Waarheen is Suid-Afrika op pad? Dit hang af wie jy vra

man_pad_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto: Pixabay.com

Deur Morné Malan

Dit sal verspot maklik wees om nou ʼn stuk te skryf wat baie lesers in ʼn bykans verlammende toestand van negatiwiteit sal laat. Trouens, dit is amper altyd die geval in Suid-Afrika. Dit is ʼn land waarin ʼn unieke sin van doem en pessimisme heers oor die potensiële gevaar wat net om die draai vir ons lê en wag. So ʼn pessimistiese stuk sou ook nie heeltemal oneerlik wees nie.

Daar is talle redes wat ʼn mens tot kommer stem en wat tans die gehalte van ons lewens, en dalk selfs ons toekoms, bedreig: ʼn groot meerderheid in die parlement wat ʼn mosie aanvaar het om die grondwet te wysig om só voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding; gerugte dat die regering die Reserwebank en selfs die land se damme wil nasionaliseer; wetsontwerpe oor haatspraak en internetsensuur wat skynbaar sterk voorsiening maak vir arbitrêre toepassing deur ideologiese amptenare en talle ander soortgelyke voorbeelde.

Dit lyk dus of ons sit met ʼn staat wat toenemend outoritêr en totalitêr word. Net om nóg olie op die vuur te gooi, is daar karakters soos Julius Malema en sy bende sikofantiese aanhangers in die EFF wat feitlik op ʼn weeklikse basis verdelende, afbrekende en rassistiese uitlatings opdis – sonder dat dit enige waarneembare negatiewe gevolge vir die EFF inhou.

Ek het beslis begrip vir die gevoel van moedeloosheid wat baie mense in Suid-Afrika sekerlik ervaar. Dié kommerwekkende prentjie is egter nie die volle verhaal nie.

ʼn Deel van hierdie verhaal is egter ook dat ten spyte van die feit dat die staat al hoe meer verantwoordelikhede aanneem, die werklike invloed van die staat bykans glad nie vergroot nie.

Omdat die amptenare wat hierdie beleid voorstel en in werking stel dikwels so baatsugtig en onbevoeg is, is daar heelwat ruimte vir mense in Suid-Afrika om hulself tot ʼn toenemende mate meer staatsbestand en onafhanklik te maak.

Baie Suid-Afrikaners antwoord die vraag van ʼn power polisiediens deur van private sekuriteit gebruik te maak, buurtwagte in te stel of deur in ʼn sekerheidskompleks te woon. Die probleem van swak staatshospitale word opgelos deur private gesondheidsorg. Maatskappye begin toenemend die gaping wat deur vervalle openbare skole gelaat is te vul met goeie en al hoe meer bekostigbare alternatiewe, en tuisonderrig word meer populêr.

Gemeenskapsorganisasies vervul die rol van die staat om basiese dienste te lewer soos om byvoorbeeld slaggate reg te maak. Kortom, soos wat die staat deur wanbestuur, korrupsie en ʼn onbeholpe ideologie verswak, versterk die burgery hulself deur hul eie alternatiewe te bou.

Die staat en die burgery beweeg dus in totaal uiteenlopende rigtings. Albei groei, maar in totaal uiteenlopende rigtings. Dieselfde geld vir die uitlatings van politici soos Malema. Dit wil sê dat ten spyte van die feit dat Malema se uitlatings toenemend populisties en selfs rassisties raak, ervaar die algemene publiek eerder ʼn toename in positiewe rasseverhoudinge.

Dit is geensins onredelik om senuweeagtig te raak wanneer ʼn mens hoor hoe Malema en ander politici toenemend van wit mense, oftewel “blankheid,” die sondebok maak nie. Daar moet egter gevra word tot watter mate hulle regtig die gevoel van die inwoners van Suid-Afrika verwoord.

Volgens die jongste peilings deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) blyk dit dat hierdie politieke “leiers” eintlik heeltemal op hul eie pad beweeg en eintlik net uiters klein radikale groeperings lei.

Op die vraag wat die grootste probleem in Suid-Afrika is, antwoord slegs 4,4% van respondente aan die SAIRV se peiling dat dit rassisme is – onder swart Suid-Afrikaners voel slegs 3,9% dat dit rassisme is.

