Wanneer skiet ek om my gesin te beskerm?

Deur Marnus Kamfer

ammunisie-vuurwapenwet-vuurwapens

Foto: David Levêque/Unsplash.com

Die oorgrote meerderheid van wettige vuurwapeneienaars het hul swaar verdiende geld om een rede aan ’n handwapen bestee – om hulself en hul gesin te beskerm teen ’n moontlike kriminele aanval.

Die regte en verantwoordelikhede rondom wanneer geskiet kan word ter beskerming van die individu en sy/haar gesin, word later in die artikel bespreek. Is dit nie bietjie drasties om ’n vuurwapen te besit nie? Die polisiediens is mos daar om ons te hulp te snel in tye van nood. Die teendeel blyk ongelukkig die realiteit te wees.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het reeds by monde van die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, te kenne gegee dat die SAPD nie oor die vermoë beskik om te voldoen aan die grondwetlike mandaat wat aan die SAPD opgedra is nie. Met ander woorde, die SAPD kan nie die burgers van die land en hul eiendom na behore beskerm nie.

Dit is egter nie die einde van die SAPD se dilemma nie. Gedurende 2019 het die nasionale tesourie aangedui dat die SAPD se begroting met etlike miljarde rande besnoei gaan word. In die afgelope ses jaar het 4 357 vuurwapens en 9,5 miljoen rondtes ammunisie in die SAPD se besit verlore geraak, en 71 honde is dood weens growwe nalatigheid aan die kant van die SAPD. Die lys is lank. Dit is verder algemene kennis dat Suid-Afrika se grense aan flarde is en maklik toeganklik is vir die res van Afrika se inwoners, asook hul bagasie, wat ongelukkig onwettige vuurwapens insluit.

Wanneer hierdie feite in ag geneem word, is dit duidelik dat dit die argument dat vuurwapenbesit te drasties is, onmiddellik weerlê. Dit word ook duidelik dat individue, maar ook gemeenskappe, beheer oor hul eie veiligheid en die beskerming van hul gesinne moet neem. Weens die feit dat misdadigers waarskynlik die individu en sy gesin se veiligheid en lewens gaan bedreig met vuurwapens, maak dit logies sin dat die misdadigers se onskuldige teiken ook die vermoë moet hê om enige aanval suksesvol af te weer. Die doeltreffendste wyse in die omstandighede waarin Suid-Afrikaners hulself bevind, blyk die wettige aanwending van hul eie vuurwapen te wees.

Onmiddellik bevind ons onsself dieper in die konyntonnel.

Wat behels die wettige aanwending van vuurwapens ter verdediging van die individu en sy/haar gesin?

Hierdie vraag moet tweeledig beantwoord word. Eerstens moet bepaal word wanneer ’n aanval met ’n vuurwapen afgeweer mag word. Die handeling ter verdediging van ’n individu of ’n ander persoon se lewe word “noodweer” genoem.

Noodweer is ’n regverdigingsgrond wat die persoon wat die handeling van noodweer uitvoer, beskerm teen suksesvolle vervolging vir, byvoorbeeld, moord en aanranding weens die feit dat die individu oor die reg beskik om homself en ’n ander persoon teen ’n wederregtelike (onwettige) aanval te verdedig.

Hierdie reg gaan egter gepaard met verpligtinge – “Iemand tree in noodweer op, en sy/haar handeling is gevolglik regmatig, indien hy/sy hom/haar of iemand anders beskerm teen ’n wederregtelike aanval wat reeds begin het, onmiddellik dreigend is en gerig is op sy/haar of iemand anders se lewe, mits die afweerhandeling noodsaaklik is om die bedreigde lewe te beskerm, dit gerig is teen die aanvaller en dit in ’n redelike verhouding tot die aanval is (Staat vs. Engelbrecht 2005 (2) SASV 41 (W) 106 par. 228.” (My beklemtoning)

Ons weet nou waarom ons ’n vuurwapen behoort te hê en hoe om dit wettig aan te wend ter beskerming van onsself en ons gesinne. Die konyntonnel gaan egter dieper.

Wat is die huidige stand van vuurwapenlisensies wat reeds toegestaan is, maar verval het?

Die ou vuurwapenlisensies (“groen lisensies”) is gereguleer deur die herroepte Wet op Wapens en Ammunisie, No. 75 van 1969. Enige vuurwapenlisensie wat destyds kragtens die Wet uitgereik is, was nie aan ’n tydsbeperking gekoppel nie, en ’n persoon kon kragtens die lisensie lewenslank in wettige besit van die vuurwapen wees.

Die toedrag van sake het egter verander met die koms van die Wet op Beheer van Vuurwapens, No. 60 van 2000. Hierdie wet bepaal dat die “groen lisensies” binne ’n sekere tyd omgeswaai moet word na die “wit lisensies” wat ingevolge die nuwe wet uitgereik word.

’n Groot aantal houers van die groen lisensies het egter nie hieraan gehoor gegee nie, en die aangeleentheid is gedurende 2009 hof toe geneem net voor die spertyd uitgeloop het om die oorgangsbepalings te betwis. Die hof het ’n tussentydse bevel toegestaan wat meld dat die houers van groen lisensies geag word in wettige besit te wees hangende die oorweging van ’n hoofaansoek. Hierdie aansoek is nog nie voor die hof gebring nie, en hierdie tussentydse bevel geld steeds.

