Waarom gaan AfriForum hof toe oor Afrikaans?

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Die afgelope twee weke was AfriForum in die hooggeregshof in Bloemfontein (saam met Solidariteit) sowel as Pretoria met twee soortgelyke regsaksies.

In die eerste helfte van 2016 het die Universiteit van die Vrystaat (UV) sowel as die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) besluit om ʼn nuwe taalbeleid te aanvaar wat Afrikaans as primêre taal van onderrig uitfaseer.

In albei gevalle het studente, voornemende studente, hul ouers, alumni en dosente met groot skok gereageer en AfriForum versoek om teen die besluite op te tree.  Die enigste opsie was telkens om tot regsaksie oor te gaan.

In die geval van UV het AfriForum en Solidariteit die saak teen die nuwe taalbeleid gewen – ʼn volbank regters het op 21 Julie 2016 ʼn uitspraak gelewer waarin onder meer bevestig is dat die nuwe beleid ongrondwetlik is, dat dit studente van toegang en taalregte ontneem en dat die universiteitsraad en senaat se aanvaarding daarvan tersyde gestel moet word. Ten spyte van dié klinkklare uitspraak het die universiteitsbestuur besluit om appèl aan te teken en intussen met die implementering van die nuwe beleid begin. Herhaalde versoeke van AfriForum dat met die implementering gewag word tot die appèl afgehandel is, het op dowe ore geval.

By Unisa is baie studente steeds in die duister oor die nuwe beleid. Daar was geen konsultasie met hulle oor die nuwe beleid nie. Ook hier het ons gevra dat met implementering gewag word tot die grondwetlikheid van die nuwe beleid in die hof getoets kon word, maar Unisa se bestuur het hulle ewe min hieraan gesteur.

Weer moes ons hof toe gaan om die twee implementeringsprosesse te stuit. In die geval van UV het ons opnuut gewen en toe appelleer die bestuur sowaar weer. Wat Unisa betref hoor ons vandag (21 September 2016) of ons hofaansoek suksesvol was.

Die hofprosesse en argumente is baie interessant, maar ewe belangwekkend is die vrae wat die publiek en media oor ons sake stel. Die meeste van die tyd weerspieël dit entoesiasme onder Afrikaanssprekendes wat kundig oor die belang van taalregte is. Ook nie-Afrikaanssprekendes stel belang omdat hulle besef nie alleen Afrikaans nie, maar ook die toekoms van ander inheemse Suid-Afrikaanse tale hang van hierdie sake af. As ’n volledig ontwikkelde, hoëfunksie taal soos Afrikaans nie meer ruimte op tersiêre vlak gegun word nie, is die kans dat ’n ander inheemse taal tot hierdie vlak sal ontwikkel en gebruik word, skraal. Engels sal soos ’n vloedgolf oor die tale stroom – hoewel sowat 90% van die Suid-Afrikaanse bevolking nie Engels-moedertaalsprekers is nie.

Ná afloop van elke saak is daar egter ook herhaalde vrae wat van onkunde oor taalregte en die belang van moedertaalonderrig spreek. Dit is nodig om ook hieraan aandag te gee, want ʼn gebrek aan kennis is dikwels die grootste vyand van taal in die land. Hiermee dan ’n paar van die vrae en ons antwoorde daarop:

  • Waarom bestee AfriForum geld aan die hofsake?

Soos die UV-hofuitspraak bewys het, is dit noodsaaklik om die grondwetlik en internasionaal erkende taalregte van Afrikaanssprekendes te beskerm. Die aksie lê dus direk op die weg van ’n burgerregte-organisasie soos AfriForum. Afgesien daarvan is dit ook ’n belegging in die toekoms van Afrikaanssprekendes.  Internasionale studies het onteenseglik bewys dat waar ’n taal in onderrig gebruik word, die moedertaalsprekers baie beter vaar. Moedertaalsprekers is geneig om langer aan te hou studeer en hulself beter te kwalifiseer. Dit beteken ook minder werkloosheid onder dié groep en dus nie net vir hulle nie, maar vir die land as geheel meer ekonomiese voorspoed. Die moedertaalstudente ontwikkel ook ʼn sterker redenasievermoë en gesonde selfbeeld. ’n Keuse vir moedertaal is dus ’n keuse vir die ekonomiese en emosionele welvaart van die sprekers daarvan.

