Wanorde in parlement: ANC moet bang wees

eff-verwyder staatsrede

EFF-LP’s word op 9 Februarie 2017 deur veiligheidsbeamptes uit die Nasionale Vergadering verwyder (Foto: Skermgreep uit regstreekse video)

Verlede week het ek my geskaam vir my eie land. Die chaotiese tonele in die parlement, waar die koukus van die EFF moles gemaak en met geweld deur die sogenaamde withemde verwyder is, was weliswaar nie hoofnuus in die buiteland nie, maar dis tog regoor die wêreld gerapporteer.

Dit laat ons met die vraag: Waar staan die demokrasie in Suid-Afrika?

Kom ons begin by die begin van verlede week se gebeure.

Laat ons die kind maar by sy naam noem: Die parlementêre reëls mag dan voorskryf dat pres. Jacob Zuma as “agbaar” of “honourable” aangespreek word, maar daar is niks eerbaar aan hom nie. In die oorgangstyd tussen die ou en nuwe Suid-Afrika het hy één keer ’n positiewe rol gespeel deur ’n burgeroorlog in Kwazulu-Natal te help keer, maar sedertdien het hy tot ’n leuenagtige skurk gedegenereer.

Hy is tipies van wat verkeerd is met groot dele van Afrika – ’n leier wat geen snars vir die algemene welsyn omgee nie, slegs vir sy eie mag, aansien en verryking.

Daarom het ’n mens in beginsel begrip vir enigiemand wat Zuma in die parlement kliphard aanpak en hom op sy gebrek aan bekwaamheid en integriteit wys.

Die vraag is natuurlik hóé. En dit bring ’n mens by die gedrag van die EFF-koukus.

Jy hoef uiterste oneerlikheid nie met uiterste platvloersheid te beantwoord nie. Dit maak – altans op eerlike mense – op die duur baie meer indruk as jy dit met waardigheid en fatsoen doen.

Dus het ordentlike mense geen begrip vir die ploerterige gedrag wat die EFF-parlementslede gereeld in die nasionale vergadering aan die dag lê nie, en dit sluit verlede week se gebeure in.

Maar nie net die EFF was skuldig nie. Talle ANC-lede het kliphard met hul EFF-eweknieë gewedywer om tot die laagste denkbare peil te daal. Dit sluit in openlike geskel en gevloek en geweldpleging.

Dit spreek tot die eer van die ander opposisiepartye dat hulle die vergadersaal waardig verlaat het. Daarmee het hulle hul walging van die gebeure baie treffender weergegee.

Dit staan in skrille kontras tot die leiding van die parlement, speaker Baleka Mbete, wat soos gewoonlik kop in een mus met die president was. ’n Vinnige sypaadjie moet hier terwille van perspektief ingeslaan word.

Toe die EFF ’n vorige keer ook moles gemaak en deur die withemde uitgesmyt is, was daar groot verontwaardiging by demokraties gesindes. Die parlement is naamlik veronderstel om die plek te wees waar lede (onderhewig aan sy eie reëls rakende fatsoenlikheid) vryelik moet kan praat.

Art. 58 (1)(b) van die Grondwet bepaal dan ook lede van die nasionale vergadering “is nie blootgestel aan siviele of strafregtelike verrigtinge, inhegtenisneming of skadevergoeding weens enigiets wat hulle in of voor of  aan die vergadering of enige van sy komitees gesê, blootgelê of voorgelê het nie …”

Toe dit in 2015 blyk dat die withemde wat die EFF-lede in daardie jaar uitgeboender het, in werklikheid polisiebeamptes was, het die DA die saak hof toe gevat. Dit het uiteindelik by die konstitusionele hof gedraai, wat in Maart verlede jaar bevind het dat die gebruik van polisiebeamptes om lede uit te smyt onwettig was.

In reaksie hierop het die ANC met sy meerderheid in die parlement iets meer as twee maande later ’n nuwe weergawe van die nasionale vergadering se reëls deurgevoer. Volgens art. 69 van dié reëls mag lede hulle nie skuldig maak aan “erge wanordelike optrede” nie. Dit sluit in “die doelbewuste skep van wanorde of ontwrigting”, om fisiek te voorkom dat ’n lid wat weens oortreding van bogenoemde uitgesmyt word, of deur geweld teen ’n ander lid te gebruik of te dreig.

Volgens artikel 73 mag die speaker só ’n lid beveel om die vergadering te verlaat. As hy weier, mag die ampswag gevra word om die lid uit te gooi. En as dít nie genoeg is nie, kan die “parlementêre beskermingsdienste” gevra word om in te gryp.

