Waarom versoening?

Tydens talle toesprake op 16 Desember vanjaar het die tema van versoening na vore gekom. Dit is ook goed dat ons as land jaarliks gedwing word om weer te besin oor versoening en hoe dit in ons lewens en lewensingesteldheid weerspieël moet word! Ons doen juis nie genoeg om dit in ons land waar te maak nie en daarom moet ons jaarliks herinner word aan ons plig om erns hiermee te maak.

In die betrokke toesprake is baie aandag gegee aan die definieer van die term versoening. Aan die een kant is dit beskryf as ʼn bewuste en bestuurde aktiwiteit wat tussen mense moet plaasvind en aan die ander kant as iets wat tussen uiteenlopende groeperings in die land moet plaasvind.  Versoening impliseer daarom dat mense op individuele vlak na mekaar uitreik, maar ook dat groepe (in die besonder etniese groeperings – wit, swart, bruin) moeite sal doen om mekaar as groepe beter te leer ken. Versoening is derhalwe ʼn interpersoonlike en intergroepproses. As ons mekaar as unieke individue aanvaar, sal ons makliker ook mekaar as komende van verskillende groepe ervaar. As ons hierdie land van ons wil laat werk, het ons nie juis ʼn keuse nie!

Versoening hou in dat mense sal omgee vir ander, na hulle verhale en ervarings oor sake sal luister, begrip sal toon vir mekaar se stories, mekaar se menswees sal respekteer, dat mense moeite sal doen met mekaar. In hierdie verdeelde land het ons nog nie genoeg na mekaar uitgereik nie, het ons nie na mekaar se ervarings geluister nie. Weet die wit Afrikaanse gemeenskap genoeg van die ervarings wat bruin en swart Afrikaanse landgenote meegemaak het in die apartheidsjare? Weet ons van die dikwels ellendige lewensomstandighede in die townships? Het ons al ʼn slag gaan sit en luister na dit wat hulle in hierdie tyd ervaar het? Hoe menswees en menswaardigheid aangetas is deur skelname? Hoe groot mense in die oë van hulle kinders verneder is? Die joernalis Johann Maarman skryf juis in Die Burger van 19 Desember 2011 oor hoe sy pa verneder is deur “die troepe met die flaphoede”, die “gesante van ʼn apartheidsregering”. My vriend Michael le Cordeur is as student in die 1980’s so geslaan dat sy ma sy hemp uit sy rug moes sny met die gevolg dat Michael permanente longskade opgedoen het. Ja, dit is lank terug, maar dat dit wél gebeur het, is wat seer maak hier. (Diegene van ons wat in die 1960’s tot 1990’s gelewe het, sal waarskynlik self soortgelyke gevalle kan opnoem.) Dit dra by tot die versterking van ʼn ons- en julle-geskiedenis, die idee dat wit mense ‘anders’ is en dat sommige mense verhewe en beter as ander is.

(Dit is ook interessant hoe wit en bruin die geskiedenis oor die protes in Soweto in Junie 1976 beskou. Tydens ʼn onlangse gesprek hieroor met dr. Danny Titus praat ek van die Soweto-onluste en Danny wys my tereg deur te sê dit was eerder die Soweto-opstand teen die regering van die dag. Interessant: een gebeurtenis en twee interpretasies daarvan gebaseer op ons ervarings van die werklikheid.)

Aan die ander kant: het bruin en swart landgenote al geluister na hoe baie wit mense die stuk geskiedenis van die apartheidstyd ervaar het en konstant uitgereik het na die ander rassegroepe in ons land?  Weet ons bruin en swart landgenote alle wit mense “is nie almal so nie” (om Jeanne Goosen aan te haal)? Hierdie prosesse vind nou plaas in ons land en ek was bevoorreg om die afgelope agt jaar deel van so ʼn proses te wees via die (dikwels moeisame) totstandkomingsproses van die Afrikaanse Taalraad.

