Wannie Carstens en Afrikaans

Hoekom praat ek Afrikaans ? Hoekom is ek Afrikaans? Hoekom is Afrikaans my passie? Hoekom het ek ’n loopbaan in en oor Afrikaans gebou? Piet le Roux vra dat ek hieroor skryf. Dit doen ek graag.

My storie oor Afrikaans begin op die vlaktes van Suidwes-Afrika (deesdae se Namibië) waar ek sedert 2-jarige ouderdom gewoon het toe my ouers uit Kaapstad na Windhoek verhuis het. Ons (ek, my broer en suster) het in ’n Afrikaanse buurt in Windhoek-Wes gebly, het in Afrikaans in die strate (aanvanklik stofstrate en later netjies geteerde strate) gespeel, het in Afrikaans skool gegaan (laerskool aan die Laerskool Orban en hoërskool aan die Hoërskool Jan Möhr), het in Afrikaans gekuier (by vriende, familie, bure) – ons leefwêreld was dus Afrikaans.

"Norme vir Afrikaans - Enkele riglyne by die gebruik van Afrikaans" deur Wannie Carstens

Op hoërskool het my pad dié van mnr. Hennie Brand gekruis en sy oopmaak van die Afrikaanse wêreld was vir my oë ’n openbaring – die wêreld van die Afrikaanse letterkunde was vars en nuut. Die opvolglees in die biblioteek in Windhoek het verdere openbaringe meegebring en ek het gelees wat voorkom. Alles waarop ek my hande kon lê – ensiklopedieë, romans, speurverhale, biografieë, ens. Vandag se kinders mis so baie omdat hulle so toegegooi word met die visuele wêreld van TV en rekenaars. Hulle lees nie meer nie – wat ’n skade!

’n Logiese verdere stap was die universiteit en in die besonder die Universiteit van Stellenbosch waar ek klas geloop het by o.a. proff. DJ Opperman, WEG Louw, Meyer de Villiers, Willem Kempen en Henning Snyman. My fokus het begin verskuif na die taalkunde, na ’n ander nuwe wêreld van strukture, woorde, klanke, die variëteite van die taal – die studie van wat taal is. Dit het gelei tot ’n MA in die Afrikaanse taalkunde en mettertyd tot ’n DLitt in die Afrikaanse taalkunde.

Natuurlik moes ek werk vind en ná ’n periode van drie jaar as tydelike dosent aan die Universiteit van Stellenbosch is ek na die Universiteit van Kaapstad – waar ek 11 ½ jaar deurgebring het. Ek kon Afrikaans ervaar uit die oog van die vreemdetaalspreker van Afrikaans en het in hierdie tyd my eerste boek (Norme vir Afrikaans, wat tot op hede reeds vyf hersiene uitgawes beleef het) geskryf, juis omdat my studente nie voldoende materiaal gehad het waarmee ek hulle kon leer nie. Dit was ook die tyd van politieke woelinge om Afrikaans en ek kon die wrewel teen Afrikaans en Afrikaanse mense ervaar en dit was nie altyd aangenaam nie. Dit het wel by my ’n bewuswording geskep dat iets verkeerd is as mense so oor my taal voel en dit sou die missie word van my betrokkenheid by Afrikaans om die foute van die verlede te probeer regstel.

Hiervandaan het my en my gesin se pad na Potchefstroom geloop, eers by die toenmalige PU vir CHO en deesdae die NWU se Potchefstroomkampus waar ek reeds meer as 20 jaar is. Hier werk ek oorwegend met moedertaalsprekers van Afrikaans wat nie altyd besef watter kosbare kleinood hulle in hulle hande hou nie.

Hoekom hierdie storie oor my vordering met die lewenspad tot waar ek vandag is? Gewoon omdat my wêreld van die begin af verweef was met Afrikaans en dit waarvoor Afrikaans staan. Dit is vir my ’n strewe om ander by hierdie wêreld te betrek, maar om ook in hierdie proses die foute wat in die verlede in Afrikaans gepleeg is, op my eie manier te probeer regmaak. Daarom is ek ’n aktivis vir Afrikaans, praat ek in Afrikaans waar ek kan, werk ek in Afrikaans, praat ek in die openbaar oor Afrikaans – ek léwe dus in Afrikaans. Dit is my reg.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Anoniem ·

Prof Wannie,

Dit is ‘n baie mooi verhaal, veral ook die meelewing in, met en deur Afrikaans.

Dit is belangrik dat ons kennis neem van die foute van die verlede en iets daaraan probeer doen; dit is ook opmerklik dat hierdie vir u ‘n groot passie is.

