Waarom peuter?

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Deur TLU SA

Transformasie is die woord van die oomblik waarvoor skynbaar almal val en waarvoor almal ʼn sogenaamde “sinvolle bydrae” wil lewer.

Transformasie, soos ons dit egter tans in die land beleef, is deel van die regerende party se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR). Hoe die term revolusie nou ook versuiker word met woordjies soos “nasionaal” of “demokraties”, dit bly ʼn revolusie. En ʼn revolusie is niks anders nie as die radikale omverwerping van ʼn bestaande orde of stelsel.

Die politieke revolusie het ons nou al beleef, waar ons ʼn een mens-, een stem-bedeling het, waar almal gelyke stem het, en die polities on-onderlegde dieselfde besluitneming het as die polities onderlegdes met ʼn visie vir die toekoms.  Dit was ʼn radikale verandering van die orde wat daar was, waarvolgens die doelwit was om verskillende volke en kulture ordelik op hulle eie te laat ontwikkel en tot volle politieke, ekonomiese en maatskaplike wasdom te groei.

Die tweede en derde fases loop sommer saam: dit is die ekonomiese transformasie en die sosiaal-maatskaplike transformasie.

As ons die afgelope meer as twee dekades gaan kyk na wat transformasie aan die land gedoen het, is dit geen mooi prentjie nie. Oral waar daar gepeuter is met ʼn bestaande en werkende orde, het dinge agteruitgegaan. Om slegs enkeles op te noem: die parlement het ontaard in ʼn instelling wat goed begin vergelyk met ʼn sirkus. Plaaslike owerhede, met streeksrade en uitvoerende burgemeesters en al, is in chaos. Staatsentiteite is voor die voet feitlik bankrot en sou al gesluit gewees het, as ons belastinggeld nie telkens as reddingsboei gebruik word nie. Gesondheidsorg, basiese onderwys en tersiêre onderwys is in krisis, tot so ʼn mate dat die land se nuwe adjunkpresident nou al ʼn beroep op die jeug doen om hulle te beywer vir beter onderwysstandaarde!

Dit bring ons by die punt: waarom moet daar gepeuter word met iets wat werk, as die lys mislukkings sonder uitsondering al getoon het dat dit nie gaan werk nie?

Binnekort begin die openbare deelnameproses om vas te stel of die land se grondwet, sogenaamd een van die bestes ter wêreld, gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Daardeur gaan diefstal “demokraties” wettig gemaak word.

Dit word gedoen sodat grond oorgedra kan word na die sogenaamde swart grondhongeriges – iets wat ʼn mite blyk te wees volgens die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse Aangeleenthede (Sabra) se jongste navorsing. Daarmee gaan die sosio-maatskaplike transformasie versnel word, want stedelinge kan hulle maar regmaak dat oop parke en ander munisipale grond vinnig volgebou gaan word met laekostebehuising, terwyl daar gepoog word om landbou ook te transformeer.

Waar landbou nog feitlik die enigste bedryf is wat groei in die ekonomie toon, gaan dit ook soos alle (reeds genoemde) gevalle verval sodra die regering daaraan peuter. Die enigste verskil is dat, soos TLU SA dit stel, daar dan geen kos meer op die tafel gaan wees nie: nie op die politici se tafels nie of die tafels van onderwysers, chirurge, of die uitvoerende hoofde van Eskom of SAL nie.

Wat gaan dán gebeur, en wat kan dan nóg afgebreek word?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hendrik regs ·

Mag ek vra of organisasies soos TLU, Solidariteits Beweging (Solidartiteit, FAK, Afriforum, AfriSake, Helpende Hand) , Toekomsvonk en nog organisasies wat dieselfde voel in gesprekke is met mekaar? Indien nie waarom nie want daar moet mos nou daadwerklik begin met stappe word om die Afrikaner se toekoms te beveilig en te bevorder. Ons hoor van konsepte van konsentreer, selfstandig wees, ens maar ons moet nou mos iets doen. Komaan leierskorpse laat ons beweeg!

Eish ·

Dit is te laat om nou te besin oor selfbeskikking. Die meerderheid het die mag en sal dit nie toelaat nie. Met die klomp skietpiete wat op landbou losgelaat is en die kriminele op ons stedeliinge, negatiewe bevolkingsaanwas van blankes, is dit nie n baie mooi prentjie vir ons voortbestaan nie. Inteendeel, ons is n bedreigde spesie. Van spesies gepraat, die hooggeleerde argeoloë en palentoloë wat die evolusieleer aanhang en propageer, moet liewer die proses verhaas dat ons kan terugkeer see toe. Minstens sal ons n bestaan kan voer met hersirkulering van plastiek wat die oseane vol dryf en besoedel.

