Waarom elke boer en sy span vir die DA moet stem

ina-cilliers-da

Ina Cilliers is ‘n DA-lid van die Gautengse wetgewer. Foto: Twitter.com

[Red] In aanloop tot die nasionale verkiesing op 8 Mei vanjaar gee Maroela Media politieke partye die geleentheid om hul menings oor verskillende kwessies wat kiesers raak op Maroela Media se debatsportaal te lug. Alle politieke partye is welkom om meningstukke vir publikasie voor te lê onderhewig aan die bepalings en voorwaardes van Maroela Media se redaksionele beleid.

Deur Ina Cilliers, DA-lid van die Gautengse wetgewer

Ek moes onlangs ’n kragopwekker koop om my boerdery tydens beurtkrag aan die gang te hou. Wanneer die krag afgaan, werk my kweekhuise se verkoeling nie meer nie, en ek kan nie die pomp aanskakel wat kos direk aan die plante se wortels lewer nie.

Sodra die kweekhuise warmer as 27 °C word, hou die plante op om te produseer. Ek het dus hierdie belangrike besigheidsbesluit met omsigtigheid hanteer.

Ek het navorsing gedoen, spesifikasies, werksverrigting en dieselverbruik vergelyk voordat ek rasioneel besluit het watter vervaardiger my besigheid gaan kry.

En ek gaan dieselfde proses volg met my stem in hierdie jaar se verkiesing.

Die ANC is nie meer die ontembare reus nie. Die speelveld is oop. Boere hoef nie meer ’n emosionele stem uit te bring wat gegrond is op verlore drome nie.

Ek kan stem vir ’n nuwe regering, en hier is ’n paar van die hoofredes hoekom my plaas vir die DA gaan stem:

  • Die DA verstaan dat jou plaas ’n minigemeenskap is. Dit help nie om plaasveiligheid, eiendomsregte, ekonomiese geleenthede en voedselsekerheid elk in sy eie boksie te plaas nie. Al hierdie elemente moet saamwerk om ons boere veilig en produktief te hou.
  • Om landelike veiligheid te bevorder, gaan die DA ‘n spesiale landelike veiligheidseenheid in elke polisiestasie wat ’n landelike gebied bedien, vestig. Hierdie spesialiste gaan die regte opleiding en toerusting hê, permanent in die gemeenskap wees en inskakel by die gemeenskapspolisieforums. Daar gaan ook aparte statistieke gehou word sodat ons die data kan verwerk en tegnologie kan inspan om veediefstel en plaasaanvalle te bekamp.
  • Die DA veg vir my reg om grond te besit. Hulle verstaan dat geen boer iets kan produseer as sy grondregte nie beskerm word nie. Waar die DA regeer, het hulle reeds honderdeduisende titelaktes aan begunstigdes oorhandig. Hulle praat dus nie net nie, hulle tree daadwerklik op.
  • As my boerdery klein is en minder as R30 miljoen per jaar genereer, gaan ek onthef word van alle verpligtinge ten opsigte van die arbeidswette, behalwe vir die Wet op Basiese Diensvoorwaardes. Dit gaan my in staat stel om meer mense geleenthede te gee om te groei in die agrimark.
  • As ek graag wil deelneem aan grondhervorming, sal die DA my ‘n geleentheid gee. In die Wes-Kaap is die suksespeil van grondhervormingsplase 72%. Dit is omdat baie van die projekte privaat is. Boere kan kies of hulle wil deelneem, hulle word vergoed, en hulle kry betekenisvolle ondersteuning van die provinsiale regering af.
  • Die DA veg teen korrupsie en werk hard om ’n bekwame staatsdiens te vestig. In DA-regerings is daar geen plek vir korrupsie nie, selfs al betaal ons ‘n politieke prys daarvoor soos met Patricia De Lille se saak. Jou waardes bly altyd opperbelangrik en soms moet jy die regte ding doen in plaas van die maklike ding.

Ek kan nie wag vir 8 Mei nie. Ons het potensieel minder as 40 dae van ‘n ANC-regering oor! Die DA se hele manifes is gebou op hoop. Hoop vir een Suid-Afrika vir almal.

Maar die kersie op die koek is dat hulle hoop kan rugsteun met ’n bewese prestasierekord, naamlik dat hulle reeds 15 miljoen mense onder hul regeringsvlerk het.

Dus, wie se “kragopwekker” gaan jy koop?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

138 Kommentare

Leon van Rensburg ·

En voor jy jou oe uitvee het die DA ook jou plaas uitgedeel, droom maar aan Ina

Hul leier het so getwiet ·

Ek gaan nie vir n party stem wie se leier twiet dat hulle my eiendom wil vat nie.

Lizelda ·

Ja, nee wat daar is GEEN manier wat ek vd DA gaan stem nie. Die goed wat Mmusi kwyt geraak het oor witmense het my besef die ou is dalk n groter rasis… Soos n wolf in skaap klere

Johan ·

Met die DA se uitsprake teen witmense kan ek nie glo dat daar nog mense is wat hulle stem sal gee vir daardie grap van ‘n party nie.

KrokodilBotha ·

Hahaha whatever. Ek twyfel sterk oor die manifes. DA kom agter hulle kry minder ondersteuning. VF+ baie dankie

Vra net ·

Die DA wil hê ek moet vir hulle stem.
Ek het groot geword met spreekwoorde soos “haal eers die balk uit jou eie oog” en “Vee voor jou eie agterdeur” ens. Hoe kan ek stem vir iemand wat nognie om verskoning gevra het na hulle Elana Barkhuizen in die media onskuldig verguis het nie? Nog nie woord van “Jammer!” nie. Die partye het soos ‘n klomp besete goed tekere gegaan om haar te verguis. Toe sy onskuldig bewys is was hulle so stil soos die graf.
Jammer DA, mooi woordjies veronskuldig nie dade nie. Maak eers reg en dan kom vra julle weer my stem.

KrokodilBotha ·

DA propoganda. Kan nie glo die auntie raak die strooi kwyt nie

JMC ·

Ek het die afgelope tyd besef dat bitter min Suid-Afrikaners ons proporsionele kiesstelsel verstaan, en dat enige stem vir enige party nie ‘n vermorsing van ‘n stem is volgens die algemene spookstorie wat die DA gewoonlik verkondig nie. Stem vir die party wat jóú beginsels handhaaf, want elke setel in die parlement tel. Uit bogenoemde lyk dit in elk geval of daar reeds vír die werkers besluit is.

