Waarborg middelklas-waardes goeie leierskap?

Donald Trump

Foto: Facebook.com

Die uitgelekte video waarin die Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump, in kru taal trots vertel wat hy alles met vroue kan regkry omdat hy ’n “ster” is, vertel ons baie van watse soort mens hy in morele opsig is.

Die antwoord is maklik: Hy is ’n mens sonder moraliteit. Maar ’n tweede vraag wat tegelykertyd gestel moet word, is: Maak dit hoegenaamd saak by die beoordeling van ’n staatsman? Is iemand wat trots vertel oor hoe hy vroue seksueel misbruik daarom ’n slegte staatsman?

Dié vraag is soos ’n geslypte diamant. Daar is by wyse van spreke duisend verskillende vlakke wat in ag geneem moet word. Om mee te begin hang baie af van die waardes wat ’n bepaalde kultuur op ’n gegewe oomblik aanhang.

Tot min of meer die helfte van die 19de eeu was dit in groot dele van Europa normaal dat belangrike persone – konings, ministers, ryk sakelui – openlik die een minnares ná die ander verslind. Trouens, mense sou byvoorbeeld eerder meewarig op ’n Franse koning sonder ’n minnares neergekyk en hom van impotensie of homoseksualiteit verdink het.

Dit was veral die geval in Rooms-Katolieke lande. Die Protestante – veral die Calviniste – was baie meer puriteins. By hulle is daar ook maar tussen die lakens geduik, maar streng agter die skerms.

In die loop van die 19de eeu het ’n kultuurverandering in die Weste ingetree. Toenemend is verwag dat belangrike mense (altans na buite) sigbaar middelklas-waardes moes uitleef – huwelikstrou, finansiële eerlikheid, ensovoorts.

Dit het nie beteken dat seksuele eskapades minder voorgekom het nie – dit is net agter hoë mure weggesteek.

In Nederland het die media byvoorbeeld angsvallig weggebly van prins Bernhard (man van koningin Juliana) se berugte huweliksontrou. Selfs in die jare tagtig het niemand openlik gepraat oor premier Ruud Lubbers se rondslapery (sy bynaam was “de stier [bul] van Kralingen”, die dorp buite Rotterdam waar hy vandaan gekom het) nie.

In Amerika het dieselfde gebeur met pres. John F. Kennedy se vulkaniese libido. Sy lyfwagte het aktief gehelp om vroue by die Withuis in te smokkel as Jackie Kennedy weg was. Sommige joernaliste het geweet daarvan, maar niks daaroor geskryf nie.

In die Rooms-Katolieke Frankryk is baie saakliker na die kwessie gekyk. Dat pres. François Mitterrand ’n minnares (met ’n dogter) gehad het, was ’n ope geheim, maar daaroor is openlik gepraat toe die vrou, Anne Pingeot, met hul dogter, Mazarine, by sy begrafnis opgedaag het. Die 1 200 liefdesbriewe wat die president aan sy minnares geskryf het, word in hierdie dae gepubliseer.

Die Victoriaanse seksuele rewolusie, wat die Britte binne enkele dekades van taamlik losbandig tot ontsettend preuts omgeskep het, het gemaak dat die Angel-Saksiese lande selfs vandag nog frons by sake soos dié. En, interessant genoeg, ondanks die losbandige jare sewentig het dié lande sedertdien meer konserwatief geword.

Waar die Amerikaanse media by Kennedy se rondslapery nog anderpad gekyk het, het hulle hárd toegeslaan toe die Demokratiese aspirant-presidentskandidaat Gary Hart in 1987 met ’n skelmpie betrap is. Hy kon dié skandaal nie oorleef nie.

Pres. Bill Clinton se dinge is gereeld en met oorgawe aan die groot klok gehang. Veral die spesiale aanklaer, Kenneth Starr, se uitvoerige verslag oor Clinton se verhouding met Monica Lewinsky lees soms byna soos ’n pornografiese verhaal.

Die huis van afgevaardigdes het hom inderdaad formeel in 1998 in ’n staat van beskuldiging gestel. Maar al het die senaat hom die daaropvolgende jaar vrygespreek, het dit so byna die einde van sy politieke loopbaan beteken, en die skandaal hang sedertdien steeds oor sy kop.

