Waarom moet die US Afrikaans red?

Universiteit van Stellenbosch. Argieffoto.

Universiteit van Stellenbosch. Argieffoto.

Wat het presies Sondagaand tydens die noodvergadering van die Uitvoerende Komitee van die Stellenbosse Universiteitsraad gebeur? Dié vergadering is gehou nadat die rektor, prof. Wim de Villiers,ʼn nuwe taalbeleid bekend gemaak het waarvolgens Engels die primêre onderrig- en kommunikasietaal aan die US word, met Afrikaans in ʼn ondergeskikte posisie. Die nuwe beleid sou nog aan die US-Raad – die hoogste gesag – vir goedkeuring voorgelê word, maar in beginsel sou die nuwe situasie al vanaf begin 2016 geld.

As ʼn mens slegs kyk na die verklaring wat daarna uitgereik is, lyk dit asof die vergadering – uiteraard sonder om dit so reguit te stel – die rektor gerepudieer het. Die “huidige bestuursdokument” is slegs die “US-bestuur se perspektief” en geen beleidsdokument nie.

Volgens die verklaring geld die taalbeleid, wat die Raad vroeër vanjaar goedgekeur het, te wete ʼn gelyke status vir Afrikaans en Engels, steeds vir 2016. Enige verandering daaraan “moet volgens statutêre voorskrifte” geskied – overgezet zijnde, die Raad moet dit goedkeur.

Dié verklaring is egter uitgestuur saam met ʼn ander een, onder die naam van Susan van der Merwe, woordvoerder van die US, waaruit ʼn ietwat ander gees gespreek het.

Dit is nie korrek om te sê die bestuurspan het sy verklaring teruggetrek nie, het sy gesê en bygevoeg (lees noukeurig): “Die bestuur is ten volle bewus daarvan dat sommige uitgangspunte in hierdie verklaring veranderings aan die huidige taalbeleid en -plan mag vereis en bly daartoe verbind om die voorgeskrewe proses te volg om sodanige voorstelle ter tafel te lê by die tersaaklike statutêre liggame voordat dit by die raad ingedien word.”

As ʼn mens deur die (doelbewus?) ingewikkelde en ondeursigtige formulering kyk, word dit duidelik dat die rektor sy middelvinger vir die Uitvoerende Komitee wys. Goed, lyk dit asof Van der Merwe sê, die gelyke status van die twee tale bly dan vir aanstaande jaar gehandhaaf, maar die rektor sien nie af van sy voorneme om Afrikaans ten gunste van Engels af te gradeer nie. Hy sal dan wel die korrekte prosedure volg.

Wat dus duidelik is, is dat ʼn aanslag gedeeltelik afgeweer is, maar dat ʼn tweede aanslag vasbeslote voorberei word. Die rektor sal dan waarskynlik versigtiger wees om die korrekte prosedure te volg, maar hy sál die universiteit Engels maak, kom wat wil.

Heelparty ironieë is aan hierdie saak verbonde.

Reeds vroeg in die eeu, nadat prof. Chris Brink Afrikaans se posisie aan die US begin terugdring het, het ek opgemerk dat die voor- en teenstanders van ʼn (hoofsaaklik) Afrikaanstalige universiteit by mekaar verby praat.

Waar die voorstanders van Afrikaans oorwegend (maar nie uitsluitend nie) op akademiese en pedagogiese argumente gesteun het, het die Afrikaans-afbrekers hoofsaaklik ideologiese redenasies gebruik. Die enkele keer of twee dat laasgenoemdes hulle op akademies-pedagogiese terrein begeef het (ek dink byvoorbeeld aan prof. Anton van Niekerk) het kenners soos prof. Hermann Giliomee die vloer met hulle gevee.

Dieselfde verskynsel doen hom nou weer voor.

Waarom moet die US Afrikaans red? is die retoriese vraag van De Villiers. En: Afrikaans sluit uit. Dit perpetueer rassediskriminasie en apartheid, sê sy ondersteuners. Daarteenoor is daar aan dié kant slegs ʼn dawerende stilte wanneer jy met wetenskaplike bewyse oor moedertaalonderwys kom. Dis nie dat die De Villiers-ondersteuners teenargumente het nie; hulle ignoreer jou gewoon.

Aan die Universiteit van Delft in Nederland het dr. Diana Vinke (tans dosent aan die Universiteit van Eindhoven) byvoorbeeld ʼn dekade gelede ʼn doktorale proefskrif oor die gebruik van Engels as onderrigmedium aan Nederlandse universiteite geskryf. Haar gevolgtrekking was dat die druipsyfer in sekere kursusse as gevolg van die gebruik van Engels van 16 tot 29% toegeneem en dat die persentasie “uitstekendes” van 25 tot 13 gedaal het.

