Waarom Akademia ’n uitstekende keuse is

Henk Schalekamp, die voorsitter van Solidariteit Beleggingsmaatskappy, kyk uit oor die grond waar Akademia se kampus vir 5 000 studente gebou sal word. (Foto: Facebook.)

Deur Theo Neethling

Op 25 Maart 2020 skryf Marisha Hermann in #JongStemme op Maroela Media dat ’n oom van haar haar onlangs op sosiale media gelukgewens het met haar verjaarsdag, maar bygevoeg het dat hy “jammer is” dat sy by Akademia studeer. Sy vertel dan hoe trots sy is om deel van Akademia te wees en bly is dat sy nie aan ’n universiteit studeer waar woedende studente die instelling probeer skade aandoen nie.

Op Facebook reageer prof. Frikkie Herbst soos volg hierop: “Private hoër onderwys is beslis die toekoms, teen die agtergrond wat tans by plaaslike openbare universiteite gebeur. Verder is die voordele van moedertaalonderrig reeds empiries bewys.

Ek is sedert 1992 in die akademie en het die verval van akademiese standaarde ervaar – daar is egter nog plaaslike grade wat met die bestes ter wêreld vergelyk kan word. Ek het in Januarie vanjaar die skuif na private hoër onderwys gemaak en ek is geensins spyt daaroor nie. Die dekaan by die fakulteit van ekonomiese en bestuurswetenskappe by Akademia is ‘n uiters bekwame akademikus. Die Universiteit van Pretoria se verlies is Akademia se wins. Ek hou Akademia baie fyn en met groot belangstelling dop. Kan die slimjannies asseblief eers seker maak van hul feite, alvorens hul aan hierdie debat deelneem?”

Hierop moet ek vir konteks noem dat prof. Herbst in sy loopbaan verbonde was aan die Universiteit van Pretoria, Universiteit van Johannesburg, die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy is onlangs aangestel as hoof van navorsing by Milpark Besigheidskool, ’n privaat hoër onderwysinstelling wat fokus op die bestuurswetenskappe en veral bekend is vir hulle MBA-program. Institusioneel is Milpark Besigheidskool ’n onderdeel van Stadio Holdings wat uit Curro Holdings Limited gegroei het. Laasgenoemde hou natuurlik verband met die talle Curro- privaat skole reg oor Suid-Afrika. Prof. Herbst is dus vertroud met sowel ons openbare (staatsondersteunde) as private hoër onderwysinstellings.

Ek wil egter ook vanuit my eie akademiese loopbaan wys op ’n paar redes waarom ek van mening is dat private hoër onderwys ’n sterk deel van ons toekomstige onderwyslandskap moet wees. Wat dit betref, wil ek my veral by die meriete van Akademia as ’n instelling bepaal.

Eerstens is dit so dat die meerderheid van ons openbare universiteite vir jare reeds probleme ervaar wanneer studente in Februarie terugkeer na kampusse en nuwe studente aanmeld vir eerste registrasies. Die rede is dat die meerderheid studente by openbare universiteite tans afhanklik is van staatsbefondsing, dit wil sê van die Nasionale Studentehulpskema (NSHS, ook kortweg bekend as NSFAS).

Die konsep van die NSHS is aan elke dosent aan ons openbare universiteite baie goed bekend. Die rede is dat die skema swak geadministreer word en dit raak dosente regstreeks, omdat klasse jaarliks hortend en stotterend aan die gang kom, vanweë die feit dat talle uitbetalings laat is en registrasies vertraag word. Talle dosente op ons kampusse kan dienooreenkomstig getuig hoe hul klasse vanaf Februarie nie behoorlik aan die gang kan kom nie, omdat studente weke nadat klasse begin het, eers kan inskakel – met allerlei negatiewe implikasies vir dosente en studente. Dit het trouens al ’n permanente probleem op talle kampusse geword waar studente uit behoeftige gemeenskappe jaarliks in duisende vir die nuwe akademiese jaar aanmeld. Hierdie probleem is egter kortom nie ’n probleem en bron van konflik by Akademia nie.

Tweedens is dit ’n feit dat die oorgrote meerderheid studente op kampusse landwyd uit laeinkomstegroepe en relatief swak sosio-ekonomiese omstandighede na openbare universiteite stroom. Die sterk politieke aandrang van partye soos die EFF en die ANC op studentetoegang (“access”) tot kampusse, het oor die jare toegeneem en die staat moet opdok.

Die aandrang op gratis onderwys is trouens groot en die regering wil graag positief hierop reageer omdat politieke stemme ter sake is. Die probleem is egter dat die staat toenemend in ’n benarde posisie verkeer sover dit sy inkomste en fiskale posisie betref. Die staatskas is amper leeg geplunder en die belastinginkomste van die staat het tans ernstige beperkinge. Daarby het hoë staatskuld nou die regering aan die keel beet. Die probleem is dat finansiële verwagtinge by duisende studente ’n kortsluiting veroorsaak en dit gaan in die jare vorentoe nie verdwyn nie.

