Wannsee en die ‘finale oplossing’

wannsee-huis

Huis Wannsee. Foto: Global.britannica.com

Dis ’n koue Dinsdagoggend, 20 Januarie 1942, iets meer as 75 jaar gelede. In Berlyn is die temperatuur onder vriespunt; die sneeu lê dik.

In ’n luukse herehuis in die rykmansbuurt Wannsee in die buitewyke kom 15 burokrate byeen in die eetsaal vir ’n vergadering wat die hele dag sal duur. Dit is die berugte Wannsee-konferensie wat ingrypende gevolge vir Europa se Joodse bevolking sal hê.

Dat Adolf Hitler en die Nazi’s geen liefde vir die Jode gehad het nie, is bekend. Maar alles dui daarop dat daar aanvanklik geen plan was om die Jode uit te moor nie.

Die proses het kort ná Hitler se magsoorname op 30 Januarie 1933 begin toe die Jode verbied is om sekere beroepe te beoefen en aan universiteite te studeer. Hoe die Nazi’s se koppe tóé gewerk het, blyk uit ’n brief (gedateer 24 Januarie 1939) van Hermann Göring, wat destyds die Jode-beleid moes dryf, waarin hy skryf: “Die emigrasie van die Jode uit Duitsland moet met alle middele bevorder word.”

Aanvanklik was die idee om hulle na ’n ver plek – Madagaskar is genoem – te stuur. Toe breek die oorlog uit, wat dié plan gekelder het.

Met die inval in die Sowjetunie (22 Junie 1941) het die idee ontstaan om die Jode in Siberië te hervestig. Maar teen Desember 1941 het die Duitse offensief in die buitewyke van Moskou tot stilstand geknars, en is die Duitsers ver deur ’n Sowjet-teenoffensief teruggedryf. Daardeur het ook dié plan gesneuwel.

Presies hoe die besluitnemingsproses gevolg het, kan nie heeltemal gerekonstrueer word nie. Hitler het nooit enige bevel om die Jode uit te moor op skrif gestel nie – hy het trouens reg deur sy 12 jaar lange heerskappy bitter min neergeskryf.

Tog, op 12 Desember 1941 spreek Hitler die leiers van sy Nazi-party in sy private kwartiere in die Rykskanselary in Berlyn oor sy planne toe. Sy minister van propaganda, Josef Goebbels, teken in sy dagboek aan: “Betreffende die Joodse vraagstuk het die Führer besluit om skoonskip (reinen Tisch) te maak… Die wêreldoorlog is daar, die vernietiging van die Jodedom moet die noodwendige gevolg wees.”

Dít was duidelik die besluit om die Europese Jode massaal uit te moor, ’n besluit wat in die diepste binnekring van die Nazi’s geneem en slegs mondeling oorgedra is.

Maar dit moes ook in die praktyk toegepas word. In dié stadium het die SS reeds ver meer as honderdduisend Jode in Pole en die Sowjetunie op die ouderwetse manier – ’n koeël in die kop – vermoor. In die duisende gekodeerde Duitse radioberigte wat die Britte onderskep en ontsyfer het, is daar honderde verslae van die moordbendes, bekend as Einsatzgruppen, oor dié eerste fase van wat later as die Holocaust of die Joodse volkslagting bekend sou word.

Die hoof van die SS, Heinrich Himmler, het in 1941 juis een van dié moordpartye bygewoon en naar geword. Na aanleiding hiervan het hy vermoedelik voorgestel dat die proses “ordeliker” en doeltreffender uitgevoer word.

Dit was juis om die praktiese toepassing hiervan te bespreek dat die 15 man op 20 Januarie 1942 in die SS-gastehuis in Wannsee byeen gekom het.

Die voorsitter was Reinhard Heydrich, op Himmler na die magtigste man in die SS. Onder die ander aanwesiges was Adolf Eichmann (wat later na Argentinië uitgewyk het en in Israel tereggestel is), en Roland Freisler (die regter wat die samesweerders teen Hitler se lewe in 1944 aan klavierdraad laat ophang en verstik het).

Eichmann het die notule gehou, waarvan een eksemplaar bewaar gebly het (dit is volledig op die webwerf van die Huis Wannsee gepubliseer). Die notule is eers aan Heydrich voorgelê, wat gesorg het dat dit na ’n kurkdroë amptenaarsdokument lyk. Tog is die inhoud brisant, om die minste daarvan te sê.

Daar word deurgaans van die “finale oplossing” (Endlösung) van die Joodse vraagstuk gepraat, ’n eufemisme wat in die praktyk die totale uitwissing beteken het.

Heydrich het begin deur verslag te doen oor wat tot dusver gedoen is. Tot op 31 Oktober 1941, het hy vertel, is ongeveer 537 000 Jode uit Duitsland verwyder. Nog 11 miljoen moet uit ander Europese lande volg.

