Waar kon SA al sónder die ANC wees?

vlag suid-afrika

Argieffoto.

Aan die einde van die jaar is dit gebruiklik vir meningsvormers en ontleders om terug te kyk en ʼn oordeel te vel voordat daar na ʼn vooruitskouing aanbeweeg word. Terwyl jy hierdie artikel lees is die ANC se nasionale leierskonferensie waarskynlik aan die gang of amper aan die gang en is die regerende party besig om ʼn nuwe leier aan te wys.

Die vraag op almal se lippe is wie die wenner gaan wees. Is dit pres. Jacob Zuma se eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, of adj.pres. Cyril Ramaphosa? Indien die beskikbare syfers oor takbenoemings betrag word, gaan dit Ramaphosa wees. Maar dan weer is daar altyd die Zuma-faktor om in gedagte te hou en om eerlik te wees, niemand weet vooraf wie gaan wen nie. ʼn Mens werk ten beste met waarskynlikhede en ons word weer aan nabetragting en nóg bespiegeling oor wat voorlê, uitgelewer sodra die konferensie verby is.

Maar watter soort jaar was 2017 regtig? Ek sal dit só opsom: Dit moes baie beter gegaan het en al was dit ʼn uiters uitdagende jaar, was dit nie ʼn ramp nie. Dit was beslis ʼn jaar van verspeelde kanse. Die ekonomie moes veel meer gegroei het as wat uiteindelik die geval was en Suid-Afrika kon baie meer skep uit die herstel van die wêreldekonomie en die aanvraag na ons kommoditeite, maar helaas het dit nie gebeur nie.

Die jongste nuus oor 78% van gr. 4-leerlinge in die land wat nie met begrip kan lees nie en in wese nie in staat is om effektief te kan leer nie, trek die reikwydte van hierdie rubriek vir my veel wyer. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het nie verwag dat dit só swak sou wees nie. Sy verkwalik die feit dat party skole oor biblioteke beskik en ander nie asook die gepaardgaande groot kloof tussen plattelandse en stedelike skole.

Dit is nie ongeldige feite en besware nie. Maar die gevolgtrekking kom in die vorm van ʼn vraag: Wat het die regering al hieraan gedoen oor die laaste 23 jaar? Hierdie probleme het nie in 2017 uit die lug geval nie. Hulle kom al lank. Sowat 80% van alle openbare skole in Suid-Afrika is wanfunksioneel en lewer skoolverlaters op wat nie eens die mees basiese vaardighede onder die knie het nie. Dit is al vir ʼn lang tyd so .

Toegegee, die ANC het groot agterstande in 1994 geërf, maar ook die sterkste staat en modernste ekonomie in Afrika. Suid-Afrika was ligjare voor ander Afrikastate wat toe al vir dekades onafhanklik en deur swart mense geregeer is. Dit het weliswaar aanvanklik goed gegaan onder die ANC-bewind: Die ekonomie het van negatiewe groei in die vroeë 90’s herstel om teen ʼn gemiddeld van 4% tussen 2000 en 2008 te groei. Inflasie het binne perke gebly vir baie jare in die post-2000 periode. Baie meer mense het elektrisiteit en kraanwater as 30 jaar gelede.

Dit is net sommige van die prestasies waarop die ANC kan roem en waarvoor hulle gereeld deur selfs sommige van hul kritici geprys word. Die eintlike vraag is egter hoe ver ons al sonder die ANC kon gewees het. Die laaste paar jaar het feitlik al die relatiewe vordering wat in die vroeë jare van hul bewind uitgerig is, ongedaan gemaak. Pres. Jacob Zuma gee gereeld hoog op oor hoe die ANC mense se lewens verbeter en veral oor hoeveel huise vir arm mense gebou is. In 1996 het sowat 64% van alle huishoudings in ʼn formele huis gewoon en 20 jaar later was hierdie syfer sowat 70%. Swart huishoudings se jaarlikse gemiddelde huishoudelike inkomste het van R30 216 in 1994 tot sowat R102 000 in 2014 – ʼn styging van 240%.