Dit het gebeur omdat die studente nie in hul moedertaal kon studeer nie.

Ek het sedertdien dié gevolgtrekkings in meer as een publikasie weergegee. Nou sou dit heeltemal legitiem wees as iemand my daarop kon wys dat ek Vinke se gevolgtrekkings verkeerd voorstel, dat Vinke se navorsing gebrekkig was, of so iets. Maar niks daarvan nie.

Dit het eenvoudig by die Engels-drywers verbygegaan. Die Vinke-navorsing is geïgnoreer.

Daar is ook ʼn yslike hoeveelheid taalsosiologiese ondersoeke van swaargewig-akademici soos Jean Laponce, Joshua Fishman, François Grin en ander, wat die proses van taalverplasing op allerlei vlakke elders in die wêreld noukeurig ondersoek het. Hier te lande het ook Jaap Steyn hom daarmee besig gehou.

Hulle is dit eens dat taalverplasing ʼn geleidelike proses is waarvolgens ʼn taal steeds meer prestigeverlies ly namate hy uit die hoër funksies uitgedruk word, totdat hy ten slotte slegs as patois tuis gepraat word.

En selfs dan sal die middelklas die taal verlaat omdat dit geen ekonomiese of sosiale toekoms bied nie. Ten slotte sal die taal slegs in arm gemeenskappe, oorwegend op die platteland, gepraat word.

Dit gebeur nie oornag nie. ʼn Engelse Stellenbosch vandag beteken nie dat Afrikaans môre nie meer gehoor sal word nie. Dit gebeur oor jare heen, maar die verengelsing van die universiteit is wel ʼn kragtige impuls vir die proses.

Daar is talle voorbeelde elders in die wêreld waarop die taalsosioloë hul bevindings baseer. ʼn Mens dink aan die kreeftegang van die Keltiese tale in Brittanje, Ierland en Frankryk, Occitaans en Vlaams in Frankryk, Indiaanse tale in Amerika, Khoi-tale in Suid-Afrika (wat, ironies genoeg, deur Afrikaans doodgedruk word), ensovoorts.

Die Afrikaans-voorstanders kom ook met die korrekte waarneming dat ʼn Afrikaanstalige instelling – ja, selfs ʼn eentalig Afrikaanse een – uitdruklik aan artikels 6(4) en 29(2) van die Grondwet voldoen.

As ʼn mens die verengelsingsproses van Stellenbosch en ander universiteite teen dié agtergrond bekyk, kry jy eenvoudig géén antwoord nie. Al wat iemand soos Max du Preez kan doen, is om geïrriteer op te merk dat ek en Breyten Breytenbach maar ons bekke moet hou omdat ons in die buiteland woon.

En ander betoog, ontwrig klasse en skree oor diskriminasie. Dít is die peil waarop die Engels-voorstanders debatteer. Dis bedroewend, om die minste daarvan te sê.

Wat die huidige posisie des te wranger maak, is dat die Afrikaans-voorstanders die akademiese debat elke keer loshande wen, maar die politieke debat verloor. Daarvoor kan ʼn mens twee redes aanvoer.

Ten eerste staan die ANC en die gepeupel met hul intimidasietaktiek agter Engels. En tweedens het De Villiers en sy bestuurspan se ruggrate in jellie verander. Dis ʼn harde oordeel. Maar wel akkuraat.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ludwig Visser ·

Ruggraat in jellie? Nee, die man hét geen ruggraat meer nie! Nie eens een van jellie nie!

Gerrie ·

De Villiers se optrede laat my dink aan : benoude katte maak benoude spronge

ada ·

die rektor het ook gese dat hy us internasionaal wil laat uitstyg. dit is klaar internationaal. baie afrikaanse studente wat graad gekry het by us is internationaal bekend. lyk my wim wil dit stop. hy is n pion en marrionet wat rondgeskuif word. wonder wat was hy belowe….

Kaspaas ·

Daar is genoeg Engelse/zulu universiteite vir diegene wat te onnosel is om Afrikaans te kan verstaan. As mens te onnosel is om ‘n basiese taal soos Arikaans te kan verstaan is daar ‘n goeie kans dat hulle glad nie gaan beter vaar in Engelse nie. Word Afrikaans nie maar net hier as ‘n scapegoat gebruik om hulle power punte te regverdig nie ?