Marcel ·

Een ding wat ek graag sal wil sien, is dat ALLE ampshouers van ALLE politieke partye skriftelik sal onderneem (eintlik wetlik verplig word) om te bedank indien hulle nie hulle beloftes nakom nie. En dat hulle wetlik nie weer toegelaat sal word om ooit weer vir enige politieke party te werk nie. Dit behoort eintlik wêreldwyd die geval te wees.

Maar geen politieke party (hier en in ander lande) sal natuurlik so ‘n wet steun nie.
Hoekom nie? Want hulle almal weet hulle lieg gereeld.

KrokodilBotha ·

VIVA VF+ met groete uit die Wes Kaap vir jou Ina. Daars nog slim mense wat hulle nie aan sulke Propaganda sal steur nie. Droom jy en jou party maar voort.

willem Botha ·

Ek het my les geleer ,die DA sal maar n koalisie moet aangaan met die VF+ om my en my vriende en hul families se stemme te gebruik.

O aarde ·

Ina, vertel ons eerder meer van jou party se anti-wit AA/BEE beleid. Sodra ek die vraag aan een van julle stel, dan word ek vertel dis “anders” as die ANC se beleid. Maar niemand kan vir my sê wat is anders nie. Dalk omdat dit nog steeds op rassisme neerkom. Ek is een van die swape wat julle ondersteun het, juis oor die nie-rassige beleid. Maar nou is ‘n DA stem dieselfde as ‘n ANC stem. Ek wou nooit volgens my velkleur stem nie. Ek het nou nie ‘n ander keuse nie. So die VF+ kry my stem.

Neels ·

Beurtkrag beteken almal kry n beurt . In die DA beheerde Midvaal is daar net sekere buurte wat beurtkrag kry . Hulle kan dit nie eers bestuur nie .

IK ·

Het die da se jeugliga al die juffie van Schweizer om verskoning gevra toe daar ook op die rasseperd geklim is??

Kellie Kellerman ·

Is Naas en Nick Mallet al om verskoning gevra?En Helen Z oor haar kolonialisme twiet?

Frik Lotz ·

As jy DA stem, dan stem jy teen jou eie toekoms. n Stem vir die VF Plus is n stem vir n beter toekoms. Stem beslis VF Plus!

Dorothy ·

Hi ek se presies soos die ander mense se en weet jy almal lieg so oor en weer dat ons nou nie eers meer weet vir wie om te stem nie. dis n skande dat mense geen morele waardes het nie. wel almal se daar is n Cape Pary miskien moet ons maar vir hulle stem

witogie ·

Die DA is al jaaaare in beheer van die Wes-Kaap. Is daar enige spesiale veiligheidseenhede wat die boere in daardie provinsie beskerm? Nee. So hoekom sal ons jou nou glo, Ina?
My redes om nooit weer vir die DA te stem nie:
– hul jeugleier is ‘n klein rassis en moet nog vir juffrou Barkhuizen om verskoning vra
-die ligte in my straat in Pretoria het opgehou werk net nadat die DA aan bewind gekom het in 2016. Dit het nog nooit weer gewerk nie.
– Die DA lewer geen nuwe behoorlike dienste in Pretoria nie. Maar die tariewe styg wel skerp.
Ek mors nooit weer ‘n kruisie op die DA nie.

rollie ·

Jou ander keuse is dan ANC want hulle gaan regeer as die DA nie alleen of saam met baie klein vennote soos die VF+ gaan regeer nie. Is die VF+ nie tans ‘n koalisie-vennoot daar nie, so waaroor kla jy? Soos ek sê jou enigste ander keuse is dan ANC wat dienslewering aanbetref.

waarheid ·

Die D A is hand op die blaas met die EFF – hulle konkel saam.
Hulle het nou nog nie ‘n woord gerep oor die moorde op die Boere nie – en sal ook nooit nie.
Hierdie arme vrou weet nie waarvan sy praat nie……………. Seker gebrainwash

Louisa ·

Ina..jy verwys nerens hoe die DA n onskuldige onderwyseres geoordeel het en laat skors het – sonder om feite te he? En daarna word hy bevorder?!Jammer, maar mý generatortjie word gefuel deur beginsels. Ek sit eerder by kerslig MET beginsels as saam met julle in die “lig” sonder dit.

Johannes ·

Geen beleidende Christen en opregte Afrikaner sal OOIT vir die DA stem nie. Twee redes:

1. Die DA is ‘n multi-godsdienstige party wat alle gelowe gelykstel – deur dus vir hulle te stem verloën jy die Enigste, Lewende en Drie-Enige God.
2. Die DA doen net mooi niks vir Afrikaners se belange en behoud nie, inteendeel hulle beleid steun die vernietiging van ons erfenis, kultuur en voortbestaan – jy verloën dus jou volk deur vir hulle te stem.

KrokodilBotha ·

Ek sal sommer vir jou dink. Die party vir wie jy stem is die VF+. MOET EK VIR JOU SOMMER OOK N FOTO VAN DIE POTHOLES STUUR HIER IN DIE STRAAT, DIS N DA DORP.

Johannes ·

As ‘n Christen kan en sal ek nooit vir die DA stem nie – die DA is ‘n multi-godsdienstige, anti-Christelike party wat alle gelowe gelykstel. Die party steun anti-Christelike waardes.

Die VF-plus is ‘n erkende Christelike party wat op Christelike waardes en beginsels gebasseer is en dit bevorder.

Hopelik antwoord hierdie een belangrike feit jou vraag.

Johannes ·

StBernard

Die DA is ‘n multi-godsdienstige party wat alle gelowe gelykstel en anti-Christelike waardes steun en bevorder.

Die VF-plus is ‘n self-erkende Christelike party wat slegs Christelike waardes steun en bevorder.

As Christen kan en sal ek nooit vir die DA stem nie. Ek hoop dit antwoord jou vraag.

