Ware grondhervorming is binne ons bereik – ons moet dit aangryp

eiendomregte-grondbesit-privaat

Foto: Aitoff/Pixabay.com

Deur Marius Roodt

Stede is die masjienkamer van die ekonomie, en stede behoort die fokus te wees van wat ’n werklik revolusionêre grondhervormingsproses kan wees.

Baie is al sinloos geskryf sedert Suid-Afrika die grootse nuwe wêreld van die Ramaphosa-era betree het.  Wanneer dit egter by onteiening sonder vergoeding (OSV) kom, het die ANC, deur sy wa agter die Economic Freedom Fighters (EFF)-perd in te span, ’n beleid aanvaar wat selde elders in die wêreld gewerk het.  Indien die volle omvang van wat die EFF sou wou hê – met alle grond wat na die staat oorgaan – geïmplementeer sou word, sal Suid-Afrika by Zimbabwe en Venezuela aansluit as 21ste eeuse waarskuwingsverhale van die skade wat swak ekonomiese beleid ’n land kan aandoen.

Suid-Afrika het sonder enige twyfel ’n geskiedenis van grondontvreemding en dit moet in so ’n groot as moontlik mate reggestel word. Die meeste mense wat deur grondhervorming bevoordeel is, het egter verkies om geld eerder as grond te aanvaar, wat wys dat grondhonger nie so ’n brandende vraagstuk is as wat deur party mense beweer word nie.

Terselfdertyd is Suid-Afrika nie ’n plattelandse land nie – ons verstedelik vinnig.  In 1990 het omtrent 52% van Suid-Afrikaners in stede gewoon. ’n Kwarteeu later het hierdie syfer tot 65% gestyg, met byna twee derdes van Suid-Afrikaners wat in stede leef.

Daar was ook groot bevolkingstoenames in Suid-Afrika se grootste stede. Tussen 1996 en 2016 het die bevolking van Johannesburg byvoorbeeld van 2,7 miljoen tot 4,9 miljoen toegeneem, ’n styging van 82%. Van Suid-Afrika se ander metro’s het Kaapstad, Tshwane en Ekurhuleni oor hierdie tydperk bevolkingstoenames van meer as 50% getoon. Van die land se grootste stedelike gebiede het Rustenburg se bevolking tussen 1996 en 2016 byna verdubbel. Al stedelike gebiede – behalwe Buffalo City (Oos-Londen) en Emfuleni (Vereeniging) – het toenames van meer as 20% in bevolking getoon.

Die toekoms van Suid-Afrika – en, inderdaad, van die res van die wêreld – is stedelik. Soos Ed Glaeser, ’n Harvard-ekonoom, sê, is stede die grootste uitvindsel van die mensdom. Stede beteken dat mense naby mekaar is, wat ons meer vernuwend en meer produktief maak en wat ekonomiese groei bevorder. Suid-Afrika moet hierdie stedelike toekoms aangryp en ophou om na ’n niebestaande landelike goue eeu terug te verlang. Stede is die groei-instrumente van enige land en by ons is dit maar net so.

Hoewel net minder as 40% van Suid-Afrika se bevolking, byvoorbeeld, in een van die agt metropolitaanse munisipaliteite leef, is die ekonomiese uitset van hierdie agt stede baie meer as dit.  Die gesamentlike ekonomiese uitset van die agt metropolitaanse munisipaliteite het in 2016 vir byna 60% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk verantwoording gedoen.  Johannesburg alleen was vir 15% van die ekonomiese uitset verantwoordelik, ondanks die feit dat dié stad oor omtrent nege persent van Suid-Afrika se bevolking beskik.

Die regering behoort stede te aanvaar as die ekonomiese meganismes wat hulle is.

huis-sleutels-huiseienaar-eiendomsreg

Foto: Mastersenaiper/Pixabay.com

Een manier om mense, wat reeds in ’n stad woon, te laat voel dat hulle ’n aandeel daarin en in die toekoms daarvan het, is om transportaktes te verskaf aan stadsbewoners wat nie reeds daaroor beskik nie. Stede oor die land heen behoort die voorbeeld van die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, te volg en titelbewyse te voorsien aan mense wat met lang huurkontrakte in huise woon.