Ons (wit mense) het nie ʼn keuse as om hierby betrokke te raak nie. Ons kan hierdie proses nie net verby laat gaan nie.

Die vraag is: wat doen jy in jou eie kring om versoening in die land te (help) bewerkstellig? Ja, jy kan begin deur in jou eie omgewing uit te reik na jou huis- en tuinhulp, in jou werkskring na jou wit/bruin/swart kollegas, in die winkel waar jy koop na die winkelassistente, ens. As ons al dáár begin, is daar hoop dat volgende jaar op 16 Desember gerapporteer kan word dat versoening tog ʼn entjie gevorder het. Ja, ons het verskillende ervarings van die geskiedenis van hierdie land. Moet egter nie toelaat dit ons verder uitmekaar hou nie. Diegene wat Afrikaans as taal deel, het reeds ʼn gemene deler – kom ons maak verder werk hiervan.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Herman Toerien ·

Dankie prof. Al het ek self Staatsreg agter die blad (buitemuurs na die nuwe bedeling verwerf) voel ek steeds daar is in ‘n stadium te veel verwagtinge gekoester dat ‘n grondwet alleen die polarisasie in die land kan omkeer. Dr. Tjaart vd Walt, eens president vd RGN, se waarskuwings dat selfs die beste grondwet nie kan werk as die mense mekaar nie verstaan en begryp nie, het min of meer op dowe ore geval.
Interkulturele kontak was grootliks die produk van vertikale kommunikasie – werkgewer teenoor werknemer. Selfs waar dit veronderstel was om horisontaal te wees, soos by verhoudingskomitees, het dit dikwels paternalisties geneig.
Elke mens moet sy deel bydra. Dit beteken ook die ANC se leierskap moes dadelik ingegryp het en Malema vir sy sloopwerk aan interkulturele verhoudings voor stok gekry het. Dit sou veel doeltreffender gewees het as dat iemand uit die “ander” kamp noodgedwonge later die leiding moes neem.
Interkulturele verhoudings speel op ‘n magdom nie-staatkundige terreine af.
Die feit dat die grondwet as so ‘n belangrike instrument beskou word, het ongelukkig ook die gevolg dat baie mense hul eie verantwoordelikhede hieroor na die grondwet “delegeer” op ‘n wyse soortgelyk as wat ouers hul godsdiensplig aan die “Sondagskoolonderwysers delegeer.”
Hoe wenslik “maatskaplike ingenieurswese” is ‘n ander vraag. Vanoggend lui ‘n opskrif in Trouw van Nederland: Het einde van het integratiebeleid
Die gebruik van hierdie opskrif sonder die artikel is buite konteks – ek wou egter bloot demonstreer dat die bou van intergroepverhoudinge ’n besonder komplekse proses behels – en dat u reg is deur te sê elkeen kan daarin ’n rol speel.
‘n Suksesvole staatkundige model is waarskynlik eerder die produk van goeie gesindhede is die meganisme vir die bou van sulke gesindhede.

Louis du Plessis ·

Wannie ~

WAAROM VOORTBESTAAN?

1 Met jou pleidooi vir versoening, kan ons ons in die nuwe jaar inderdaad volkome identifiseer! Maar dalk, fluister ‘n stem in my oor, is daar ook ‘n ander kant van die wipplank, waarmee ons ons nét so intens kan vereenselwig. Dalk roep ‘n ewewigtige gewete elkeen op om die een te doen sonder om die ander een na te laat, volgens jou welsprekende patroon hierbo.

2 Die strewe na voortbestaan is ook ‘n lewensingesteldheid. Dit kan ook beskryf word as ‘n bewuste en bestuurde aktiwiteit wat tussen mense en ook tussen groeperings kan plaasvind. Voortbestaan impliseer dat indiwidue sowel as groeperings hulleself kan handhaaf en nie onder druk hulle karakter en kultuur prysgee nie. Dit impliseer dat ‘n indiwidu of groep, asook ‘n volk of beskawing, sy identiteit voortsit. As die Afrikaanssprekendes in hierdie land wil oorleef, het ons nie juis ‘n ander keuse nie!