Dries du Toit ·

Ai Ina. Jy veg hard om die onverdedigbare te verdedig. Al hoekom jy dit doen is vir daai posisie in die Gautengse wetgewer. Ek glo vas dat jy jouself nie eens glo nie. As jy net die een vragie kan antwoord. Hoekom het julle die onskuldige juffrou Barkhuizen so verguis en dink jy nogsteeds sy is n opperste rassis ????

John ·

Is dit die laaste boere-tannie wat oor is in DA-geledere. Lyk of die DA baie gemaklik is met kragonderbrekings en dat ons ons onder hulle bestuur ook maar gereed sal moet maak vir die DA se ditto… Mmusi glo vas al die Afrikaners is lede van sy skreeu-gemeente, terwyl die VF+, se oom (wat ‘n patroon van ‘n selfie) weer vas oortuig is dat alle Afrikaners terugslaners, van skollie-formaat is. Ons sè: So hardop is ons ook nie. Die stempersentasie, tensy dit bekook word, gaan baie laer wees. Die forget-me-nots word te lank in die tand en hul voorsangers se drilmagies a sight for sore eyes…

Andreas ·

Verseker sal ek nooit ooit ‘n DA kragopwekker koop nie, eerder ‘n Ryobi of ‘n Honda.

Troep ·

In die stede sien jy net die DA raadslede met verkiesings. Daarna is hulle nooit beskikbaar nie. Nee wat, ek word net eenmaal gevang.

KrokodilBotha ·

Troep. As jy honderd rand aan iemand leen, en jy sien daai persoen nie weer. Was dit die honderd rand werd. Bly jy sien nou die lig.

Hendrik ·

Die DA se beleid vandag is in wese maar dieselfde as die ANC se beleid. Hulle groei feitlik niks, alle steun wat die ANC verloor gaan na die EFF wat eintlik nog slegter vir Afrikaners is as sou dit ANC gebly het. Vir Afrkanerbelange is daar maar een party – die VF+. As jy nie vir hulle wil stem nie, stem dan vir Cope of vir die ACDP, maar in hemelsnaam gaan stem!

Chris ·

Haai Ina, ek is wit, daar is geen plek vir my in die DA nie, net daardie blokkie waar ek my kruisie vir julle moet trek, dan is ons blankes weer die “skuld vir alles wat n mislukking is“ na 8 MEI.

dewald ·

@stbernard, dis dood eenvoudig, jy stem vir jou mense. hoop net die meerderheid wit mense kom nou agter na 24 jaar dat die DA nie ons mense is nie.

Jerry ·

Ina, indien die DA dit kan regkry om swartstemme weg te lok by die ANC en die swartstemme kan kry wat met die vorige verkiesing nie gestem het nie, dan is julle op die regte pad om in die toekoms die regerende party te word. Dit sal goed wees vir SA, want ek is oortuig daarvan dat die DA dieselfde kwaliteitleiers het wat ons ook by die VF sien en dat julle ook wel meeste van julle beloftes sal kan nakom. Die grootste probleem waarmee julle op die oomblik te doen het is radikale elemente wat besig is om die DA binne te dring en hard probeer om die DA te kaap. Ek weet nie of hulle deur die ANC en EFF daar geplant word en of dit maar blote toeval is nie, maar as ek julle was sou ek daaroor bekommerd gewees het en dit aangespreek het voordat hulle die DA appelkar omgooi. In PE het julle darem seker ook julle les geleer met koalisiepolitiek. Julle is n party van die toekoms, diversiteit en gelykheid en wat tans blyk van die heel belangrikste faktore te wees oor hoekom witkiesers by julle aanklank vind. Moet dit nie ongedaan maak deur na die radikale elemente in die party se lawaai te luister en swart bo wit/bruin bevoordeel net omdat die onreg van die verlede reggestel moet word nie. Moet nie soos wat gediskrimineer was ook nou toelaat dat gediskrimineer word nie. Behou gelykheid en behou wit/bruin kiesers!

Terloops ·

Van 22 tot 51%, maak bietjie somme, die leuen van die DA is ontbloot. Hulle sal nooit alleen die ANC kan wen nie. Koalisies is die antwoord, dus kan jy stem vir die party wat jou belang as minderheid sal beskerm.

HPV ·

VF Plus want met die komende verkiesing in die verlede sal hulle steeds vir ons minderheid veg terwyl die DA dit slegs belowe tydens stemwerwery. Klink na tipiese NP beloftes voor hulle ons uitverkoop het.

Daan Erasmus ·

Verskriklike somme wat jy maak. My somme is heeltemal anders

Anoniem ·

Jammer Ina maar ons het ook so gedink in 1994 en waar sit ons nou. Neewat jy kan maar stem vir die DA ons sal ons nou maar hou by ons ou volkie VF+

jaco ·

almal wat nou so juig oor die VF-Plus moet net die volgende onthou:
1. amper 1 miljoen nee stemme in 1992 se referendum het in 1994 se eerste demokratiese verkiesing VERMINDER na 425 000 vir die VF. Maar dis moelik om te glo dat 500 000 mense, ons mense, in net 2 jaar se tyd almal SA verlaat het of dood is of vir die Demokratiese Party of die Nasionale Party of die ANC gestem het.
2. In elke verkiesing na 1994 het die VF-Plus se aantal stemme gedaal. In 2014 was dit maar iets soos 170 000

Ek aanvaar baie het SA verlaat. Ek aanvaar ook dat party dink dis beter om vir die DA te stem. Maar ek weier steeds om te glo dat daar REGTIG net 170 000 van ons mense in SA is wat dink soos die VF-Plus. So baie blaam moet ook maar gelê word voor baie van ons eie mense wat eenvoudig nie belangstel nie. wat gou is om te kla oor alles so agteruitgaan, maar wanneer dit kom by stem, dan bly hulle tuis.
Ons eie mense help dus maar lekker aan om ons eie ondergang te bewerkstellig.
Ek glo dat die VF-Plus darem 500 000 stemme kan kry, as al ons eie mense net wakker word en gaan stem. 500 000 stemme gee 11 tot 12 parlementslede. steeds bitter min, maar darem meer verteenwoordiging op parlementere komitees waar hulle hulle stem meer effektief kan dik maak oor ons mense se belange.

