Ware aanspreeklikheid: ‘Die DA voeg daad by die woord’

Deur dr. Leon Schreiber

Dr. Leon Schreiber.

Oor die afgelope dekade het verskeie lede van die Suid-Afrikaanse media die publiek aanhoudend aangemoedig om ons land se verkose leiers “aanspreeklik” te hou.

Terwyl ANC-kaders die land se toekoms verslind het by die trog van korrupsie, het kommentators hulself in ‘n toestand opgewerk en “aanspreeklikheid” om elke hoek en draai geëis. Sommige het selfs die moed bymekaargeskraap om beleefd voor te stel dat die ANC dalk sy leiers “verantwoordbaar” moet hou vir Nkandla, Life Esidimeni en Marikana.

Maar toe die DA die eerste politieke party in Suid-Afrika se postapartheid-geskiedenis geword het om vrywillig ‘n onafhanklike beoordelingspaneel aan te stel wat sy leiers aanspreeklik gehou het vir ‘n teleurstellende verkiesingsuitslag, was die instink van dieselfde kommentators om onmiddellik te verklaar dat die DA “nie sal oorleef nie”.

Die webwerf News24 het selfs met entoesiasme die “dood van die DA” verkondig.

Hierdie oordrewe reaksie is veroorsaak deur iets wat algemeen en alledaags in ‘n demokrasie behoort te wees: die bedanking van topleiers ná ‘n deeglike beoordeling van die party se tekortkominge en leemtes. In die meeste gevestigde demokrasieë sou dit as vanselfsprekend aanvaar word dat leiers bedank ná ‘n verkiesing waar ‘n party slegs 25% van sy verklaarde doelstellings bereik het.

In samelewings met volwasse demokrasieë, interpreteer ingeligte kommentators ook nie sulke bedankings en aanspreeklikheid as swakheid nie. Inteendeel, hulle erken dat eerlike besinning en interne vernuwing die grootste sterkpunte van enige demokratiese organisasie is.

Dít is presies wat die afgelope paar maande in die DA ontvou het. Die party het begin met eerlike en opregte introspeksie. Meer as 200 partylede het gedetailleerde ontledings voorgelê aan ‘n paneel wat bestaan het uit ‘n internasionaal-gerekende kommunikasiestrateeg, ‘n voormalige partyleier, en ‘n gerespekteerde sakeleier. Al drie die lede van die paneel is persoonlik deur die leier van die party aangewys.

Toe die beoordelingspaneel sy werk afgesluit het en aanbeveel het dat die leier, uitvoerende hoof en hoofadministrateur bedank vir hul onderskeie rolle in die agteruitgang van die party, het al drie bedank – sonder dat ‘n enkele bruin koevert hande verruil het, sonder dat ‘n enkele stoel gegooi is, en sonder dat ‘n enkele skoot afgevuur is.

In plaas daarvan om die foute te probeer toesmeer, het die DA ook die publiek en kiesers in ons vertroue geneem deur die verslag openbaar te maak.

In die daaropvolgende interne verkiesing ter vervanging van die DA-hoofadministrateur, James Selfe, het die party se hoogste besluitnemingsliggaam Helen Zille demokraties verkies.

Ten spyte van al die samesweringsteorieë wat onlangs in die media verskyn het, wys Zille se verkiesing tot hierdie belangrike administratiewe pos bloot dat party-afgevaardigdes haar vertrou op grond van haar onbetwisbare rekord as die mees suksesvolle administrateur van die post-1994 era en as die veiligste paar hande om die party deur sy proses van administratiewe en strukturele verandering te lei.

As mens verby die oordrewe histerie kyk, is dit duidelik dat die DA sedert die verkiesing in Mei niks anders gedoen het as om onsself werklik en prakties verantwoordbaar te hou nie.

Die party het nie besluit op eindelose konsultasies en sinnelose praatjies om probleme te probeer verdoesel nie. Dit het gewaagd en beslissend opgetree ná die 1,46%-daling by die stembus.

Vergelyk dit met die ANC, wie se aandeel van die stemme sedert 2004 met 12,19 persentasiepunte gedaal het sonder ‘n enkele opregte poging om sy probleme prakties te konfronteer.

Of kyk na die IFP, UDM en COPE – partye wat almal so te sê in duie gestort het sonder dat ’n enkele leier daarvoor verantwoordelik gehou is.

Die DA praat nie net oor aanspreeklikheid wanneer dit gewild is nie. Die DA neem praktiese aanspreeklikheid selfs wanneer dit ongemaklik is – want werklike aanspreeklikheid is altyd, per definisie, ongemaklik.

Soos baie kere van tevore is gerugte van die DA se ondergang uiters oordrewe. Maar die volgende keer wanneer kommentators die gebrek aan “aanspreeklikheid” in Suid-Afrika betreur, sal lesers hulle kan herinner aan hul histeriese reaksies toe die amptelike opposisie sy onwrikbare verbintenis tot werklike aanspreeklikheid bewys het.

Namate die party voortgaan om die aanbevelings van die hersieningskomitee te implementeer deur in die komende maande ‘n beleidskonferensie te hou en ‘n nuwe leierskap te verkies, sal Suid-Afrikaners sien dat die DA in werklikheid die enigste party is wat beslissend optree om sy foute reg te stel en ware aanspreeklikheid uit te leef.

Die DA se onwrikbare toewyding aan ware aanspreeklikheid is alles behalwe ‘n doodskoot. Dit is inderwaarheid die enigste medisyne wat Suid-Afrika kan genees.

  •  Dr. Leon Schreiber is die DA se skaduminister van staatsdiens en administrasie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KrokodilBotha ·

Ja, geen wonder julle geldelikke sponsors het omtrek nie. Droom maar verder.

Judge Dredd ·

….en met al die verantwoordelikheid wat jul openbaar het jul vergeet om Elana Barkhuizen om verskoning te vra en aksie teen jul Jeugleier te neem……

En hoe verantwoordelik is dit om nog met regstellende aksie voort te gaan wanneer 70% van jongmense onder 25(wat niks met Apartheid te doen het) nie werk het. Dan predik julle hoe julle wil werk skep onder jongmense.

Arak ·

Al die woorde van aanspreeklikheid klink so reg, ek dink alle belastingbetalers smag na aanspreeklikheid, maar mag ek voorstel dat die DA by hulself begin. Begin sommer by Pretoria, wat onder DA beheer ons in die grond in belas, en dan is daar konstant korrupsie op korrupsie. Vertel ons van die rug-aan-rug grond transaksies, vertel ons van die Wonderboomlughawe onder julle bestuur. Hou op om vir ons te vertel hoe oulik julle is, en hoe sleg die ander is. Sit bietjie daad by woord; wanneer kan ons gewone belastingbetalers die eerste vervolgings verwag oor al die korrupsie in die DA beheerde stadsraad?

KrokodilBotha ·

Paar jaar terug……Nog vars in my geheeu hoe 50 miljoen liters se riool van kaapstad daagliks in die see vloei / of nog steeds doen. Afriforum moes handtekeninge kry om die DA te kry om iets daar aan te doen. Alles is nie rosey waar die DA beheer nie. Julle is n mislukking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.