Ons moet egter ook versigtig wees (dalk meer so) vir foute van die hede.  Hiervan is deel die geval van kinders wat nie meer Afrikaans lees nie. 

Waar sou u sê moet die oorwig van ons aandag lê? By die foute van die verlede of die foute van die hede?

Wannie Carstens ·

Gemsbok, dit is ‘n moeilik vraag, maar ons moet pragmaties daaroor wees: ek dink as ons regmaak wat in die verlede skeef geloop het, kan ons ons beter posisioneer om die foute van vandag reg te maak. Hoop dit help!

WAMC

Essie ·

Dit is goed om te hoor dat Afrikaans ten spyte van die feit dat Engels die voertaal van Namibie is, nog so groei. Dit wys maar net weer dat wette nie iets soos taal wat so inherent deel van ‘n samelewing is sommer eens klaps kan verander nie.

Ek hoop dit kon dieselfde van die Wes-Kaap gese word. Afgesien daarvan dat dit die enigste provinsie is waar daar ‘n taalbeleid bestaan, word Engels veral in die Onderwysdepartement sterk bevoordeel. Die nuusbrief van die WKOD verskyn net in Engels. Die omsendbriewe wat dikwels by skole uitkom is so swak vertaal dat die boodskap so verwarrend is dat dit beter is om die Engelse weergawe te lees. Blykbaar volgens my isiXhosa kollegas geld dit vir die Xhosa vertalings ook.

Ek het die afgelope week die “CAPS” opleiding van die Grondslagfase as waarnemer bygewoon. WKOD het ‘n Afrikaanse vertaling van die dokument gestuur en die spel en grammatikafoute wat daarin voorgekom het, het my hare laat regop staan. Dit het gelyk of hulle Google se vertalingsinstrument gebruik het om dit te doen. Op my vraag aan een van die onderwysers of daar baie van hierdie tipe vertalings by die skole opdaag, het sy bevestigend geantwoord. Sy het gese dat as hulle daaroor kla word dit geignoreer en daarom doen hulle dit net nie meer nie. Hulle lag maar net en sorg dat die taal wat hulle in die klas gebruik korrek is.

Ek weet dat daar van veral Afrikaners a.g.v ons geskiedenis verwag word om eerder suutjies te trap wanneer dit by taalkwessies kom, maar eerlik iewers moet dit aangespreek word. Taal en kommunikasie is so deel van die bou van geletterdheid by ons kinders dat die verwaarlosing van ons moedertale nie moet agterbly nie. Volgens my is dit die plig van die onderwysdepartement om daana om te sien.

Louis du Plessis ·

Wannie ~

1  Terwyl jou opgeruimde woorde – vanaf Windhoek tot Stellenbosch, Kaapstad tot Potch – ons aanspreek, wonder ek vir die soveelste keer:  Wat is die KERN van Afrikanerskap?  By kern bedoel ek:  Wat is die hoofelement wat die verskynsel sal ophef as jy dit wegneem?  Is die kern nie juis die aktiwiteit om Afrikaans te praat nie?  Ek sê nie jy sê noodwendig so nie; ek vra net.  Ekself neig nogal om ja te antwoord.     

2  Of is die kern van Afrikanerskap om Sondag kerk toe te gaan? Om christelike boodskappe te verkondig?  Om in Suid-Afrika te woon?  Om die Springbokke te ondersteun?  Om gesond te eet en nie vetsugtig te wees nie?  Om te hou van seksie meisies?  Om jou geldsake winsgewend te bestuur?  Om te studeer vir ‘n kwalifikasie in musiek?  Om met tegnologie te eksperimenteer?  Om Don Quichote in Spaans te lees?  Of Tolstoi in Russies?  Om konserwatiewe politieke beginsels aan te hang?  Nee wat, op die keper beskou kan mens al dié speletjies speel, selfs ‘n christen wees, maar as jy nie Afrikaanssprekend is nie, IS jy nie ‘n Afrikaner nie.  Per definisie. 

3  Dat iemand, saam met jou, “’n aktivis vir Afrikaans” is en “Afrikaans praat” waar ook al hy kan, dit is waarskynlik die wese van Afrikanerskap.  Die res is bysake.   Die kernsaak is: Afrikaans.   Op daardie oomblik dat mense nie meer die Afrikaanse taal praat nie, verdwyn die verskynsel bekend as AFRIKANER – soos mis voor die lenteson.  

4  Dus, wie soos jy, ons moedertaal bevorder, maak die Afrikaner sterker.   

Met agting

H J Bester ·

Prof Wannie,

Baie dankie vir ‘n verfrissende stukkie oor die Afrikaanse taal wat tog alte lekker op ‘n bedrukte gemoed val en ‘n taal wat ons deesdae ook met oorgawe gebruik omdat ons weet dat dit uit verskeie oorde bedreig word.

