Waar kronkel my moedertaal vandag?

In Appelpark by Krugersdorp sweet Willie Watermeyer elke dag om brood en botter op die tafel te sit, om aan sy gehuurde munisipale platdakhuisie vas te klou, om sy drie kleingoed by die laerskool te kry – sy vrou Annie het lankal saam met haar vierde kêrel gedros – en om, as wit man, sy werk as Putco-busdrywer te behou. In Willie se dag is daar nie tyd oor vir die lewe van sy volk nie.

Maar dis nie oral so nie. Inteendeel! In haas elke dorp in die land bevorder Afrikaners Afrikaans en Afrikanerskap. Dit geld selfs daar waar die ANC-regime ‘n rooi streep deur die historiese name van dorpe getrek het, soos in Pietersburg.

Ons doen vandag by ‘n paar dorpies aan om te kyk wat Afrikaanssprekendes kultureel aanvang, en stel daarna ‘n paar grondvrae oor die landwye Afrikaanstalige gemeenskap: Aan watter etniese groep behoort hierdie mense wat Afrikaans praat? Hoeveel van hulle woon in elke provinsie? Hoeveel van hulle is daar binne die Suid-Afrikaanse samelewing? En hoe vergelyk hulle getalle met dié van ander taalgroepe in die onderskeie provinsies? (Die skuilname in hierdie skets sluit aan by bevindings van ‘n uitmuntende landwye opname oor Afrikaanse projekte op munisipale vlak, in 2007 voltooi, onder leiding van Karel Prinsloo.)

Is Afrikaans regtig oral?

Terwyl ons ‘n wyle in Polokwane stilhou, kom ons agter hoe bedrywig Afrikaners hier is. So reël Ben Breytenbach byvoorbeeld ATKV-redenaarswedstryde, en doen sy kinders by die Oosskool kursusse in drama. Dené Dreyer tree gereeld op op die NP van Wyk Louw-aande en is saam met talle jong ma’s ‘n spraaksame lid van verskeie leeskringe. Hulle het onlangs die aktiewe ATKV-groep van Richardsbaai onthaal.

In die eertydse Potgietersrus is Ebert Esterhuyse die voorsitter van die Mokopane Sakekamer wat elke jaar ‘n top nyweraar, ‘n top entrepreneur en ‘n top sakebestuurder aanwys. Afrikaners hier reël selfs volkspele en ‘n CVO-kunswedstryd, ‘n Bosveldmusiekfees en ‘n Biltongfees. Ebert lees nie net Beeld nie, hy’s elke aand op facebook. Die stryd vir die behoud van plaaslike historiese Afrikaanse name duur voort.

En in Heilbron in die Vrystaat? Hier dien Koos Krynauw as leier in die Voortrekkers, rig Leandré Lategan Afrikaanse kore af, en dien al die Afrikaanse predikante op die bestuur van die CVO-skool Eendracht. Naas die bekende Afrikaanse bedrywighede versprei Afrikaanssprekers taalkassette van die biblioteek en rafel uit tydens die Gariepfees.

Marie ry elke Woensdag van Platkop af dorp toe om leiding te gee aan die vereniging wat skeppende kunste bedryf en slaap sommer oor, net om haar in die Afrikaanse boeke te verlustig wat die leeskring van die Heilbronbiblioteek ontrafel. Sy hou baie van kykNet, en leef haar in in die lewenskragtige Afrikaanse gemeenskappe wat landwyd bestaan en wat die die joernaalprogram Pasella op SABC2 Woensdagaand beeldsend. Maar sy gee glad nie om om tydens die seweuurnuus saans weg te kom van SABC2 se Afrikaanse ANC-regeringspropaganda nie.

Van Kamieskroon tot Nieuwoudtville klink Afrikaans helder. As jy Weskus toe verhuis en dalk by Saldanha Staal werk, lees jy binnekort die berigte in Die Weslander en gaan kyk hoe die jonges deelneem aan die eisteddfordvoordrag van die Laerskool Saldanha, die Laerskool St Andrews of die Laerskool Diazville. As Afrikaner sal jy gou kennis maak met prof Koos Kotzé van die Vriende van Afrikaans, ‘n landwye organisasie wat ook hier skouer aan die wiel sit om onder meer Afrikaanse moedertaalonderwys te verseker.

Tussen die Bolandse berge wemel Montagu, soos talle dorpe landwyd, van Afrikaanse aktiwiteite.

