Waarom ons nie kan wag nie

Heindrich Wyngaard (Foto: Verskaf)

Die titel van ʼn boek deur dr. Martin Luther King jnr. Why we can’t wait het as vertrekpunt gedien vir my toespraak einde verlede week by die jaarvergadering van AfriForum se betreklik nuwe Paarl-tak.

King skryf oor die somer van 1963, ʼn kantelpunt in swart Amerikaners se stryd om burgerregte, maar ek het die stelling in sy boektitel vir ons plaaslike konteks aangewend. Waarom óns nie kan wag nie, het ek die gehoor meegedeel, is oor die stand van onse land.

Landsburgers is daarom verplig om hand in eie boesem te steek, soos wat burgerregte en noodverlenigingsorganisasies reeds doen, om te keer dat plaaslike infrastruktuur geheel en al in duie stort en om die armes se lot te verlig. Die werk is baie; die arbeiders min soos Jaco Prins, voorsitter van die AfriForum se Paarl-tak, sal kan getuig.

Die toespraak is gelewer die aand voordat die nou viermalige Wêreldkampioen-Springbokke in die Moederstad sou aandoen om hul dank aan ondersteuners te betuig. Terloops, ʼn mens sou gehoop het dat die groep ook aan ʼn dorp soos die Paarl besoek sou bring – en nie slegs groot stede nie, gegee die bydrae van plaaslike sterre (onder wie Kurt-Lee Arendse) aan die span se sukses in Frankryk. Maar wie is ek nou om te sê?

In die Voortrekkersaal in Noorder-Paarl het ek gemaan daarteen dat dit wat ons nasionale rugbyhelde vermag het ons nie moet blinddoek vir die benarde posisie waarin ons land homself bevind nie. Want terwyl rugbykommentators en TV-aanbieders en koerantskrywers na nóg byvoeglike naamwoorde soek om die Bokke se uitsonderlike prestasie te beskryf, hoef ons nie vir woorde te soek vir die nasionale nederlaag wat ons tans ly nie.

Die telbord wys, soos Die Burger se opskrif die oggend uitbasuin het: “Ons sink weg in skuldstrik”. Dit is weens ʼn ekonomie wat aan kortasem ly; werkloosheid wat onder ons uithardloop; misdaad wat ons lam lê en die ry van maatskaplike toelae-begunstigdes buite die Ellispark van armoede, word al hoe langer. En toe verstik ek amper oor die reaksie van die minister van finansies, Enoch Godongwana, toe Heidi Giokos van eNCA hom verlede Woensdag vra – nadat hy die Mediumtermynbegroting gelewer het – of ons land platsak is: “Nee wat,” lag die minister, “as die geld opraak, dan belas ek julle net meer.” En hy lag so lekker. Maar dit was geensins snaaks nie, want dit het hom duidelik op daardie oomblik ontgaan dat daar maar 5 miljoen belastingbetalers uit die groeiende bevolking van 60 miljoen is.

So sê ek toe aan die AfriForum-lede dat die feesvieringe wat ons sedert verlede naweek gehou het – en dit is goed om weer ʼn slag te ervaar hoedat die gees van samesyn oor ons spoel, maar dit kan baie maklik oor ses maande verander wanneer ons verkiesing hou. Dit klink dalk oordrewe of alarmisties om dit as ʼn moontlikheid te beskou, maar die feesvieringe kan dan deur vlamme van vernietiging vervang word.

Ons het dit mos in Julie 2021 ervaar – sonder dat enigeen ons betyds daaroor kon waarsku; en ʼn mens moet jou nie verbeel dat omdat dit slegs in bepaalde dele van Gauteng en KwaZulu-Natal geskied het, dat dit jou nie geraak het nie. Die feit is dat ons land se ekonomie ʼn harde slag deur die plundery en oproer toegedien is. Die paneel kundiges, wat agterna onder leiding van prof. Sandy Africa ʼn ondersoek na die oorsake van die geweld moes doen, het armoede of ʼn gebrek aan ekonomiese geleenthede as een rede aangebied. Die ander, meer kommerwekkende rede, was die totale onvoorbereidheid van ons wetstoepassingsagentskappe (die polisiediens én die intelligensiegemeenskap) op die skokkende gebeure.

Nou wil ʼn mens graag pres. Cyril Ramaphosa glo wanneer hy plegtige beloftes maak, soos ons hom in Februarie 2018 geglo het toe hy die leisels by Jacob Zuma oorgeneem het. Maar ai, hoeveel keer sedertdien het hy ons nie teleurgestel nie? Elk geval, die nuutste belofte het hy Maandag gemaak by die nasionale kongres van die vakbond Popcru in Durban.

Ons moenie bekommerd wees nie, sê die president toe aan die Popcru-afgevaardigdes. Die regering, verseker hy hulle (en by implikasie ook die res van ons), sal sorg dat kritieke dienste te alle tye beskerm word al ervaar Suid-Afrika tans enorme fiskale probleme. Dit is dienste soos polisiëring, gesondheidsorg en onderwys. Ons moet maar wag om dit te sien.

Genadiglik is daar steeds mense, sê ek in my toespraak aan die Paarl-lede van AfriForum, wat nog bereid is om moue op te rol waar die regering te sleg is (of laat ek dit mooier stel: te swak voorberei is) om dienste te lewer. Hulle is mense wat nie terugsit in rusbanke voor die televisie (wanneer daar nie beurtkrag heers nie) asof alles orraait is in Suid-Afrika nie, want alles is nié orraait in Suid-Afrika nie.

Soos in King se boek oor die verandering in intensiteit in die burgerregtestryd in Amerika in 1963, is dit ook nou tyd dat ons hier in Suid-Afrika vir onsself moet sê ons kan nie langer op ons regering wag nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heindrich Wyngaard

Heindrich Wyngaard is die uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Gewone mense kan sekerlik moue oprol en poog om die lewe op grondvlak draaglik te maak. Maar dis soos om pleisters op oop wonde te plak. Intensiewe chirugie en rehabilitasie is nodig. Dit word nie gedoen nie. En die stembus gaan nie help nie. Werk eerder vir die ontbondeling van die land in eenhede wat bestuurbaar is, gegewe ons beperkte hulpbronne.

Hendrik ·

Elke gemeenskap moet hard werk en die regte keuses maak. As daar misdadigheid in ons gemeenskap is sal ek dit rapporteer.

Goldy ·

Die enigste oplossing vir die weskaap is onafhanklikheidsreferendum, want verseker gaan julle saam met die res van die land soos Zim sink as jul julself nie lossny nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.