Verskeie universiteite moes dan ook vanjaar op die aandrang van woedende studente honderde miljoene uit hulle bedryfsfondse aan studente toeken om die vrede te bewaar. Uiteraard is dit nie volhoubaar nie. Wat Akademia betref, is daar nie ’n staatsafhanklikheid by studente nie en die turbulensie wat dit vir openbare universiteite meebring, gaan Akademia gespaar bly. Die selfdoen- en selfhelpkonsep wat die onderbou van Akademia vorm, plaas die instelling buite die finansiële verknorsing van die staat wat nou ook universiteite se probleem geraak het.

Derdens moet ’n mens iets sê oor Afrikaans by ons openbare universiteite. Waar daar tot ’n dekade gelede nog ruim geleentheid was om in Afrikaans te studeer, is daar nou slegs enkele instellings waar sulke geleenthede bestaan – en ook dáár is Afrikaans onder druk. In ’n sekere sin is dit begryplik, omdat die kritiese massa van studente by die meerderheid eertydse Afrikaanse universiteite nie meer Afrikaans is nie.

By Akademia is daar egter die behoefte en geleentheid om Afrikaans te handhaaf en, bygesê, die voordele van moedertaalonderrig is herhaaldelik reeds in studies bevestig. Vir diegene wat vandag steeds twyfel of Afrikaans ’n jongmens toerus vir die internasionale wêreld het ek nuus: duisende oud-Suid-Afrikaners in die buiteland het by Afrikaanse universiteite afgestudeer en hulle doen werk van wêreldgehalte by talle instellings in stede wat wissel van Londen tot New York. Vir my is daar geen beter voorbeeld nie as wyle dr. Japie van Zyl, ’n Afrikaanssprekende Namibiër wat een van die ruimteagentskap NASA se groot name geword het nadat hy in Afrikaans op Stellenbosch afgestudeer het.

Vir my, persoonlik, as akademikus was dit ook nog nooit moeilik om in Engels internasionaal te publiseer of te refereer nie en die feit dat my basis in Afrikaans vasgelê is, het my nog altyd tot voordeel gestrek. Hier moet ek ook noem dat ek duisende studente in my klasse gesien het wat nooit die geleentheid gehad het om akademies in hul moedertaal gevorm te word nie, en uiteindelik gaan hulle permanent mank aan die vermoë om in Engels te konseptualiseer en te formuleer, omdat ’n goeie taalkundige basis ontbreek.

’n Laaste punt is dat ’n kritiese massa studente – en toenemend ook ’n meer diverse groep van dosente – by openbare universiteite baie beoordelend staan tenoor die Westerse kennisbasis. Trouens, dosente by ons openbare universiteite landwyd is almal deeglik bewus van die aandrang op akademiese dekolonisasie in sake van onderrig en leer.

Akademia kan hom egter as ’n private hoër onderwysinstelling duidelik verbind tot ’n Christelike grondslag en dit wat verband hou met die Westerse kennisbasis. Vir studente wat hulle hiermee wil vereenselwig, bied Akademia dus ’n goeie opvoedkundige geleentheid.

Ten slotte wil ek net noem dat my betoog nie teen openbare universiteite is nie. Van ons Suid-Afrikaanse universiteite is werklik van ’n baie hoë standaard en ons kan trots wees op veral die toptien- openbare universiteite in Suid-Afrika. Maar dat Akademia baie belofte toon en ’n blink toekoms het, is daar by my geen twyfel nie.

  • Theo Neethling is verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, maar skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ABDP ·

Ons sien uit na Afrikaans hoër onderrig. Ek is net bevrees dat die hoë studie kostes sommige die geleentheid sal ontneem om daar te studeer. Ek hoop van harte daar kom alternatiewe studie befondsing navore.

Stof ·

Akademia is voorwaar ‘n iniasiatief wat toon dat die wil om tot uitnemendheid uit te styg, haalbaar is.
My bede is dat Vader se guns op die uitbreiding van fasiliteite en studierigtings, besonder ruim sal wees.
My wens aan al die studente wat van vanjaar af hierdie verantwoordelike belegging in hulle toekoms maak, deur hulle uitmuntende gemeenskaps-inset na hulle studies, vele ander sal inspireer.

annie ·

Uitstekend!… maar akkreditasie by buitelandse universiteite moet dringend gesoek en gevind word. Samewerking met goeie ou instansies is nodig, dalk ook lektore van elders, wat die universiteit kan inbed in ou geselskap en ou geld. Studente uit Belgiè of so, moet hierheen gelok word. Afrikaners woon nie op ‘n pienk wolkie nie, inteendeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.