En sê nou jy woon tussen die berge in daardie Bolandse dorp Montagu, dan is jou dogter dalk in die Hoërskool Montagu, wat soos meeste Wes-Kaapse skole, nie ongeletterdes die wêreld instuur nie. Inteendeel! Soos talle dorpe landwyd, tot anderkant Oos-Londen, wemel ook Montagu van Afrikaanse aktiwiteite: projekte om Afrikaanse boeke te verkoop, die bespreking van Afrikaanse letterkunde deur die Montagu Leesunie wat gereeld byeenkom, die hou van ‘n jeugkunstefees met onder meer drama, koorsang en musiek wat grootliks Afrikaans is, en selfs die voorsiening van ‘n biblioteek vir plaaswerkers. Die plaaslike Vrouelandbouvereniging is aktief. Die Afrikaner se eeue-oue erfenis word bewaar in die Montagu Museum, en inwoners en besoekers word aan op die Montagutrekkerroete bekend gestel. Omdat die voertaal van meeste Wes-Kaapse stadsrade Afrikaans is, blink Afrikaans ook in die munisipale nuusbrief. Dalk vergader jy maandeliks saam met die Afrikanerbondafdeling om kop te krap oor die struikelblokke wat Afrikaners vandag konfronteer.

Op watter draai op die padkaart van Suid-Afrika mens jou vinger ook al druk – presies dáár sal jy jou moedertaal hoor glimlag. In elke uithoek krioel Afrikaanssprekers wat hulle met taalgenote en volksgenote vereenselwig, en wat indiwidueel sowel as organisatories die Afrikaanse gemeenskap weerspieël. Hulle is inderdaad oral!

‘n Vraag wat onmiddellik opduik, is presies hoe die totale aantal Afrikaanssprekers tussen etniese groepe en tussen die provinsies verdeel is.

Aan watter etniese groepe behoort Afrikaanssprekers?

Aan die begin van die een en twintigste eeu was Afrikaans die moedertaal van ongeveer 5 983 000 Suid-Afrikaners. Hierdie bykans ses miljoen Afrikaanssprekers, kan etnies soos volg ingedeel word (Prinsloo 2004: 4-5). Min of meer 3 174 000 bruin mense maak 53.05 persent van Afrikaanssprekers uit; 2 537 000 blankes vorm ongeveer 42.40 persent; 253 000 swartes maak 4.23 persent uit; en 19 000 Asiërs vorm .32 persent van Afrikaanssprekers. (Kyk die gepaardgaande diagram)

Die blanke deel wat oor die algemeen welvarender is, vorm 42 persent van die Afrikaanse gemeenskap, teenoor 53 persent wat uit bruin mense bestaan. Hierdie samestelling impliseer onder meer dat die Afrikaanse gemeenskap oor laer en hoër klasse versprei is wat mekaar wedersyds beïnvloed; dat verskeie Afrikaanssprekende leiers aan toonaangewende Afrikaanse instellings soos die Universiteit van Stellenbosch, die Afrikaanse Handelsinstituut en die Afrikaanse Taalraad uit die bruin gemeenskap kom; en dat bruin mense ‘n invloedryke rol speel in die vorming van die Afrikaanse spreektaal.

Hoeveel woon in watter provinsie?

‘n Volgende vraag is: Hoe is die Afrikaanse gemeenskap oor die verskillende provinsies versprei? Dus: Waar waak, woon en werk die ses miljoen Afrikaanssprekers? Meer as sestig persent is in die drie provinsies wat die voormalige Kaapland vorm – Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap – terwyl die res versprei is oor die ses provinsies waar die Voortrekkers hulle gevestig het, met meer as twintig persent gekonsentreer in Gauteng. (Prinsloo 2004: 4-5) (Kyk die gepaardgaande tabel en diagram)

Onder die implikasies van die provinsiale verspreiding is dat, binne die Afrikaanse gemeenskap, mens sou verwag dat die kragtigste ekonomiese, politieke en kulturele invloed uitgeoefen sal word deur Gauteng (21.1 persent) en die Wes-Kaap (41.8 persent). Dit is inderwaarheid die geval. Van voorstede af soos Hennopspark en Randburg, Bonteheuwel en Parow, waar hulle gekonsentreerd woon, oefen Afrikaanssprekers ‘n kragtige invloed uit deur firmas soos Media24, kykNET en Solidariteit.

Waar pas Afrikaanssprekers in Suid-Afrika in?

