Wag ʼn nuwe daeraad op Suid-Afrika?

da-verkiesing

Verkiesing 2016. Argieffoto: Reint Dykema

Is die republiek nou volledig deel van Afrika, of is daar ná die jongste verkiesing nog hoop op ʼn beter regering?

Die regering se stryd teen die verhoging van 8% (R4 miljard) vir universiteitstoelating (net 50% van die toelatings slaag) is maar net een van die talle krisisse wat die land in die gesig staar. Maar daar sal R40 miljard beskikbaar wees as ons volgens Pravin Gordhan net een kwart van die korrupsie kan hokslaan. (Ander berekenings is dat die ANC in totaal al R700 miljard wanbestee het.)

Afhangende van watter opname jy glo, is Suid-Afrika tussen Ghana en Nigerië ingedruk as die drie korrupste lande op die vasteland (Naij.com). Lees hiermee saam die feit dat Zimbabwe as Rhodesië in 1975 een van die suksesvolste lande ter wêreld was.

Volgens die VN se kos- en landbou-jaarboek was Rhodesië se Virginiese tabak die wêreld se beste in terme van gehalte en opbrengs. Sy mielie-opbrengste was gereeld onder die wêreld se top-drie. Uitvoere van soja, suiker, koffie, tee, vrugte, groente, blomme en beesvleis was die grootste bron van buitelandse kapitaal en landbou het werk aan ʼn derde van die bevolking gebied.

Nou ja, moet ʼn mens meer sê?

Onder die NP-regering met sy vratte en al was die groeikoers tot 7% en inflasie 2%. Die buitelandse skuld was 5%. Vanjaar se groeikoers is afgemerk van 0,6% tot 0%. Inflasie word konserwatief of 10% geskat en die land se skuld beloop 50% van die begroting. Werkloosheid is êrens tussen 24% en 36%.

En die punt is?

Die punt is dat Suid-Afrika ook volledig deel van Afrika geword het, soos die kommentator Prince Mashele in die Sowetan geskryf het.

Mashele skryf noudat ons ons plek as nog ʼn Afrika-land opgeëis het, ons vrede moet maak met ons ware karakter. In ʼn tipiese Afrika-land verwag die gewone mense min van politici en het hulle geen illusies oor die eenheid en moraliteit van die regering nie. Hulle weet dat die mense met mag dit vir hulself, hul vriende en familie aanwend.

“Die idee van die staat as instrument van mense se ontwikkeling is ʼn Westerse konsep wat ook in Asiatiese lande geld. Afrikane en hul leiers wil nie van die Weste leer nie. Hulle wil Afrikane bly en glo in die ‘Afrika-manier’. Dit beteken hulle word deur konings, indoenas en stamhoofde volgens ongeskrewe reëls geregeer.

“Jy mag nie vra waarop geld bestee word nie en die LP’s  wat Zuma ondersteun, is die ware Afrikane.”

Voorts skryf hy Afrika-leiers hou nie van ʼn opgevoede regering nie en Zuma is baie suspisieus oor wat hy ‘clever blacks’ noem. Die idee dat ʼn president kan bedank, geld nie. Net die premier van Ysland en Westerse ministers doen dit. Ons moet Zuma bedank dat hy die ware Republiek van Suid-Afrika gevestig het.

Nou ja, die Westerse koloniale regerings het Afrika ook maar geplunder, hoewel hulle darem die wiel bekend gestel en die nuwe infrastruktuur agtergelaat het. En baie Suid-Amerikaanse lande loop ook oor van korrupsie. Zimbabwe bestee steeds die grootste deel van sy begroting aan onderwys en daar is hoop vir lande soos Tanzanië en Rwanda.

Die weermag, polisie, openbare werke, Prasa en Eskom tel onder die instellings wat erg agteruit gegaan het. ʼn Vriend wat op ʼn baie hoë vlak met Telkom skakel, raak eintlik bewoë as hy praat van wanbestuur en die diefstalle van dermiljoene rand se koperkabels, wat ook weer iets te doen het met die armoedekultuur.

Belowende tekens

Is daar nog hoop? Die regstelsel werk nog en laat beskuldigdes toe om sake jare lank met appèl op appèl uit te rek. Ons kan ons darem nog op ʼn Grondwet beroep. Hoofregter Mogoeng Mogoeng is ʼn Zuma-aanstelling, maar verras vriend en vyand met sy vaardigheid. En die ANC wonder steeds hoekom hy in die provinsiale verkiesing net 54% van die stemme gekry het. Daar is dus belowende tekens dat die ‘clever blacks’ ook hul rug op die bevrydingsbeweging aan die draai is, aangevuur deur ʼn klomp ou ANC-strydrosse wat nie meer huiwer met hul kritiek nie.

Solly Msimanga, DA-burgemeerster, het Woensdagoggend op die eerste spesiale raadsvergadering van die Tshwane-metroraad vyf lêers uit ’n sak gehaal en aan die vergadering gewys en gesê daar is genoeg bewyse “dat mense hul pakke klere vir oranje oorpakke sal moet verruil”.

Die oopvlek en stopsit van sulke korrupsie is ʼn groot uitdaging vir die drie metrorade waar die DA nou saam met twyfelagtige bedmaats regeer en ʼn opposisie het wat op dwarsboming ingestel is om hom en sy kamerade te beskerm. Dit het die DA in Kaapstad – met ʼn stywe meerderheid – vyf jaar geneem om skoon te maak. Dit het vervolgings ingesluit en goed soos die kansellering van grassny-kontrakte wat toegeken is aan ondernemings wat nie grassnyers besit het nie.

Koalisieregerings is nie vreemd in Europa nie en dit is maar iets waarmee ons altans voorlopig moet vrede maak. Daar sal toegewings weerskante toe gemaak moet word en dit gaan afhang hoe bereid die DA en Malema se EFF daartoe gaan wees om metro’s soos Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai ten beste van almal te bestuur.

Dit kan ʼn goeie begin wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Baie goeie en insiggewende berig Org. Ek hoop net dat die DA ‘n hekse jag in die gebiede wat hulle regeer begin om die swaai weg van die ANC af te help versnel.

Johan 2 ·

Hekse jag? Jag iets wat nie bestaan nie? Hul kan (n regte) jag maak op die ANC.

Oupa ·

Mens kan seker nie ophou hoop en glo op ‘n beter politieke bestel nie, maar ek is bevrees die skrif is lank reeds aan die muur: ‘n geel ANC gaan bloot vervang word deur ‘n blou “ANC”, en later heel waarskynlik deur ‘n rooi “ANC”. Die blanke minderheid gaan nog steeds moet betaal vir die “verlede” wat nooit verander of vergeet sal word nie.

John ·

Dae-raad? Daar’s g’n meer dag of ‘raad’ oor nie… eerder ‘n nag-merrie voor ‘n waentjie vol skamele besittings op ‘n sinkplaatgrondpad na die naaste hawe waar sluwe rubberbote wag vir nagmerrie-passate na ander lande se vlugtelingkampe…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.