Liza ·

Die VF+ mors hul tyd in die parlementêre komitees. Hulle moet eerder hul energie begin aanwend om te werk aan ‘n Afrikaner tuisland aan die Weskus. Dis die enigste opsie en is haalbaar.

Kellie Kellerman ·

In n onlangse steekproef onder Netwerk24 se lesers het 55% gese hul stem Volksfrontplus

Hans Richardt ·

VF+ het hul saak teen BLF se registrasie in Verkiesingshof laat vaar. BLF leier is Xhosa.
Daar is ook nog Mazibuye party in Kwa-Zulu Natal, op presies dieselfde beginsels, geen wit of Indiër lede nie.
Maw, baie swart partye langs etniese lyne.
DA as ANC-LITE…
Is Wegbly Stem nie ook stem nie?

Gys ·

Daar is ‘n paar geldige vrae aan madame Cilliers gestel.
Sal sy die “guts” hê om dit op ‘n openbare forum soos hierdie te beantwoord?

MM, ek wil voorstel dat julle alle politieke partye wat hulle hartseer sopperige stories hier wil kom spin, verplig om lesers se vrae te beantwoord. Dit geld vir almal, VF+, DA, Cope, ACDP, die hele spul.
Ek wed jou GEEN een van die partye se woordvoerders sal kan staande bly teen al die ongemaklike vrae nie.

Coert ·

Ina jy maak seker ‘n grap. Die DA diskrimineer direk teen blankes tot voordeel van swartes. 25 jaar na sg. “demokrasie”. AA. BBBEE. Julle “leier” praat al agter die ANC aan. Tov onteiening ook. Net omdat jy jou siel verkoop het aan die DA beteken nie ons gaan ook nie. Droom voort.

Theoman ·

Ek dink Ina sal na die verkiesing vir haar n sterk kragopwekker moet koop om oor die skok te kom as sy en haar DA plaas besef hoe kragdadig die VF PLUS se stroom stemme gevloei het stembus toe, ons gaan julle krag afsny. STEM VF PLUS…. EENDRAG MAAK MAG

KrokodilBotha ·

Al weer ek. Eks nou so trots op my nasie. Tyd vir voet neer sit. Bokker die liberales. Daars nie n een Suid Afrika nie. Pak jou tassie Ina , Zille , ou Leon en moesie.

Riaan ·

Nooit as te nimmer ooit weer n DA stem van my en familie nie!!

KrokodilBotha ·

My navorsing strek ook oor 24 jaar Ina. Jy en jou party is nie vir ons nie. Dit is tyd dat ons volk voete neer sit. Die sogenaamde reenboog , eindig in n swart pot tjorts. Vir die wat ookal daar in geglo het.

Anti DA ·

Die DA het ‘n aantal jare gelede, tydens ‘n parlementêre stemming, saam met die ANC, daarvoor gestem dat die Hansard slegs in Engels moet verskyn. So het die DA Afrikaans geminag. Die DA sal beslis nie my stem kry nie.

Lina Smit ·

Liewe tannie Ina van die DA. Waantoe kan ek die tissues en die prozac pos wat jul gaan nodig hê na 8 Mei?

Andre ·

Heir in George het die DA met hul “multi religious”beluid, besluit dat die banner voor ons stadsaal(met n bybel vers) moet verwyder word, wand dit is nie reg teen ander gelowe is nie. Duisende, nee terduisend Christen het gebid vir n wonder werk en ons GOD het vir ons n wonder werk gegee om die wind rigting teverander en die manne krag gegee om sodoende George tered , NOU mag die Christen nie sy GOD vereer nie want die DA het besluit dit is tin aanstoot van ander. As die “ander”se god of die wat hulle aanbid n wonder werk of n wonder daad doen gaan die Christen nie in hul pad staan om hulle god of die wat hulle aanbid te vereer. As die christen in die DA nie eers vir sy geloof kan opstaan nie, hoekom sal DA vir die minderheid in die DA opstaan.

Eben ·

Ek stem vir selfbeskikking. ‘n Land van ons eie. Geen DA of VF+ “koalisies” vir my nie dankie. Front Nasionaal sal die saak vir ons dryf.

Benjamin Boshoff ·

Oom, sterkte met daai een, FN veldtog met die 2014 verkiesing was aansienlik beter as hul veldtog vir die verkiesing en toe kon hulle minder stemme nasionaal kry as die VF in die Noord-Kaap. Buitendien kan ou Daniël Lotter geen rasionele of volwasse argument voer nie, ek dink hy sal maar bietjie aftjop as hy dit nou ooit sou maak tot in die parlement.

Gert ·

Jy moet regtig `n “sucker” vir straf wees om DA te stem waar jou stem gewerf word om teen jou gebruik te word??? Regtig, wie`s so dom?

Eduard Mostert ·

Regdenkende volwassens kan nie vir die DA stem nie.Hierdie Party ondersteun die beginsels van Sosialisme.Stem dan liewer EFF dan weet jy presies wat hulle gaan doen.Nog Beter – Stem VF Plus.Dis ons mense.

Daan Erasmus ·

Jy steun ook die beginsels van Sosialisme. Pensioene vir oumense. Staatshospitale vir armes. Die ANC is vir swak hospitale, die DA vir goeie hospitale. Daar is nog ‘n lang lys.

Flouliggies. ·

Ek stel voor Ina koop liewers n Honda krag opwekker. Goeie nuus is VF+ ondersteuners ken kwaliteit. Toodles vir jou party

Twak ·

Waar die DA regeer is hulle altyd trots op dat die boeke meestal klop. WEL , DIE BETALERS SE GELD GAAN VIR DIE ONBETALERS, EN RES VIR SALARISE. Dit gaan vrot in Pretoria, dit gaan ook vrot in Wes Kaap. Dis duidelik waar ons gelde gaan. Ek kan nie wag dat die ANC, EFF, BLF of Land Party hulle storie vir Maroela Media stuur nie. Ina , jyt sleg laaste gekom met jou fee verhaal.

