutjie by die oortjie kry nie en met sterre in hul oe die wereld wil verander.

Marius ·

Die prof kan seker nie help om baie politiek korrek te wees nie. Die anc regering is die meulsteen wat dit moeilik maak vir entrepeneurs.

Ekke ·

Marco polo, jy is 100% reg.
Ek besit self ‘n “Project Consulting”maatskappy en BEE maak als dood.
Wonder wat CFAM se BEE rating is?

John ·

… eerstens is dit nie meer veilig om snags in jou motorhuis te sit en droom en vergesigte te probeer realiseer nie. Die loop van die geweer is jou voorland vandaar dat Boetie nie eers meer sy dromme daar mag speel nie. Intellektuele eindom is ‘n woord uit die verre Eerste Wèreld; waag dit net hier. Plagiaat is die in-ding. Alles is waar maar die prof verstaan nie dat diegene wat die idees het, as die vyand van Afrika gereken word nie, tensy dit rondom die pappot en sy inhoud draai… soos die suksesverhaal aandui.

Jan ·

Slegs 1 uit elke 1000 projekte wat in ‘n garage begin word sal waarskynlik suksesvol wees. Maar dit is daardie klein persentasie wat ‘n groot verskil kan maak in ons samelewing. Ongelukkig is goeie vakmanne of innoveerders nie altyd outomaties goeie besigheidsmense.

JAN ·

Ons grootste talente kom by self beveiliging. Van elektronika tot drones tot gps tot liggies tot kameras tot hakiesdraad mure honde ens. Briljante Innovasies
Dis waar ons ekonomie ontplof.
Ek is ook een van hulle.
Vir die manne wat snags oor my hakiesdraadheining kom het ek ‘n kabel gespan so heuphoogte in donker area .
Die laaste ou het hom absoluut des moers geval …… getuig die gerekte kabel….
en ek was bewus an hom…. want Roboguard is die beste .

JAN ·

Verskoon moederatorretjie – ek moet die een vertel.
In Bfn was daar destyds groot plaag van grypdiewe by robotte.
Toe maak ‘n ou ‘n kabel aan groot marlyn hoek vas en sit dit in ‘n banksak op die kar se dash. Ander punt aan die stoel.
Vertel later van die voltreffer;
Toe Ta gryp met die groen lig en hol met die sak onder die blad toe trek die oom weg en sleep hom meters vêr totdat iets breek.
Sedertdien het die plaag gestop.
Ons sal ook nooit hoor van granaat aanvalle nie want die manne het die granate se slagpenne tot zero sekondes gestel !! Daar was glo 600 voltreffers – toe raak dit vir ewig stil.

Arak ·

Ek is bly oor die sukses van ander, maar ek het ook probeer befondsing kry vir my projek/produk en is van bakboord na stuurboord gestuur met net twee vrae waarin almal belang stel, hoeveel swartes stel jy aan en wat is hulle aandeelhouding. Dit sluit die SNO, IDC, en elke ander fonds in. Elon Musk is befonds deur die belastingbetaler van die V.S.A., maar in ons land, al betaal jy ook belasting, is jy op jou eie, so geagte prof, ek dink ook jy rook bietjie jou sokkies. Ons sit met die idees en die kundigheid, maar jy kan vergeet van net die basiese befondsing of dalk net belasting korting te kry, die parasitiese regering sal jou dood suig. Die ergste is, kyk jy na die finansiële state van die SNO, dan gaan hulle fondse vir die werknemers se oorsese besoeke en konferensies wat hulle bywoon, maar jy wat iets wil ontwikkel en opbou kan nie ‘n sent kry nie. Dan praat ons nie eers van toegang tot vaktydskrifte nie… Jammer oor my negatiewe trant, maar my ervaring was ongelukkig besonders negatief.

JAN ·

Sopas nuus van 2 geweerhandelaars en koerier wat beroof is.
Tydens krag en telekom onderbreking ? Toevallig?
Dis nou intrepeneurs ..hmmm?

