Waarom Rusland nie sonder Poetin kan of wil nie

Pres. Wladimir Poetin van Rusland praat met die hoofde van internasionale nuusagentskappe tydens ʼn vergadering by die Sint Petersburg Internasionale Ekonomiese Forum. (Foto: AP/Dmitri Lovetsky)

Wladimir Poetin sal op 18 Maart tot ’n vierde termyn as president van Rusland verkies word. Met meer as tweederdes van Russe wat in peilings oor die afgelope maande hul tevredenheid met Poetin bevestig het, bestaan daar geen twyfel oor wie Rusland se president vir die volgende ses jaar gaan wees nie.

Rusland se Grondwet verhoed Poetin egter om in 2024 weer as president verkies te word. So terwyl daar geen twyfel oor vanjaar se verkiesingsuitslag bestaan nie, word die gesprek in Rusland reeds gevoer oor 2024 en die toekoms van Rusland sonder Poetin.

Sedert Boris Yeltsin se bedanking as president van Rusland op 31 Desember 1999, domineer Poetin die Russiese politiek. Terwyl Yeltsin se politieke en veral ekonomiese hervormings van die 1990’s tot grootskaalse onsekerheid en uiteindelik selfs lyding en verval aanleiding gegee het, het Poetin oor die afgelope sewentien jaar sekerheid en vertroue in Rusland herstel.

Yeltsin se pogings om Rusland se sosialistiese ekonomie in ’n vryemark-ekonomie te omskep het klaaglik misluk omdat Rusland en die Russiese bevolking nie gereed was vir so ’n omvattende hervorming so vinnig nie. Die wyse waarop ’n klein groepie skatrykes die Russiese ekonomie gekaap het en die gepaardgaande lae oliepryse van die 1990’s het meegebring dat inflasie, ekonomiese verval en korrupsie teen 1999 verwoesting begin saai het. Die Russiese bevolking het daarmee saam begin krimp en lewensverwagting, veral onder mans, het skerp gedaal.

Toe Poetin dus op 31 Desember 1999 as waarnemende president van Rusland oorneem, moes hy die uitdagings van ’n baie siek Rusland in die gesig staar.

Wat Poetin sedertdien reggekry het, is om vir die Russe dit te gee waarna hulle die meeste verlang het, naamlik stabiliteit en sekerheid. Met stygende oliepryse na sy oorname as president het Poetin daarop gefokus om Rusland se oorsese skuld af te betaal en is miljarde dollars se oliegeld in reserwefondse gestort.

Toe die olieprys in 2014 skerp daal, het Poetin eerder regeringspandering verlaag, in plaas daarvan om nuwe skuld te maak. Rusland se begrotingstekort is omtrent een persent van die land se bruto binnelandse produk, baie laer as die meeste Westerse lande.

Ten spyte van die oliekrisis en sanksies deur Westerse lande kon Poetin met gedissiplineerde spandering en die aanwending van reserwefondse Rusland deur die krisis wat laer oliepryse veroorsaak het, stuur. Sy fokus daarop om inflasie laag te hou, al het dit ook hoër rentekoerse vereis, is nog ’n rede vir die stabiliteit wat Russe tans so tevrede met hul president maak.

Die per capita-inkomste van Russe is vandag steeds heelwat laer as in Westerse lande en vooruitsigte vir ekonomiese groei lyk maar sleg, maar oor die afgelope paar jaar het die lewensverwagting in Rusland begin styg, die bevolking neem weer toe, die land het lae skuldvlakke en met ’n kombinasie van patriotisme en sekerheid kan Poetin Rusland vir nog ses jaar regeer. Die meeste Russe sien nie nou kans vir ’n Rusland sonder Poetin nie, maar hulle besef dat daardie dag wel nader kom en hulle gaan daaroor moet begin praat.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Norman ·

Die man se naam is Vladimir Putin. Waar kom die mense aan Poetin?

Tania Heyns ·

Dagsê Norman

“Poetin” is inderdaad die korrekte Afrikaanse spelling. Buitelandse eiename word slegs getranslitereer wanneer die doeltaal ‘n heel ander alfabet as die brontaal gebruik. Oorskrywing uit een alfabet in ‘n ander is iets wat waarskynlik in alle tale gedoen word. “Bush” sal dus nie “Bos” word nie, aangesien Engels en Afrikaans dieselfde alfabet gebruik. Groetnis.

Gerhard ·

M.a.w Влади́мир Влади́мирович Пу́тин in Russies, Vladimir Putin in Engels en Wladimir Poetin in Afrikaans omdat dit van Russies vertaal word en nie Engels nie.

Eish ·

Elke reël het n uitsondering.
In die wêreld van politieke leierskap, is daardie uitsondering Valimir Putin.
Lanklaas het n leier soveel vertroue ingeboesem, tussen sy eie mense en as wêreldmoondheid. Kyk na sy onderhoude op Youtube. Hy is in n totaal ander klas as enige politici wat vandag die planeet bewandel.
Hy verstaan die konsepte van ekonomie, regering, mag en mense.
Hy is liewer vir sy land as meeste mense vir hul eggenote.
Enig in sy soort, veral as jy gewoond is aan kapasiteitsgestremde politici in die helhool.

BenaYaHU ·

Inderdaad korrek..
Dit bly egter noodsaaklik om in ag te neem dat, aldus hy beslis tans een van die meer professionele en morele politikuste is, hy steeds ‘n Kommunistiese bestel behartig.
Myns-insiens egter bly dit steeds ‘n gekontroleerde agenda (nee, dis NIE ‘n ‘conspiracy theory’) en het dit uitsluitlik ten doel om die oorgang van “Westerse” regerings na ‘n meer Sosialistiese en gevolglik ‘n Kommunistiese bestel teweeg te bring (gaan bestudeer gerus wat WAARLIK tans in die VSA aan’t gebeur is).
Dit is dus die primere rede, alhoewel indien jy jou eie navorsing sal afhandel, sal jy verder tot die besef kom dat daar vele sekondere redes hieraan gekoppel is.
Dit sal dus raadsaam wees om nie die Agenda 2030 (2020) en gevolglike Globalisering (Teknokratiese Nuwe Wereldorde) te onderskat nie.. en indien jy nie dalk nie sou weet waarna ek verwys of verstaan waarvan ek skryf nie, dan is daar nog heelwat persoonlike navorsing wat vir jou wag.. moenie uitstel nie!

alwyn burger ·

“What is in a name. A rose by any other name……”. Sou ons nie kon doen met so ñ president nie??

Denise ·

Dit is nie n spel program wat saak maak is dat POETIN n ware leier is en sy land REG regeer en weet wat hy doen!!!!!!!

martin ·

Getranlitereer? Nie vertaal nie? Hoelom maak mense ophef oor ons taal as dit so ‘ vanaf engels getranslitereer’ word?

Marthinus Willemse ·

En omdat Russiese name getranslitireer word na Afrikaans, word Boris se van Jeltsin, met `n “J”, nie “Y” nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.