Op die vraag oor wat die belangrikste ding is wat die regering kan doen om die gehalte van lewens te verbeter, sê 78,3% van die respondente dat werkloosheid en opvoeding die grootste probleem is wat hanteer behoort te word, terwyl slegs 2,2% van mening is dat grondhervorming die antwoord is om gehalte van lewens te verbeter.

Weer eens stem ʼn weglaatbare minderheid van 2,1% van swart Suid-Afrikaners vir grondhervorming in hierdie opname. Tog, dit kan wees dat hierdie spesifieke vrae slegs bysake is en dat heelwat mense steeds in die retoriek belê, maar net nie oor die oplossings saamstem nie.

Die SAIRV vra egter ook in hul opname ʼn vraag wat die retoriek baie meer direk onder die loep neem. Hulle vra mense of “al die sprake van rassisme en kolonialisme net deur politici is wat probeer om verskonings te maak vir hul eie tekortkominge”. Sowat 78% van Suid-Afrikaners stem met hierdie stelling saam. Daar is veel meer uitslae van die opname wat hier genoem kan word, soos onder meer dat nagenoeg 80% van Suid-Afrikaners meen dat rasseverhoudinge sedert 1994 verbeter het.

Wat is dus die gevolgtrekking waartoe hierdie stuk kom? Soos ek dit aan die begin gestel het, is baie mense op die oomblik senuweeagtig oor die toekoms van ons land en die angstigheid wat baie Suid-Afrikaners ervaar, is beslis redelik en te verstane. Trouens, ons kan nie maak asof die wetgewing en retoriek van politici ons nie gaan raak nie.

Tog is daar ook baie groen lote op voetsoolvlak tussen die burgery waaroor ons optimisties kan wees. Die regering geniet nog geensins die instemming van sy mense om dié totalitêre beleid te kan deurvoer nie en, bygesê, so baie van ons politieke leiers het al so lui, gemaklik en onbevoeg geword dat selfs al was hulle die ware verteenwoordigers van die land se burgers, sou hulle gesukkel het om iets gedoen te kry.

Dit voel soms of daar in Suid-Afrika ʼn permanente swaard oor ʼn mens se kop hang, maar dit behoort vir ons almal gerusstellend te wees dat daar steeds ʼn menigte versperrings tussen die swaard en ons koppe is.

As die ANC en die EFF hul sin kon kry en die totalitêre beleid kon na wense uitgevoer word dan sou daar inderdaad moeilikheid wees. Maar die ANC kon dit nou al 24 jaar lank nog nie werklik regkry nie en hulle het ʼn verdere probleem in die vorm van die openbare mening op grondvlak.

Soos wat die politici al hoe meer na links beweeg het, so het hulle ook die vertroue van die burgers van Suid-Afrika verloor wat al hoe meer onafhanklik van die staat raak. Dit is ook presies die oplossing waarvoor ons kon wens. Dit is die beste van alle moontlike scenario’s.

Suid-Afrikaners kort nie ʼn meer doeltreffende of sterk staat nie. Danksy die vakuum wat deur ons alomteenwoordige, tog swak regering geskep is, begin al hoe meer Suid-Afrikaners terugkeer na hul gemeenskappe en vir mekaar sorg. Die natuurlike gevolg hiervan is dat gewone Suid-Afrikaners eintlik baie beter oor die weg kom as wat politici die toedrag van sake sou wou skets.

Waarheen is Suid-Afrika dus op pad?

Terwyl die staat vasberade is om oor die afgrond te tuimel, is die mense in Suid-Afrika egter besig om ʼn toekoms sonder die staat te bou en hoe meer mense ons kan kry om dit te doen, hoe helderder lyk daardie toekoms.

Ons kan dus gerus meer tyd aan ons gemeenskappe en met regte Suid-Afrikaners bestee en kan minder ag slaan op die strooipoppe wat politici oprig. Dit sal duidelik word dat gewone mense – ten spyte van ons “leiers” – steeds in die regte rigting beweeg.

