Waarom is Schweizer-verkiesing so belangrik vir die DA, VF Plus?

Schweizer-Reneke. Foto: Skermskoot/Google Maps

Vandag vind ʼn herverkiesing in die Mamusa-munisipaliteit (wat Schweizer-Reneke insluit) plaas. Dit beteken dat proporsionele- en wyksraadslede vir die hele munisipaliteit verkies word. Die raad is die afgelope Oktober ontbind nadat dit reeds gedurende Mei verlede jaar onder administrasie geplaas is.

In die laaste munisipale verkiesing het die ANC 11 setels in die Mamusa-munisipaliteit ingepalm, die Forum for Service Delivery het drie setels verower, die EFF twee en die DA en VF Plus een elk. Waarom is die media – spesifiek die Afrikaanse media – se oë dan so gefokus op wat vandag in Schweizer-Reneke tussen die DA en die VF Plus gebeur terwyl hulle die twee kleiner partye in die raad is?

Die eerste rede begin by ʼn plasing op sosiale media deur die DA se jeugleier, Luyolo Mphithi in Januarie 2019. Hy het ʼn foto gedeel waar wit en swart gr. R-leerlinge afsonderlik in ʼn klas by ʼn skool in Schweizer-Reneke sit. Die foto is deur ʼn graad-R-onderwyseres, Elana Barkhuizen geneem. Die foto was die van ʼn kollega se klaskamer.

Die foto wat ‘n herrie veroorsaak het. Foto: Twitter

Dié voorval het tot ʼn rasseherrie in die gemeenskap gelei en, alhoewel die juffrou se onskuld deur ʼn hof beslis is, het die DA selfs tot ná die verkiesing geweier om verskoning te vra – ongeag verskeie aanduidings dat dit die party skade gaan berokken. Die tussenverkiesing, wat vandag in die Mamusa-munisipaliteit plaasvind, word dus wyd beskou as ʼn belangrike steekproef om vas te stel of die DA se beeld onder Afrikaners herstel het en of die VF Plus hul sukses in tussenverkiesings gaan voortsit.

Die VF Plus het sedert die afgelope nasionale verkiesing wyksetels tydens tussenverkiesings in Potchefstroom en Stilfontein by die DA afgeneem. Beide in die Noordwes-provinsie – nes Schweizer-Reneke.

Daar is ʼn duidelike afname te bespeur in die DA se steun tussen die munisipale verkiesing in 2016 en die nasionale verkiesing in 2019. Alhoewel dit gevaarlik is om vergelykings te tref tussen munisipale en nasionale verkiesings, kan die afleiding tog gemaak word dat die DA steun na die VF Plus verloor.

(Foto: Demokratiese Alliansie/da.org.za)

Die DA het duidelik hierdie selfde tendens opgemerk en die groot kanonne na Schweizer-Reneke ontplooi in ʼn poging om moontlike verlore steun weer terug te wen. Die party se tussentydse leier, John Steenhuisen, het kort op die hakke van die party se federale voorsitter, Helen Zille, die gemeenskap besoek. Dit is twee redes waarom die VF Plus nie te gerus kan raak nie. Die DA is nie meer uitgelewer aan die onbeskaamde gevry na swart steun ten koste van wit kiesers soos onder die leierskap van Mmusi Maimane gebeur het nie en Steenhuisen en Zille is aansienlik meer gewild onder wit kiesers as die vorige leier.

Verder waarsku prof. Andre Duvenage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit dat die VF Plus se voetsoldate nog nie so georganiseerd is soos die DA op plaaslike vlak nie en slaag die DA ook daarin om kandidate te stel wat ʼn hoë profiel in die gemeenskap geniet. Volgens Duvenage kan die DA na die toneel terugkeer indien hulle hul kaarte reg speel. Dit sal egter harde werk verg.

Nog ʼn belangrike rede is om te sien hoe die ANC en die EFF in die verkiesing vaar.

Die ANC het ʼn redelike sterk houvas op landelike gemeenskappe en terwyl die DA, met koalisievennote soos die VF Plus, ACDP en COPE, daarin slaag om metro’s by die ANC af te rokkel, is die sukses in plattelandse gemeenskappe nog yl gesaai. Dit is belangrik om te sien of die ANC se houvas besig is om af te neem en of die ʼn koalisie van opposisiepartye dalk ook in die platteland kan regeer.

Vandag se tussenverkiesing is dus baie belangrik, nie net vir Schweizer-Reneke nie, maar ook vir die breër Suid-Afrikaanse politieke landskap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Die DA jeug leier het net die linker voet uit die bek uitgehaal, sodat hy die linker voet kon inkry. Jy verwag sukke goed van die ANC en die EFF, maar nie van die DA. En waar is ou Luyolo Mphithi vandag? Hy sit in die Parliament met ‘n lekker vet salaris. Na sy uitlating oor Elana Barhuizen sou mens dink die DA sou hom gepos het….maar nee hulle vat hom Parliament toe!

JohanR ·

Ek skuus mense….het laat wakker geword! Die linker voet vir die regter voet.

aj ·

Goeie artikel DANKIE James!

Wat my bekommer is of die OVK se ‘spook kiesers’ nog steeds op die kieserslys is … soos by Potchefstroom … om wéér die verkiesing te swaai?

John ·

Partye maak die fout om net voor verkiesings vol bravade op te daag en dan op groot stemsyfers te hoop. Die DA en die VFPlus glo die Kaap is hul forte en vergeet die goeie kwaliteit hardwerkende spanne elders. Die VFPlus het ‘n onvergeeflike sonde gepleeg deur adv Anton Alberts iewers op die Rand in ‘n kas te gaan toesluit omdat hy as ‘n bedreiging vir die Mulder ‘clan’ gesien word. Hy troon bo almal uit. Hulle kan vergeet van my stem.

Dalené ·

Stem 100% saam met jou JOHN! Ook maar lekker onderlinge faksie- gevegte ini VF+

Ig ·

Ek sou nie ‘n algemene tendens in hierdie Noord-Wes tussenverkiesings probeer inlees nie. Die ou Wes-Transvaal was die ou Konserwatiewe Party se hartland en ek kon nog nooit verstaan hoe al daardie aarts KP’s skielik liberaal geword het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.