Waardes van die samelewing

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Daar is met groot dankbaarheid besoek afgelê by die Pro Patria Militêre fees wat by die Voortrekkermonument aangebied is. Die bywoning het verbaas aangesien daar heelwat meer besoekers was as wat verwag is. Reeds by die hekke het die stoet karre wat hul beurt afgewag het om in die terrein te kan inkom, gewys dat daar groot belangstelling is in dié geleentheid. Die Voortrekkermonument is natuurlik die perfekte terrein om so ʼn fees aan te bied, met voldoende parkeerplek en ʼn amfiteater met wat dit alles bied rondom die verhoog.

Ons volk het in sy geskiedenis hoofsaaklik deur drie groot tydperke van konflik gegaan. Daar was die Groot Trek en alles wat daar rondom plaasgevind het, met die Slag van Bloedrivier as die finale slag. Daarna die stryd met Groot Brittanje met die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë. Dan natuurlik ons Grensoorlog wat gestrek het van 1966-1989. Beide die eerste twee tydperke se geskiedenis word op verskeie plekke uitgebeeld. Tot op hede is ons Grensoorlog of Bosoorlog in verskeie boeke opgeteken, maar nêrens is daar ʼn spesifieke museum wat die heldedade van daardie geslag soldate, en wat dit alles behels het, vir ons tentoonstel nie.

Die inisiatief om die Pro Patria Museum by die Voortrekkermonument in te rig ten einde die Grensoorlog in al sy fasette uit te beeld, het afgeskop en  ʼn mens kan net dankie sê vir daardie rolspelers wat almal die gedagte verder geneem en dit laat vergestalt het. Pro Patria het buiten dat dit die medalje was wat die soldate wat grensdiens gedoen het ontvang het, ook die verdere besondere assosiasie met die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” op die senotaaf in die Voortrekkermonument wat presies dit beteken. Hierdie projek staan in sy kinderskoene en daar is geleentheid vir rolspelers om ook in dié verband ʼn bydrae te gaan maak. Reik gerus uit na die Voortrekkermonument om bydraes, in welke vorm ook al, aan te bied.

Daar word baie gesê dat ʼn geslag wat nie met stryd groot geword het nie inderdaad ʼn verlore geslag is. Die karakter en ruggraat wat ontwikkel in ʼn tyd van stryd kan baie moeilik gedefinieer word. Die gevolge word wel vorentoe ervaar of dan nie ervaar nie.

Dit was ʼn besonderse voorreg om te luister na voordragte van die beplanning, verloop en uitkoms van byvoorbeeld Ops Protea, aangebied deur hulle wat daar betrokke was. Elkeen van die ongeveer 4 000 soldate wat aan die operasie deelgeneem het, verdien eintlik ʼn Honoris Crux vir dapperheid.

Vir my self wat op die grens die sagter deel van die oorlog ervaar het en nooit in ʼn kontak was nie, is daar groot waardering vir diegene wat in die voorste linies hul bydrae gelewer het en selfs die hoogste offer moes bring. Diegene wat in diepte die nodige ondersteuning gegee het se rol was inderdaad net so belangrik om seker te maak dat die nodige vermoëns beskikbaar was om te kan funksioneer.

Terwyl ons die geleentheid ervaar, wonder ek wie  nou eintlik die helde van die oorlog is, maar ook nou in hierdie tyd waar ons geworstel is in ʼn ander soort oorlog. Diegene wat in diepte toegewyd hulle take uitgevoer het, is inderdaad ook elk op hul terrein ʼn held. Vandag se oorlog het verskeie dimensies waarvan die behoud van ons erfenis en die waardes wat vir ons belangrik is seker die grootste en belangrikste is.

Diegene wat in die Grensoorlog die buitengewone gedoen het, is gewis helde, maar dalk moet dit nie daar stop nie. Elkeen wat op hulle manier hul kant gebring  en dit nougeset gedoen het, kan inderdaad as ʼn held beskou word. Ons het daar geveg om bepaalde waardes en beginsels in stand te hou en vandag ervaar ons dat daardie aspekte wat ons bedreig het deur die huidige regering as die norm gevestig word.

ʼn Oorlog het verskillende dimensies en ons het op die grens ʼn fisiese konflik gehad nadat ʼn groot klomp ander aspekte ook hul rol gespeel het. Suiwer kommunikasie is ʼn groot deel om intern maar ook ekstern die boodskap waarvoor daar opgestaan word, te kan uitdra.

Wie is vandag ons helde? Sou dit nie diegene wees wat, ongeag die skeefloop-situasie waarin Suid-Afrika vasgevang sit, steeds bou aan waardes en beginsels wat vir ons belangrik is nie? Dit bring mee dat elkeen, net soos op die grens, inderdaad ʼn held kan en moet wees om ʼn positiewe uitkoms te bewerkstellig. Saam kan ons ʼn verskil maak. Elke individu behoort die hand in eie boesem te steek en te evalueer wat die bydrae is wat gelewer word in byvoorbeeld kommunikasie, maar ook op al die ander terreine. Sosiale netwerke het nou elkeen in die posisie gestel om ʼn “sleutelbord operateur” te kan wees. Wat is die kwaliteit van my boodskap of kommentaar wat daar geplaas word?

As Christene het ons elkeen ʼn kultuuropdrag ontvang wat impliseer dat ons die talente wat uit genade alleen ontvang is, moet aanwend tot eer van God. Dalk is dit nodig om voor enige plasing op sosiale netwerke, wat inderdaad in die openbaar gemaak word, net terug te sit en self te vra of dit gekoppel kan word aan ons kultuuropdrag? Bou ek met my plasing of breek ek?

Die waardes wat die ANC en sy meelopers implementeer kan op geen wyse ondersteun word nie. Dit bied vir geen mens enigsins enige toekoms nie. Die waardes en beginsels waarop ons die toekoms gaan en wil bou, is gesetel in ons eie hande. Watter keuses maak ons elke dag? Die enigste plek waar ons wel die vaste fondament kan kry waarvolgens ons daagliks ons keuse vir die toekoms kan en moet maak, is die Woord van God.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

Ek voel dat ons n meer korrekte naam vir die oorlog moet soek.

“Grensoorlog” is myns insiens n verkeerde woord. Dit was n totale aanslag, regoor die hele land, nie net op die grens tussen Namibie en Angola nie. n Vriend van my se seksie is op die Swazilandse grens vasgedruk en uitgewis. Ekself kon nie grens (Namibie) toe gaan nie, omdat ek n ope-hartoperasie gehad het; ek het my aanvanklike dienstyd in my moedereenheid in Bethlehem gedoen. Duisende soldate het daarom geen ProPatria medalje ontvang nie.

My oudste broer was in die polisie, en vier keer op die grens, maar hy het groter gevaar in die stede beleef. Eenkeer moes hy Eikenhof/De Deur toe gaan op n veediefstalklag: dit was n lokval, en hy en sy makker se vangwa is omsingel, die bande is met pangas stukkend gekap, die ruite is stukkend geslaan. Die Booysens-polisiestasie in Jhb is met RPG-7’s aangeval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.