Die reëls is duidelik só opgestel om – altans in teorie – te voldoen aan die konstitusionele hof se uitspraak dat die polisie nie gebruik mag word om die orde in die nasionale vergadering te handhaaf nie. Die argwaan is dat minstens sommige van dié wat die EFF-lede verlede week by die raadsaal uitgehelp het, wel deeglik polisiebeamptes is. Die DA is luidens berigte besig met ’n ondersoek daarna.

Wat ’n mens se argwaan nog verder aanhelp, is die feit dat sowat 440 soldate van 9 SA Infanteriebataljon in die onmiddellike omgewing van die parlement met hul gewere in gereedheid gestaan het. Dit, soos Sanef (die SA redakteursforum) tereg in ’n verklaring gesê het, “het ’n klimaat van intimidasie geskep”.

Dit het baie herinner aan die situasie in piesangdiktature, waar die regerings dikwels soldate gebruik om die demokratiese debat te smoor. ’n Mens sien dit op die oomblik gebeur in lande soos Turkye, Iran, Egipte en Venezuela.

Ten grondslag hieraan lê natuurlik die agteruitgang van die ANC se kiesersteun. Die party het al in die vorige algemene verkiesing effens minder steun gekry, maar die munisipale verkiesings het hom ’n behoorlike opstopper besorg.

Vir enigiemand wat die situasie sonder ideologiese oogklappe bekyk, moet dit duidelik wees dat – tensy die ANC homself radikaal heruitvind – die einde van sy heerskappy daar op die horison wink. Vir ’n party wat homself as die bevryder van Suid-Afrika beskou, wat tot die wederkoms sal regeer, moet dit ’n uiters ontnugterende ervaring wees.

Teenstand vanuit die DA en VF+ kan nog afgemaak word as komende van “wit kolonialiste” of “coconuts” soos Mmusi Maimane. Maar as dit van ’n uitgesproke swart groep soos die EFF kom, ondermyn dit die ANC se legitimiteit en bestaansrede aan sy fondament.

Wat die gebeure van verlede week in die nasionale vergadering wys, is dat ’n groot deel van die establishment in die ANC tot die dood toe bekommerd is. ’n Deel weet baie goed dat die ANC homself sal moet heruitvind; ’n ander deel meen die antwoord is om debat en gedagtewisseling te smoor in die hoop dat die probleem sal verbygaan.

Niemand weet presies wat die toekoms inhou nie. Maar in die breë kos dit nie veel insig om te voorspel dat die deel van die ANC wat tans die kitaar slaan groot moeite gaan doen om die demokrasie verder af te breek nie. Wees dus waaksaam!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frans C ·

Dit is ‘n tendens in Afrika en ook sommige ander lande dat Presidente sorg dat hul omring word deur JA-baas mense en sorg dat hul deur politieke aanstelling die weermag en Polisie
aan hul kant kry.

Hulle is dan ook nie skaam om dit teen opposisiepartye in te span nie.Dit is maar hoe dit in ons buurstaat Zimbabwe begin het.Die ironie is dat mense uit die state in hul miljoene na Suid Afrika vlug,maar waarheen vlug ons.

Lynni ·

Ek was bly toe die EFF uitgegooi is. Hul dreig mos om boere van plase af te gooi.

Alida ·

Lynni, daar is beskaafde maniere om van mekaar te verskil. Mens sou respek vir die EFF kon kry as hulle net beskaafd aangetrek het en respek getoon het vir ander partye. Maar wee hulle gedrag was onaanvaarbaar en barbaars.

Rynhardt ·

Zuma en Anc het reeds met staatsrede en 440soldate asook polisie die antwoord gegee, maar die liberale denkers bly in ontkennining leef met alles.Anc gaan nie Zuma in rug steek nie, nog minder sy mag prysgee.n Groot polisiestaat is aan die ontwikkel met polisielede en soldate, voor almal se oe!

Therese van Schalkwyk ·

Chaos in die SA parlement gaan van tyd tot tyd gebeur, net soos in sommige ander lande in meer of mindere mate.

Betreurenswaardig dat plaasmoorde en ander geweld teen minderheidsgroepe, en veral die ‘gehate’ Afrikaner, nie óók regoor die wêreld gerapporteer word en skaam maak nie. Die Februarie-aanslag tot dusver so hewig dit skrei ten hemele.

Gereeld word in die media voorspraak gemaak vir Midde-Oosterse oorlogsvlugtelinge en op dramatiese wyses (foto’s van drenkelinge) op die gevoelens van Westerse lande gespeel om hul grense oop te gooi.
Hoéveel erger moet die misdadige martelings en moorde op weerlose Suid-Afrikaners raak om ‘n paar wenkbroue in die vlugtelingvriendelike Europa te lig?

John ·

As die grense van reg en verkeerd wegval, val al die ander grense weg. Regoor die wereld word grense afgebreek en anargie ontwaak. Skok is nooit ‘n lekker ervaring nie. Mens word ook nooit gewoond daaraan nie. Pandora se kissie is oop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.