  • Malan is ʼn navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Die regte rigting? Ja, dit is so dat die stille meerderheid bloot met hul lewens wil voortgaan, maar hulle is juis daarom tjoepstil. Dit is egter die ander 10% (of meer) wat die agenda stel. Ek sou aanvoer dat ons juis al die rede het om nou paniekerig te wees want daar is bitter min wat die stille meerderheid kan doen om diegene wat die agenda opstel, te stuit.

Die grootste onmiddelike krisis is dat grondbesetting agv aansprake rondom onteiening ‘n tier is wat nou losgelaat word en wat buite die beheer van enigeen amok gaan saai en daarby op homself voed en net sterker word. Die gebeure bring ons vandag reeds tot op die drumpel van ‘n revolusie en ‘n burgeroorlog.

Ons demokrasie het gefaal, dit is ‘n skyndemokrasie wat grens aan ‘n diktatuur van die regerende party – ons kan kla, maar dis al. Dit is nie eens die paar duisend afgevaardiges na die kongres van die regerende party wat effektief beleid bepaal nie (soos in Desember 2017,) maar ‘n klein kliek van enkele honderde wat besluit wat sal, en sal nie gebeur nie. Hulle funksioneer as die politburo van ‘n marxistiese staat. Alle ander demokratiese instellings is eenvoudig meganismes om die besluite van die partykongres te implementeer. Dit is vir my nie net onaanvaarbaar nie, maar is ‘n reuse gevaarteken met sirenes en flitsende ligte wat sê dat ons afstuur op iets wat rampspoedig is.

Ek het nog baie kritiese punte, maar nie die spasie nie…

Gerhard ·

Ek is bevrees iewers moet mens die werklikheid in die oë kyk. So byvoorbeeld is baie van die burgery-opsies hierbo net nie vir ‘n groot deel van die Afrikaner bevolking beskikbaar nie. Baie gemiddelde mense kan net bekostig om die daaglikse onkostes te betaal. Eintlike is bg. net antwoorde vir die Afrikaner elite. Die ou op straat het nie meer sulke voorregte nie. Ons hoef nie eers te praat van arm Afrikaners nie. Ek is bevrees ek voel dat die Afrikaner leierskap net so uit voeling is met hulle mense as die ANC regering. Verder dink ek ook dit is belangrik om te verstaan waarom die regering klaarblyklik in ‘n rigting trek wat nie vir die bevolking van belang is nie. Vir een of ander rede kyk sekere Afrikaner leiers hulle vas hierteen en dit gee hulle valse hoop dat dinge anders gaan opeindig as wat die regering klaarblyklik beplan. Die rede waarom die regering radikale beloftes maak is omdat hulle geen ander antwoorde meer het nie. Dit is wat ‘n desperate politikus, met geen antwoorde om onmoontlike probleme te oorkom nie, doen. Die probleem, onmoontlike en onrealistiese verwagtinge van die meerderheid swart bevolking. Geen regering kan die probleme oplos nie. Reg deur Afrika is dit die selfde. Dit laat die in beheer met min opsies en ongelukkig is al daardie opsies radikaal.

Casper Labuschagne ·

@Gerhard, jy is 100% korrek met al jou standpunte. Nie net is die opsies om basiese dienste te privatiseer (veiligheid, medies, onderwys, munisipale dienste) net beskikbaar vir die elite (of hoër middelklas) nie, maar die regering maak ook ‘n aanslag op al daardie geprivatiseerde dienste soos: mediese fondse met die nuwe gesondheidsplan; onderwys – aanslag teen Afrikaans en aanslag op tuisonderrig/privaat skole; sekuriteit – vuurwapenbeperkings en beroepe op regulasie van die sekuriteitsbedryf. Die punt is dat ons gemeenskap onsself kan help, ons het die kennis, ondervinding en vermoë, maar ons mag nie – ons moet inval by die bestek van die nie-rassige sosiaal demokratiese gemeenskap.

Selfs in die geval van Orania waar ‘n gemeenskap selfvoorsienend is, word bedreig deur die veldtog van die swart nasionalisme net die hutsmerk #OraniaMustFall.

Die punt is dat enige poging om onsself te help, deur die populistiese swart nasionalisme as elitisties beskou word.