Dit is beslis nie onindrukwekkend nie, maar die feit is dit waarskynlik baie beter kon gewees het met ʼn ander regering wat beter beleid aanhang en implementeer en wat minder geld verkwis het. Dit kon baie beter gewees het met ʼn minder inmengerige, korrupte, rasbehepte en boonop kleiner staat wat nie bang is dat die private sektor kon help om die harde werk te doen nie. Die ANC sou dan boonop vandag baie meer gewild gewees het as wat onlangse stempatrone aandui. Baie van die ANC-in-regering se vordering is in relatiewe en absolute terme uiters beskeie en het boonop ander enorme koste en verspeelde kanse meegebring wat die goeie aspekte ongedaan maak.

Die ANC se prestasies is myns insiens die minimum wat van die party verwag is en is eintlik bra teleurstellend as die geleenthede om te presteer, in ag geneem word. Hulle het die beste staat en ekonomie in Afrika geërf en die wêreld se welwillendheid gehad en dit toe verkwis deur ideologiese dwarskoppigheid en benepenheid, onbevoegdheid, eiebelang, kortsigtigheid, grootskaalse korrupsie en sentralisering. Die eindresultaat is afgraderings, sosio-maatskaplike spanning, swak sake- en verbruikersvertroue, swak onderwys (ondanks hoë proporsionele besteding), trae ekonomiese groei, hoë en groeiende staatskuld en werkloosheid, vervalle munisipaliteite, groot verkwisting, en uiteindelik verydelde drome en verwagtinge.

Baie van die geërfde agterstande is intussen vererger of het verbete onveranderd gebly.

Moet ook nie verwag dat daar ʼn langtermyn-ommekeer sal kom sodra Ramaphosa straks die nuwe partyleier word nie. Die markte is tans opgewonde oor sy voorloper-status, maar niks suggereer dat hy sal doen wat nodig is om sake reg te ruk nie. Sy vae belofte om “beleggersvertroue te herstel” is presies dit: ʼn Vae belofte. Voorts is hy liries oor die soort beleid en sjibbolette wat ons in hierdie gemors laat beland het, soos die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) en radikale ekonomiese transformasie (RET). Nes dit net ʼn kwessie van tyd was voordat die ANC sy ware kleure sou wys nadat die wêreldgemeenskap Suid-Afrika weer as ʼn lid aanvaar het, sal Ramaphosa se hardnekkige ANC-DNS ook weer oorneem. Trouens, hy sê en doen min om dit selfs te verbloem. Sy oorname van die leierskap van die party sal dalk goed wees vir die ANC en nog tyd vir die party koop, maar dit sal verdere pyn, teleurstelling en verspeelde kanse vir die land in die toekoms beteken. Net soos in 2017 en oor die afgelope 23 jaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ray ·

En dit is regtig hartseer waar die opvoeding en skole stelsel is. Ek vra vandag vir ‘n werknemer (wat deur die skole stelsel is) waar sy iets gebere het per sms. Die antwoord kom per sms ” in the hooldrop”. Met ‘n groot vraagteken vra ek wat is ‘n “hooldrop”, en die antwoord kom terug “dikas” , did toe op hierdie stadium wat ek besef die eerste antwoord was ” wardrobe” . En ek het net by myself gedink, ai hoe moet kinders by Matriek uitkom as hulle nie behoorlik geleer is om te spel nie. Wat my die ergste geskok het was dat die persoon ‘n matriek kwalifikasie het, en ek wonder toe nou met sulke woorde/ spelling, hoe merk die onderwysers die vraestelle? Dit is skrikwekkend om te dink dat dit moontlik is waarop ons afstuur, en nee ek dink nie ‘n biblioteek sal dit kan oplos nie.

