Waar kom bekoring met Rusland vandaan?

Die stad Bucha is verwoes. (Foto: Aris Messinis/AFP)

Die oorlog in die Oekraïne, of eerder Rusland se inval, het onder ʼn aansienlike deel van mense die eintlik onverstaanbare simpatie met en begrip vir Rusland na vore gebring, te oordeel aan talle kommentare op sosiale media en in persoonlike gesprekke.

Dat vele Afrikaners nie altyd die hoofstroomopinie volg nie en mediaberigte skepties bejeën, en daarom nie so maklik val vir massahisterie nie, is op sigself ʼn goeie eienskap. In die geval van die brutale en nie regverdigbare aanval op ʼn kleiner buurland wat geen bedreiging inhou nie, is dit egter vreemd om enige simpatie met die aanvaller te hê. Hoe verklaar ʼn mens dit?

Gewoonlik word die volgende argumente vir steun vir Rusland, of ten minste ʼn houding dat beide kante ewe veel skuld het, aangevoer: Die inval van Oekraïne was die reaksie op die inmenging van die Weste in Rusland se invloedsfeer; Oekraïne is korrup, word deur Nazi’s beheer en onderdruk die Russiese minderheid in die ooste van die land; Oekraïne is ʼn kunsmatige land sonder identiteit en historiese wortels en het daarom geen bestaansrede nie, terwyl Rusland ʼn oeroue beskawing is. Laat ons dit ontleed.

Weste het in Rusland se agterplaas ingemeng

As ʼn mens die wêreld sien in terme van die vroeë 20ste eeu, naamlik dat sekere groot moondhede alles in invloedsfere opgedeel het en nie deur ander moondhede gesteur wil word nie, is dit natuurlik korrek om te vra wat die VSA met sy reuse-beleggings en ook kulturele en politieke beïnvloeding in Oekraïne soek, ʼn land wat histories, taalgewys en kultureel niks met die VSA in gemeen het nie, maar wel baie nou verwant aan Rusland is.

Natuurlik hou die VSA ook nie van lande in Latyns-Amerika, soos Kuba, Nicaragua of Venezuela, se sterk bande met Rusland en China nie. Daarby moet egter nie vergeet word hoe fundamenteel anders Oekraïne en Rusland se paaie geloop het sedert die opbreek van die Sowjet-Unie in 1992 nie. Oekraïne het in sy geskiedenis die gruweldade van die kommuniste ervaar soos die uitdryf en uitmoor van die onafhanklike boere (Koelakke) en wou as nuwe, onafhanklike staat sy heil eerder by die Weste soek as om in Rusland se invloedsfere te bly.

Die Russiese president Wladimir Poetin (Foto: Mikhail Klimentyev / SPUTNIK / AFP)

Verkiesings was soms chaoties, maar daar was gereeld veranderinge van leiers en geen president kon dit regkry om soos Wladimir Poetin van Rusland of Lukasjenko van Wit-Rusland deur allerhande truuks vir ewig aan bewind te bly nie. Omdat Oekraïne feitlik middeldeur verdeel is tussen ʼn deel wat Oekraïnies praat en Wes kyk, en ʼn deel wat Russiessprekend is en Oos kyk, was daar gereeld regeringsveranderings tussen pro-Russiese en pro-Westerse regerings.

Dit is waar dat verskeie grondvlak-revolusies teen pro-Russiese presidente deur die VSA en wêreldwye organisasies soos die Soros-stigtings ondersteun is; dit is egter ook waar dat Rusland direk pro-Russiese leiers steun en op allerhande maniere ten gunste van hulle inmeng, insluitende politieke sluipmoorde.

Daarmee word ʼn soewereine land se reg tot selfbeskikking geminag. As ʼn land onafhanklik is, dan kan dit nie ʼn kolonie van ʼn magtige buurland wees nie en dan het die buurland geen reg op sy invloedsfere nie. Rusland kon in elk geval sy bande met Oekraïne deur goeie ekonomiese en diplomatieke verhoudinge versterk het en sodoende die land naby hom gehou het. Met die boelie-optrede oor die jare, het Rusland juis Oekraïne asook talle ander buurlande weggestoot. Die Sowjet-Unie is wel dood, maar sy optrede leef voort.

Deel 2 volg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

VaalDonkie ·

Sal jy dieselfde opinie he as die ANC heeltyd mense in Orania aanval?

Kobus ·

As die ANC met hul gevorderde wapentuig Oranje aanval, is ek seker jy Sal jou kan beroep op Putin om te help, jy is mos immers een wat deur hom bekoor is…

Luister ·

Jy kan dit nie vergelyk nie. Orania is nie ‘n onafhanklike erkende land nie. Dit sal egter nog steeds verkeerd wees van ANC (Rusland) om Orania (Oekraïne) wat geen bedreiging inhou, in te val.