Dít is basies die rede waarom die Trump-video soveel aandag in die VSA trek. Mense – altans die meeste – verwag dat hul leiers ’n voorbeeldige persoonlike lewe sal lei.

Maar die vraag bly: Reflekteer ’n losbandige seksuele lewe ’n gebrek aan staatsmanskap? Of staan die twee sake los van mekaar?

Daar was byvoorbeeld nooit enige sprake van seksuele uitspattighede by pres. Richard Nixon nie. Tog was hy oorwegend ’n morele skurk en taamlik goeie president, hoe teenstrydig dit ook klink. Ondanks hul gedrag tussen die lakens was John F. Kennedy en Bill Clinton geen slegte presidente nie. Hoewel George W. Bush se persoonlike lewe moreel onbesproke was, het hy met die inval in Irak in 2003 ’n proses aan die gang gesit wat baie bygedra het tot die huidige internasionale chaos.

Hoe onaangenaam dit ook al vir ’n moreel ingestelde persoon kan wees om te hoor, die harde waarheid is dat seksuele moraal en politieke bekwaamheid twee sake is wat heeltemal los van mekaar staan. Tensy dit meebring dat só iemand afgepers kan word, wat die saak natuurlik heeltemal verander – dink maar aan die Profumo-skandaal in Brittanje in die sestigs.

Beteken dit dan dat Trump ’n goeie president kan wees?

Nie noodwendig nie. Dié vraag moet op ’n ánder terrein beantwoord word.

Trump blink uit om sy seile flink na die wind te span. Hy was eers ’n Demokraat en goeie vriend van Bill Clinton; nou noem hy Hillary Clinton “die duiwel” wat hy in die tronk sal laat smyt as hy die verkiesing wen.

Hy was eers vír die 2003-inval in Irak; toe daarteen. En nou ontken hy dat hy ooit ten gunste daarvan was. Eers sê hy vroue wat aborsie pleeg, moet gestraf word; dan ontken hy dit weer. Hy spreek hom teen vryhandelsverdrae uit, maar ’n groot deel van sy maatskappye se ekonomiese aktiwiteit is in Mexiko en China. En so is daar byna geen onderwerp onder die son waaroor hy nog nié bollemakiesie geslaan het nie. Hy het die grootste ego sedert Alexander die Grote.

Vir die res, as hy ’n probleem êrens in die wêreld sien, is sy houding: Bombardeer die dinges uit hulle uit! Dis ’n roekelose houding wat die VSA binne ’n kort tyd in ’n verwoestende oorlog kan intrek.

Die Trump-video is die bevestiging van wat verskeie vroue nou vertel wat die sakeman met hulle probeer doen het. Dit maak van hom – soos van John F. Kennedy en Bill Clinton – ’n moreel verwerplike mens.

Dat hy ook as staatsman ’n ramp vir Amerika en die wêreld kan word as hy wen, staan los hiervan.

En tog, as dit alles gesê is, moet elke leser hiervan antwoord hiérop gee: Is hulle tevrede dat ’n sedelose mens soos Jacob Zuma hul land se gesig is?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Christo ·

Die vraag is eerder hoekom mense in amerika nog dink hulle het n vrye stem vir n kandidaat.Daar is lankal besluit n vrou moet die volgende president wees daarom so swak oppisisie teen haar kry.Dis so ooglopend dis eintlik belaglik.Geweet daar gaan n sogenaamde skandaal net voor verskiesing kom.Die skape volg maar net weer.

Leopold Scholtz ·

Beste Christo, ek is maar bietjie dom met hierdie soort sake. Wie het “lankal besluit” daar moet ‘n vrou as president wees? En is jou mening dat Trump se kandidatuur deel van hierdie sameswering is? As ek jou reg verstaan het, hoor ek dan sommer ook graag wat jou bronne is. Geniet die dag verder.

Jordaan ·

Ons is nie tevrede met ons land se leier se sedelose gedrag nie, maar al wat ons daaraan kan doen is om ‘n oneffektiewe stem uit te bring elke paar jaar. Terwyl die meerderheid van die kiesers geen probleem daarmee het nie, is daar ongelukkig geen salf aan te smeer nie.