Die houers van groen lisensies word dus vir tyd en wyl geag in wettige besit van hul vuurwapens te wees.

Verder af in die konyntonnel kom ons voor die volgende vraag te staan: Wat van die houers van wit lisensies wat verval het, of houers wat versuim het om ’n aansoek om hernuwing te bring 90 dae voor dit sou verval (soos vereis in die nuwe wet)?

Ook hier is die aangeleentheid na die hof verwys en het die hof weer ’n tussentydse bevel uitgereik wat meld dat eienaars van vervalde wit lisensies ook geag word in wettige besit van hul vuurwapens te wees hangende ’n hoofaansoek. Hierdie hoofaansoek is ook nog nie deur die hof aangehoor nie en die bevel geld ook steeds. Die houers van vervalde wit lisensies word dus vir tyd en wyl ook geag in wettige besit van hul vuurwapens te wees.

Alhoewel ek in my geestesoog sien hoe ’n hele paar lesers van dié berig ’n sug van verligting slaak en na sjampanjebottels gryp om die juk wat van hulle skouers gelig is, te vier, is ons egter steeds in die konyntonnel, wat ’n verdere sytonnel het.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het ingevolge die nuwe Vuurwapenwet ’n amnestietydperk afgekondig wat vanaf 1 Desember 2019 tot 31 Mei 2020 strek. Die hoofdoel van die amnestie is om die omloop van vuurwapens in onwettige besit hok te slaan.

’n Vuurwapen in onwettige besit kan dus by die naaste polisiekantoor ingehandig word sonder dat die persoon wat die vuurwapen ingehandig het, vervolg word vir die onwettige besit daarvan. Voorts kan die persoon wat die vuurwapen inhandig, van voor af aansoek doen vir ’n lisensie om die vuurwapen wettig te besit, waarna die vuurwapen afgehaal kan word by die polisiekantoor nadat die aansoek goedgekeur is.

Houers van onderskeidelik groen lisensies en vervalde wit lisensies beskik dus tans oor een van twee opsies. Die eerste is om die amnestietydperk te ignoreer en ten volle te steun op die beskerming wat die tussentydse bevele, soos hierbo bespreek, tans verleen. Dit is egter belangrik om te weet dat die gemelde bevele tussentyds van aard is en in ’n stadium deur ’n bevoegde hof tersyde gestel kan word, waarna die persoon in onwettige besit van sy/haar vuurwapen sal wees en daarvoor vervolg sal kan word.

Die tweede opsie is om van die amnestietydperk gebruik te maak, die vuurwapen by die naaste polisiekantoor te gaan indien en aansoek te doen vir ’n nuwe lisensie om die vuurwapen wettig te besit.

Albei opsies hou risiko’s in, en die persoon in die situasie moet self besluit welke opsie om uit te oefen. Die administrasie en moeite wat gepaard gaan met die wettige besit van ’n vuurwapen weeg egter aansienlik minder as die lewe van die eienaar of voornemende eienaar van ’n vuurwapen se gesin, en die eienaar moet dit sterk oorweeg om deur die moeite te worstel om in besit van ’n vuurwapen te bly ten einde die individu en/of sy/haar gesin te beskerm.

  • Marnus Kamfer is die burgerregte-organisasie AfriForum se regs-en-risikobestuurder.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kaptein

Hoe seker is wapeneienaars wat hul wapens ingehandig het, dat dit vernietig is, of gaan word? Wie vertrou nog die polisie?

Trien

Mens hoor en verstaan al die argumente, maar wat gebeur as die ‘onwettige’ wapen ingehandig word saam met die aansoek vir hernuwing van die lisensie, en die eienaar word in die tydperk wat dit neem om die aansoek te verwerk, aangeval/beroof/geskaak/verkrag……. sonder enige manier om hom- of haarself te verdedig? Wie neem die verantwoordelikheid? Die polisie?……… Highly unlikely! Nêrens in die media word genoem wat die redelike verwagting kan wees waarin die aansoek afgehandel word en die eienaar weer sy/haar wapen kan terugkry nie. Oorspronklike aansoeke vir die wit lisensie het (in my geval) langer as ‘n jaar geduur. Sedertdien… Lees meer »

Bril

Ek luister na ‘n berig elders dat blankes reeds om en by 900 000 vuurwapens ingehandig het uit vrees vir vervolging. Dit kom neer op die ontwapening van ‘n volk. Wat sou ‘n volstrekke weiering om voormalig wettig verkrygde wapens in te handig beteken het? Die toesluit van 900 000 persone sou buite die kwessie gewees het (dit is net met konsentrasiekampe moontlik). Paar individuee sou geteiken gewees het, maar losgekom het omdat die res nie op massaskaal onteien sou kon word nie. U was bang vir vervolgings? Dat u verwag het dat vryheid vanself sou kom sonder opofferings? U… Lees meer »

John

As jy jou wapen gaan inhandig by die Polisie soek hulle jou ID no ens… watter skelm gaan sy besonderhede,ek het 12 ure in n ry gestaan om my lisensie te hernu.En ek sal dit weer doen

SAKO

MOET NIE JOU VUURWAPEN INHANDIG NIE , dit is jou reg om dit te besit…… tensy jy nie meer vertroue in jouself het nie. Hierdie is n DOELBEWUSTE ontwapeningsaksie van die regering af !