Wanneer kan ’n kind in die tronk gesit word?

prof-pieter-du-toit-nwu

Prof. Pieter du Toit van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Regte. Foto: Law.nwu.ac.za

Die afgelope paar weke het Suid-Afrika ’n stortvloed misdade beleef waar kinders verskriklike misdade teen mekaar, en selfs teen volwassenes, pleeg. Gemeenskapslede landwyd vra dat hierdie kinders met die volle mag van die reg gestraf word.

Prof. Pieter du Toit van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Regte verduidelik die proses wat volg nadat ’n kind ’n misdaad gepleeg het.

Die ouderdom en toerekeningsvatbaarheid van die kind

Daar word gemeen dat ’n kind jonger as 10 jaar nie toerekeningsvatbaar is nie, en nie vervolg kan word nie. Wanneer ’n kind tussen die ouderdom van 10 en 14 jaar ’n misdaad pleeg, moet die staat bo redelike twyfel bewys dat die kind ten tyde van die voorval toerekeningsvatbaar was.

“Die reg is van mening dat kinders ouer as 14 wat misdade pleeg, die verstandelike vermoë het om tussen reg en verkeerd te onderskei en die gevolge kan verstaan wat hul optrede inhou,” sê Du Toit. “Hulle word dus geag toerekeningsvatbaar te wees.”

Du Toit sê dat wanneer ’n kind ’n misdaad gepleeg het, word hy/sy ingevolge die Kinderregwet (Child Justice Act) gehanteer.

Met hierdie Wet val misdade in drie kategorieë. Skedule 1 is vir minder ernstige oortredings, en skedule 2 vir sake wat ernstiger is. Skedule 3 is vir misdade soos moord, verkragting, seksuele oortredings en roof met verswarende omstandighede.

Vir oortredings wat nie té ernstig is nie, kan die kinders uit die strafregstelsel weggekeer word. Daar is verskillende opsies vir hierdie wegkering, afhangend van die skedule van die oortreding.

Vonnis van ’n minderjarige

Die ernstigste sake word in die kindergeregshof aangehoor. Nadat ’n kind aan ’n misdaad skuldig bevind is, kan hy/sy ’n vonnis van óf gevangenisstraf, óf niegevangenisstraf kry.

Du Toit voeg by dat daar talle vonnisopsies is. Dit sluit in gemeenskapsgebaseerde vonnisse, portuurassosiasie, toesig en berading, skriftelike verskonings, vonnis van die kind tot ’n kinderjeugsorgsentrum en tronkstraf.

Hy sê ’n kind kan tronkstraf kry nadat hy/sy tyd in ’n jeugsorgsentrum deurgebring het, maar daar is streng vereistes waaraan daar voldoen moet word voordat daardie besluit geneem kan word. “Aanhouding van kinders ouer as 14 word slegs as ’n laaste uitweg oorweeg. ’n Kind mag nie tot ’n termyn van meer as 25 jaar gevangenisstraf gevonnis word nie.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Selma ·

In die geval was dit nie n kind nie, n 20 jarige is nie meer n kind nie en hoor nie meer op die skool banke nie.

Santie ·

Lees weer die berig. Dit het my ook ‘n bietjie deurmekaar gehad. Die kind wat gearresteer is, is voorheen deur die vermoorde kind aangeval. (Hy was deel van ‘n bende). Toe die vermoorde kind die aangeklaagde met ‘n mes wou aanval, het hy, (die die oorledene), die mes laat val, waarna die aangeklaagde het dit opgetel en homself verdedig het. Hierdie verklaring moet deur die Polisie ondersoek word sodat daar ‘n regverdige verhoor kan wees vir beide partye.
Daar sal dringend iets gedoen moet word om kinders van die strate af te hou en van bendes weggehou kan word. Iets soos dansklasse, musiekklasse, stoei, karate, judo ens. Iets wat ‘n dissipliene in ‘n kind kan kweek en wat hulle kan geniet en hulle besig hou.

Blêrtie ·

As hy oud genoeg is om n oortreding te pleeg, dan is hy beslis oud genoeg om in die tronk te boet vir sy dade.

Sarel ·

Daar is tans verskeie sake so om.kommentasr te lewer wat nie relevant is tot die berig en die betrokke wet nie is vrugteloos

Lalie ·

Ek glo soos my pa. As jy moeilikheid maak, dan moet jy die gevolge dra. Jy weet wat die verskil tussen reg en verkeerd is. Vat jou slae soos n man.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.