Was AfriForum reg om ʼn eie terrein in Senekal te beman?

James Kemp. Foto: Verskaf

Enkele persone het sedert Vrydag se gebeure in Senekal gevra waarom AfriForum dit nodig gevind het om self ʼn terrein te bestuur waar protes teen plaasterreur aangeteken kon word. Die plasings op sosiale media het ʼn groot aantal kommentare uitgelok wat dit duidelik maak dat daar, onder diegene wat bekommerd is oor die stand van landelike veiligheid, die indruk bestaan dat AfriForum verdeeldheid sou saai.

Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, het enkele redes aangevoer oor waarom hulle ʼn eie terrein wou bestuur. Dit sluit in dat hulle diegene wat aan ʼn protesaksie wou deelneem veilig wou hou indien die EFF gewelddadig sou raak en om te verseker dat diegene wat mense wou aanhits tot geweld nie die platform kry om dit te doen nie. Ek was gister in Senekal en gee graag my indrukke oor gister se gebeure en dan kan u self oordeel of AfriForum se besluit die regte een was en of hulle inderdaad slegs verdeeldheid gesaai het.

Nadat ek ongeveer 05:30 deur ʼn padblokkade vyf kilometer buite Senekal was, het ek die eerste busse met EFF-ondersteuners teëgekom. Hulle het krete deur die vensters geskree en dit was duidelik dat hulle nie in Senekal was om aan ʼn vreedsame protesaksie deel te neem nie. Die EFF-leier, Julius Malema se uitsprake vroeër die week, dat indien hulle teenwoordigheid in Senekal tot ʼn burgeroorlog sou lei dit dan moet gebeur, getuig van die gees waarmee die party na Senekal opgeruk het.

Gedurende die dag het ek self verslag gedoen van die gebied wat die EFF beman het en eerstehands beleef hoe die EFF teenoor wit persone by Senekal opgetree het. Die eerste voorval was toe ʼn EFF-ondersteuner verby my loop en hard sê: “Hey Verwoerd, you killed my father.” ʼn Ruk later, terwyl ek ʼn koeldrank by die baie besige vulstasie koop, het ʼn ander EFF-lid na my gestap en gesê: “Van der Merwe, we are coming for you”. Later die dag, onderweg na my motor, het ek verby ʼn groep EFF-ondersteuners gestap wat om die beurt na my geroep het met die woorde: “Hey Piet”. Ek het ook waargeneem hoe ʼn asblik omgegooi en EFF-ondersteuners oproerig geraak het. AfriForum se besluit om hulle ondersteuners hierteen te beskerm is dus geregverdig.

Wat aanhitsing tot geweld betref kan ek nie van eerstehandse inligting getuig nie en beroep ek my op ander ooggetuieverslae. Ek gaan dus nie hier die betrokke persone se name vermeld nie. Volgens die ooggetuieverslae het ʼn bevelvoerder van een van die uniformgroepe ʼn beroep op van die protesgangers teen plaasmoorde gedoen om hom te volg, want hy sal hulle in ʼn burgeroorlog inlei. Daar was, van wat verneem word, ʼn paar jongmanne wat byna opgesweep is deur die uitlatings en dit oorweeg het om die EFF trompop te loop en tot bedaring gebring moes word.

ʼn Tweede uitlating waarvan ek verneem het, is ʼn persoon wat sou sê dat ʼn burgeroorlog die weg sal baan vir ʼn onafhanklikheidsverklaring. Buiten vir die twyfelagtige uitspraak is dit duidelik dat die persoon ten gunste is van ʼn konfrontasie met die EFF en selfs ʼn burgeroorlog om sy eie politieke agenda te bevorder. Dit is interessant dat die term “burgeroorlog” slegs deur hulle en Malema gebruik is.

Dan was daar die terrein wat AfriForum beman het. Daar het Kriel oor paraatheid en betrokkenheid gepraat. Die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, het daarop gewys dat ʼn gebrek aan landelike veiligheid ook die ekonomie skade kan berokken. Dr. Theo de Jager van Saai het gesê dat Suid-Afrika se boere onder baie moeilike omstandighede steeds aanhou om voedsel te vervaardig en van die beste in die wêreld is en die sekretaris-generaal van die African Farmers Association of South Africa, Nakana Masoka, het gesê dat die minister van polisie, Bheki Cele en sy manne deel van die oplossing en nie die probleem moet wees nie. Daar is afgesluit met die Onse Vader.

As ons sou verwys na die EFF as ʼn groep, die aanhitsers in uniform as ʼn tweede en AfriForum as ʼn derde is daar tog ʼn vierde groep wat vermelding verdien. Dit is diegene wat besluit het om nie te gaan nie. Gematigde mense wat dalk versigtig is om so ʼn protesaksie by te woon, dalk nog nie gemaklik is met die idee van openbare verset nie of afgeraai is om te gaan.

Die boodskap teen plaasterreur en vir paraatheid is gister duidelik uitgestuur. Daardie boodskap sal wel veel sterker wees as die gematigde middelgrond ʼn verenigde stem uitbring – weg van die EFF en die aanhitsers.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

James Kemp

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Petrus Johannes

Vir my wS daar te veel groepe almalmoes een groep gewees het Mense wat oorlog aanhits moes weg gejaag word.

Dries

Baie dankie vir die insiggewende artikel James. Ek sou ook myself geskaar het saam met die radikale groep en n fisiese veldslag wou wen . Maar dit sou nie moontlik gewees het sonder baie beter voorbereiding nie. N boer sonder sy roer beteken niks en hierdie gemors wat ons regeer het dit lankal besef. Vandaar die aanslag teen ons met wapen onteiening. Sonder grond weet hulle beteken die boer ook niks. Vandaar die aanslag van grondonteiening

Jacobus

James jy het eintlik jou eie vraag geantwoord. Eintlik het nie niemand bygedra tot vordering – maar dis nie sos dit werk nie. Ongelukkig werk die EFF en aanhangers soos die wetenskap wat ons op skool geleer het. ‘n Gas (onwelriekende in die geval) vul die hele ruimte wat bestaan. Vir dié rede was Afriforum welkom en nodig op die dag

Lorette

Ai mense, miskien die volgende cenario – almal vorm een groep, iewers het die eff ‘n bom of iets in dier voege ingesmokkel en gooi dit in daardie groep – chaos – niemand wat vanaf ‘n ander kant kan verdedig nie. 16 Desenber – boerewaens het sirkel gevorm terwyl aanvallers as groep op boere toegeslaan het – wie het toe gewen?

Adam Adriaan

Dankie. Dit is duidelik daar is van ons mense, (nie our people), wat ‘n burgeoorlog laat wil ontketen. Ongelukkig glo ek, dat hulle nog nooit in ‘n oorlog was nie. Dit is nie so opwindend soos wat jy soms dink nie. Vir hulle informasie wil ek vir hulle sê, moet nie Vrees nie, Glo net en vra die Een wat jou gemaak het om raad, voordat jy jou eie ondeurdenkte onbesonne idees en emosies volg. Met geweld breek ‘n mens meeste van die tyd jou vinger op die verkeerde plek af.