Waar staan Duitsland twee maande voor die verkiesing?

Angela Merkel. (AP Photo/Czarek Sokolowski)

Op 26 September word ʼn nuwe parlement in Duitsland verkies, wat dan die nuwe regering sal kies. Kanselier Angela Merkel is ná 16 jaar aan bewind nie meer verkiesbaar nie en dit is dus die eerste keer in ʼn lang tyd dat ʼn ander persoon Duitsland sal lei, al sal die politiek waarskynlik meer van dieselfde wees.

Alhoewel die eens magtige Christen-Demokratiese Unie (CDU) deur Merkel se oorhel na links en haar swak leierskap van verkiesingsresultate van 40% en meer na minder as 30% geval het, bly dit die sterkste party en sal die CDU na alle verwagtings die leidende rol in ʼn bont koalisie met ʼn linkse stert wat die gematigde hond swaai, vorm.

Armin Laschet, Merkel se opvolger as partyleier en ook die kandidaat as kanselier, maak min mense opgewonde, maar bied, soos sy rolmodel Merkel, iets vir almal en is so aanpasbaar en beginselloos om uiteindelik waarskynlik die kleinste gemene deler te wees.

Annalena Baerbock. (Foto: ANNEGRET HILSE/POOL/AFP)

Sowat ʼn maand gelede, kort ná die bekendstelling van die kanselierskandidaat van die Groenparty, Annalena Baerbok, het dit nog gelyk asof die Groenes vir die eerste keer ooit die grootste party in die Bundestag sou word en die CDU na die tweede plek verban sou word. Baerbok is deur die media opgehemel as ʼn “jong, aantreklike vrou” en ʼn “nuwe gesig wat vir ʼn ander politiek staan”, asof vroue iets nuuts in die politiek is.

Sy het egter skaars op die voorgrond getree toe haar moeilikheid begin het. Daar was geen groot skandaal nie, maar ʼn reeks flaters, wat haar beeld in rekordtyd laat verbleik het: onverklaarde newe-inkomste, aandik en lieg oor poste en grade in haar biografie en plagiaat met die skryf van haar boek. Daarby kom nog ʼn onvermoë om oortuigend en op hoë vlak te praat, en die sigbare onkunde op belangrike velde.

Selfs die Groen-verliefde hoofstroommedia kon dit nie ignoreer nie en die Groenes se steun het geval van bykans 25% na 18%, wat egter nog steeds meer as ’n verdubbeling van die huidige getal setels in die parlement sou beteken.

Angela Merkel en Olaf Scholz. (Foto: Michael Sohn, AP)

Die Sosiaal-Demokrate met hulle kanselierskandidaat Olaf Scholz vaar oudergewoonte swak in die peilings met sowat 15% en hulle sukkel om teenoor Groenes aan die een kant, en CDU aan die ander kant, ʼn duidelik onderskeibare profiel te wys.

Die onlangse stortreëns en oorstromings in veral Wes-Duitsland kan egter die spel verander. Die Groenes se gunstelingonderwerp, klimaatsverandering, word as die hoofoorsaak vir die oorstromings gesien. Dit kan die Groenes baat, soos wat die tsoenami in Japan en die Fukushima-debakel in 2010 die Groenes in verkiesings gehelp het. Die anderkant van natuurrampe is egter om deur uitvoerende vermoë vertroue in te boesem sowel as om empatie te toon (of voor te gee), iets wat gewoonlik die regerende party en die kanselier bevoordeel.

Kesseling, Duitsland. (Foto: Ferdinand Merzbach/AFP)

Die Alternative für Deutschland (AfD) sukkel om te midde van bykans totale isolasie en boikotte deur alle magsentrums tot die mense deur te dring. Die media ignoreer die grootste opposisieparty en die interne gevegte van die party help ook nie juis nie. Nogtans het hulle ʼn vaste ondersteunersbasis van rondom 10%.

Uit gebrek aan meer gematigde en aanvaarbare alternatiewe doen die liberale Vrye Demokratiese Party tans verbasend goed in die peilings met rondom 12%, sonder dat hulle enigiets daarvoor gedoen het. Alhoewel hulle die breë konsensuspolitiek en ook Merkel se groot rigting vir Duitsland steun, is die persepsie dat hulle die regering op hulle tone hou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.