  • Maar Engels is tog die wêreldtaal?

Om in moedertaal onderrig te word beteken tog nie dat jy skielik afleer om Engels te praat nie? Letterlik honderdduisende Afrikaanssprekendes wat net in Afrikaans gestudeer het, woon tans in die buiteland en geniet ongekende internasionale sukses. Nog meer woon in Suid-Afrika, maar kan sonder probleme plaaslik en internasionaal funksioneer. Die rede is juis omdat ons in moedertaal studeer het – ons het geleer om meertalig te funksioneer, wat beteken ons leer meer tale makliker aan en is meer aanpasbaar in die werkplek as die persoon wat lewenslank in ’n eentalige Engelse omgewing gefunksioneer het. Een van my helde is dr. Japie van Zyl, direkteur van Sonnestelselverkenning by Nasa. Hy het in Afrikaans gestudeer aan die Universiteit van Stellenbosch en verklaar onomwonde dat sy Afrikaanse agtergrond hom nog nooit gepootjie het nie … en vir hom is die sterre letterlik die grens. Afrikaans word onderrig aan universiteite in België, Nederland, Pole, die VSA en meer. Persoonlik kon ek uiters min bereik met Engels in groot wêreldstede soos Brussel, Genève, Dresden, Keulen, Aachen en Rome. Daar het Frans, Afrikaans en ʼn ver terugval na Duits en Latyn op skool gehelp! (Terloops, taalkundiges bereken dat Frans teen 2050 Engels gaan verbysteek.)

  • Al die handboeke in my kind se kursus is in elk geval in Engels

Die verskil is dat indien die kind in Afrikaans studeer, die leermateriaal in Afrikaans verduidelik word. Hy/sy het dus die voordeel om die begrippe in sy/haar moedertaal te verstaan en terselfdertyd ook die terminologie in Engels aan te leer. Meertaligheid is ʼn gesogte vaardigheid in die nasionale en internasionale werkplek. Jou kind wen heelpad, met die voordeel dat hy/sy denke oor die vakgebied duidelik kan formuleer en nie net kennis memoriseer nie!

  • Hoekom dan hofsake oor openbare instellings? Bou eerder eie instellings!

Afrikaans is ʼn hoofstroomtaal en word al dekades lank in alle vakgebiede as taal van onderrig en navorsing gebruik. Afrikaanssprekendes betaal belasting wat aangewend word om openbare instellings te befonds. Ons het ʼn reg om in die hoofstroom geakkommodeer te word. Ons het ook ʼn reg en ʼn behoefte om private instellings soos Akademia en Soltech op die been te bring. Dit verg baie tyd en hulpbronne.  Ons moet die een doen, maar mag nie die ander nalaat nie.

  • ʼn Argument vir Afrikaans ontsê ander studente van toegang tot onderrig

Allermins. By UV en Unisa is die kursusse wat in Afrikaans beskikbaar is, ook in Engels beskikbaar. By albei instellings is daar egter ook studente met beperkte blootstelling aan Engels wat toegang sal verloor as hulle net in Engels moet studeer.  ʼn Tutor of woordelys is nie genoeg om hulle te red nie. Hulle universiteitsjare gaan hulle help groei na meertaligheid, maar almal is nie ewe vaardig in Engels ná matriek nie. Dit beteken nie mense is dom nie en ook nie dat hulle van hulle regte ontsê mag word nie.

  • Dit is nie ʼn universiteit se plig om ʼn taal lewend te hou nie.

Elke taal het ʼn unieke, eie kennisstelsel wat daarmee gepaardgaan. Dit ís die plig van ʼn universiteit om kennis te bevorder. Moedertaalonderrig is die beste vorm van onderrig. Dit ís die plig van ʼn universiteit om uitnemende onderrig te bevorder. Prof. Danie Goosen wys dikwels daarop dat universiteite se plig is om hul gemeenskappe te dien, en nie om ʼn blote sakeondernemings te wees soos wat deesdae so dikwels gesien word nie. Hoe kan ʼn mens jou gemeenskap beter dien as in die inheemse taal of tale?