Hans Richardt ·

DA bevorder hul Geforseerde etniese amalgamasie beleid in hul verkiesingsmanifes, net soos ANC. DA praat oor beter metodes om ANC beleid toe te pas, maw DA = ANC-LITE.
VF+ skuld SA antwoorde rondom 23 April 1994 Akkoord vir selfbeskikking, maw waar gemeenskappe as privaat kollektief hul eie belange bevorder, maw presies waaroor eksperts van Sakeliga vandag in Maroela media gepraat het. Dit is VN KONVENSIE!
Kom mense, moenie vrou speel nie, speel die bal, met emosionele intellek!

Eben ·

Vra bietjie vir daardie antwoorde op hulle Facebook blad dan sien jy hoe vinnig hulle jou afskop. Hulle kan nie meer selfbeskikking vir ons eis nie oor hulle ons nie meer verteenwoordig nie. Hulle is nou ‘n multikulturele party.

Cherokee ·

Ina, julle het ‘n aandeel in die bankrotskap van Eskom met dit wat julle ‘regstellende aksie’ noem. Julle wil 55m beskerm teen sowat 4m. Is dit nie snaaks nie! Dìt het jou gekos ‘n kragopwekker koop.
Lees wat Andre so entjie bo my kommentaar sê. Andre wat uit George skryf en van die banier voor hul stadsaal vertel. Skraap moed bymekaar en antwoord hom. Ek hou dop.

Pieter du plessis ·

Die VF+ gaan heelwat sterker wees na hierdie verkiesing

Anoniem ·

Stem 100% saam en as hulle nie sterker is nie dan is daar groot fout met ons volk.

EENDRAGT MAAK MAGT

Stephan ·

Met dagga wat wettig is kan mens maar seker sulke uitsprake verwag.

TN ·

Dankie tog dat die DA van ‘n klomp dryfhout gaan ontslae raak !! Die MET verstand kan na die verkiesing voortgaan om ‘n heenkome vir almal te beding !

rollie ·

Absoluut, kan nie wag dat hierdie verregse rassiste die DA verlaat nie. Hulle hoort nie daar nie, het nog nooit daar gehoort nie. Die DA is ‘n beter plek sonder hulle.

Siener ·

@Rollie—Die rasisste is in die DA. Lyk my jy ken nie eers jou eie party nie. Liggie met die tabak.

riaan ·

Jammer om jou bubble te bars TN, maar daar gaan NIE enige iemand MET verstand oor wees in die DA na die verkiesing nie!!!!

riaan ·

@Rollie

Is dit hoekom die da met die eff in die bed gespring het????

Anoniem ·

Die mense wat die VF+ so afbreek. Julle is 100% reg die VF+ het stemme verloor nie omdat hulle n vals, skelm,korrup of enige iets sleg is nie, hulle het stemme verloor omdat so baie soos donkies gelei word met n wortel voor sy neus. As ons nou nog nie wakker geword het en geleer het dat ons op n blinde pad is nie dan is ons maar eintlik n verlore nasie. Daar is die wat nou se konsentreer oo n eie volkstaat. Hoe as jy nie stemme kry om jou te ondersteun nie. Mense moet onthou hoe groter die mag hoe sterker die krag. Ons is wel die mindere maar onthou groot gif kom in klein botteltjies.

Hans Richardt ·

Selfbeskikking is nie noodwendig Volkstaat nie. Dit kan bloot enige gemeenskap met gemeenskaplike oogmerke wees, wat SAAM streef na gemeenskap doelwitte. Daar bestaan reeds vele sulke swart tradisionele gebiede en bruin kerkgemeenskappe, waarom mag Christen Afrikaners nie streef na selfbeskikking nie, bv Afrikaanse eie instellings, dmv eie kapitaal, eie arbeid en selfweksaamheid? Google asb UN Convention on Self-determination, dit bestaan in internasionale reg, sluit onafhanklikheid uit. Catalonia in Spanje is so gebied met Barcelona as hoofstad, hul praat Katalaans, maar is deel van Spaanse Spanje.
Skryf met inligting. .

Liza ·

Die vestiging van ‘n volkstaat sal ‘n spontane proses wees wat baie jare sal neem voordat dit sal lei tot wetlike afstigting. Om te wag vir stemme gaan nie werk. Dit is skynbaar nou ‘n geval van wat kom eerste, die hoender of die eier. Indien die proses nie voor 2025 begin nie sal dit nooit gebeur nie.

Willie ·

Stem nog altyd VF+. Ek was nog nooit skaam daaroor nie selfs toe vriende gesê het dat die DA die toekoms van hierdie land in hulle hande het. Ook trots daarop dat VF+ se leier die hoogste akademiese kwalifikasies het van al die politieke party-leiers.

G@tvol ·

Jy is waansinnig. Dis so goed ek gee jou n panga om my mee dood te slaan.

DewaldS ·

Hahaha – lekker ‘April Fool’ die antie ons almal!!!

Of wag.. .

Nee!..

Annie Webb ·

Niemand gaan 80 kommentare lees nie, maar ek stem VIR SEKER DA. Hulle bestuur my stad en provinsie puik en hulle is die enigste werklik veelrassige party. G’n rasionele mens stem vir die ANC/EFF nie, en ek verpes die VF+ se aanslag op mense se emosies as hulle tipiese verkiesing-“sound bytes” uitgooi soos “die DA is die party wat juf Elana …” Een voortvarende jeugverteenwoordiger is nie “die DA” nie. Maar nouja, Afrikaners kon nog nooit oor iets saamstem nie.

gatiep ·

Ons begin nou saamstaan ja.
Afrikaner begin uit uindelik wakker raak en sien wat gaan regtig aan.
Ek het gedog dit gaan nooit gebeur nie.
Ons kan ook Maroela bedank daarvoor.