Dié mense moet in Oos-Europa werk gaan verrig: “In groot arbeidskolonnes, met skeiding van die geslagte, sal die Jode wat tot werk in staat is, al werkend na dié gebiede gevoer word, waarby twyfelloos ’n groot deel deur natuurlike vermindering sal uitval.” (’n Mens het nie veel verbeelding nodig om te weet wat “natuurlike vermindering” beteken nie.)

Europa word van wes na oos “deurgekam”, die Jode word in deurgangsghettos geplaas en dan per trein na die ooste vervoer, aldus Heydrich.

Die res van die vergadering is gewy aan ’n bespreking oor presies wie as Jood kwalifiseer, of Jode wat nuttige werk vir die oorlogspoging verrig, vrygestel kan word, en hoe die verwydering van die mense gedoen kan word sonder om die burgerlike bevolking onrustig te maak.

Die dag is afgesluit met brandewyn en sigare in die huis se luukse sitkamer.

Volgens die notule is daar nie openlik oor massamoord gepraat nie. Tog het Eichmann tydens sy verhoor in Israel getuig dat dit wel gebeur het. Hy het ook vertel die vergadering “is baie stilweg en met hoflikheid gevoer, met baie vriendelikheid – met maniere en aangenaamheid; daar is nie baie gesê nie en dit het nie lank geduur nie; die kelners het konjak bedien, en op dié manier het dit geëindig”.

In sy boek The Villa, the Lake, the Meeting: Wannsee and the Final Solution (2002) kom die Britse historikus Mark Roseman tot die gevolgtrekking dat een van Heydrich se doelstellings was om die mededinging tussen staatsdepartemente, wat almal hul eie koninkrykies wou beskerm, uit die weg te ruim. Dít om die massamoord gladder te laat verloop.

Hierin het Heydrich ruimskoots geslaag, aldus Roseman.

Hiervandaan was dit ’n glybaan na die ergste hel wat ’n mens jou kan indink: Die doeltreffende industriële moord op ’n geskatte ses miljoen Jode. Nie oor wat hulle gedoen of nié gedoen het nie; bloot omdat hulle Jode was.

Naas Auschwitz is Wannsee die makabere simbool van die dieptes waartoe mense kan daal.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Beslis een van die laagste laagtepunte in die geskiedenis van die mensdom. Kon nog nooit verstaan waarom die stomme Jode die Nazi’s so tot moordens toe gegrief het nie. Jode is hardwerkend en die Joodse geloof geensins so vreemd (fanaties), veeleisend en indringend vir ‘n Westerse samelewing soos die Islamitiese geloof nie.

Die feit dat die koelbloedige Nazi’s so gereeld met Apartheid Suid-Afrika vergelyk word, grief eindeloos. Verder is dit ‘n ope vraag of die buitengewone wreedheid van duisende plaasmoorde en ander geweld teen die wit minderheidsgroep in SA óóit ‘n fraksie van die wêreld se aandag wat aan die Holocaust spandeer word, gaan kry. Dalk, eendag wanneer dit te laat is.

(Kan nie help om effens paranoïes te wonder of die tydsberekening van die skrywer met hierdie onderwerp en die reisverbod van die VSA tans op sekere lande iets in gemeen het nie)

Hendrik ·

Wat my tref is dit lyk of die Jode sonder teestand in die rye gestaan het. Dit is my bekommernis dat ons Afrikaners die S.A. demokrasie net gedwee aanvaar met al sy diskriminasie en geen weerstand bied nie. Ek onderspeel nie die verskriklike gebeure in die Joodse konsentrasiekampe nie. Ons moet miskien ons konsentrasiekampe ook aan die groot klok hang

Leopold Scholtz ·

Beste Therese, die belang van die tydsberekening staan in die artikel self. Dis net mooi 75 jaar gelede dat die konferensie plaasgevind het. Lekker dag!

TDW ·

Ek het baie gelees oor die Jode in die 2de wêreldoorlog. Wat my bygeval het is hoeveel keer die mense gewaarsku is dat hulle vermoor gaan word, maar die Jode wou dit nie glo nie, want soveel sleg is nie realiteit vir mens nie. Niemand kan indink dat die vyand jou net sal doodmaak vir geen logiese rede nie. Ek sou dit ook nie glo as ek in hul skoene was nie. Daardie tyd en vandag se Suid-Afrika loop vir my parallel. Ons wit mense sukkel om die illogiese haat wat ander vir ons het te verstaan. Ons word ook uitgemoor, ons word ook gewaarsku, maar die slegtheid daarvan is vir ons ondenkbaar en dus nie realiteit nie. En ons noem die mense wat ons waarsku doemprofete. Nes die Jode daai tyd. Ons klou vas aan die idee dat dinge sal beter gaan, of dat ander lande ons sal help voor dit te ver gaan. En meestal vra ons, wat kan ons daaraan doen?

Hannah ·

Wonder vir die soveelste keer teen die agtergrond van SKRIF hoekom GOD dit toegelaat het.

TDW ·

Ek wil byvoeg dat as iemand goeie leesstof soek oor hierdie tyd, lees bietjie hierdie 2 oorlewendes se stories: Elie Wiesel se Night en Rena’s Promise van Rena Kornreich.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.