Waar kom ons vandaan en waar gaan ons heen?

Bennie van Zyl. Foto: Reint Dykema

Die afgelope paar weke het omstandighede my uitgebring by die dorp Steynsburg waar die geskiedenis van hierdie eens pragtige gemeenskap ervaar was. ‘n Plattelandse dorp wat soos so baie ander ‘n reusebydrae gemaak het in die ontwikkeling van Suid-Afrika se platteland. Dit was die plek waar die gemeenskap se kultuur, sport, kerk, skool en ekonomie bymekaargekom het. Die dorp was inderdaad die anker van ontwikkeling. Interessant om te sien wat die rede was vir verskillende dorpe om gestig te word.

Vir sommiges was dit die bymekaarbring van die ekonomiese aktiwiteite en het alles daar rondom gedraai. Vir ander, soos Steynsburg, was die kerk die rede vir stigting. Dalk die rede hoekom daar so baie opgeteken is wat na die dieper dinge van ontwikkeling gekyk het, soos die daarstel van puik skole en ook ‘n CNO-skool wat ná die Tweede Vryheidsoorlog sy ontstaan gehad het.

‘n Entjie buite die dorp is die geboorteplaas van president Paul Kruger, Bulhoek, waar die komitee ‘n opdraande stryd voer om die unieke kultuurskat in stand te kan hou. Die erfenis van die verlede van die Afrikanervolk lê versprei oor ‘n verskeidenheid terreine. Inderdaad kan daar met trots teruggekyk word oor dit wat die Afrikaner sedert volksplanting tot stand gebring het. Maar ‘n doelbewuste poging word tans van stapel gestuur om die Afrikaner skaam te maak vir wie hy is en wat hy vermag het.

Dis hartseer is dat sommige sogenaamde Afrikaners lustig daaraan meedoen.

Deur die jare was daar ‘n “driehoek” tussen gesin, skool en kerk en met gemeenskaplike sement, naamlik die begrip Christelik-Nasionaal, aanmekaargehou. Dit het die diep ankers gevorm wat die waardes en norme van die samelewing vasgelê het. Hier rondom het die Afrikaner se kulturele ontwikkeling plaasgevind en elkeen was ‘n kultuurdraer in eie reg. ‘n Benadering om toekomsgerig te bou en te skep. Inderdaad volgens die kultuuropdrag soos vervat in Gen. 1:28 en 2:15.

Indien daar nou deur Steynsburg – en feitlik elke ander plattelandse dorp gery word – is die ervaring amper regdeur dieselfde. Die ineenstorting van dit wat mooi en kosbaar was, word intens beleef en is dit vervang met ‘n nuwe kultuur van verwaarlosing en verval en selfs vernietiging. Ook op die geestelike terrein wat die grondslag gevorm het in die verlede, is daar ‘n verflouing en selfs ‘n wegkwyning wat veroorsaak dat die geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in sy Woord, die Bybel, nie meer die grondslag vorm vir keusemaking in die lewe nie. Het dit nie dalk so geraak dat die mens homself nou in die middelpunt plaas in stede dat Christus in die middel is en dat alle besluite só geneem sal word dat dit tot eer van God sal wees nie?

Tans word ons polities onderdruk waar die regte van minderhede vertrap en gepoog word om die samelewing se waardes op alle terreine te vervang met waardes wat nie noodwendig Skrifgebonde is nie, maar eerder volgens die Vryheidsmanifes ingekleur moet word.

Stelselmatig word op elke terrein geleidelik veranderinge aangebring om dit wat was, te vernietig. Die ANC poog hard om alles gelyk te maak in ’n idioom wat hulle pas. Die beïnvloeding en opleiding van die jeug om vir hul ’n toekomsvisie van hoop te gee, maar hulle ook sodanig toe te rus dat hulle wel die verantwoordelikheid van die lewe sal wil en kan aanvaar, het dalk iewers langs die pad verlore geraak.

Jeugdag is verlede maand gevier, maar was die ontstaan daarvan dalk juis uit die tyd toe veral die swart jeug se toekoms van hulle gesteel is en hul kanonvoer geword het om ’n sterwende ideologie te moet probeer maak werk. Die bekende slagspreek van “Liberation before education” weerklank nog in ons ore. Die vraag wat ons elk moet vra is: Wat doen ons daaraan?

Gaan ons as Christen-Afrikaners ons laat meesleur met die versmorende toekoms wat geskep word deur politici wat duidelik meer begaan is oor die voortbestaan van hul party as wat dit is om Suid-Afrika te maak werk? Ons geslag Afrikaners het ‘n lewende erfenis ontvang van ons voorvaders waarop ons trots kan wees. Hul bydraes in Suid-Afrika was in belang van almal en kan daar op feitlik elke terrein die monumente gesien word wat vir ons as voorbeeld gelaat is.

Die vraag wat ons elk moet beantwoord – teenoor onsself, maar ook teenoor die nageslag – is: Watter monumente gaan ons agterlaat? Hoe lyk die erfenis wat ons vandag skep? Sal ons nageslag ook met trots en dankbaarheid kan terugkyk of sal hulle dalk nie eers die geleentheid hê om dit te kan doen nie weens die versuim van ons geslag? Deur toe te laat dat die rewolusie wat die ANC steeds veg, ons oorheers en ons denke absorbeer. En dit gaan ’n stel waardes laat beslag kry waarmee daar beswaarlik enige toekomshoop vir die jeug geskep kan word. Die skeppende vermoë van ons mense behoort nou ingespan te word om, ongeag dit wat die ANC op die land en sy mense wil afdwing, ons vir ons eie strukture te vestig en te presteer soos ons geskiedenis vir ons wys ons kan!