Leendert van Oostrum ·

English: the language of colonialism
Stellenbosch: the home of the colonized mind

Gerhard Burger ·

Die geskrif van Leopold is na my mening nie net in alle fundamentele opsigte ‘n juiste weergawe van dit wat tans aan die US aan’t gebeure is nie, maar ook ‘n raak beskrywing daarvan en oor die wetenskap daaroor. Natuurlik wil mens nie altyd godsdiens en politiek by alle debatte bytrek nie. Nie dat ek godsdiens-afvallig is nie, inteendeel. Maar, gode sy dank het eersgenoemde nie ‘n rol hier te speel nie, maar politiek inderdaad. Soos ek in my kommentaar elders (waar die sogenaamde relevante Dept die ‘voorstelle’ van die rektor ondersteun het), genoem het: die politiek-ideologiese doelwitte en dus dryfvere is na my mening vierkantig verantwoordelik vir die ontaarding van ‘n situasie wat op totaal ander wyse hanteer moes EN kon geword het. En, belangrik, daarom waarskynlik nie eers in die debakel van nou sou ontaard het nie. Intussen het hierdie ontaarding ‘n geweldige verwikkeling tot gevolg gehad waarvan die negatiewe impakte reeds problematies is, maar verder kan uitkring. Politieke gedienstigheid, of ‘n verbeelding daarvan, soos die bestuur aan die US tans toon, gaan ongetwyfeld hard (en negatief) op meerdere terreine in die praktyk tref, en ingegelyks deur die geskiedenis beoordeel word – gegewe die magdom van getuienis (akademiese studies en ervaring, en les bes historiese nalatenskappe), soos deur Leopold en andere genoem, wat aan almal, insluitend de Villiers en die raad – wat uiteindelik nog moet besluit, beskikbaar is. de Villiers, synde ‘n mediese wetenskaplike, en by implikasie ‘n navorser – daarby ‘n persoon in ‘n uiters verantwoordelike posisie, moes geweet het of ten minste gedink het. Dan, in die laaste instansie, uit hoofde van hulle posisie van uiteindelike besluiters, MOET VERAL DIE RAAD WEET EN DIT IN AG NEEM. Enigiemand met ‘n gebalanseerde en ingeligte uitkyk het geen ander keuse as om Max du Preez se getjommel een kant te laat nie. In sy rubriek laasweek (14/11/2015), het hy hom direk opgestel teen Leopold en Breyten wat op ‘n feitelike basis argumenteer. Daarenteen was Max se oproep oor die kruising van die Rubicon deur die US was op grond van ‘n styl van debatvoering volgens die standpunt innames van die Vrye Weekblad teen ‘n onbillike politieke bestel gegrond op historiese rassediskriminasie wat lank voor 1948 begin is, maar hoofsaaklik voor die deur van die sg apartheidsregering geplaas is. Afgesien daarvan dat so ‘n rasbeleid ex post facto verkeerd is, was belangrike historiese en eietydse feite in die beoordeling (veroordeling) daarvan een kant gelaat. Bloot ignoreer! Waarom? Dit sou verkeerd wees om gebalanseerd en eerlik met die feite (histories en teenswoordig) om te gaan. Waarom? Dit sal vernietigend inwerk op sy (Max) se een snaar getokkel. Want, ek, Max du Preez, werk eintlik net vir een ou, en dit is Max du Preez. Natuurlik is ek jammer dat hierdie kommentaar van my deel vorm van sy suurstof. Maar, tot sy skandelike erkenning vorm Die Burger, wat met Afrikanergeld tot stand gekom het en met Afrikaanse geld in stand gehou word en wat aan Max die geleentheid bied om teen-Afrikaanse gemors kwyt te raak, ‘n besondere bron van suurstof vir Max. Max het met die oorsteek van die Rubicon deur die US weereens hard en duidelik gewys dat hy ‘n totale verontagsaming toon van die historiese en eietydse feite. Waarom? Geen mens met verstand weet nie. Dalk is Max bang hy verloor sy gewaande relevansie. Maar, wat hy nie begryp nie is dat niemand wat teen die manewales van die regerende party, et al (veral die et al- gedeelte, met besonder klem op die Kommunistiese Party), gekant is hom sal verkwalik indien hy hulle ook sal pypkan nie. Allermins die ideologies gedrewe gemors wat tans op die akademiese terrein aanwesig is nie. En, allermins ook nie indien erkenning gegee word vir die realiteite ten aansien van dit wat Leopold uiteensit en feitelik bewysbaar is nie. Daarteenoor het Max ‘n tipiese maxie-verslag gerugsteun deur die Afrikaanse koerant, Die Burger, baseer op alles wat akademiese navorsing en praktiese ervaring teenspreek. Hoe belaglik! Op hierdie trant sidder ‘n mens hoe Wim de Villiers ‘en sy span’ by hulle malle gevolgtrekkings en aanbevelings (lees besluite) uitgekom het. Byvoorbeeld, die bedenklike argument dat ‘n universiteit nie die bewaker van ‘n taal is nie. Natuurlik kan dit uit ‘n bepaalde gesigspunt aanvaarbaar wees. Maar, wat egter nie is nie is dat ‘n universiteit in Suid-Afrika onderhewig is aan die grondwet van die land wat juis ook oor taalregte handel. Selfs die Universiteit van Stellenbosch, of Wim en kie (en die doellose minister) dit wil weet of nie, moet dus die grondwet eerbiedig en sodanig optree dat die besondere reg wat ‘n taal verkry het nie vernietig word nie. Aan die US impliseer dit dat die status van Afrikaans nie verminder of vernietig mag word met die instelling en/of gelykstelling van Engels nie. Engels kan dus parallel ingestel word MAAR NIE in plek van Afrikaans nie. So ‘n stap sal waarskynlik as ongrondwetlik aangemerk kan word. Die raad behoort in wysheid op te tree en die beste potensiaal van regsaksie te vermy en in finaliteit Wim en sy voorstelle (weereens – lees besluite) te stuit. Terselfdertyd behoort ‘n mosie van wantroue in Wim oorweeg te word, gegewe sy voortstuwing ongeag alle teensprekende realiteite en sy voortgesette uitdaging van die raad. Ter slotte: een van die belaglikste stellings van die sogenaamde de Villiers-voorstelle is dat Afrikaans en Xhosa as bykomende tale ontwikkel sal word. Ongelukkig het hierdie blad nie die tipiese ‘gesiggies’ wat op ‘Whatsapp’ is nie, anders kon ek nou ‘n toepaslike prentjie bygesit het. En, ek glo nie ‘n ‘gesiggie’ nie. Want, geen poepol met kennis en verstand kan by sy positiewe so simpel redeneer nie. Afrikaans is wyd bekend om haar ontwikkelde (en, soos ander vaktale, steeds ontwikkelende) posisie as wetenskapstaal. Wat op aarde hulle bedoel het weet g’n mens nie. Hierdie stelling van hulle is net so deurdag soos die hele verslag. Die gevolg is dus dat die hele verslag eintlik verdag is.