Tot dusver het ons slegs na die Afrikaanse gemeenskap gekyk. Die feit is egter, hierdie taalgemeenskap is maar een van elf hooftaalgroepe in Suid-Afrika. Om die posisie van Afrikaanssprekers in Suid-Afrika te identifiseer, is dit nodig om te let op die persentasie wat die verskillende tale binne die hele bevolking uitmaak. Van Suid-Afrikaners vorm Afrikaanssprekers, met meer as 13 persent, die derde getalsterkste taalgemeenskap. (Tot tyd en wyl die jongste sensus verwerk is, gebruik bronne die 2001-sensussyfers: GCIS 2010-1011:4; Prinsloo 2004:4) (Kyk die tabel en diagram)

Van inwoners in elke provinsie, dus dié bereken binne die hele geïntegreerde veeltalige provinsiale bevolking, vorm Afrikaanssprekers in twee van die nege provinsies die meerderheid, naamlik die Noord-Kaap en die Wes-Kaap. (Prinsloo 2004:5) (Kyk die tabel)

Op die Suid-Afrikaanse taalkaart (hieronder), wat aandui watter taal in elke distrik die meerderheid sprekers het, kan duidelik gesien word dat Afrikaanssprekers in die suidwestelike streek van Suid-Afrika getalsterker is as in die noordoostelike streek.

Onder die implikasies is dat die belange van die Afrikaanse taal in die besonder, maar ook van die Afrikaanse gemeenskap in die algemeen, in die suidweste makliker geartikuleer word as elders. In die suidweste heers dikwels ‘n groter gevoel van veiligheid oor Afrikaanse belange as in die noordooste, wat saamhang met ‘n eeu-oue Afrikaanse literêre tradisie.

Die dominante posisie van die Afrikaanse gemeenskap in die suidweste, hou ook verband met die partypolitiek in Suid-Afrika. In die landwye verkiesing vir plaaslike rade in 2011 het sowat 70 persent bruin Afrikaanssprekers nie vir die regerende ANC nie maar vir die DA gestem het – in die stede was dit meer as 80 persent – en het ongeveer 94 persent blanke Afrikaanssprekers ‘n soortgelyke keuse uitgeoefen. (Pretorius 2012:600) Dat die Afrikaanse gemeenskap slegs in die Wes-Kaap die meerderheid vorm, dra daartoe by dat dié provinsie die enigste een is waar die DA die provinsiale regering beheer asook ‘n netwerk stadsrade.

Slotsom

Wie ook al op per pad deur Suid-Afrika reis, kan op elke draai met iemand Afrikaans praat – van Musina en Waterpoort af in Limpopo, deur Vryheid en Weenen in KwaZulu-Natal verby Blinkwater en Suurberg in die Oos-Kaap. Oral is Afrikaners wat só natuurlik Afrikaners is soos wat die son opkom en sak. En wat hulle moue oprol om die Afrikaanse lief en leed, taal en styl vorentoe te neem.

Al bevind die 42 persent wat as wit beskou word, hulle oor die algemeen op ‘n effens hoër sport van die sosio-ekonomiese leer, is 53 persent, van die bykans ses miljoen moedertaalsprekers van Afrikaans in die land, bruin – ‘n feit wat saamhang met die toenemend toonaangewende rol wat bruin Afrikaanse leiers tans in die akademiese en kulturele wêreld speel. Terwyl Afrikaanssprekers landwyd versprei is, is die grootste konsentrasies in die Wes-Kaap (41.8 persent) en Gauteng (21.1 persent).

Binne die Suid-Afrikaanse samelewing, is die net meer as 13 persent Afrikaanssprekendes, naas Zoeloes en Xhosas, die derde sterkste taalgemeenskap in die land, en vorm hulle die meerderheid van die inwoners van die provinsies Noord-Kaap (68 persent Afrikaans) en Wes-Kaap (55.3 persent Afrikaans). Trouens, soos die taalkaart aantoon, is die Afrikaanse gemeenskap die meerderheid in so te sê al die distrikte van die suidwestelike streek van Suid-Afrika. Hierdie dominante posisie het tans verskeie gunstige kulturele en politieke gevolge.

Sommige neerslagtige waarnemers wek die indruk dat Afrikaanssprekendes soos dooie dennebolle van ‘n denneboom afgeval het en nou op ‘n werf rondlê. Die waarheid is egter: die Afrikaanse gemeenskap vorm die denneboom se lewenskragtige wortelstelsel – wat tot in elke uithoek van die land kronkel.

Verwysings

GCIS: Government Communication and Information System, Nina Bhaktawar (besturende redakteur)
2011. South Africa Yearbook 2010/2011. Paarl: Paarl Media

Pretorius, Fransjohan (redakteur)
2012. Geskiedenis van Suid-Afrika – Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg

Prinsloo, Karel (projekleier)
2007. Opname oor Afrikaanse projekte en aktiwiteite op ‘n plaaslike munisipale vlak in Suid-Afrika. Pretoria: Nasionale Forum vir Afrikaans

Prinsloo, Karel (projekleier)
2004. Verslag van ‘n taaloudit oor Afrikaanse taalprokekte, verenigings en energieë. Stellenbosch: Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wannie Carstens ·

Louis, dankie vir jou moeite om die syfers so mooi by mekaar te sit!