Suid-Afrika behoort ook innoverend te wees. Waar moontlik, moet mense wat in informele nedersettings woon, titelbewyse ontvang vir die grond waarop hulle woon, veral as dit regeringsgrond is. In gevalle waar dit nie moontlik is nie en mense verskuif moet word, behoort hulle hervestig te word in gebiede waar hulle transportaktes kan ontvang. Mense in HOP-huise behoort terselfdertyd titelbewyse vir hul huise en grond te ontvang.

Die verskaffing van titelbewyse vir hul grond en eiendom aan hierdie mense sal miljoene, of selfs miljarde, rand ontsluit in wat op die oomblik “dooie” kapitaal is. Vaste-eiendomsregte is een van die sleutels tot die welvaart en voorspoed van die ontwikkelde wêreld, soos Hernando de Soto, ’n gevierde Peruaanse ekonoom, aanvoer.

Daar bestaan geen twyfel dat grondhervorming in Suid-Afrika noodsaaklik is nie, maar dit is verkeerd om op plattelandse grond te fokus. Ons hervormingspogings behoort daarop toegespits te wees om aan mense met skraal grondregte in stede titelbewyse te gee. (Dit beteken nie dat grondhervorming in landelike Suid-Afrika nie net so belangrik is nie.)

Om alle Suid-Afrikaners van hul transportaktes te stroop – soos die EFF wil doen – sal enige moontlikheid dat die land ’n voorspoedige samelewing, met geleenthede vir almal, kan word, vernietig.  Die bemagtiging van mense deur aan hulle titelbewyse vir hul grond te gee, sal waardigheid aan hulle verleen en aan hulle geleenthede gee waaroor hulle nie vroeër beskik het nie.  Dit sal nie moeilik wees nie en ons het dit al sien gebeur – vernaamlik in Johannesburg deur mnr. Mashaba. Werklike grondhervorming is binne ons bereik – ons moet dit aangryp.

  • Marius Roodt is ’n konsultant van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

21 Kommentare

Gerrie Brits ·

Oor grondhervorming: ek wonder nogal watter persentasie van onbenutte grond in SA aan die regering behoort. Dis dalk ‘n goeie vertrekpunt om te begin uitdeel……

Kannaland ·

Die regering besit baie grond, en doen niks daarmee nie. Ek sal nie toelaat dat myt eiendom gevat word deur n regering wat inelkgeval niks met sy grond doen nie.

Casper Labuschagne ·

Wat presies is “ware grondhervorming?” Vir die marxiste beteken ware grondhervorming dat alle eiendom aan die staat moet behoort. Vir die hoofstroom linkses beteken dit dat blanke plase eenvoudig afgevat moet word. Vir die regerende elite beteken dit dat die plase met die meeste beeste daarop aan hulself oorgedra moet word. Vir die liberaliste beteken dit dat grond afgeneem kan word maar dat dit teen ‘n mate van vergoeding moet geskied en dat swart boere bygestaan en gehelp word om ‘n sukses van grondhervorming te maak. Vir my beteken dit dat iemand is welkom om my grond te koop slegs sou ek dit wil verkoop en dan teen ‘n billike prys wat die waarde van die grond saam met die ontwikkeling en ekonomiese potensiaal daarvan verteenwoordig. En dit is ‘n groot deel van die probleem, almal sê dieselfde ding maar hulle bedoeling daarmee is heeltemal uiteenlopend en onversoenbaar.

Jerry ·

Stem 100% saam dat die fokus op stedelike grondtoekenning met aktes en eiendomsreg moet plaasvind voor landelike grondtoekenning. Landelike grondtoekenning moet daarna gepaard gaan sonder die keuse om geldelike vergoeding te kry. Die proses moet n “vat die land met akte en verkoop dit dan self as jy eerder die geld wil he” wees. Sodoende kan voornemende boere wat regtig wil boer en spekulante dan wettig die grond teen n appel en n ui aankoop.

B-man ·

Appel en ei (eier). Stem saam, net jammer dat ons oplossings te ‘kolonialiaties’ is… al is dit reg. Die massas moet dit ook besef, maar gaan dit nie glo as dit by die ‘wit Satan’ se mond uitkom nie.