Hendrik ·

Ek stem volhartig saam met Leopold. Trump het ‘n verwerplike persoonlikheid, totaal sedeloos en bombasties. Hy sal ‘n ramp vir die VSA wees. Tog het hy wye ondersteuning van die meerderheid Christene. Die enigste twee redes hiervoor is omdat a) Christene in die VSA oor die algemeen republikeins stem stem en b) omdat Trump sy standpunt oor aborsie verander het.

Trump is die VSA se Julius Malema. Ek is nie mal oor Clinton nie, maar sy is ‘n baie beter keuse as Trump. Trump se belastingplanne sal die gaping tussen die armes en super-rykes net verder vergroot. Vir die VSA sal hy ‘n diplomatieke verleentheid wees wat mense selfs sal laat terugverlang na George Busch.

chrisp ·

Clinton gaan wen ek het dit reeds lank terug op MM gestel. Dit is vooraf bepaal presies soos in die geval van Obama.Sy is so grootgemaak vir die pos.Amerika sal dan ken spog met ‘n vrou as President net soos dit die geval was met die eerste “swart”president.

Die van julle wat bang is vir Trump as aansteker van wereld-oorlog3 sal sien wat die vrou in die wereld gaan baar nl presies die oorlog. Moreel is sy baie swakker as Trump,sonder twyfel.

gatiep ·

chrisp jy is reg daar sy is voorberei daarvoor maar ek dink hulle het hulle vasgeloop met Trump
Trump is die regte persoon om daai klomp aan te vat die politieke correct storie is n pot vol gemors.
Ek dink die Trumpet van die bybel het geblaas nou met Trump

Leopold Scholtz ·

Beste Chrisp, soos ek vir Christo hier bo gevra het, presies wie het “vooraf bepaal” dat Clinton moet wen? En wat is jou bronne?

chrisp ·

Leopold.2

Leopold daar is mense wat die een wereld regering dryf en Amerika speel ‘n baie belangrike rol hier(sonder bronne). Wat my basis aanbetref vir meeste van al my afleidings is die Bybel.Wat jy glo of nie dws in my oe is my bron onbetwisbaar terwyl dit vir ander belaglik kan voorkom.

Oor die algemeen lees ek baie en veral verskillende weergawes van ‘n onderwerp,hier is egter dieselfde probleem as die Fees must fall storie.Dit het begin met ‘n verduidelikbare afskop en nou is dit bloot krimminele gedrag. Baie mense het hierteen gewaarsku (sonder bronne). 1994 het baie gese Afrikaans, eie universiteite grondhervormings misdaad ens gaan negatief geraak word (sonder enige bronne)

Net soms gee logika jou die regte afleiding (sonder bronne)

chrisp ·

Jammer ek kom nou eers terug was redelik besig. Tenminste praat ek met jou.
My bronne is my logiese afleiding van die nuwe liberale politiek-korekte Tsunami wat die wereld oorspoel ,te same met die Hoofstroommedia propagandiste wat die musiek speel vir die dans.
Net soos jy maak ek afleidings in my geval het ek met Obama se aanloop na sy eerste President veltog ook gese hy gaan wen en presies oor die redes wat ek hierbo noem. Sou jy my die vrae toe vra sou my antwoord ook sonder bronne wees alhoewel korrek in die geval. Dat die Amerikaanse tweeparty “demoonkrasie” gekook word en meestal bepaal word is in my denke ‘n gegewe(ook sonder bronne). Logies is dit al afleiding wat ek kan maak .Hoe anders kan ‘n onbekende man van nerens af kom en die belangrikste plek in die wereld beklee in een poging tot die troon? Hoe is dit moontlik dat ‘n kandidaat met Hilary se cv benoem kan word. Wat Trump aanbetref(bietjie minder moreel vrot)sou hy sonder sy eie geld dit nie gemaak het nie .

Dieselfde geld ook vir die wat gese het wapens van massa vernietiging is in Irak (ek was een) met baie bronne terwyl die wat gese het daar is nie ,geen bronne sou kon voorle nie(hule was mos sameswerings idiote). Wie was toe reg?

