War of the Flea – ‘n skokfliek met oplossings

War of the Flea – die nuwe dokumentêre film oor plaasmoorde het my aan die kriminologie-kursus wat ek tydens my eerste jaar op universiteit gedoen het, herinner. Een van die lesings het oor die fenomeen van plaasmoorde gehandel. Ons dosent was ’n taamlik-jonk bebrilde stadsmeisie van Pretoria. Dit het nie gelyk of hierdie hoofstuk haar vreeslik geprikkel het nie. By die afskop van die plaasmoord-lesing het sy gevra: “Wie van julle kom van landelike gebiede?” Ek het my hand opgesteek saam met wat gelyk het soos ongeveer ’n derde van die klas wat uit ’n paar honderd studente bestaan het. Sy het voortgegaan: “Wie van julle, wat nou julle hande in die lug het, ken iemand wat op ’n plaas aangeval of vermoor is?” Uit die hele groep wie se hande reeds in die lug was, het minder as tien hul hande laat sak en ’n groep studente wie se hande nie reeds in die lug was nie het dit nou opgesteek. Dié van ons wie se hande in die lug was, was nie vreeslik geskok oor die uitslag van haar blitspeiling nie. Die res van die klas – dié wie se hande voor die tweede vraag nie in die lug was nie – was uit die veld geslaan.

Ek moet erken dat my persoonlike ervaring met vriende, familie en kennisse wat op plase vermoor of aangeval is my nie regtig in ’n posisie plaas om sonder emosie oor die onderwerp te praat nie. Dit is dalk die rede waarom ek en vroulief binne die eerste vyf minute van Rian van der Walt se fliek reeds begin snik het. Om te lees van die wrede moorde op die Potgieter-gesin van Lindley wat uitgemoor is, Johan Strydom van Potchefstroom wat agter ’n bakkie gesleep is en die vele ander voorbeelde, is alreeds ’n skok. Om op ’n groot skerm te sien hoe die oorlewendes hul stories op die verlate plase waar voedselproduksie tot stilstand gebring is vertel, plaas dit in ’n totale nuwe dimensie.

Die eienaardige naam, soos ek dit verstaan, verwys na ’n teorie oor die beste manier om ’n hond dood te maak. As jy die hond openlik aanval, gaan hy terugbaklei. As jy egter vlooie op die hond se lyf sit gaan hy krap elke keer wanneer dit jeuk, maar nooit terug baklei nie. Uiteindelik, wanneer die vlooie die oorhand gekry het, is die hond daarmee heen – amper soos die bekende teorie oor die paddatjie in die warm water.

Die fliek skok jou, maar dit is ’n goeie skok. Voor die aanvang van die fliek het Van der Walt verduidelik dat die wreedste tonele doelbewus uit die film verwyder is. “Ons het die fliek saamgestel sodat julle nie halfpad deur die fliek voel dat julle wil uitstap nie,” het hy verduidelik. Anders as die werk van baie ander persone wat bewustheid oor plaasmoorde wil kweek, is hierdie film saamgestel in ’n gees van ondersteuning aan die families en vriende van dié wat vermoor is. Die fliek is saamgestel om bewustheid te kweek, maar selfs nog belangriker, om verduidelikings vir hierdie fenomeen te soek, om antwoorde te waag en om oplossings voor te stel. As jy verwag om lyke en moordtonele te sien gaan die fliek jou teleurstel. Meeste van die gruwelikste tonele is reeds op die voorprent te sien. As jy dus op soek is na ’n film wat bewustheid oor plaasmoorde kweek, die menings van ’n reeks geloofwaardige deskundiges insluit en selfs met voorgestelde oplossings vorendag kom, is hierdie fliek net vir jou!

Die grootste probleem met plaasmoorde is die feit dat daar geen amptelike statistieke oor die onderwerp bestaan nie. Gevolglik word dit uitsluitlik aan die burgerlike samelewing oorgelaat om hul eie statistieke te formuleer en met oplossings vorendag te kom. Statistieke word op mediaberigte en soortgelyke bronne te formuleer. Dit is waarom soveel uiteenlopende syfers oor die onderwerp beskikbaar is.

Om uitsluitlik statistieke op te stel bied egter nog nie oplossings nie. Oplossing van humanitêre probleme (nog iets wat in Suid-Afrika al hoe meer aan die burgerlike samelewing oorgelaat word) vereis ’n multidimensionele benadering. Die eerste stap is om die nodige inligting in te samel sodat jy met geloofwaardigheid oor die onderwerp kan praat. Die tweede stap is bewusmaking oor die probleem. Dit moet vreesloos en voluit gedoen word, maar terselfdertyd moet jou metode van bewusmaking versigtig gekies word. Inisiatiewe vir bewusmaking oor ’n onderwerp so gruwelik soos plaasmoorde kan maklik verkeerdelik as propaganda afgemaak word, wat soms eerder skade sal berokken as om oplossings te bied. Die belangrike stap is om met oplossings na vore te tree en dit uit te voer.

As dit by iets soos plaasmoorde kom dit nie so eenvoudig nie. Daar is geen kitsoplossing nie. ’n Omvattende proses moet gevoer word om oplossings te bereik. Dit sluit onder meer in dat geloofwaardige inligting wat op betroubare bronne gebaseer is met die nodige sensitiwiteit plaaslik en internasionaal oorvertel moet word; dat deskundiges ingetrek moet word en dat debat gevoer moet word; dat uiteenlopende menings ingewin word; en dat almal gevra word om oplossings op die tafel te plaas. Dit moet deur ’n verskeidenheid van stappe opgevolg word. Dit sluit die opskerping van paraatheid, ondersteuning aan die oorlewende families, druk op die regering en bewusmaking in.

En dít is die rede waarom films soos Rian van der Walt se War of the Flea van waarde is. Ongeag of jy met die menings wat in die film gehuldig word saamstem of nie, sorg dat jy dit kyk en dat jou stem óók gehoor word. Die tyd van praat alleen is verby, maar die tyd om op te hou praat het nooit aangebreek nie.

Die vervaardigers van War of the Flea is besig om met uitsaaiers te onderhandel oor die uitsaai van die film. Die beskikbaarheid van die film sal van die kontraktuele verhouding met die betrokke uitsaaier afhang. Meer inligting in hierdie verband sal later op Maroela Media aangekondig word.

Sien ook ‘n onderhoud met die vervaardiger en video’s oor die dokumentêr hier.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.