Waar kom ons almal vandaan?

Al soek mens deesdae op talle antropologiese wêreldkaarte verniet na sommige bekende Suid-Afrikaanse stede, is daar altyd beeldryke Afrikaanse name, soos Haasgat, Kromdraai, Swartkrans en Sterkfontein. Hoekom is wetenskaplike oë op hierdie plekke vasgenael? Die rede is: Die voorouers van alle mense het miljoene jare gelede die son hier sien opkom – noord van Krugersdorp, in die wêrelderfenisterrein bekend as die Wieg van die Mens.

Een van meer as 100 miljard sterrestelsels

Om te kan verstaan waarheen die mensdom of die Afrikanervolk of hyself op pad is, moet iemand ‘n oomblik kop krap oor waar in die verlede sy voetspore lê. Kom ons probeer vandag enkele eenvoudige vrae beantwoord oor die herkoms van die lewe, van die mens en van die Afrikaner. Wie nie terugkyk nie, is blind vir die toekoms.

In watter sonnestelsel skiet die lewe wortel?

Wat die skerpste natuurwetenskaplikes verstom, selfs Albert Einstein, is hoe dit moontlik is dat al die materie en energie van die heelal vasgevang was in ‘n ruimte kleiner as ‘n ertjie! Dis uit hierdie ruimte dat die heelal ongeveer 13.7 miljard (13 700 000 000) jaar gelede, sy eerste treë met ‘n oerknal gee en al groter word, tot die huidige reeds meer as ‘n 100 miljard sterrestelsels (kyk die foto van ‘n sterrestelsel).

Elke sterrestelsel omsluit miljarde sterre; ons eie sterrestelsel die Melkweg bevat meer as 200 miljard sterre waarvan ons son maar een is, nadat ons sonnestelsel eers teen ongeveer 6 miljard jaar terug gevorm is.

Die aarde as ‘n kokende massa, 4.8 miljard jaar gelede

Ons eie planeet, die aarde, is teen 4.4 miljard jaar gelede steeds ‘n kokende massa (kyk die foto van die aardbol). Hierop begin ontwikkel alle lewende spesies egter meer as 3.8 miljard jaar gelede uit ‘n gemeenskaplike enkelsellige voorsaat. Nadat lewe aanvanklik bykans onopmerklik geleidelik vertak, ontplof die aantal lewensvorms skouspelagtig met die Kambriese Opwelling, 530 miljoen jaar gelede (kyk die skets met die lewensboom).

Die menslike ras is aanvanklik egter glad nie in sig nie. ‘n Ewolusie van millennia sou verloop voor ons voorouers verder ontwikkel as die ander primate – die groep aapagtige soogdiere soos gorillas, bonobo’s, orangoetangs en sjimpansees. Eers tussen 15 en 10 miljoen jaar gelede verskyn die eerste primate wat soos mense begin lyk, veral in Oos-Afrika, en tussen 6 en 5 miljoen jaar terug verskyn dié wat herkenbaar is as mense in wording, deur paleontoloë gedoop tot die Suideraap (Australopithecus). Die fossiele van hierdie vóórmense met hulle aapagtige gesigte, lang arms en klein breine, maar wat op twee bene en regop loop, is onder meer by Makapansgat en Sterkfontein gevind.

Die lewensboom, wat die vertakking van lewe op aarde uitbeeld

Regopmens (Homo erectus) met korter tande, met vingers en duime wat kan gryp, met oë wat driedimensioneel kan sien en dus afstand kan skat, met ‘n groter brein en wat vernuftige steenwerktuie maak, lyk minder as 2 miljoen jaar gelede in verskeie opsigte soos ons. In kosmiese tyd is dit maar ‘n klein rukkie gelede; dis soos vanoggend.

Tussen 2.5 miljoen en 70 000 jaar gelede woon verskeie spesies van ape en oermense in die Wieg van die Mens, waar wetenskaplikes reeds honderde van hulle beendere en klipwerktuie gevind het (kyk die foto van die Sterkfonteingrotingang). Hieronder val beendere van die wêreldberoemde Mevrou Ples, ‘n Suideraap van Afrika (Australopithecus africanus), in 1947 deur Robert Broom ontdek; en beendere van die Suideraap fontein (Australopithecus sediba), tussen 1.95 miljoen en 1.78 miljoen jaar oud, in 2010 deur Lee Berger bekendgestel.

Waarheen versprei die moderne mens?