3 Voortbestaan hou in dat elke taalgroep en volk van sy eie geskiedenis sal kennis neem en sy voorouers en nog ongebore nageslag sal respekteer. In hierdie land is een probleem juis dat lede van sommige taalgroepe soos jellievisse deur elke stroom meegesleur word, veral deur die huidige outoritêre meerderheidsregering en sy geradbraakte Engels.

4 Weet ons genoeg van die stryd in die negentiende en twintigste eeu, deur taalstryders soos CJ Langenhoven, wat dit moontlik gemaak het dat ons vandag ons moedertaal kan praat, lees en skryf? Weet ons genoeg van die stryd van uitnemende leiers, soos dr DF Malan en dr HF Verwoerd, om werk vir almal in Suid-Afrika te skep? Om onderwys, ook op tersiêre vlak, vir almal in Suid-Afrika te ontwikkel? Weet ons dat daardie onderwys, volgens huidige swart onderwyswoordvoerders, dikwels beter produkte gelewer het as wat vandag by townshipskole uitpeul? Ja, dit is lank terug, maar dat dit wél gebeur het, is wat ons kan trots maak op ons taal, volk en voorouers.

5 Die vraag vir elkeen is: Wat doen jý in jou eie kring om die voortbestaan van die Afrikaanssprekendes, wat maar 13 persent van die Suid-Afrikaanse samelewing uitmaak, te verseker? Jy kan in jou eie omgewing begin deur vir jou tuinhulp Afrikaans te leer en in Woolworths met die winkelassistent óók Afrikaans te praat. Boweal, jy kan jou kinders na Afrikaanse skole toe stuur en tot Afrikaanse musiek, boeke en webwerwe bydra.

6 Dan sal ons dan op 16 Desember 2012 kan rapporteer dat die Afrikaanssprekende gemeenskap van alle klasse en rasse sterker staan as vandag. Dat daar ‘n groter hoop is dat ons ons identiteit sal behou.

7 Slotsom. Om hulle rol in die geskiedenis te speel, benodig Afrikaanssprekendes ‘n strewe na versoening maar óók ‘n strewe na voortbestaan!

Met agting

H J Bester ·

Herman Toerien maak ‘n baie insiggewende opmerking ten opsigte van versoening naamlik dat te veel verwagtinge gekoester word dat die grondwet van Suid-Afrika alleen die polarisasie moet omkeer.

Tydens die voorspel tot die onafhanklikheid van Namibië in 1990, wat reeds met die Turnhalle-beraad gedurende die 70’s in aanvang geneem het, is daar dan ook aandag gegee aan ‘n toepaslike grondwet vir die land. Politici, en in die besonder Dirk Mudge, het Namibiërs deurlopend daarop attend gemaak dat versoening asook onafhanklikheid slegs kan slaag indien die grondwet ook in die harte van mense geskryf word. Namibië was waarskynlik gelukkig in dié opsig dat die aanloop tot onafhanklikheid oor baie jare gestrek en deur baie fases gegaan het waartydens die saak van versoening goed deurtrap en debatteer kon word. Tydens hierdie aanloop-periode was daar dus genoeg tyd vir oriëntasie en psigiese voorbereiding vir onafhanklikheid en was dit dus ‘n tyd waartydens die grondwet ingegraveer is in die harte van duisende Namibiërs.

Vandag, 22 jaar na die onafhanklikheid van Namibië, word relatiewe vreedsaamheid, verdraagsaamheid en goeie naasbestaan steeds ervaar en wonder mens onwillekeurig of die inskripsie van die grondwet in die harte van die Namibiërs nie baie heirmee te doen het nie. Daar is steeds ruimte vir almal in Namibië en word elkeen se herkoms en kultuur respekteer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.