Eish ·

Ons is klaar in Jêmstraat.
Ek vertrou maar die heilsleër het n kamertjie vir my.
Steinhoff het sopas wit monopoliekapitaal gehalveer en menige se pensioen n hengse knou gegee. Dankbaar dat n paar rykes saam hande eelte gaan opdoen.
Die bokwa het nou soveel spoed opgebou en die afdraende is voor. As… is verbrande hout.

Frans C ·

Inderdaad ‘n goeie lykskouing,maar wat bring dit die man in die straat in die sak? Absoluut niks. Die probleem het begin toe ‘n paar onervare suigelinge, nog nat agter die ore politiekgewys, ‘n nuwe bedeling moes beding vir al die volke in Suid Afrika.

Hulle het eenvoudig nie hul huiswerk gedoen nie.Indien hul dit wel gedoen het sou hul besef het dat hul met die mees korrupte leiers van ‘n sg bevrydingsorganisasie saam om die tafel sit.Mense wat Jesus as ‘n sg moderne vryheidsvegter bestempel en hul heel graag
aan sy kant skaar wanneer dit hul pas.

Ons moet nie verbaas staan oor wat vandag plaasvind nie.Hierdie mense het hul opleiding in kommunistiese lande ondergaan.As Putin dan sukkel om sy ekonomie van die stelsel te verlos,maar nie kan nie omdat hy steeds in dit glo,dan kan ons mos nie beter verwag van die stelsel se leerlinge nie.

Die aanstelling van politieke hoofde in organisasie soos onthul in die Esidimeni arbitrasie
is mos ‘n duidelik bewys hiervan.Politieke hoofde is daar om toe te sien dat die onhaalbare
beleid van die ANC uitgevoer word deur amptenare, al kos dit 143 mense hul lewens.
Inderdaad ‘n kommunistiese stelsel in die kleine.

Dalene ·

En het in die ou-bedeling onderwys gegee in die laerklasse en toe heelwat later in 2014 vir ‘n kwartaal uitgehelp in gr4. Daar het ek bevind dat die kinders nie verstaan het wat hulle lees nie. Ek het toe dadelik vir hulle baie paragrawe laat lees (uit begriplees), wat ‘n ander onderwyser beskikbaar gestel het, met vrae wat hulle moes antwoord, uit elke stuk wat hulle lees ( tweekeer per week) Dit het tot ‘n groot begrip gelei en het hulle mettertyd verstaan wat hulle lees en kon hulle spelling ook verbeter . Die kinders het dit baie geniet
WAR IS VERKEERD MET MY KOMMENTAAR EN WAT IS JULLE SOGENAAMDE BEPALINGS EN VOORWAARDES?????dis net ‘n goeie wenk wat ek gee en dit was my ondervinding

jaco ·

Wanneer is die ANC se nasionale Demokratiese rewolusie dan nou eendag klaar? Rewolusies was baie vinniger in kommunistiese lande wat die ANC tydens hulle struggle jare gehelp het. En net terloops, onder ware kommunisme was baie van daardie lande SONDER goed soos:
-Beurtkrag
-Misdaad totaal buite beheer
-Swak staatshospitale
-Swak lae standaard onderwys
-Miljoene onwettige buitelandse immigrante
-Nkandla-tipe paleise vir presidente

John ·

Die ANC se hele was en is, is bloot ‘n reklame-foefie wat die ware oogmerk, naamlik verwoede rewolusionere oorname vir buitelanders en dom Afrikaners goed verbloem het onder die vaandel van menseregte… ‘n term/virus wat in SA ontstaan het. Om so ‘n vraag oor die verlede te rig is om te vra hoe ‘n verbrande gereg sou geproe het sou die ramp nie plaasgevind het nie… drome oor verspeelde kanse/keuses dus. Die’ groot ‘pes’ woed nou oraloor op aarde, naamlik ‘n ‘gee-dis-myne-want-ek-se-so’. Wat reg was, is nou oneties en die verkeerde speel baas. Wat is die kenmerke van slinkse barbarisme? Hoekom eien ons dit nie vir wat dit is nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.