Ek is ‘n boorling van Suidwes-Afrika en woon steeds in Namibië en was verras om ook van u verbintenis met hierdie pragtige land met sy rustige mense te verneem. Daar’s groot waardering vir die werk wat u in Suid-Afrika steeds vir Afrikaans doen.

Prof, Namibië is nou reeds sowat 22 jaar onafhanklik met slegs een amptelike taal, naamlik Engels. Afrikaans, tesame met Duits en die ander inheemse tale, het geen amptelike status nie alhoewel daar geen beperking op die gebruik van enige van hierdie tale is nie en kan dit deur die gebruikers daarvan ongesteurd gebesig word. Anders egter as in Suid-Afrika, is hier geen weerstand van swart mense teen Afrikaans nie en het dit nie die etiket van “die taal van die verdrukker” nie, inteendeel word dit wyd deur alle inwoners gebruik en kan dit grootliks as die lingua franca in Namibië beskou word.

Afrikaans word steeds deur honderde swart kinders oral oor die land as skoolvak geneem tot in die finale skooljaar en dit wil voorkom asof hierdie getalle jaarliks uitbrei. Vir die afgelope 2 jaar reeds word Afrikaans ook as vak in die Verre Noorde (Owamboland) aangebied – natuurlik op hulle versoek.

Voorgenoemde is bemoedigende tendense en verseker definitief dat die gebruik van Afrikaans nog vir dekades of selfs geslagte lank in Namibië sal voortgaan.

Ek het egter ‘n vraag hieroor, naamlik: Wat het daartoe aanleiding gegee dat Afrikaans deur die afgelope onafhanklikheidsjare asook op hierdie stadium, steeds nie deur die swart mense verwerp is nie maar sonder dwang spontaan gebruik word ?

U mening word waardeer.

Hartlike Namibiese groete.

Wannie Carstens ·

HJ Bester vra ‘n interessante vraag: “Wat het daartoe aanleiding gegee dat Afrikaans deur die afgelope onafhanklikheidsjare asook op hierdie stadium, steeds nie deur die swart mense (in Namibië) verwerp is nie, maar sonder dwang spontaan gebruik word?”

Ek moet erken dat ek nie ‘n antwoord hierop het nie. Dit strook ook met my eie ervaring tydens besoeke aan Windhoek. Dit mag dalk wees dat daar in die apartheidstyd nog altyd in Namibië (of Suidwes soos ek dit ken) respek was vir die inheemse tale en dat van die blanke mense moeite gedoen het om die tale (Ovambo, Herero, Nama, ens.) aan te leer. Op hierdie wyse was daar dalk ‘n simboliese uitreik. Ek weet dat my pa in sy handel en wandel as staatsamptenaar in die land altyd respekvol teenoor ander Namibiese landgenote was en miskien is dit iets daarvan wat oorgebly het. Ek hoor ook graag wat ander Namibiërs hiervan sê. Op hierdie wyse leer ons dalk om SA se probleme op te los!

H J Bester ·

Prof Wannie,

Voortspruitend uit die vorige skrywes met betrekking tot die stand van Afrikaans in Namibië – ja, en vind mens steeds nie klinklare rede hoekom Afrikaans se gedy in Namibië nie – het ek so ‘n bietjie gaan kyk wat gedurende die afgelope skooleindeksamens op die akademiese toneel gebeur het.

Ek het uit die onlangse amptelike eksamenuitslae van die Namibiese Ministerie van Onderwys, die volgende gegewens gevind ten opsigte van die aflegging van Afrikaans as vak vir Graad 10 leerlinge:

Uit 129 Sekondêre skole in die Suide, die Ooste, Weste, die Sentrale en Sentraal-Noordelike streke van Namibië, is Afrikaans in 105 uit 129 skole as eksamenvak afgelê. Uit hierdie skole is slegs 11 deur blanke kinders bygewoon wat dus ‘n aanduiding gee wat die omvang van Afrikaans as skoolvak behels.

In die Noordelike streke, dit is Owamboland, Kavango en die Caprivi, waar geen blanke kinders enige staatskole bywoon nie en waar Afrikaans vir bykans 2 dekades nie as vak aangebied is nie, word dit nou ook reeds vir die afgelope 3 jaar in enkele skole doseer.

Wat ‘n wonderwerk wil mens bykans sê oor voorgenoemde toedrag van sake. Wens ons het ‘n resep daarvoor gehad om dit ook vir Suid-Afrika aan te bied.

Hartlike Namibiese groete

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.