Pietman ·

Ongeag die aard of oorsprong van ‘n besigheidsidee is een van die kern elemente van ‘n goeie besigheidsplan steeds ‘n omvattende risiko ontleding. Dit oorweeg veel meer as bloot die “innoverende Idees” as grondslag vir ‘n besigheid. Die sosiaal-maatskaplke en ekonomiese omgewing is bepalende determinante om ‘n projeksie te doen oor die potensiële sukses van die idee, gebaseer op werklike en bekende omstandighede. Ongelukkig is besigheids sentiment oorwegend negatief – so, vat jou goeie idee/plan/produk en gaan woeker oorsee daarmee.

Henk ·

n Paar faktore kan die tekort verduidelik. Eerstens word jy gedwing om bbbeee te wees. Jy word verhoed om jou eie besigheid te begin en te bedryf sonder om n groot deel daarvan weg te gee. En dan dek jy die uitgawes uit jou helfte. Dan is daar die geldmag daai manne wat seker maak jou produk word heel agter op die heelonderste rak uitgestal. Daai manne wat seker maak jy betaal om jou produk op n winkelrak te kry.

Gert ·

Ek probeer maar weer, my vorige poging was geweeg en te lig bevind….
1. Rassistiese universiteitstoelating en beurse
2. BEE
3.AA
4. ESKOM
5. Arbeidsprobleme.
6. Korrupsie met toekenning van tenders.
7. Baie erge reels en regulasies.
8. Onbeskikbaarheid van tegnologiese komponente.

Kobus Moller ·

Aan elke voornemende entrepreneur,moet dit nie doen nie,.Al dink jy dit is n top idee of produk vergeet daarvan. Alles is teen jou. Die arme plaasboere en entrepeneurs is vyande van hierdie regering. Dit is eenvoudig onmoontlik om aan al die regulasies en wetgewing te voldoen en staande te bly. Elke vorm wat jy voltooi verwelkom jou met iets soos die volgende “Versuim om aan hierdie regulasies te voldoen is stafbaar met R10000 boete of 6 maande gevangenisstraf of albei”Die nywerheidsrade is n wet op hul eie. Hulle bedryf glo n oop stelsel van boekhouding .Met ander woorde hulle kan enige oorbetalings van die werkgewer aanwend soos hulle wil.So kry ek toe in November 2018 n aanmaning dt daar n tekort in verlofgeld van die werkers is .Ons lewer al die bewyse van betaling wat toe kwansuis vir historiese skuld aangewend is.
EK vra bewyse wat hulle glo nie verplig is om te verskaf nie.Die werkers word toe deur hulle geadviseur om die EFF in te roep .Twee dae later ry hier 4 bakkies met ongeveer 40 rooibaadjies in.Ek word gevloek en rondgestamp, Skielik wil almal toe skeidingspakkette he.Ons word gedreig met aanranding en brandstigting indien ons nie binne 2 dae aan hulle eise gehoor gee nie.Die polisie reageer tot vandag toe .
Wil jy nog n entrepeneur wees?
Ek is totaal geruineer.
My dank aan FW de Klerk en Roelfie

Gert ·

Dankie Kobus. Ek het soortgelyke kommentaar probeer lewer, maar dis toe verwyder. Ek het my besigheid begin voor 1994, was vir jare baie suksesvol, totdat al bg. faktore al erger en erger geword het. Nou sukkel ons net om die deure oop te hou. My enigste werk is vir ander klein eenmansake en oorsese kliënte. My vorige groot kliënte is almal weg na swart firmas, en hulle voer al hulle produkte in en verkoop dit teen massiewe pryse.

Johan ·

“Verder is dit geen geheim dat SA van die beste universiteite en navorsers ter wereld het”. Laat my asb nie lag nie. Daar was die onlangse paar jare al ‘n paar vergelykende ondersoeke van buitelandse instansies en daar volgens het SA universiteite maar baie swak gevaar. As er reg onthou het die laaste ondersoek gewys dat slegs een universiteit ‘n plek op die top 200 universiteite kon bekeom (UCT). Voorts is ons maar ‘n lui volk wat gewoond is daaraan dat ander ons werkies vir ons doen. Ook is die Afrikaner ook nie juis bekend daarvoor dat hy oor ‘n aktiewe handels gees beskik (‘n paar uitsonderinge soos die Ruperts daar gelaat) anders as byvoorbeeld de Nederlanders. Voorts stem ek saam met wat die ander skrywers hierbo meld – naamlik dat dit vir ‘n blanke steeds moeiliker gemaak word om te onderneem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.