Heinrich ·

Annie, verduidelik gou vir my hoe jou “veel-rassige” party se rasstellende aksie beleid vir almal ‘n wen-wen situasie is terwyl ons die wrange vrugte daarvan sien in al die staatsdepartemente?
En julle DA jeugleier wat nie die DA maak nie, is nie deur enige iemand in die DA aangespreek of reggehelp nie; ‘silence means consent’ so almal stem daarmee saam.
Daar is niemand so blind soos hy wat nie wil sien nie…

Hans Richardt ·

Waarom is selfbeskikking ‘n kwessie? Dit bestaan al met bruin Morawiese kerk gemeenskappe van bv Genadendal, Mamre, Elim en Kommaggas al van laat 1700’s. Die Wet op Tradisionele Leiers gee selfbeskikking aan swart inheemse groepe.
Dit is internasionale reg in VN konvensie en bestaan bv in Europa in Spanje met Catalonia. Waarom sulke wit Afrikaners om hul koppe om dit te kry? Ek dink wittes verstaan nie dat hul hulself benadeel deur bv na DA se verkiesingsmanifes van geforseerde etniese amalgamasie beleid te luister, 1 SA vir almal, met % raskwotas in eiendomsbesit, aanstellings en besigheid?
Every 50 out of 15 is jobless in SA, moet DA se verkiesingsmanifes gewees het….

Paul Swart ·

Mariela Media, Vir wat smous julle nou DA propaganda so voor die verkiesing? Sy Mors haar asem want ons weet water party dra die Afrikaner se belange op die Hart, en het ‘n Christelle manifes: VF+

Jerry ·

Elke kieser sal sy kruisie gaan trek waar hy of sy die kruisie wil trek. Dit help ook nie om tevelde te trek teen mekaar nie, inteendeel kan dit jou party se kanse verswak om so desperaat bevooroordeeld te wees. As julle niks goeds het om te se van mekaar of oor julle eie party, se dan eerder niks!

JaNee ·

Die DA (aka ANC-Light) doen en sê niks i.v.m plaasmoorde, Afrikaans, eie-taal onderrig, haatspraak teen wit Suid Afrikaners, sport inmenging gebasseer op ras ens ens nie. Waarom moet ons vir hulle stem??

Koos ·

Sien ons ou volkie is nog steeds voor 1994, Die DA wys wat is goeie regering. Weet nie van die VF+ nie. Hul premiers kaniddaat in die Weskaap het ook maar sy eie bagasie.

Judge Dredd ·

Die verlede sal weer die toekoms raak Koos.

Sien maar wat gebeur tans in Europa.

Rita Parys ·

DA hallloooooo! Gedink alle Afrikaners is idiote en nou dra julle die gevolge. Krugersdorp het dit so pas bewys. Benoude katte maak benoude spronge!

Kwaad Mossie ·

Ek het net wakker geskrik oor die DA toe hulle Helen Zille onder die wiele gegooi het toe sy net ware feite getweet het. Geen Afrikaner wat ‘n kop op sy skouers het sal vir hulle nog stem nie.

TROTS DA ·

Ek wens mense wil eerstens besef dat WATTER party ooit by ANC oorneem erf ‘n land wat vrot is van skuld weens korrupsie en diefstal. Om nou te sê die en daai een kom nie hul beloftes na of het dit nie nagekom – enige mens/organisasie/party kan net SOVEEL doen met die min geld wat daar beskikbaar is. Almal verwag wonderwerke as ‘n nuwe party inkom. Ek wil nog sien wat die VF+ sou uitrig as hulle van die bankrot munisipaliteite ge-erf het. Of Cope of wie ookal. Die DA het genoeg bewys dat daar ‘n wil is dat hulle minstens probeer. Wat het kleiner partye sover uitgerig? Maar hier is ‘n spul mense wat net altyd skree en raas op berigte net omdat hulle kan.

rollie ·

DA probeer oral regmaak waar die ANC opgemors het, dis ‘n geweldige taak. DA is die enigste werklike nie-rassige party wat die land op nie-rassige grondslag vorentoe kan vat. Die ander partye het almal een of ander agenda. VF+ byvoorbeeld is ‘n voorstaander van apartheid maar bedek dié ideaal met mooiweer praatjies van kamma “veg vir minderhede”. Ha, ha ons weet van beter.

Pieter ·

Dit is opmerklik dat daar slegs drie of vier wanhopige DA-“kommentators” op hierdie plasing verskyn – bv. rollie, “TROTS DA”, en ‘n paar ander. Dit klink soos ‘n reddingsboei wat hulle uitgooi, terwyl die oorgrote meerderheid sê dat hul stem veilig is by die VF+.
“Een en een is twee”, en dat die DA teen ‘n dramatiese tempo steun verloor, is ‘n feit.
Die publiek se oë het oopgegaan!

Henning ·

Die DA (voorgangers) het vir de Klerk gehelp om die ANC aan bewind te stel en nou kla hulle oor die gemors wat hulle help veroorsaak het. Hoe dom kan ‘n mens wees!

Anner Anton ·

Ek stem VF+ punt. Vergelyk maar Jou munisipale rekenings van die laaste twee jaar veral as jy in Kaapstad bly. Kyk ook na al die ekstra fooie. Dink dan of jy enige voordeel hieruit put. Al wat die DA doen is jaag agter die swart stem aan. Kyk maar na wat aangaan by UCT. DIT is die DA! Hulle praat nie teen plaasaanvalle nie. Hulle praat wel SR se juffrou Barkhuizen. Hulle ondersteun onteiening sonder vergoeding, BBEEE, AA en die afkraak van Afrikaanse mense. Die DA is maar net die ou PFP wat al sedert vir altyd voetjie speel met die ANC.
EENDRAG MAAK MAG!

@Pieter ·

Miskien stel meeste DA onderstueners nie belan gom hul tyd te mors met mense wat KAMMIG voorheen vir DA gestem het ens. Ag wat ek is ook nie eers lus om in ‘n ou polemikie betrokke te raak. Sou graag wou weer waar gaan VF+ hul geldjies kry – laas keer was hul basies bankrot en moes gaan bakhand staan in die buiteland. Nee maar ons is bly die ou draadsitters waai van die DA. Sela. Nou gaan ek Vrye Weekblad lees wat minstens inteligente artikels publiseer vir “mense wat lees”

Sakkie ·

Ek het vir my seun geleer dat daar sekere beroepe is waarvoor jy uiters versigtig moet wees in die lewe nl, die 5 P’s. hulle is Politikuste, Priesters, Prokureurs, Polisie en Prostitute. Ten laaste, die wat nou vir die DA gaan stem, kan geensins hierna aan, vinger na die JA stemmers meer wys nie.

