Waarskuwingsligte flikker vir ekonomie

finansies-geld-onder-die-vergrootglas

Foto: Stevebp/Pixabay.com

Suid-Afrika is in ’n tegniese resessie – wat nou? Twee ekonome van die Noordwes-Universiteit (NWU) bespreek die implikasies hiervan vir die ekonomie.

Hulle sê dat dringende strukturele verandering en duidelike ekonomiese beleid nou van die uiterste belang is.

Prof. Danie Meyer en Roan Neethling, ’n doktorale student, sê dat die land sedert 2009 in ’n laegroeivalstrik vasgevang is, en dat 2019, met ’n totale groei van slegs 0,2%, geen uitsondering is nie.

“Figuur 1 hieronder toon die swak groeiprestasie van 2016 tot 2019. Ná ’n ekonomiese verlangsaming in die derde kwartaal van 2019, toe groei met ‑0,8% afgeneem het, het die vierde kwartaal van 2019 selfs swakker vertoon toe die groei met -1,4% afgeneem het,” sê Meyer.

Volgens Meyer en Neethling was die sektore wat die meeste tot die negatiewe groei bygedra het, die landbousektor, vervoer en handel.

“Voorspellings vir ekonomiese groei in 2020 is steeds baie laag op tussen 0,3 en 0,6% as gevolg van ’n gebrek aan stabiele kragvoorsiening, beleidsonsekerheid ten opsigte van al die ekonomiese sektore, ’n regering wat nie ’n implementeringsvermoë het nie, die vinnig stygende staatskuld, en ’n moontlike wêreldwye ekonomiese verlangsaming as gevolg van die coronavirus.”

Meyer sê dat daar verwag kan word dat groei in die eerste kwartaal van 2020 (Januarie tot Maart) ook negatief gaan wees.

Figuur 1: % BBP-verandering kwartaal-tot-kwartaal

Meyer en Neethling sê dat die implikasies van die resultate van die ekonomiese uitsetdata vir die ekonomie die volgende is:

  1. Die lae en selfs negatiewe groei-omgewing sal tot laat in 2021 voortduur, met die belangrikste beperkende faktor die onstabiele elektrisiteitsvoorsiening deur Eskom.
  2. As gevolg van ’n gebrek aan sakevertroue neem kapitaalbelegging in die plaaslike ekonomie steeds af (10% in die vorige kwartaal). Sakevertroue is op sy laagste vlak sedert 2009. Dit beteken dat plaaslike bedrywe nie enige uitbreiding in 2020 beplan nie, wat daartoe sal lei dat geen nuwe werk op die kort termyn geskep gaan word nie, maar dat daar eerder werkverliese in ’n baie beperkende arbeidsomgewing gaan wees.
  3. Verbruikers gaan as gevolg van stadige groei in werksgeleenthede en inkomste onder selfs meer druk wees. Verbruikersbesteding dra tot ongeveer 60% van die totale besteding in die ekonomie by en ’n verlangsaming in hierdie besteding sal ’n verdere negatiewe impak op groeivooruitsigte hê.
  4. Inflasie (VPI) toon tans ’n opwaartse tendens en koste van produksie (PPI) neem ook in ’n laegroei-omgewing toe. Dit beteken dat pryse sal aanhou styg, wat weer tot stagflasie gaan lei.
  5. Al die belangrikste ekonomiese basissektore soos landbou, mynbou, vervaardiging en konstruksie wat die drywers van die ekonomie is, is op ’n afwaartse tendens en moet op ’n wêreldwye skaal meer mededingend wees.
  6. Laastens, dringende strukturele verandering met ’n duidelike ekonomiese beleid word nou binne ’n onstabiele wêreldwye omgewing vereis. Die vlak van paniek word deur die 0,5%-rentekoersverlaging deur die VSA se FED op 3 Maart weerspieël.

Ons het dringende optrede nodig om die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n hupstoot te gee.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Henk

Gelukkig weet ons die bekwame regering gaan al die verkeerde besluite neem en dink dit is brijantste beleid om lewe in die dooie perd te skop .

koos

Meyer en Neethling se fatale fout wat hulle maak is dat hulle aanneem dat (a) die huidige leierskorps kan almal lees en (b) diegene wat wel kan lees, verstaan wat hulle lees.

marius

Die ligte is die stoet wat van die begraafplaas kom .

andre

Koos jy slaan die spyker op die kop.Die gevolge van BEE ,AA en EE,ensovoorts se rol word nie deur die ekonome gemeld nie .