JohnnyS ·

Jong ek dink partykeer jou nom de plume moes eerder SteeksDonkie gewees het

RomeoTangoGolf ·

Die inval is direk ‘n gevolg van Westerse inmenging. Rusland was nooit ‘n bedreiging geag nie tot die Crimea beset was as waarskuwing aan die weste. Die Westerse demokrasie wat huidig verkoop word is nie meer die van die 80’s nie, en is van outokrasie inmekaar gesit.

Kobus ·

So die inval deur Rusland, is als net as n waarskuwing aan die weste, ek dog dit is om te denazify. Snaaks hoe die “regverdiging” verander, klink amper soos Putin, elke keer n nuwe verskoning, vir iets wat onverdedigbaar is.

RomeoTangoGolf ·

Die Crimea is beset as waarskuwing na die Madeina voorval, wat eintlik neerkom op ‘n VSA georgestreerde staatsgreep.

casper ·

So dis ook reg as Rusland sommer more Poland en Finland inval ne !!!!!!!!!!!!!!

JohnnyS ·

Rusland was nog altyd die aggressor gewees. Dit was juis as gevolg hiervan dat NATO net na die tweede wêreld oorlog gestig was. Nie een van die Europese lande kon alleen teen Rusland staande bly en daarom is daar op wedersydse beskerming besluit.

Marthinus W ·

Zelenski het die afgelope week n wet onderteken waar geen politieke party wat van hom verskil, toegelaat mag word nie. Ons sal dit nie in die hoofstroommedia lees nie. En niemand sal kla dis ondemokraties nie. In 2014 is juis n demokraties verkose president, Wiktor Janoekowitsj, in n coup d’etat verwyder. En Amerika se president, Obama, het in n onderhoud met Fareed Zakaria op CNN gespog hy het dit ge”facilitate”.

Oekraine is nie n klein land nie, dis die grootste land in Europa – indien Rusland uitgesny word.

Kobus ·

So wat jy beweer is dat Putin en Rusland die teenoorgestelde van Oekraïne is, demokraties, volle persvryheid, alle politieke party’s en kritici toelaat, niemand vergiftig, in tronk stop, protesteerders arresteer nie, geen ander land inval en destabiliseer nie, ens.Ek is sommer ook nou bekoor…

JohnnyS ·

Putin is ‘n gawe outjie, almal verstaan hom net verkeerd.

Marthinus W ·

Kobus, jou redenasie is nie logies nie. Ek se Oekraine is nie demokraties nie. Rusland is n ontwikkelende demokrasie. Opposisiepartye word toegelaat in Rusland, die huidige opposisieleier is gennadi Zsjoeganof van die Kommunistiese Party. [Die Weste verkoop die fopstorie dat Nawalni die opposisieleier is.] Die Skripals is heelwaarskynlik deur MI5/6 vergiftig. Aleksander Litvinenko is in sy pa, Walter, n mediese dokter, se arms dood. Hy was besig om die oligarge se spoor te volg vir Poetin – dit gelei van Rusland na Israel na Londen. walter se sy seun is vergiftig deur Mossad/MI6. Elke land arresteer protesteerders – kyk na Amerika, Nederland, Australie, ens. Wat van Julian Assange, Edward Snowdon, Chelsea Manning?

Kobus ·

Asseblief, amper laat jy my lag. Miskien moet ek jou voorstel aan my Oekraïnse vriende wat nog baie familie in Rusland het en die wat tans gevlug het en hul kan jou realiteit gee van wat werklikheid en logika is.

annie ·

Oekraïene het totaal verval sedert sy onafhanklikheid en die leiers het een na die ander net hulself gedien. In plaas van hul land uit te bou wou hulle eerder nog grond gryp en betrokke geraak by uitlanders soos Hunter Biden en Navo se planne. Wat soek die biolabs daar? Rusland het bewyse gelewer dat Oekraïne die Nederlandse vlug afgeskiet het, maar die Weste weier om dit te glo. Zelensky speel die Pous en almal betaal hom big time vir sy sluwe rol.

JohnnyS ·

Asseblief – kry die feite reg, die indringende ondersoek deur Nederland het duidelik gewys dat die vliegtuig afgeskiet is deur ‘n BUK missiel stelsel. Die stelsel is deur Rusland aan Russiese sepratiste verskaf is. Die ondersoek was so volledig dat hulle selfs 4 verdagtes ge-identifiseer het. Natuurlik sal Rusland alles ontken, leuens, ondermyning, propaganda is tog deel van hulle manier van dinge doen. Weet nie hoe oud was jy gedurende die laat 70’s en 80 jare, dan sou jy onthou dat Rusland al hierdie taktieke teen Suid-Afrika ingespan het.

Marthinus W ·

JohnnyS, gaan praat bietjie met prof Karl van Wolveren in Amsterdam oor MH17. Die lande het n geheime klosule onderteken dat, indien Oekraine skuldig is, dit nooit sal uitkom nie, en die skuld op ander gepak word; indien Rusland skuldig is, sal hulle dadelik aangekla word. Dis nou al agt (8) jaar, en Rusland is nog nie aangekla nie.