Danie Goosen ·

Louis,

Jou beskrywing van hoe Afrikaners dwarsoor die land energiek hulle ding doen, is natuurlik wonderlik.

Die kritiese vraag is of ons mense daarin gaan slaag om hierdie energie op ’n sinvolle wyse in “instellings” te vertaal. Want anders as die nonsens wat in so baie van ons mense se koppe ingeprent is, kan geen volk – en dit is ’n minimum-voorwaarde – sonder kragtige instellings bestaan nie. Régis Debray het tereg gesê dat “oordrag” by uitstek in en deur instellings (skole, universiteite, kerke, teaters, vakbonde, veiligheid, ensovoorts) plaasvind. Daarsonder word volke bloot tot die “nou” ingekort, met geen vooruitsig op die “later” nie.

Maar ook op hierdie front is ons mense energiek besig. En presteer hulle op ’n uitsonderlike wyse.

AfrForum is hiervan waarskynlik die mees uitstaande voorbeeld. AfriForum is niks minder nie as ’n organisatoriese wonderwerk. Soos geen ander organisasie onder Afrikaners die afgelope dekades het AfriForum in die bestek van ’n geweldige kort tydperk vanaf niks tot ’n kragtige organisasie van meer as 44 000 lede gegroei.

Trouens, het daar al ooit ’n organisasie onder Afrikaners so vinnig as AfriForum gegroei? Afrikaners wat nog nie daarvan kennis geneem het nie, moet weet dat hier ’n geweldige ding in hulle midde aan die gebeur is.

Nog baie werk moet aan ons instellings gedoen word alvorens hulle weer kragtige pro-Afrikaner instellings gaan word. Maar Afrikaners is kennelik gereed daarvoor.

Danie

Louis du Plessis ·

Goeiemôre Wannie en Danie ~
 
INSTITUSIONALISEER!
 
1  Dankie vir die positiewe opmerkings.
 
2  Die huidige groei van sommige Afrikaanse instellings is vir my veral verrassend as ons kennis neem van hoe die ANC-staat ná 1994 sy hand toenemend aan hulle onttrek het en boonop heelwat gedoen het om deur regstellingsaksie hierdie instellings aan die rassistiese Diensbillikheidswet te onderwerp.  Nie net Afrikaanse skole nie maar talle organisasies kon eenvoudig nie die mas opkom nie.  Verskeie, soos byvoorbeeld Sabra (die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede), het ontbind.
 
3          Sommige egter het nie verdrink nie, maar geswem.  Nuwes is gevorm, of, soos Solidariteit, meesterlik hervorm.  In die inleidende artikelpararaaf “Is Afrikaans regtig oral?” meld ek onder meer aktiwiteite deur huidige instellings soos Afrikaanse laerskole en hoërskole, kerke met Afrikaans as voertaal, Vriende van Afrikaans, Afrikaanse leesunies, Afrikaanse musiekfeeste, die ATKV, die Voortrekkers, die Afrikanerbond, en die invloed van allerlei soorte Afrikaanse media soos Afrikaanse boeke, koerante en TV-programme.
 
4          En hierdie is net ‘n keur om die onderliggende beginsel en slotsom van die skets te illustreer:  “Die Afrikaanse gemeenskap vorm die denneboom se lewenskragtige wortelstelsel – wat tot in elke uithoek van die lank land kronkel.”  In die twee omvattende ondersoeke (by die verwysings gelys) wat onder leiding van Karel Prinsloo saamgestel is, identifiseer en klassifiseer sy projekspanne, op ‘n metodiese wyse, ‘n netwerk van honderde en honderde Afrikaanse instellings wat op elke hoek en draai aktief is.
 
5  Danie, elkeen van die instellings wat in dié artikel ter sprake is sowel as al die ander wat die Prinsloo-projekspanne so sistematies indeel, bevestig jou gevolgtrekking hieronder:  “Ook op hierdie front is ons mense energiek besig.  En presteer hulle op ’n uitsonderlike wyse.”
 
6  Die opwindende toename van AfriForum-lidmaatskap, waarop jy tereg die aandag vestig, meen ek, het naas ‘n organisatoriese dimensie ook ‘n psigologiese dimensie.  AfriForum spreek tot Afrikaners met ‘n bepaalde samestelling van innerlike dryfvere, soos die Kaapse Afrikaners wat in die 1880s die Afrikanerbond tot die grootste en invloedrykste party opgebou het, soos die Boere wat in 1880 die rotse by Paardekraal opgestapel het, en soos die Jode wat in 1948 Israel uitgeroep het.  Dis ‘n waagsame, selfs uitdagende, soort karakter, wat nie omgee om, as dit nodig is, die bergpieke alleen aan te durf nie.
 
Met agting

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.