Wapenstilstand tussen Armenië en Azerbeidjan

(Foto: DHA, AP)

Armenië en Azerbeidjan het in September die lang reeds sluimerende konflik oor die Armeense enklave Nagorno-Karabach militêr hervat. Ná alle aanduidings het Azerbeidjan die konflik begin, want Armenië het reeds sy maksimale territoriale eise sedert die wapenstilstand in 1994 bereik en sou net kon verloor. Dit is deesdae selde dat state tot konvensionele militêre konflik oorgaan, die norm is “asimmetriese oorloë”, soos terreur en burgeroorloë.

Daar was van die begin af die groot voordeel aan Azerbeidjan se kant, met die sterker weermag met meer moderne wapentuig, Siriese terroriste en veral die magtige Turkye aan hul kant. Hommeltuie het in die oorlog ’n groot rol gespeel en die geografiese voordeel van die bergagtige Karabach deels geneutraliseer.

Rusland, eintlik Armenië se bondgenoot, het hom lank teruggehou en selfs die rol van neutrale arbiter gespeel, sodat Armenië heeltemal op sy eie was. Ná verskeie skietstakings wat verbreek is, hoofsaaklik omdat Azerbeidjan sy territoriale winste wou konsolideer, kon Rusland verlede naweek ’n wapenstilstand bereik. Dit volg nadat Azerbeidjan die tweede grootste stad van Karabach, Shusha, verower het, net enkele kilometers van die hoofstad van Karabach, Stepanakert, wat die volgende teiken sou wees, met groot lewensverliese.

President Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, Sputnik, Kremlin Pool via AP)

Dit word vermoed dat Rusland ná die verowering van Shusha Azerbeidjan in die arm geval het, want Rusland wil die twee lande in balans hou en beide in afhanklikheid van homself hou. Daarom het Rusland gekeer dat Armenië alles verloor, maar lank genoeg stilgebly sodat Azerbeidjan as die oorwinnaar uit die stryd tree. Kort voor die wapenstilstand het die Armeense eerste minister, Nikol Pasjinjan met president Wladimir Poetin gepraat en Rusland om hulp aangeroep, wat eintlik neerkom op Armenië se kapitulasie.

Die wapenstilstandooreenkoms bepaal dat die twee konflikpartye die gebiede behou wat hulle tans, as gevolg van die militêre konflik, besit. Armenië het heelwat van die gebiede van Azerbeidjan wat in die oorlog (1992 tot 1994) verower is, verloor, asook dele van Karabach self. Die grootste deel van Karabach, ook die hoofstad Stepanakert, is egter nog in hul besit. Azerbeidjan het dele van sy gebied wat in 1994 verloor is, herower, maar nie alles nie. Rusland sal nou ook troepe in Azerbeidjan stasioneer (daar is reeds ’n Russiese militêre basis in Armenië) om die wapenstilstand en vredesooreenkoms te verseker, en ook om Turkye se invloed terug te dwing.

Anders as in die oorlog van 1992 tot 1994 het Rusland sy bondgenoot Armenië dié keer in die steek gelaat en gewag tot kort voor die totale neerlaag, maar het wel betyds ingegryp om die verowering van Karabach en die uitdrywing van sy mense te keer. President Poetin is eenvoudig ’n Machiavellis by uitstek: dit gaan nie oor moraal, vriend en vyand nie, net oor eie belang: die belang van Rusland as moondheid, maar veral die belang van Poetin self. Vir Armenië sal die beste onder die slegte omstandighede wees dat hulle Karabach (oftewel die grootste deel daarvan) kan behou, asook die smal Lachin-korridor wat dit aan Armenië verbind.

ʼn Armeense soldaat skiet ʼn artilleriestuk af tydens botsings met Azerbeidjanse magte in die selfverklaarde Republiek van Nagorno-Karabach. (Foto: Armenian Defense Ministry/PAN, AP)

Die status van Karabach en die verdere uitkoms van die onderhandelinge is nog nie duidelik nie. Azerbeidjan kan dalk oorreed word om die de facto-afskeiding van Karabach te erken in ruil vir die oorblywende grondgebied van Azerbeidjan, wat tans nog onder beheer van Armenië is. Of Karabach kan outonomie binne Azerbeidjan kry, alhoewel Karabach se mense juis nie meer onder die beheer van Azerbeidjan, wat hulle in die verlede erg verdruk het, wil kom nie.

Daar word vermoed dat die verhoudinge tussen Rusland en Armenië sedert Armenië se demokratiese revolusie in 2018 nie meer so hartlik is soos in die verlede nie, omdat Poetin, self outokraat, geensins die virus van demokrasie in sy buurlande wil hê nie. Die leiergroep wat deur Pasjinjan en sy ondersteuners in 2018 ontsetel is, was juis diegene met goeie bande met Poetin, en geneig tot outokrasie.

Die omkeer van die demokratiese revolusie begin reeds ontvou, deurdat woedende skares in Armenië die parlement en die setel van die eerste minister bestorm het omdat die wapenstilstand as verraad gesien word. In hierdie konflik het die Weste totaal en al deur sy afwesigheid en impotensie geskitter en behalwe vir die geykte appèlle tot ’n staking van die konflik, het daar niks gekom nie. Outokrate soos Ilham Aliyev, (die president van Azerbeidjan), Poetin en Recep Erdogan (die president van Turkye) is die oorwinnaars, en demokrate soos Pasjinjan, asook die Armeense volk, die verloorders.

Rusland volg in dié geval dieselfde beleid soos met al sy buurlande: Beskerm outokrate en keer pro-Westerse en demokratiese regerings (indien nodig) deur die aanvuur van oorlog deur middel van volmag. So het dit gebeur in Georgie in 2008 en meer onlangs in die Oekraïne, en ook in Witrusland word die outokratiese president Lukashenko deur Rusland beskerm.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

Die gesegde “damned if you do, damned if you don’t” vir Poetin. Hy word gekritiseer omdat hy Armenie nie gehelp het nie; sou hy wel betrokke raak, sou hy daarvoor gekritiseer word.
Oor die outokratiese Loeksjenko: dis nou die ou wie se land die enigste was waar die mense nie in inperking ingedwing is nie. Die volk was vry om rond te beweeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.