Die ingang tot een van die wêreldberoemde grotte by Sterkfontein

Ondanks gereelde katastrofes, wat nie net die bekende dinosourusse nie maar reeds 70% van die lewe op aarde uitgewis het, oorleef die menslike ras, dikwels omdat van sy kwaaiste mededingers in die stof byt. In die ongenaakbare oorlewingstryd op aarde, ontwikkel in die Steentyd – ongeveer 1 miljoen tot 10 000 jaar gelede – die Mens-met-verstand (Homo sapiens). Vergeleke by sy voorouers, ontdek hy verstommende vaardighede. Hy jag en vang vis. Hy bou primitiewe hutte. Hy gebruik vuur. Hy maak handige werktuie. Al is sy hooftaak om kos te versamel, maak hy tyd om seldsame klippe en skulpe as juweliersware te bewaar asook om te skilder – teen wande van grotte soos in die huidige Spanje en Frankryk.

Met Afrika as sy bakermat, versprei die Mens-met-verstand in die Laat Steentyd oor die aarde. Klein stamme van hierdie voorouers van ons trek in verskeie golwe noordooswaarts uit Afrika uit na wat tans bekend staan as die Midde-Ooste – soos die huidige Egipte, Israel, Jordanië, Libanon, Sirië en Turkye. ‘n Hoofgolf spoel noordwaarts ongeveer 130 000 jaar gelede en ‘n volgende hoofgolf vanaf 80 000 tot 60 000 jaar gelede. Oor millennia vestig hulle hulle in elke uithoek van die aarde: 50 000 jaar terug bereik hulle Oos-Asië en Australië en teen 40 000 jaar gelede Europa en Siberië. Teen 20 000 jaar gelede trek hulle oor die toegevrieste Beringstraat na die Amerikas toe. Sommige migreer suidwaarts in Afrika tot in die Suid-Kaap by die huidige Klasiesrivier.

Verskeie antropoloë beraam dat, weens allerlei bedreigings soos klimaat, teen 70 000 jaar gelede, ons totale aantal voorouers minder as 20 000 was, moontlik selfs maar om en by 10 000 siele, waarvan die toekoms van die mens volledig afgehang het.

Toe die laaste groot ystyd teen 12 500 jaar gelede wegtrek, tel menslike ontwikkeling spoed op. In die sogenaamde Mesolitiese Tyd, tussen min of meer 10 000 tot 7 000 jaar vC, ontwikkel die Vrugbare Halfmaan, die streek tussen Noordwes-Irak en die Persiese Golf, tot wat bekend sou word as die bakermat van beskawing.

Voorouers van ons almal speel noodwendig ‘n rol in verskillende prosesse van ontwikkeling: Jagter-versamelaars ontdek landbou, begin woon op een plek, en vorm sodoende dorpies en later stede. Bevolkings was vinnig aan. Handel brei uit. Paaie word gebou. Die eerste bestuurstelsels en state word gevestig. Leërs word opgelei en maak oorloë. Godsdienste kom tot stand, dikwels rondom konings wat hulleself as die seuns van gode voorhou. Skole en mettertyd universiteite word gestig. Filosofie en wetenskap steek kop uit.

Die verhuising na verskillende geografiese streke toe, en die ervarings daar, beïnvloed die fisieke voorkoms van stamme en volke op verskeie wyses, sodat verskille ontstaan tussen byvoorbeeld die skrefies-oë van die Japanese en die groter oë van die westerlinge. Geografie het ook op velkleur ‘n uitwerking. Hoekom? Die liggaam benodig sonlig vir die vervaardiging van vitamien D en die opname van kalsium. Omdat die son se ultravioletstrale veel swakker is in die Noordelike Halfrond as by die ewenaar en nie deur ‘n donker gepigmenteerde vel kan dring nie, word die velle daar, soos die hare en oë, oor millennia al hoe ligter. Terwyl die Sentraal-Afrikane by die ewenaar dus donkerder word, word ons Noord-Europese voorouers ligter.

Hoe beland Europeërs in Suider-Afrika?

Van die Vrugbare Halfmaan af versprei landbou en handel, bestuur en krygskunde in alle windrigtings rondom die Middellandse See. Lewenskragtige gemeenskappe met verskillende tale differensieer in Wes-Eurasië en gee beurtelings die pas aan, dikwels met aanloklike verbruikersprodukte of met nuwe vaardighede, maar net so dikwels met gevreeste militêre oorwinnings.

Onder die toonaangewendes oor talle eeue tel Egiptenare, Assiriërs, Perse, Grieke, Romeine, Bisantyne, Arabiere, Turke, Britte, Spanjaarde, Portugese, Hollanders, Franse, Duitsers en Russe.