Elred Ferreira ·

Niemand wat beweer hulle is n christen kan vir die DA stem nie,behalwe as hulle vals is….die DA ondersteun aborsie op aanvrag vir kinders vanaf 12 jaar.Onthou ook dat hulle studente organisasie DASO saam met die EFF en OPEN STELLENBOSCH teen afrikaans by Maties betoog het…..

nannie ·

Stem nie vir die da nie. Leier wil my grond vat, leier is n rassis, leier het niks gedoen aan die jeugleier toe hy die onderwyser van Sweizer Reneke beledig het nie. Leier is op die voorgrond met elke wit rassis maar as die swart n rassis is sien of hoor jy niks van hom nie.
DA het nou die dag by my deur aangeklop nie eers die deur oopgemaak nie net deur die veiligheidshek gese NEE DANKIE STEL NIE IN DIE DA BELANG NIE.

Stem asseblief ·

Wil my verstout deur te sê dat die meeste mense moeg is vir dubbele standaarde. Indien die DA hulle nie aan hierdie praktyk skuldig gemaak het nie, sou dit dalk makliker gewees het om vir hulle te stem.

Verder ondersteun hulle regstellende aksie en BEE. Dienslewering deur staatsdepartements is op ‘n algehele laagtepunt. Waarom nie die beste persoon in ‘n pos aanstel nie?

Soos wat ‘n paar lesers hier genoem het, was die DA voor in die koor om vir Elana Barkhuizen te veroordeel. ‘n Verskoning sal gaaf wees, dankie.

Politieke party was vinnig om vir Naas Botha en Nick Mallett Botha as rassiste uit te kryt voordat ‘n ondersoek gedoen is. Intussen weet ons dat Ashwin Willemse versuim het om sy werk te doen en die maklike maklike uitweg geneem het. Speel die rassekaart wanneer jou foute ontbloot word.

Gaan doen asseblief ‘n soektog op die internet vir “Strafregtelike klagtes kom dalk teen rassistiese motoris”. In my oë het daardie rassistiese motoris het haarself skuldig gemaak aan crimin injura, rassisme en sy het vir seker meer as 48 keer gevloek. Daar was ‘n oorverdowende stilte van politieke partye af. Waarom is die dame nog nie in die tronk nie?

Laastens, vir dié van julle wat onseker is of julle enigsins moet stem, doen ‘n soektog vir “SA voting system explained”. Aangesien proporsionele verteenwoordiging toegepas word, kry ‘n politieke party een setel vir elke 0.25% van die stemme wat hy op hom verenig. My pleidooi is daarom:

Gaan stem asseblief.

roelf ·

@trots da en rollie

Julle begin by die dag meer soos die anc klink. as die and in ‘n hoek is, is hulle vinnig om te se dat apartheid nie in 25 jaar uitgewis kan word nie. As die da in ‘n hoek is, is hulle vinnig om daarop te wys dat die vorige regering (anc) verantwoordelik is vir die gemors en dat hulle (da) niks in twee jaar kon regmaak nie. Dit is een van die mees patetiese verskonings wat ek nog gehoor het. As die da veral in Jhb en Pta oorwegend swart elektrisiteits verbruikers wat nie betaal nie, gedwing het om te betaal of hulle krag gesny het WAS DAAR MEER AS GENOEG GELD, maar die da (veral msimanga) is te bang! Te bang hulle verloor stemme!
Ten minste is “die regses” en klein partytjies nie meer julle enigste argumant nie. Ons sal na 8 Mei sien wie het “die regses” en “klein partytjies” nodig?

Die da het hulle kans gehad en hulle het gefaal – finish en klaar!!!

:

Hans Richardt ·

Is DA regtig so goed vir kiesers?
Waar uiteenlopende standpunte is, met Zille en De Lille wat nou met mans vervang word, waar laat dit vroue in politiek in SA?

Morrie ·

Toe ek die hele 2uur lange debat tussen ACDP, VF+, DA en COPE gekyk het, het al die partye reguit en earlike antwoorde gegee behalwe vir een. Jip, die DA (Ina). Elke keer as sy n vraag moes beantwoord of n stelling moes maak het sy so al om die vloer gedans maar nooit in die middel nie. COPE, ACDP en VF+ het reguit geantwoord en volgense hulle beleid. Ek stem nie saam met van COPE se beginsels en morele waardes nie en die ACDP het so een hak plekkie wat ek nie van hou nie maar was die VF+ nie daar nie, sou ek ACDP gestem het. Die jaar, VF+ verseker.

Cherokee ·

Morrie, ek hou daarvan om te lees dat jy weet waarvoor jy wil stem, watter beginsels verskillende partye handhaaf en wie van hulle praat jou taal. Die kompliment is nie omdat jy dieselfde party as ek ondersteun nie maar omdat jy een van min is wat voor die tyd weet waarvoor jy stem wanneer jy daardie kruisie maak. As jy my al voorheen gelees het weet jy dalk dat ek sê mense behoort eksamen te skryf eer hulle kan kwalifiseer vir stemreg. Volpunte vir jou.

Stan ·

Die DA lede vergeet gou hulle is eintlik die ou NP wat ons in hierdie gemors gekry het.
Nee dankie DA.
As wit entrepeneur sukkel ek reeds met die rasse wette (BEE) om ‘n bestaan te maak en dan kan ek nog my eiendom waaraan ek so lank betaal verloor deur nog ‘n wet wat julle steun.

Cherokee ·

SUG :-( .. Stan, iemand was eendag, nie lank terug, dom genoeg om te sê die HNP bestaan steeds en is nou die DA. Ek het daardie kommentator gevra om van feite vergewis te wees eer kommentaar gelewer word in ‘n openbare forum. En nie so ‘n gek van homself te maak nie.
Stan, die DA het geveg teen die Nasionale Party (hoop jy weet dìt is waarvoor NP staan) as die Progressiewe Federale Party onder leiding van Helen Suzman en Van Zyl Slabbert. Húlle, die DA is die afstammeling van die PFP wat gestig is om te veg vir swart oorheersing.

Rupert Ashford ·

@Cherokee: Stem nie altyd 100% met jou saam nie, maar dit is lekker om iemand te sien wat die geskiedenis ken…?