Johannes Comestor ·

Scholtz se waarneming is in die kol. In die gedrukte media is hy egter ‘n stem roepende in die woestyn.

Trots Afrikaans ·

Die vraag bly duidelik staan: As daar soveel universiteite is vir engels, hoekom stroom hulle na die Afrikaanse universiteite?

Solank as wat ons skole en universiteite in staatsbeheer is sal hulle koloniale aanslag bly met ons wat geen verweer het nie. Soos met die Anglo-Boere oorlog sal hulle bly “troepe” stuur tot hulle ons met getalle oorweldig. Hulle wil alles wat ons is uit delg. Dit is duidelik dat hulle nie Christelike pad van naasteliefde kan of wil volg nie.

Soos in Namibia, begin privaat Afrikaanse skole en universiteite. As hulle dan nie ons voordeel saam met ons geniet nie, kom ons geniet die voordeel dan alleen.

bloubefoeterd ·

Leopold Scholtz jou doring! Wat ‘n goeie artikel! Trots Afrikaans en Gerhard Burger lewer uitstekende kommentaar.

Hierdie kwessie en ooglopende en inherente onregverdigheid maak my so kwaad ek kan slange vang. Verder is die redenasie van die owerheid van die dag van “‘n Afrikaanse Instelling is eksklusief” al so holrug gery maar al kook jou bloed kan jy niks daaraan doen nie. Die teiken is nou eenmaal die skole ( goeie kwaliteit afrikaanse skole wat hulle wil en sal afbreek tot gemors, want hulle kan) en universiteite wat nog Afrikaans akkommodeer. My alma mater (TUKS) het al jare gelede die knie gebuig is verswelg.

Die ironie is dat die Afrikaner in die tyd wat hy op sy knië was sy eie instellings gebou en ontwikkel het. Maar die Engelse nalopers kyk na die instelling, besluit om dit oor te neem en begin dan met die morele hoë grond argumente om almal te oortuig om maar alle weerstand te laat vaar want “dit is in belang van die land” of “die meerderheid verstaan nie Afrikaans nie” (lees Afrikaans is gemors in ons oë) of dergelike argumente.

Leopald is 100% reg. As ons die taalstryd in instansies van opvoeding (universiteite en hoërskole) verloor is ons taal nou gedoem tot ‘n stadige sak in die vergetelheid in. Hierdie is die stryd wat ons moet stry. Hierdie is die plek waar ons sterk moet staan. Hierdie is ons lyn in die sand.

By die werk sal ons 12 Afrikaners en een engelsprekende person in ‘n vergadering wees maar dan moet die voertaal in die vergadering Engels wees??

Die vermetelheid daarvan laat my sprakeloos. Ongelukkig is dit ons eie jelliewerwels wat sulke bog toelaat….

Marius Buys ·

Die anti-Afrikaans geledere gebruik gewoon die Zuma verdediging deur onverdedigbare standpunte te herklee in politieke retoriek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.