  • Meertalige onderwys is duur en die universiteite sukkel finansieel

By gebrek aan moedertaalonderrig besluit baie studente om nie te studeer nie, of nie nagraads aan te hou studeer nie, of nog erger, hulle staak studies of druip. Die ekonomiese koste hiervan vir universiteite en die Suid-Afrikaanse ekonomie is onberekenbaar. Die Afrikaanse student wat goed vaar in Engels, sou waarskynlik nog beter gevaar het in Afrikaans, wat toegang tot beter beurse, of keuring vir nagraadse studie sou kon beteken. My teenvraag is of Suid-Afrika kan waag om nie moedertaalonderrig op elke moontlike wyse te bevorder nie?

  • Eentalige onderwys gaan nasionale eenheid en stabiliteit bevorder

Allermins. Die mees stabiele lande sover dit politiek en ekonomie betref, is lande wat hul gemeenskappe se taalregte erken en bevorder. In die groot oorloë van die twintigste eeu, insluitend die volksmoord in Rwanda en die verbrokkeling van die voormalige Joego-Slawië, het die ontkenning van taalregte ʼn belangrike rol gespeel.  Die uitbou van taalregte word internasionaal dus juis gebruik om eenheid, respek en vrede te bevorder.

————-

Die regsaksie duur voort.  Soms wys die universiteitsbesture se ideologiese onderrokke, soos wanneer UV se advokaat sê ʼn minderheid (“a little pocket of people”) moet nie arrogant wees en aanhou regte opeis nie. Of as Unisa se bestuur sê hulle het niks gedoen om nege inheemse amptelike tale te ontwikkel nie en dus mag die tiende ontwikkelde taal, Afrikaans, ook nie gebruik word nie. Met ander woorde, straf die taal omdat dit ontwikkel is. Gaan dit hier oor koste, toegang, bemagtiging, of nasionale eenheid? As ek na die argumente kyk, dan nie. Dit is ʼn stiksienige ideologiese stryd teen Afrikaanssprekendes wat nie net die wit, bruin en swart moedertaalsprekers van Afrikaans duur te staan kan kom nie, maar onberekenbare skade vir alle Suid-Afrikaners se toekoms mag inhou. Om dié rede staan AfriForum, Solidariteit en ons regspanne vas om die regte van Afrikaanssprekende studente tot op die hoogste vlak te beskerm.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

JC ·

Mooi Alana!
Ek hou van wat jy se! (en enige regdenkende mens, insluitende Regters, sal beslis 110% saamstem)
Hou aan veg! CARPE DIEM!!

Susan ·

Vir die eerste keer verstaan ek ook nou mooi waaroor dit gaan. Dankie hiervoor!

Theuns ·

Baie Dankie Alana. Dit is ‘n uitstekende artikel en dankie omdat julle veg vir Afrikaans! Gee ons moed vir die toekoms!
Boere Groete.

Uvonka ·

Ek as Engelssprekende sal saam staan vir Afrikaans. Dit is ‘n mooi taal, so ekspressief. Dit gaan my verstand te bowe dat daar mense is wat dink hulle het die reg om te besluit in watter taal onderrig moet geskied. Alle mense het die reg om in hulle moedertaal onderrig te word. Viva Afrikaans!!!!!

Japie ·

Ek dink Agriforum en Solidariteit behoort baie meer erkenning van hul mense te kry as wat huidig die geval is. Mag ek namens my mede volks en taalgenote hierdie Burgeregte Organisasies bedank uit die diepte van ons hart vir die harde werk wat agter die skerms gedoen word!!
Kom ons moedig meer van ons mense aan om hul gewig in terme van bydraes en ondersteuning aan hierdie volks vriendelike instansies te verleen. Kom ons mobiliseer mense, ons sal slegs slaag as ons uit een mond en uit een gesagsposisie funksioneer. “Eendrag maak Mag”.

JC ·

Amen Japie! So ‘n bek moet jem kry!
Eendracht maakt macht!!

Johann ·

Ek sien nou die dag dat Namibië wat van 2001 af net Engels as voertaal in al hul skole gehad het, gaan nou daarmee wedoen, daar hulle ook besef het dat moedertaal onderrig die beste is. As ek reg het is daar 6 hooftale in die land en sal die skole se beheerliggame vorentoe self kan besluit watter taal die betrokke skool as voertaal sal gebruik.

nama ·

Johann, ek is regtig nuuskierig waarop jy jou stelling grond. Gee asb die bron.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.