Waarom eiendomsreg?

piet-le-roux-2018-01

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie AfriSake. Foto: Verskaf.

Wanneer ʼn mens met ʼn onverdraagsame minderheid se radikale eise gekonfronteer word, is dit belangrik om nie toe te gee nie. Toegewings aan onredelikheid ontlok gierige gedrag. So is dit ook in die geval van onteiening.

Wanneer die EFF en die ANC hul afdreigpraatjies oor onteiening sonder vergoeding maak, dan gaan dit – in die meeste gevalle – gepaard met onredelikheid. Hulle skat eiendomsreg gering en maak vals beloftes oor hoe grond sonder vergoeding afgevat kan word, kwansuis sonder dat dit die ekonomie, voedselsekerheid en maatskaplike stabiliteit sal benadeel. Hulle onderskei ook selde tussen grondrestitusie en grondherverdeling, wat ʼn groot probleem is.

Restitusie is om grond wat (met of sonder vergoeding) onregmatig afgevat is, terug te besorg aan die regmatige eienaars. Dit bevestig eiendomsreg. Herverdeling is om grond onregmatig vir politieke en ideologiese doeleindes af te vat en dit aan onregmatige eienaars te gee. Dit ondermyn eiendomsreg.

Benewens die onredelikheid is hul feitebasis ook eenvoudig heeltemal verkeerd, soos byvoorbeeld in die mosie oor onteiening sonder vergoeding wat in die parlement aanvaar is. Grondeienaarskap in Suid-Afrika is veel breër oor rasgroepe versprei as wat in die mosie beweer word. Maar dit is ʼn onderwerp vir ʼn ander dag, want so belangrik soos goeie inligting oor grondeienaarskap in Suid-Afrika is, net so belangrik is dit ook om goeie argumente ten gunste van eiendomsreg te hê.

Waarom moet ons ten gunste wees van eiendomsreg? Die antwoord is drieledig.

In die eerste plek is dit in ʼn eienaar se eie belang: Dit is reg dat ʼn eienaar sy eiendom – dit wat hom behoorlik toekom – in beskerming neem. Hy het dit verdien, bekom deur die weldade van andere, deur verhandeling of deur produksie. Dit is die materiële goed waarvan hy ʼn rentmeester moet wees en waartoe hy ʼn reg het.

In die tweede plek is dit in die openbare belang: Die verswakking van eiendomsreg van een groep lei tot openbare ekonomiese skade. Dit is slegs in omgewings van goeie eiendomsreg dat ʼn voorspoedige ekonomie kan bestaan, waarvoor van die rykste tot die armste afhanklik is vir hul daaglikse brood.

Primitiwiteit en ellende was oral in die wêreld waar eiendomsreg institusioneel ondermyn is, nog die gevolg.

In die derde plek is dit in die belang van die burgerlike samelewing: Sonder eiendomsreg kan ʼn regsorde nie bestaan nie, maar slegs die arbitrêre wil van heersers en hul funksionarisse. Soos prof. Koos Malan onlangs op Politicsweb skryf: “Die reg tot privaat eiendom dien as ʼn waarborg vir die selfstandigheid van sowel individue as vir die burgerlike samelewing en privaat instellings.”

Die oproepe om grond sonder vergoeding te onteien, is merendeels onredelik. Ons behoort dit op ʼn redelike wyse teen te staan, naamlik deur tussen restitusie en herverdeling te onderskei, sowel as om eiendomsreg omvattend te verdedig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Wie is die onverdraagsame minderheid in die eerste paragraaf?
Ek is die mening toegedaan dat die boere self die aksies moet dryf met Burgerregte groeperings slegs in ondersteunende rol.
Die boere is besonder stil sedert die kwessie ter tafel gelê is.
Feit bly staan dat indien die onverdraagsame, wraakgierige en gulsige meerderheidsregering die kwessie wil deurvoer, gaan hul presies dit doen vanweë die getalle oorwig.
Ons is ook bewus daarvan dat politici se agendas gedryf word deur populistiese beleid en nie deur feite nie.
Dis soos om te kyk na n hond wat die straat oorsteek met n motor wat op heeltemal te vinnig dit nader. Jy weet hier kom n ding en die drama ontvou voor jou oë, maar jy is hulpeloos om die situasie te verander.