My grootste stryd is met die absolute onkunde en onwilligheid om die werklikheid te herken, van die deursnee wit persoon. Solank as wat die bokke rugby speel en hulle kan braai, is alles net mooi piekfyn vir hulle.

Gerhard ·

Dit het ook ongelukkig die nagevolg dat die Afrikaners in leierskapposisies hulle ophou met sake wat van geen nut meer is vir die Afrikaner se oorlewing nie. Hiermee bedoel ek die reeds verlore sake soos om Afrikaans as taal met regstappe in sekere instansies te probeer afdwing en om die NSA se staatsinstansies se werk vir hulle te doen. Veel eerder moet daar nou ALLE gewig agter ‘n Afrikaner staat in gegooi word. Dit mag dalk al reeds te laat wees daarvoor, deels omdat daar teveel tyd en geld aan verlore sake spandeer is in die verlede. Dit beteken ook dat die stap daarna sal wees om alternatiewe vir Afrikaners te beding om elders ‘n heenkome te vind, soos bv. om regerings soos die van Australië, Europa en Noord-Amerika te oorreed om meer Afrikaners in te neem a.g.v. vervolging in hulle eie land.

Eish ·

Ek kan net net saamstem met jou sentimente oor die onderwerp. Tereg n geval van die ” have’s teenoor die have not’s.”
Daar is sowat 640 000 armblankes wat n bloedige bestaan voer om liggaam en siel aanmekaar te hou.
Dit is meer as wat Solidariteit lede het, 450 000 of Afriforum, 200 000.
Selde sluit artikels oor die onderwerp n verwysing na hul in. Ek is nie bereid om my gewig in te gooi by organisasies vir wie die kwessie nie sentraal staan in beleid nie, want dit raak die meerderheid van ons.

Eish ·

Verskoning, daar moet net een “net” in my kommentaar wees.

Jerry ·

Die ideaal om jouself meer staatsbestand en onafhanklik te maak moet geskied deur die bewerkstelling van versoenende inisiatiewe en goeie verhoudinge met alle groepe ten einde saam binnelandse werkbare oplossings te vind. Wanneer jy egter onversoenende standpunte huldig en inisiatiewe loods wat ander groepe uitsluit, dan bring jy politieke stabiliteit in gedrang en skep jy n onuithoudbare situasie wat daartoe lei dat jy jouself isoleer en die teiken maak van die groepe wat jy uitsluit. Sodanige groepe sal jou dan in eie munt terugbetaal deur jou uit te sluit uit voorstelle of oplossings van nasionale belang. Dit is presies nou die geval met Solidariteit en die forum wat geen verteenwoordigers op die paneel het wat die wie, wat, waar, wanneer, hoe en wat daarna mbt grondonteining gaan ondersoek. Die buitelandse veldtog oor plaasmoorde en grondonteiening met die doel om druk op die SA regering te plaas sal doodeenvoudig afgewentel word na die Afrikaner deur strafmaatreels asook wetgewing in te stel wat buitelandse hulp en inmenging blok. Onversoenende optrede en inisiatiewe is duidellik die verkeerde benadering om te volg, want jy is uitgesluit van die oplossings wat ander groepe voorstel en wat aanvaar en geimplementeer word. Wie is te blameer vir die Afrikaner se huidige stand van sake en lei dit die Afrikaner na vrede of konflik? You be the Judge!

Kabous ·

Jy leef in ‘n droomwêreld, Jerry. Daar kan geen versoenende optrede met geharde kommuniste wees nie. Hulle steur hulle nie aan wat enige teenparty sê nie, of dit nou binne of buite amptelike kanale gedoen word nie. Hulle stel slegs belang in absolute en gesentraliseerde mag. Die enigste teenvoeter is om internasionaal teen hulle te mobiliseer – juis wat Solidariteit en AfriForum doen. As jy dit nie begryp nie, is jy bloot polities naïef.