Regdeur die Woord beleef mens hoe God mense gebruik het om Sy koninkryk te bou en te veg vir geregtigheid. Ons kan hier dink aan ‘n Daniël, Josef, Gideon en vele ander. Dawid wat na die laer toe gaan en ‘n volk in vrees en bewing aantref oor ‘n reus genaamd Goliat en nie kan verstaan dat hul nie teen hom gaan veg nie. Dawid is bereid om te gaan veg, maar koning Saul wil hê hy moet sy eie harnas aantrek, maar dié is te swaar vir Dawid. Dawid gaan eerder die geveg in met die harnas wat hy volledig vertrou naamlik dié van geloof. Dawid het nie net gaan bid nie, maar het ook handelend opgetree. Hy het steeds sy vyf klippies gaan optel by die spruit en daarna Goliat gaan verslaan met die wapenrusting van God.

Het dit nie nou tyd geraak dat ons elkeen ook die regte wapenrusting aangord en dan ons vyf klippies gaan optel nie? Gaan ons die kultuurgoedere van ons volk in al sy dimensies maar laat verlore raak of gaan ons dit terugneem en dit positief verder ontwikkel? Elke Christen-Afrikaner is ‘n antwoord aan hom- of haarself en die nageslag verskuldig. ’n Deel van die antwoord lê dalk in ID du Plessis se gedig, Soet is die Stryd

Jy sê die stryd is verlore,

Ons nasie te arm en klein,

Ons taal uit ‘n drang gebore

Wat een van die dae verdwyn?

My broer, dit mag heeltemal waar wees.

Wie weet wat die toekoms gaan baar?

Miskien moet ons oormôre klaar wees.

Om weer hierdie droom te laat vaar;

Maar as ons net altyd moet strewe

Na wat tot oorwinning gaan lei,

Wat baat dan die stryd van die lewe

Waarin ons onseker moet bly?

Solank jou bedoelings maar goed is,

Gaan jy jou oor neerlae kwel?

Solank jy volhard en vol moed is –

Dis tog die probeerslag wat tel!

Nee, soet is die stryd vir die stryer,

Al moet hy uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

Is die man wat sy nasie vermoor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

White Rhino ·

Baie mooi gedig!
Ja ek ht die verval self gesien met ‘n onlangse trippie en dit was om van naar te word.
Dit is duidelik dat die massas net aan die NOU dink. Geen opbou, geen skoonmaak, net niks is in hulle visier.
Afbreek en verniel vier hoogty. Dit het hulle wel geleer – by vorige massa-leiers. Een se verjaarsdag was gister gevier.
Ek glo egter dat die wiel sal draai en dat dinge sal verander, wanneer die leiers weer die velskoen gaan dra.

Paul ·

Beide Ramaphosa en Zuma het gister by die vergaderings in KwaZulu-Natal gesê grondonteiening sonder vergoeding sal Mandela se visie van ‘n vry SA vorentoe neem. As dit nou nie woorde in sy mond lê en gebruik word om te misbruik nie, weet ek nie wat dit is nie.

Eish ·

Goeie artikel baie dankie.
Ek sien met verwagting uit na wanneer al ons kultuur, Burgerregte en landbou organisasies gaan verenig rondom n gemeenskaplike oorhoofse doel.

Arak ·

Die ding wat my ontstel is die aantal jong Afrikaner kinders wat skaam is oor wie en wat hulle is. Hulle loop met skuld gevoelens rond wat geskep en op hulle gegooi is en hulle is skaam vir hul eie identiteit. Vir 24 jaar word vir hulle ‘n valse evangelie verkondig van hoe sleg hulle is en ek sien dit ook in hulle, dat hulle amper geen selfbeeld meer oor het nie. Die leuen word wyd en syd verkondig; letterlik in ons skole en kerke en as jy dit afmaak vir die twak wat dit is, is jy kwansuis ‘n rassis. Dalk tyd dat ons die leuen begin afbreek en ons jong mense begin opbou en vertel van al die mooi uit ons verlede.

Nita ·

Dis was so n pragtige dorp, toe ek 46 jaar gelede daar skoolgehou het. Dis rerig hartseer om te lees van die verval daar.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Dankie Bennie vir die waarskuwing. Vele kere al gese ons volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. Tyd dat ons terug keer na dit wat vir ons Ewigheids waarde het. Klein in getal maar in geloof kan en sal ons moet opstaan en bou vir ‘n nageslag wat kom.

1+1 ·

Nou dat ons in die moeilikheid is, wil ons na ons Skepper vlug. Ons moes lankal daarmee begin het. Dit is nou die tyd vir ‘n ware selfondersoek, nie in die openbaar nie, maar in ons binnekamers (dink na oor jou sonde en vervloeking) — (ondersoek jou hart waaruit geloof sy oorsprong het) en (ondersoek jou gewete waaruit ons lewe van dankbaarheid vir ons eie vergewing van sonde sy oorsprong het)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.