Kaufman ·

Selfbeskikking sal die enigste uitweg wees want die land gaan nie regkom nie. Die enigste hoop vir die land sou goed opgevoede jongmense wees maar met ons uiters swak opvoedingstelsel gaan die land net bly agteruitgang.

Selfbeskikking ·

Dis beslis nie te laat vir selfbeskikking nie. Ons kan reeds die onderhandelinge as geleentheid gebruik om grond uit te ruil en ons eie land, al is dit klein, op te bou tot n suksesvolle eerstewereldland soos Israel.

John ·

Kyk maar hoe die tuintjies van munisipaliteite lyk waar ANC-kaders regeer. Kakiebos het nog nooit so welig gegroei waar duur struike eens gepryk het nie…. skaamteloos. En nou beloof die spul om kos op ons tafels te plaas… gesond en goedkoop vir die arm naaste of dalk sal oupa Mogabe se plasies vir ons en sy miljoene voorsien. RC glo as hy Mandela se naam in die buiteland noem sal miljarde instroom en die holruggeryde storie oor alles-hier-is-mos-ons-s’n-soos-julle-300 jaar-gelede-gese-het-toe-julle-eintlik-alles-self-wou-vat… gaan werk. Europa sit met miljoene uitlanders wat ‘n beter lewe soek. Die dae van gee aan Afrika sonder navraag, is verby. Ons gaan honger ly en siektes gaan vee en plante takel. Buitelandse produkte sal instroom maar teen ‘n prys. Eise, eise en eise vir groter en meer gratis… gaan verniet opklink. ‘n Lee pappot en ‘n lee put en ‘n lee beursie het almal ‘n lee hol klank en hoe toi-toi mens op ‘n lee pens? En dit gaan nie ‘n gepeuter wees nie. Daar is mense op aarde wat ‘n vierkant in ‘n ronde nul kan verander.

Willem ·

Om die titelvraag te beantwoord: Omdat die status quo homself nie net teen negatiewe veranderinge verset nie, maar ook teen positiewes. Dieselfde argument kon tot verdediging van enige geimplementeerde, afskuwelike stelsel (geloofsgegronde regerings, slawerny, middeleeuse monargië, apartheid, kommunisme, postmoderne marxisme, ens…) geroep word, aangesien dit alles “werk” vir sekere, pasgekose definisies van die woord.

Nee, dit is in die belang van vooruitgang om voortdurend ons idees, waardes en posisies te herewalueer, en dit volgens nuwe kennis en insig aan te pas.

Wanneer sulke aanpassings geen verhouding met die waarheid of vooruitgang het nie, soos transformasie in Suid Afrika, dan is dit wel iets om teen te staan. Ek vermoed nie vir ‘n oomblik dat die skrywer slegte bedoelings met hierdie stuk het nie, en ek stem saam oor die gevolge van transformasie in Suid-Afrika. Maar laat ons onsinnigheid teenstaan met goedgegronde, verdedigbare redes, en nie halwe denkwyses nie. Laat ons die regte, voordelige oplossings vir ons probleme kry, in plaas daarvan om die probleme te ontken, of te verwag dat dit vanself sal regkom.

Pietman ·

Die legitimiteit van grondkwessie is nog myle vêr van die werklike toets af. Het iemand al gedink watter absolute chaos gaan losbreek as die gondhongeres besef die Staat sal besluit volgens watter rasionaal grond toegedeel gaan word en hulle dalk nie in daardie prentjie inpas nie? Die lyn wat hulle daarvan weerhou om op groot skaal te beset en plunder is baie dunner as wat ons dalk besef. Daar is ook bloedweinig begrip of respek vir enige dokumentasie of wetsvoorskrifte wat ordelike grondoordrag as grondslag het.

Ella ·

N zulu in die oos kaap vertel nou die dag trots vir ons hy het 3 vroue en 36 kinders, so dis 12 kinders per vrou. Wat se geld moet jy verdien om hulle almal aan die lewe te hou of te skool ens

bgj van der westhuizen ·

die anc regering was te sleg om die laaste 23 jaar die land te regeer alles het gewerk en in plek gewees toe hulle oor geneem het en nou val alles uit mekaar en nog 20jaar sal hulle nie meer bestaan nie en ook nie suid afrika nie wand die plan is dat die hele afrika onder een moet staan en oral in afika val alles uit mekaar en china is besig om alles reg te maak en meer se te kry in afrika pas op ons raak in provinsie van china

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.