Eish ·

Wat reguit indruis teen die meningsopname se resultate, is die feit dat die meerderheid Suid Afrikaanse stemgeregtigdes keer op keer dié toenemend outoritêre en totalitêre regering instem tot mag.
Sou dit impliseer dat die volgende verkiesing rampspoedig gaan verloop vir die huidige regeerders? Of sou dit impliseer dat die steekproef slegs onder n sekere groep uitgevoer gewees het wat die menings huldig?
Populistiese uitsprake blyk die vermoë te hê om stemvee op kraal te kry.
Tensy n heeltemal ander dinamiek geld met verkiesings, is die navoringsresultate se betroubaarheid onder die loep.

B-man ·

AS hierdie statistieke geloofwaardig is (enigiets kan met statistiek bewys word… selfs die waarheid) dan beteken dit dat die 2.1 % swart mense wat grondhervorming sonder vergoeding steun om-en-by so 850 000 mense is. Probeer 850 000 van 32 000 plase afhou?

Dewald ·

Die simpel feit dat Julius se Twitter 1.85 miljoen volgelinge het is n aanduiding dat die statistieke heeltemal verkeerd is. Nietemin dat die meerderheid van die ouer swartes Twitter sku is en net die jonges eintlik die platform gebruik (Kyk bietjie na die profiel fotos van sy volgeling, 90% is jonk). Dit beteken dat daar n groot hoeveelheid onbepaalde ondersteuners kan wees. Ek sal nie aanraai dat julle na hulle comments kyk nie. Dit laat die propaganda wat in Rwanda gebruik was mak lyk. n Kultuur van haat word gekweek en al hoe meer swart jongmense word ingetrek met die boodskap van “vryheid” en “geregtigheid vir die verlede”. Ons sit met n dringende situasie wat maklik kan hand uit ruk. Dis moeilik om die krag te vind om na sulke dinge te kyk na n lang dag se werk maar as ons as volk nie n ernstige gesprek het oor hierdie gevaartekens nie kan daar lelike dinge to gevolg he.

Piet ·

Caspers en Gerhard en lees lank reeds julle skywes. Julle maak deel van ‘n klein groeppie mense uit wat ons huidige scenario behoorlik verstaan. Die opsies is nie een maklik nie maar dit sou seker wees: selfbeskikking, oorlog, immigrasie en laaste “if you cant beat them, join them” m.a.w vermenging. Is daar nog opsies waaraan ek nie dink nie? Die skrywer neig na selfbeskikking en as ek so kyk lyk dit maar na die beste opsie, of hoe?

Hendrik ·

Hoe kan selfbeskikking nie nog ‘n opsie wees nie? Net omdat die regering se dat dit nie ‘n opsie is nie? Moet asb nie noem dat jy alreeds besig is met selfbeskikking. Ek voel dit is nou tyd dat ons leierskap hul voet neersit en die oplossings op die tafel neersit. Wie is die leiers? Wel kom ons begin met die organisasie met die die meeste lede 450 000. Die Solidariteits Beweging. Tans is die enigste organisasie wat ‘n verskil kan maak aan die Afrikaners se toekoms. Doen dit nou omdat daar nog geld in die kassie is.

Gerhard ·

Daar is ‘n afsnypunt waar die vermoe om so iets te kan doen nie meer sal bestaan nie. Bv. as grondhervorming uiteindelik afgedwing word, as Afrikaans as taal af gekaf word in skole en universiteite, daar deur die regering op getree word om plekke soos Orania en Kleinfontein te verbied. Al die bg. kan en SAL uiteindelik gebeur.

Hendrik ·

Hoe kan selfbeskikking nie nog ‘n opsie wees nie? Net omdat die regering se dat dit nie ‘n opsie is nie? Moet asb nie noem dat jy alreeds besig is met selfbeskikking. Ek voel dit is nou tyd dat ons leierskap hul voet neersit en die oplossings op die tafel neersit. Wie is die leiers? Wel kom ons begin met die organisasie met die die meeste lede 450 000. Die Solidariteits Beweging. Tans is die enigste organisasie wat ‘n verskil kan maak aan die Afrikaners se toekoms. Doen dit nou omdat daar nog geld in die kassie is.

J.E. van Achterbergh ·

Dit klink vir my toenemend of julle organisasies net soos julle, uit opsies uit hardloop! Hoor my lied, druipstert sal julle nog smeek vir versoening!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.