Human ·

Hy is so omstrede dat sy gewese Universiteit niks meer met hom te doen wil hê.

Kobus ·

Sebastiaan, dit is n vraag wat ek ook al baie gevra het of moes beantwoord het in die buiteland. My antwoord is dat ek die ANC se bekoring kan verstaan gegewe die geskiedenis met Rusland se hulp tydens die sg. arms struggle en Rusland se rol in Angola en en in suider Afrika. Baie camrades het hul militere opleiding in Rusland ondergaan. So soortgelyk aan Kuba, is dit te wagte dat die ANC hul aan Putin se kant skaar. Dit gaan nie ongesiens verby nie en SA Sal op n stadium dit ervaar en verantwoording moet doen. Jy kan dit nie moreel regverdig nie, al wil jy. Wat my eintlik kry, is die groot ondersteuning wat Putin skynbaar geniet onder baie van die lesers, lees maar net die kommentaar hierin.

Marthinus W ·

Kobus, jy kannie in die verlede leef nie; jy moet aanpas. Rusland in 2022 is n demokrasie, Christelike land, wat nie naastenby dieselfde as die Sowjetunie was. Ek word bekoor deur orde, dissipline, netheid, eerlikheid, hardwerkendheid, Christelikheid, beskaafdheid, stylvolle vroue, n staatsman as leier, wat deur hoeveel studies [van sy vyande ] nie korrup bevind kon word nie. Wat vir my vreemd is, is ons mense, soos Naspers, wat kriminele soos Bill Browder aanhang, al was hy Rusland se Gupta.

Kobus ·

Jou bekoring is eg. Ek neem aan jy wil soon toe immigreer, klink na n ware paradys.

JohnnyS ·

Of hulle vergeet baie vinnig wat Rusland se rol was in die val van Suid-Afrika of hulle is van die jonger geslag wat so ge-indoktrineer is op skool. Meeste van die “jonges” glo mos ook in St.Mandela en sy enegel vroutjie Winnie.

Cryptogruppe ·

Tegnies en feitlik is jou antwoord verkeerd. is die rusland vandag dieselfde as die USSR wat gegeld het tydens die grensoorlog?

Herman ·

Waar kom die “bekoring” vandaan? Eenvoudig, mense is sat vir dubbel standaarde van VSA en NAVO, asook oneerlike verslaggewing gemik om emosies aan te blaas vir wins bejag liewer as om in te lig.

Nettie ·

Maar dit impliseer dat wanneer daar 2 kante is, mens noodwendig die kant moet kies van die ander een? Hoekom is dit nodig om pro-Rusland te wees, net om anti-Nato te wees? Ek is anti-albei en almal wat evil doen en kindertjies seermaak in enige land of nasie.

WynandM ·

Stem saam maar Rusland doen dieselfde, ook leuens en propaganda. Ek kan nie verstaan as mense moeg is vir VSA, is dit dan nodig om Rusland aan te hang wat net so erg is

Johannes ·

Ek sal nie sê “bekoor” is die regte woord nie. In die Weste kry ons nuus uit net een standpunt (anti-Rusland) en enige iemand wat ń ander deuntjie sing word dadelik uit gemaak as agterlik en ver regs op enige platform wat bestaan.
Saam met dit is daar mense wat sommer net dwars is, en wie kan hulle blameer? Joernalis en aktivis het sinonieme geword. Hoeveel keer in die laaste 5 jaar is die media uit gevang waar hulle lieg vir mense nie. Op hierdie staduim het ek nie ń opinie nie, want ons word propoganda gevoer uit een rigting.

MT ·

Ek het in die verlede Sebastiaan se reisverhale, soos sy onlangse kuier in Hongarye, baie geniet, en is van mening dat hy hom dalk meer daarop moet toespits.

MT ·

Jy hoef nie saam met my te stem nie; dis die wonder van die lewe.

Manie ·

Het die VSA en Navo se bekruiping van Rusland se grense geensins enigiets met die oorlog te make nie? Nog meer so met Finland en Swede wat voorheen polities neutrale lande was, maar nou ook om Navo lidmaatskap aansoek gedoen het?

Luister ·

Sal jy nie ook versekering wil hê van ‘n ander sterk land (soos die VSA) dat hulle jou sal help indien ‘n ander sterk land (soos China) vir Suid-Afrika aanval nie?

Manie ·

Ek wil niks met die VSA te doen hê nie, hulle steek hul neuse orals in waar dit nie hoort nie. Hulle is net so, indien nie meer ingestel op wêreld oorheersing.

JohnnyS ·

Wonder hoe sou die wêreld daarna uitgesien het as Kommunisme toegelaat was om sonder teëstand te versprei ? Kyk hy is ons land opgefoeter in ‘n kort tydjie.

Luister ·

Ek het nie gevra of jy van VSA hou nie. Dit was ‘n voorbeeld. Vervang dan VSA met Rusland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.