Rupert Ashford ·

Teenvragie Leopold: Is die alternatief beter? Sy was die “enabler” van ou Bill en het gretig meegehelp om sy politieke loopbaan te help red deur die vrouens wat uitgepraat het se karakters te vernietig. Haar rekord as “secretary of state” het maar net soveel flaters veroorsaak en IS floreer danksy haar en Obama se beleid. Is sy regtig beter (selfs as Dubya?)? Christo oordryf dalk bietjie maar met die jongste Wikileaks vrystellings lyk dit tog of daar waarheid in steek dat daar “magte” is wat gretig meehelp om haar in die kussings te kry. Wat is jou mening daaroor? En laastens wil ek net se ek keur Wikileaks gladnie goed nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Rupert, Verstaan my goed: Ek het ‘n taamlik lae dunk van Clinton. Haar verbete ambisie, haar bereidheid om te lieg maak ‘n swak indruk. Nie dat ander politici (met enkele uitsonderings) soveel beter is nie. Sy is maar taamlik tipies van die spesie homo politicus. Ek dink nie sy sal ‘n goeie president wees nie. Maar Trump is in ‘n aparte kategorie. ‘n Man wat sommer drie teenoorgestelde menings in drie sinne kan verkondig? Wat “the shit” uit elke vermeende en werklike vyand van Amerika wil skiet of hulle wil “nuke”? Wat in sy toesprake amper nie ‘n enkele logiese volsin kan praat nie en wartaal uitslaan? Wat meen normale reels geld nie vir hom nie? Wat diensplig ontduik het en belasting (al was dit binne die wet) ontwyk het? Dis ‘n moeilike keuse. Nog nooit was daar twee sulke swak kandidate teen mekaar nie. Maar laat ek dit presies formuleer, want dis net een van die twee. Clinton, meen ek, sal minder skade aanrig as Trump. My eerste keuse vir president sou egter Mike Pence wees. Maar helaas, sy naam staan nie op die stembrief nie.

John ·

Van die grootste presidente in die die VSA en elders in die wereld, het ook maar ‘n vreemde persoonlike geskiedenis agter die blad. Selfs koning David in die Bybel het erge flaters begaan, maar die Hemelvader het hom dit vergewe. Mag die wil van Hom in die VSA gedy vir ‘n leier. Clinton is ‘n slinkse bederf-ouma, maar onder haar gaan dieselde onderdane kanonvoer word in haar poging om die wereld op hul kniee voor haar troon te probeer dwing… inkluis haar glo buite-beheer hubby.

Theuns ·

Dankie Leopold. Daar is ‘n paar ouens in ons land soos Trump wat ook geweldige Ego’s het, populiste is soos Trump, gewoonte leunaars is en ook psigopate is. Met Trump in dieselfde kookpot as Putin en onse Zuma het jy n dodelike mengsel wat lande en die wereld kan vernietig! Hillary hoort ook in die kookpot maar jy sal ongelukkig nie die vermelde here met haar kan vertou nie! Groetnis!

Leopold Scholtz ·

Vir Crisp: Ek is bly jy erken dat jy geen bronne vir jou bewerings het nie. Dis nogal ‘n erkenning. Groetnis!

chrisp ·

Nog nooit ‘n probleem gehad om te erken nie.
Ek wil graag glo dat jy ook die erkentenis raa klees waar ek verkeerd was met BRONNE.
Sal goed wees as jy ook kan erken dat bronne verkeerd is. Indien jy bronne(wat twak kwyt geraak het) hier soek se net hoeveel en ek gee dit met liefde.
Verder sal al die bronne van die eerste golf-oorlog waarin “wapens van masa vernietiging” uit ge basuin is vir jou voldoende gewees het? Meeste standpunte en afleidings kom uit bronne,joune en myne.In my geval lees ek wyd soos reeds gese en skryf nie die bronne neer nie daarom gee ek dit nie vir jou nie . Dit is letterlik tientalle en daaruit maak ek my logiese afleiding.
Tyd sal leer.

Groetnis…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.