In die Amerikas speel gemeenskappe soos die Asteke en die Inkas kernrolle. In die Oos-Eurasië organiseer die Sjinese ‘n verskeidenheid dinastieë en ryke, soos die Han, Jin, Liang, Tang, Song, Mieng en Qieng. Die berede Mongole laat hulle onder Djengis-Khan geld.

Na die Wes-Europese ekonomiese en intellektuele ontwaking sedert die vyftiende eeu, koloniseer toonaangewende samelewings soos die Portugese, Spanjaarde en Britte nie net die Amerikas nie maar ook reuse landstreke in Asië, soos Indië. Die Nederlanders en Franse plant hulle tentpenne in Afrika in en vestig hulle landgenote vanaf die Kaap tot in Gabon.

Soos klein skaakstukkies in ‘n ewige spel van historiese prosesse, beland ons voorouers uit lande soos Nederland, Frankryk en Duitsland, ná 1652 as koloniste aan die suidpunt van Afrika. Nadat hulle voorouers tientalle duisende jare vantevore uit hierdie vasteland noordooswaarts verhuis het, keer ligkleurige, vryheidsliewende en kreatiewe Europeërs nou terug. Saam met die taal Afrikaans ontwikkel die Afrikaner as ‘n eiesoortige volk.

Slotsom

In die ontsaglike kosmos met meer as ‘n 100 miljard sterrestelsels, waarvan ons Melkweg een is, ontwikkel alle lewe op ons planeet aarde – vanaf doringbome tot duisendpote, muise tot mense – sedert meer as 3.8 miljard jaar gelede uit ‘n gemeenskaplike enkele sel. Deur ‘n lang reeks liggaamlike aanpassings split die Mens-met-verstand (Homo sapiens) af uit gesamentlike voorouers van ander primate soos sjimpansees.

Fossiele van oermense en nagelate bouwerke en werktuie, wat wêreldwyd opgegrawe en dateer word, skets ‘n fassinerende verhaal van hoe die mens uit Afrika na alle vastelande versprei; van hoe sommige die mees vernietigende bedreigings en ystye oorleef; van hoe gemeenskappe, landbou en tegnologie in gebiede soos die Vrugbare Halfmaan ontwikkel en uitbrei; en van hoe voorkoms en velkleur by omgewings aanpas.

As ‘n faset van kolonisering, vestig burgers van ontwikkelde Wes-Europese samelewings soos Nederland en Frankryk, Brittanje en Duitsland, hulle vanaf die sewentiende eeu in Afrika. Uit die saamvloei van strome emigrante en hulle nageslag word die Afrikanervolk gebore.

Dit verdiep ons insig en vergroot ons vaardigheid om die nimmereindigende uitdagings van lewe te bowe te kom, as ons beskeie is oor die posisie van ons nietige sonnestelsel binne die heelal en van die mensdom op hierdie planeet. Van die meer as 13 miljard jaar van ons kosmos vorm die 13 000 jaar van ons bewuste menslike geskiedenis skaars een miljoenste! Dit herinner my aan die pad tussen Johannesburg en Pretoria.

Van my blyplek af in Atholl naby die Wanderers tot by Solidariteit se hoofkantoor in Kloofsig lê daar min of meer 50 kilometer. Eers toe ek die afstand op ‘n keer met die City to City-wedloop aangedurf het, het ek agtergekom hoe uitmergelend dit vir oermense moes wees om 50 kilometer te voet af te lê. As hierdie afstand van 5 miljoen sentimeter die geskiedenis van die heelal voorstel, vorm die storie van die mensdom net een miljoenste daarvan, dit is die laaste 5 sentimeter, so breed soos die lint by die eindpunt. In die wedloop tel daardie stukkie nie eers nie, dis so min. En dít is die breedte van die mensdom se bewuste geskiedenis. As die mens verdwyn, soos soveel lewensvorms in die verlede, sal die son steeds elke dag opkom en ondergaan, en sal die boeiende wedloop van die lewe op aarde, onverpoosd voortduur.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Louis du Plessis

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

genoeg ·

Merkwaardig dat n proffie in Krygkunde hom uitgee as kenner op die gebied van die Antropologie / Evolusie – ek sal die prof. eerder aanraai om te kyk wat se n voormalige prof. in die evolusieteorie en genetika oor die oorsprong van die mens. Elke leser sal dan die 2 opinies teenoor mekaar kan evalueer en besluit WIE is die kundige op hierdie gebied. Gaan gerus na http://www.amazingdiscoveries.com

genoeg ·

sien nou mens kom by snaakse website uit indien mens amazingdicoveries.com google – in die lig van Louis du Plessis se artikel – google eerder Prof Veitz

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.