Casper Labuschagne ·

Inderdaad is ons bloot toeskouers van ‘n treinramp wat teen ‘n stadige spoed voor ons oë afspeel. Maak nie saak hoe hard ons gil nie, die wiele rol steeds en die nagmerrie duur onstuitbaar voort. Die enigste ander keuses is om of te vlug, of om die nagevolge van die ramp te verduur.

Oom Piet ·

Daar is 1,221,037 vk.km. in die RSA. 50 Miljoen X 200 vk.m elk net 10,000 vk.km.
Vir verstedelikes pas 200 vk.m Land per persoon. 1,000 vk.m vir familie van 5

Onteienig sonder redelike kompensasie gaan finansiering probleme veroorsaak, asook oor-waardasie vir menigmaal skuld verhandeling en 20% deposito skuld bywerking.

Met behoud van vryhandel Kompensasie en Waarde (okkupasie, benut en vrug regte), is alle Land en vaste Verbeterings (vanaf die 2007 implementasie van die 2004 Munisipale Eiendoms [Huur] Tarief Wet), in effek seepglad genasionaliseer as Staat eiendom (Burgers van toe onverdeelbare gesamentlike eienaars).
Hele RSA is her-afgebaken in Lokale Regerings wat van toe die Waardasie x Tarief Verhuring beheer en ontwikkeling bestuur, namens die Staat.

Na 10 jaar is die meeste mense steeds onbewus van die slim nationalisering van bykans alles agv, die behoud van Waarde kompensasie van behoude regte en goeie beheer.

Jacques du Plessis ·

Dankie Piet. Dit is hoe n mens in goeie afrikaans n saak verduidelik. Ek waardeer.

cb ·

Net weer wat van tee plantasie in Tzaneengeword, dit was die mooiste tee plantasie, grond wil he grond word gevat, en nou dankie, wat van die…….. gaan nie iets verder seeee nie, hulle vat maar kan nie doen. Weereens daar is WIT BOERE, WAT HULLE WERKERS DIE GELEENTHEID GEE, OM hulle deel van die plase te bewerk en diens te doen. NOU WAT NOU, EFF EN ANC, julle is blind. GEE ons almal kans, SWART BOERE WAT BAIE HARD WERK, WEET JULLE HOEKOM, DIT IS DIE WIT BOER WAT HULLE GELEENTHEID GEE, ……jammer ek is net ….., take it or leave it. Hier is net nie Swart teen Wit nie, maar nie rassisme tussen swart en swart kom baie na vore. God Bless

Jerry ·

Terwyl almal praat en ten spyte van burgerregte organisasie pogings is versigtige Suid Afrikaners besig om hulle eiendomme te verkoop en huur hulle eerder. Sodoende raak hulle miskien voortydig, miskien nie, ontslae van die eiendomsreg probleem. Hulle speel dalk in die hande van die anargiste of dalk speel hulle in hulle eie en beste belang en haal sodoende die wind uit die seile van die Anargiste of dalk nie, wie sal regtig weet. Mense begin toenemend besef dat die ontevrede meerderheid (die opstokers is die minderheid en onaanraakbaar en geniet wetstoepassers beskerming) enige oomblik gemobiliseer kan word indien die opstokers nie hul sin kry nie. Die ontevrede massas is dus die wapen van die onverdraagsame en onredelike klein groepie opstokers en anargiste. Daar is positiewe en negatiewe aanduidings van gebeure die afgelope tyd en dit veroorsaak eintlik meer verwarring as enigeiets anders. Wanneer mense terselfdertyd 50% optimisme en 50% pessimisme ervaar dan speel hulle eerder veilig veral wanneer hulle lesse geleer het en weet dat jy nie in Afrika onredelikheid met redelikheid kan teenstaan nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.