Hans ·

Om oor ‘n titelakte van ‘n eiendom te beskik bring sekere verpligtinge mee bv betaling van eiendomsbelasting ens. Ek dink daar sal ‘n grootskaalse inligtingsaksie van stapel gestuur moet ten opsigte van die verantwoordelikheid van huiseienaarskap.

Landbouekonoom ·

Moet nie die landelike, spesifiek landbou se waarde tot die ekonomie onderskat nie. Alhoewel stede inderdaad baie tot die BBP bydra en plaasgebiede min, is dit uiters misleidend want n groot deel van die stedelike welvaart is direk afhanklik van die landbousektor. Landboubesighede het sterk voorwaartse en terugwaartse waardekettings wat tot in die diepte van alle stede strek, insluitend Sandton en Kaapstad se rykmansbuurte.

Mari ·

Weet nie of moet ‘n mens jou eiendom klaar betaal nie. Kan julle lesers asb julle opinie gee. Betaal ek die eiendom klaar of bele ek die geld. Hierdie grondonteining maak mens onseker.

Oom Ekonoom ·

As jy die geld en vaardigheid het, vat als oorsee na n beskaafde land terwyl jy nog kan. Niemand weet meer wat hier met jou en jou eiendom gaan gebeur nie.

Boerseun ·

Mooi idees, maar bly maar een van hoop en n uitgediende idiologie dat almal dieselfde is.
1. Dit gaan nie oor grondontvreemding nie (wat maar op sy eie ook te ligtelik rond gegooi word) , maar oor beheer van grond deur die staat.
2. Tot op watter geslag kan daar aangedring word dan op so n title akte? As ek 17 word die jaar gaan ek kwaad wees as ek volgende jaar kry nie maar die voor my het gekry?
3. Tot op watter mate gaan so n persoon verantwoordelik wees vir belasting op die grond, of beter hoe gaan hulle enige verhogings in sulke tariewe bekostig.
4. Hoe gaan die titel akte oordrag voldoen aan munisipale bou standaarde en waar gaan die geld vandaan kom om dit op standard te kry.

As die ekonomie nie groei nie, en jy nie jou grense beheer nie is alle plannetjies pyp drome

Liberaal ·

Dit is gladnie reg om grense te beskerm nie, ons mag nie so daaraan dink nie. Ons moet alle grense oop maak en nie dink aan hulpbronne wat te min is nie. Jy mag dit gladnie noem nie. Jy mag nie vooruit dink nie.

Pieter ·

mense as ek so die kommentaar lees, moet julle asb julle self toegooi want julle is reeds dood reeds in julle grafte. Geniet hoe julle konders vermoor gaan word, geniet die feit dat julle Ok is met geen toekoms vir julle kinders nie, geen veiligheid vir julle gesinne.
Ek verstaan nou dat GOD gese het “Om die wingerd te red, moet die lote streng terug gesnoeie word.”
Die enigste persoon wat julle kan beskuldig is julle self, vir dit wat gaan kom.

Liberaal ·

Dit is die plan, ons moet opgee ja. Ons moet laat vaar en laat staan. Ons moet omrol en nie vir ons regte veg nie. Maak die deure oop vir misdadigers, laat hulle jou huis, eiendom, werk, taal en universiteite oorvat.

Veritas ·

Pieter, jou slotparagraaf slaan my dronk. Wat presies, bedoel jy daarmee?

Vannessa ·

Nee Marius Roodt,jy het duidelok geem benul waarvan jy praat en nog minder van n begrip van die tipe mense wat bloed soek en grond as n verskoning gebruik nie.

Albaster ·

Alhoewel die artikel baie grondige feite het is jy reg in die sin van dat als oor veghonger, entitlement en kitsgeldhonger gaan, nie grondhonger nie.

Albaster ·

Alhoewel die artikel baie grondige feite het is jy reg in die sin van dat als oor veghonger, entitlement en kitsgeldhonger gaan, nie grondhonger nie.

Andre C ·

Wat is grondhervorming ? Jy kan grond bewerk,bemes met kunsmis of dit verhit om bakstene te maak.Grond bestaan uit sand en klip en n bietjie organiese materiaal.Praat eerder van grondonteiening of gronddiefstal

Rudie Booyens ·

Uitstekende argument, en ‘n vars siening.
Jy openbaar wonderlike wysheid en insig.
Baie dankie!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.