Stemmer ·

DA………. gaan my stem by die deur uit vir julle – al wat vir ons ou nasietjie oorbly om ‘n paar stemme te waarborg in die Sirkus tent is maar om die VF+ te ondersteun. Eintlik wil ek nie eers gaan stem want mens vra – wat help dit tog, ons is lankal in ons maai – maar wat, sal maar die ou kruisie gaan trek en hoop dit maak tog ‘n verskil.

Ben ·

Ek sal nie weer vir die DA stem nie. Wat ‘n gemors was die Patria de Lille saga. Dit is uiters onprofessioneel om party sake in die openbaar te bespreek. Hoe vinnig is hulle om die prys van Kaapstad se water op te sit? Soos hierbo genoem is stil gebly oor hoe ons kos voorsieners vermoor word, geen grond beskikbaar gemaak vir nuwe uitbreiding vir armes nie. Geen daadwerklike beplanning nie. Die DA nie is staat om die RSA te regeer nie. Dit sal in die belang wees van almal as die Weskaap afstig van die RSA. Die blote feit dat daar werkloosheid is in enige land dui aan op swak land’s bestuur. Suid Afrika is vir almal. Al wat die politieke partye doen is om Rasse haat aan te blaas. “What a mess?”. Die uitslag is eenvoudig – Die ANC gaan wen maar ek betwyfel of daar ‘n volgende verkiesing sal wees. Daar is eenvoudig nie genoeg geld om die “Gravy” trein en al die jobs vir die maatjies te onderhou nie. “Ministery of Women”, ESKOM, SABC, SAL ens, die absolute wetteloosheid van die mense wat kamstig betoog en fabrieke afbrand, eiendomme beskadig en ons staan almal en kyk? Hulle brand skole en Polisiestasies. Wat is volgende op die menu – Die Unie geboue? “South Africa needs better Leaders”. Die VSA se model van 2 politieke partye werk dalk beter?

Michiel ·

Die VF+ het culturele selfbeskikking as prioriteit. Dit is my prioriteit.

Liza ·

Kulturele selfbeskikking verleng die pyn van uitwissing. Ons benodig geografiese selfbeskikking om te oorleef.

Grys ·

ANC sal nie in 2019 verloor nie, dalk slegeter doen, maar nie verloor nie, grootkans dat die EFF beter sal doen as die DA met 12% vir EFF en dalk so min as 8% vir die DA, al het die DA reggekry om sterker te grooi, hulle leierskap is baie swak, die enigste leierskap ryk party is COPE en IFP, ANC se leiers dalk goed en invloedryk, maar in groot moelikheid en gaan begin voute maak om hulle self te red. ANC gaan wen, wat daarna kan ly na erge konflik met EFF… VF+ is nie in die posisie om enige iets reg te kry nie( as die EFF 10% stemme ontvang is dit oor die 2miljoen, ons is net 2miljoem)[en ons weet hulle is ANC puppets] moet nie jou tyd mors nie, hou jou passport reg en jou family veilig. Leer uit die voute van die verlede, kan nooit oor bevoorberied wees nie. Veilig wees julle.

C du Plessis ·

Artikels soos hierdie maak my eintlik hartseer.

Die DA se wit en bruin parlementslede, wetgewerlede en Raadslede weet en verstaan wat die DA beleid behels. Hulle weet die DA se sprokie-slagspreuk “Een Suid-Afrika vir Almal” kan NIE bereik word met hulle beleid nie.

Hierdie DA-lede is besig om ‘n baie gevaarlike speletjie te speel met die hoop dat die DA altyd die wit en bruin kieser as die “kwota’s” gaan hou vir die sprokie “DA Prentjie”.
Moet nie jouself mislei nie Ina Cilliers.

Die kanse is groot dat jy nog net 5 jaar oor het.
5jaar wat daar baie groot besluite in Suid-Afrika gemaak moet word.

Dink twee keer voor jy kiesers probeer oorreed om DA te stem. As die DA jou uitwerk oor 5 jaar, het jy dalk nie die geleentheid om daai kieser weer te bereik nie.

Andre ·

Die DA se stigters en ondersteuners sit 99% in oorsese lande! Hul beleid en waardes is ook van pas vir ‘n oorsese liberale land soos Engeland … dit pas nie by ‘n 3de wêreld land nie.

Hoop die DA se buitelandse ondersteuners gaan vir hulle stem want ons ‘locals’ gaan nie weer vir hulle stem nie.

Ons gaan VF+ stem!

Ná 22 jaar onder ‘n DA Wyksraadslid het Wyk 56 (Pretoria) verval tot ‘n krot area … min straatligte … baie rommel …. geen potyster mangat deksels oor nie … slaggate … slordige straatbome en ongesnyde gras.

Die parke is vol huislose mense … soos elke brug en vlei!

Strate en sypaadjies ruik alles na menslike uitskeidings!

SKANDE dat die DA dit waag om ons stemme te vra!

Buite Stander ·

Andre, die ANC regering is ook verantwoordelik vir die verval. Onwettige immigrante stroom vrylik oor die landsgrense en plak in ons stede. Die staat beplan ook nie vir ordelike verstedeliking nie. Mislukte nasionale planne skep nie werk nie wat tot meer plakkers lei. Stede is basies een groot sosiale rioolstelsel. Die nasionale regering se geldelike hulp aan munisipaliteite droog op. Belastingbetalers kan ook nie verder belas word om meer fondse beskikbaar te stel nie vir onderhoud nie. Hou vas, dit gaan net erger raak, ongeag wie ons stede en dorpe beheer.

rollie ·

Is die VF+ nie in koalisie-regering in Pretoria nie? Hoekom doen hulle nie hul werk om die “verval” te keer nie? Jy sal maar moet ANC stem as alternatief om die verval” in dienste om te swaai want dis die enigste ander keuse.

Stem asseblief ·

@Gys:
Ek kyk nog die kat mooi uit die boom uit. Mag ek net vra … Verduidelik asseblief wat jy bedoel met: “ons is net 2 miljoen”?

Judge Dredd ·

@Daan – pensioene vir oumense is nie sosialisme as daardie ou mense 30+ jaar aan ‘n pensioen fonds bygedra het – Dan is dit kapitalisme en mense wat geregtig is op hul 30+ jaar beleggings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.